Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.
Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?
Numeri 23:19
BROKKIES UIT DIE BOEK DARIUS PRINS – STAATSVYAND (1)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Dis net na drie-uur in die oggend as hy die dorp uitry. Daar is meer as ‘n duisend kilometer tussen hom en sy bestemming, en natuurlik net soveel terug, Daar is baie min verkeer, met net die sporadiese vragmotor wat sekerlik, as hy aan die nommerplate moet oordeel, op pad is Zimbabwe toe. Die hoofligte en die twee kolligte verlig die pad ver genoeg dat hy nie bang is hy sien ‘n vlakvark of koedoe nie betyds nie. Ten spyte daarvan dat hy die sakkie met Cd’s byderhand het, los hy die radio af en ry in stilte. Dis koud buitekant die kar en hy stel die verwarmer verder in die rooi. Sy gedagtes dwaal na ‘n tyd, baie jare gelede, toe sy hare nog ‘n krullerige rooi-bruin was en sy baard ‘n skakering donkerder. Hy onthou die koue van daardie Juliemaand, die stank van die rook en stof, die gejil en gegil, die stampende voete, die gefluit en die swaai van allerlei wapens – stokke, kieries, pype, sambokke en pangas. Die mal oë.
Hy word uit sy gedagtewêreld geskud as hy besef hy ry te vinnig en lig sy regtervoet effens, sodat die naaldjie vanaf honderd en vyftig terugsak na honderd en twintig kilometer per uur. Hierdie uitstappie kos hom baie geld, geld wat hy gekry het vir die ou Mauser, die Puma White Hunter jagmes en die skaars Turkse bajonet en hy is nie lus om daarvan af te staan aan ‘n spoedboete nie.
Die pad wat hy ry, is nou verlate, nie die een wat hy gewoonlik ry, die N1 nie, maar die een agterkant-om, deur Zebediela, Marblehall en Groblersdal. In Benoni gooi hy petrol in, kry ‘n koeldrank en loop ‘n draai, net sodra dit begin lig word. ‘n Halfuur later kan hy die ligte afskakel en dink wrang daaraan dat die Isuzu Frontier se V6 vinniger rande opvreet as kilometers. Van Benoni af ry hy Heidelberg, Frankfort, Lindley, Senekal, tot verby die boepens wat die westekant van Lesotho maak. Dis laatmiddag as hy uiteindelik by die gastehuis in Rouxville stilhou. Hy pak af, eet iets by ‘n restourant en ten spyte daarvan dat die kos keurig voorberei is, proe hy nie veel daarvan nie. Hy raak vroeg aan die slaap en is wakker nog voordat die wekker afgaan. Hy lê lank in die donker en kyk vir die plafon.
Hy staan op en maak die bed op, al is dit nie nodig nie – dis ‘n gewoonte wat hy baie jare gelede aangeleer het in Heidelberg, waar hy basiese opleiding ondergaan het. Hy skeer versigtig nadat hy gestort het en, terwyl hy sy ou uitstapdrag-uniform aantrek, wonder hy of dit wettig is. Die langbroek pas nog mooi en die hemp ook, maar die tunic sit styf om sy skouers. Hy vee ‘n los hondehaar van die mou af, kyk na die grys, kortgeknipte hare en ewe grys baard, vee die bruin skoene vir oulaas blink, maak sy tas bymekaar en loop uit na buite.
Net voor die diens begin, loop hy die NG Kerk Rouxville binne. Daar is baie min mense in die gebou, maar hy gaan sit nogtans heel agter. Hy hoor nie veel van die diens nie, al boei die dominee se preek hom aanvanklik. Sy gedagtes dwaal weer terug na so lank gelede. Net voordat die predikant die seën uitspreek, staan hy op en loop vorentoe. Die gemeente staan nog regop as hy voor die kansel gaan staan en na die leraar kyk, sy pet onder sy linkerarm.
“Dominee, as ek mag? Dit sal net ‘n oomblik neem.”
Vir ‘n oomblik lyk dit asof die man gaan weier, maar praat dan.
“Jy mag, Kolonel. Maar asseblief…”
“Dankie, Dominee.”
Hy draai na die gemeente toe,
“Liewe gemeente, ek is op soek na iemand en ek is jammer dat ek van hierdie geleentheid misbruik maak daarvoor. Ek weet nie wat anders om te doen nie. Ek ken niemand hier nie, maar ek is op soek na ‘n familie wat lankal hier geboer het. Hulle van is Spies – ek het ongelukkig nie voorname nie.”
Die mense staan ‘n paar oomblikke stil en dan antwoord een van die diakens.
“Jy is seker op soek na die mense van Onruskraal. Net die ouman bly nog daar. As jy by die dorp uitry, gaan om die berg, so nege, miskien elf kilometer aan. Jy sal die bordjie aan jou linkerkant kry.”
“Baie dankie en nogmaals jammer.”
Dis toe meer as elf kilometer en as hy die afstandmeter dophou, is dit amper veertien kilometer verder, as hy die bordjie sien, nou effens skuins en verweer, met die naam net-net leesbaar. Die hek staan oop en hy ry binne, al langs ‘n ouland verby, met ‘n doringdraad aan sy regterkant. Die opstal is oud, van sandsteen, met ‘n sinkdak, ‘n breë stoep en ‘n houtdeur, met verf wat lankal besig is om af te skilfer.
Hy klop met die verwagting dat niemand tuis is nie, maar hoor ‘n stoel kraak, asook ou plankvloere en dan gaan die deur oop. Voor hom staan ‘n ou man, eens fris gebou, maar nou skraal, met ‘n groot ronde kop, haarloos, behalwe vir ‘n ring hare net bokant sy ore; ‘n grys, goedversorgde snor op ‘n andersins skoongeskeerde gesig. Sy oë is nog helderblou. Hy het ‘n kakie-hemp en kortbroek aan, met ‘n trui en baadjie waarvan die elmboë met leer gelap is. Sy bene is maer, met net spiere en senings waar dit eens sterk en dik was. Dis duidelik dat hy geskok is as hy die deur oopmaak. Hy dra nie kouse nie, net ‘n paar ou velskoene
“Goeiedag, meneer. Kan ek help?”
“Ek is op soek na meneer Spies.”
“Dis ek. Wat wil jy by my hê? Die vorige keer dat ‘n man met so ‘n uniform by ons opgedaag het, het hy vir my kom sê my seun is dood.”
“Mag ek inkom?”
Die ouer man staan vir ‘n paar sekondes stil en dan huiwerig opsy dat hy kan inloop. Die ou, ruim voorkamer is outyds gemeubileer, met lakens en komberse hier en daar oor die verweerde bekleedsel gedrapeer. Aan die oorkant van die voordeur is ‘n kaggel, met twee groot, geraamde portrette wat teen die muur bokant dit hang. Die een is van ‘n man in uniform, maar ‘n drag uit ‘n tyd baie lank gelede.
“Dis my pa, Kaptein Helgaard Spies, in die Tweede Wêreldoorlog,” sê hy trots.
“En hierdie een langs hom?”
“Dis my seun, Korporaal Hendrik Spies.” Hierdie keer met ‘n groot klomp hartseer in sy ou stem.
“Ek weet. Dis waarom ek hier is.”
“Jy is… nou weet ek! Jy is die luitenant wat by hom was in die lokasies!”
“Ja, Oom. Dis ek.”
‘n Lang stilte hang in die lug. Na ‘n ruk wel die ou man se oë op in blink trane.
“Na al hierdie tyd…”
“Ja, Oom.”
Hy wys na ‘n mooi, middeljarige vrou se geraamde foto wat op die kaggelmuur staan.
“Dis my oorlede Annette. Sy het twee maande na Hendrik se dood gesterf. Sy was skaars veertig jaar oud, maar die skok was vir haar te veel.”
Nog ‘n lang stilte.
“Kom saam, dan wys ek jou waar hy begrawe is.”
Die ou man loop deur toe, haal sy hoed van die kapstok af, vat ‘n wandelstok en loop aan. Dis nie baie ver nie, sowat sestig meter verby die werf se hek, wat die ou man vir hom oopmaak en oophou. By ‘n lappie populierbome is ‘n aantal grafte. By elkeen is ‘n grafsteen uit marmer of graniet, behalwe een wat half aan die kant is, met ‘n eenvoudige houtkruis, klaarblyklik gemaak uit die hout van ‘n spoorweg-dwarslêer. Op ‘n ewe eenvoudiger koper plaatjie in die middel is gegraveer:
“Korporaal Hendrik Andries Spies. Gebore 7 Julie 1966. Oorlede 10 Julie 1985.”
Hy kyk om na die ou man.
“Hendrik Andries?”
“Ja, vernoem na sy oupa aan sy ma se kant. Sy was ‘n nooi Roux.”
Darius Prins laat die gelaaide oomblik by hom insink, kom flink op aandag, soos hy baie lank gelede geleer is. Hy kyk af na die voet van die grafsteen, op, verby die graf na die Maluti‘s in die verte en salueer. Na ‘n kwart minuut laat sak hy sy hand.
Die ou man huil nou openlik.
“Hier, Oom. Dit is ‘n medalje wat hulle lank gelede vir my gegee het, maar ou Skoene het dit verdien, nie ek nie.”
Hy neem die langwerpige houtkassie, wat hy nog heeltyd in sy linkerhand dra, maak dit oop en wys die mooi toekenning aan die ou man, wat dit met bewende vingers uithaal, soen teen sy ou, bewende lippe en dan oor die houtkruis hang. Hy draai om en kyk na die ander man.
“Kolonel Darius Prins, dit was presies sewe en dertig jaar gelede. Waarom kom jy nou eers?”
Die man wag ‘n lang minuut, terwyl hy die knop in sy keer probeer wegsluk. Met ‘n gebroke stem antwoord hy:
“Ek het probeer vergeet.”
Die ou man kyk met ‘n vraag in sy ou, betraande oë na hom.
“Ek het probeer, maar ek kon nie.”