Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe lyk jou lewe vanoggend? Is jy in ’n doodloopstraat? ’n Doodloopstraat is natuurlik die beste straat om ’n U-draai in te maak; so ook in die lewe. Dink maar aan die verlore seun wat tussen die varke in ’n doodloopstraat beland en toe die U-draai in sy lewe gemaak het, terug na sy vaderhuis.
REGVERDIGE BELASTINGS
Lees reeks by Aan Stille Waters - Langenhoven
'n Kostelike aantekening oor belastings, deur CJ Langenhoven geskryf op 20 Julie 1931
GEHEIME RAAD... EN RAAD AAN MY EIE RAAD
"Wat in belang van die Staat sou wees, was nie om 'n man op sy inkomste te belas nie maar om hom te belas op sy uitgawe."
Iemand vra my om tog ook my deeltjie by te dra tot die bespreking waarvan al die koerante vol is. Hy is al duiselig van verwarring en hy soek helderheid. Eintlik is die punte wat onder bespreking kan kom eenvoudig genoeg vir mense wat self eenvoudig is en nie aan die gebrek van slimmigheid van vernuf ly nie. Dus val dit binne my bestek.
Vooraf sou ek egter na regte self eers moes gaan regsgeleerde advies inwin om toegelig te word in hoevér dit my geoorloof is om so 'n hangende regsaak in die openbare pers te bespreek. As ek moet tronk-toe gaan weens minagting van die hof sou ek tenminste graag sien dat dit my eie tronk was en my eie hof. Die baie besprekers tot hiertoe het seker gesorg om die advies te kry of om dit self te hê. Miskien sal ék maar die risiko neem – straks vra ek 'n advokaat en dan raai hy my aan dat dit veiliger sou wees om liewer, soos die Hollander, te zwijge en God me te late hore bromme. Ek sal daaroor slaap.
Die Provinsiale Raad het my nie om raad gevra nie. (Natuurlik nie: hulle weet mos vooraf hulle sou dit nie volg nie). Maar ek is ook op my nederige manier 'n kieser en op my welwillende manier 'n belastingbetaler. En as sodanig het ek tog 'n reggie om my stemmetjies te laat hoor.
Tot hiertoe het ons in die Kaapprovinsie, soos in die ou Kaapkolonie, ons pad gevind en ons skuld betaal, al het ons dit ook later gedeeltelik reggekry met verduistering van onderwyserspensioenfondse. (En daarby kan die skrywer nie aanspreeklikheid afskuif nie. Hy was lid van die Raad en van die Uitvoerende Komitee. Maar by hom was dit natuurlik meer dommigheid as moedswilligheid.)
In een opsig is dit jammer dat die groot politieke partye nie volgens provinsies verdeel is nie. Dan sou die Kaap tog onder een of ander bewind gekry het wat hom toekom. Nou word hy deur albei om die beurt verongeluk (natuurlik ergste deur die Sappe, maar 'n driekwart-onreg teen 'n onreg en 'n half is nog nie reg nie).
In alle geval, vandag sit ons Provinsiale Regering met die hande in die hare. Snoei of belas of laat oploop – watter van die drie? Die een vorm van besnoeiing wat nie aan gedink behoort te word nie is om aan die salarisse van ons onderwysers te vat. Anders, op die uiterste, moes die Parlement met die besnoeiing begin het, van sy eie lede af en van bo af. Ons kan nie die allerverantwoordelikste dienare van die Staat gaan uitsoek om spesiaal te belas nie – en vermindering is belasting, en die algemene belastings dra hulle saam met ons almal. Daardie diens behoort nie gevoel te word as 'n wisselvallige en minderwaardige om 'n heenkome te verskaf as 'n noodshulp vir diegene wat elders 'n mislukking sou wees nie. Verder behoort die traktamente van onderwysers, soos dié van predikante en regters, beskou te word as politiek-onaantasbaar om hulle teen die versoeking van alte vurige party-ywer te vrywaar. Uit hierdie eenvoudige beginsel-oogpunt beskou is die besoldiging van die beskikkers oor die toekoms van ons kinders en van ons volk, reeds te min. Wat ander provinsiale salarisse betref, waarom moet een klas van Staatsamptenare gestraf word omdat hulle nie vooraf geweet het om liewer die ander afdeling van die Staatsdiens te kies nie? Ook daar moet ons tog vir die toekoms soos in die verlede die bekwaamste kragte lok. Of weer, as alle wêreldpryse so gedaal het dat die koopkrag van geld vermeerder is, slaan dan dwarsdeur die bank gelyk af. Moenie seksies uitsoek nie.
Dan bly ons – as ons nie wil laat oploop nie, en dis geen redmiddel nie, dis 'n verergering van die kwaad – met die alleen-oorblywende uitweg van verder belasting wat nie op die dienare en amptenare as sodanig sal val nie maar op jou en op my, die kiesers en uiteindelike self-beslissers oor die vorm van die las wat op ons skouers gelê sal word. Nou sou ek liewer vir jou belas en jy liewer vir my. Die aangewe weg van versoeking vir ons arme gewone menslike wetgewers is om seksies uit te soek vir spesiale beswaring – die seksies waar die minste politieke ondersteuning by te haal is, en dus die betreuerenswaardige seksies wat nie in die geleentheid is om hulle eie politieke beskerming te versorg nie.
'n Gelyke belasting, volgens vermoë, is natuurlik die inkomstebelasting. Die Provinsiale Raad kon soveel persent bysit op die basis van gehefde Unie-inkomstebelasting (ek veronderstel dat hy die mag het; ek is, waar ek skryf, nie in die geleentheid om my geheue te kontroleer nie). Die duur departementele werk om die bedrae te bepaal, en die ellendige boekhou-werk en parmantige inkwisisie-gesnuffel by die belastingbetaler, kom nie by nie; dit is eenmaal daar. Maar in beginsel is daar teen hierdie vorm van belasting baie ernstige besware. Dit word van jou gevorder nie uit die inkomste self nie maar uit latere inkomste op vorige inkomste – uit die maer jaar se armoede vir die weelde van die vet jaar wat jy deurgebring het. Maar dis baie erger nog as dit; uit die ekonomiese belang van die Staat beskou. Dis 'n ontmoediging van geldbelegging in produktiewe nywerhede, en almal van ons, want ons is almal verbruikers, ly daaronder in verhoogde pryse van nywerheidsware, en die werker ly spesiaal daaronder want dit verminder sy loon. Dis 'n boete op vlyt en spaarsaamheid. Wat in belang van die Staat sou wees, was nie om 'n man op sy inkomste te belas nie maar om hom te belas op sy uitgawe.
En hier kom die wenk wat ek aan die Provinsiale belasters wou gee – met te meer vrymoedigheid omdat ek nie die minste verwagting het dat hy deur daardie gesag wat oor my heers, ter harte geneem sal word nie. Terwyl ek hier skryf rook ek 'n sigaret (of hy lê hom meeste self en uitrook) uit 'n dosie van tien waarop ek met die koop daarvan drie oortjies belasting betaal het – wat ek as sodanig nie juis gevoel het nie. Om my hierdie deeltjie in die skatkis te laat stort is nie onredelik nie. Om sigarette te rook, selfs as hulle hulself lê en uitrook, is geen lewensnoodsaaklikheid nie, dis 'n verkwisting en 'n ongesonde weelde. En die invordering kos die provinsiale administrasie 'n bagatel; deur middel van die vernuftige stelsel van seëls, is die winkelier self die ongesalariëerde invorderingsbeampte.
Waarom kan hierdie gesonde en eenvoudige stelsel nie tot verdere weelde-artikels uitgebrei word nie? Laat 'n pak klere van drie pond vry en daarná belas elke verdere pond van die koopprys volgens 'n steeds-stygende skaal. As ek dan wil spoggeriger klere dra as jy, en my vrou 'n spektakelriger hoed as joue, beboet my dan vir die verkwisting en gee die skatkis die voordeel daarvan. As motors dan nou nie meer 'n weelde is nie maar 'n onontbeerlike behoefte, laat die honderd pond se karretjie vry (of is joue 'n driehonderd pond s'n? – goed, laat hulle tot driehonderd pond vry). Maar wat is 20 pond op 'n agthonderd pond se rytuig? (En, sê ek byna, sit 'n groter belasting op huurkoop op uitstel; beboet roekeloosheid). En so kon ons ander artikels neem. In elke opsig sou so 'n skema van belasting soos die dag by die nag vergelyk met die dwase inkomstebelasting.
Maar dis glo omdat hy so verstandig en billik en dragelik en heilsaam sou wees dat hy nie byderhand geneem sal word nie.