Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
GOD PRAAT DEUR SIEKTE MET JOU
LUISTER NA SY STEM!
Siekte is 'n manier waarop God met sy kinders praat, sê Job in hoofstuk 33:19: "Hy spreek die mens aan met ernstige siekte."
Dit is nie 'n teken van God se onmag as iemand nie gesond word nie, maar die middel tot God se almagswerke, sodat ons vir Hom getuies kan wees; sodat ons weer kan besef, al word ek elke dag afgetakel, daar is niks wat my van God se liefde vir my kan skei nie.
Daar op jou siekbed kyk jy met nuwe oë na jou eie lewe, veral na die dinge wat jy nog so graag wil bereik; na die mense wat jy liefhet en geen waarborg het dat hulle môre nog by jou sal wees of jy by hulle nie. Dan besef jy elke minuut wat jy nog krag en tyd oorhet, moet maksimaal benut word omdat elke oomblik genadetyd is.
Jy besef ook weer dat jou lewe hier op aarde net 'n klein deeltjie van God se plan is, dat jou eintlike lewe nog voorlê, dié lewe wat vir jou by God wag. En dan word jy dankbaar om te lewe al sien jy uit om na Hom te vertrek.
Hierdie verhoog waar jy tydens siekte verkeer is meermale die podium van waar ons geloof aan die wêreld sigbaar word. Hierdie dinge werk soos die swart fluweel-agtergrond waarteen juweliers so graag hulle goud en diamante juweliersware uitstal – ons geloof behoort só te blink teen die donker agtergrond van siekte. God praat met jou deur jou siekte – luister na sy Stem!
DAG VAN DANKBARE VEROOTMOEDIGING
Ons staan soos die HERE wil more op Geloftedag voor Hom. Geloftedag – die Afrikanervolk, óns volk se aangewese dag van verootmoediging. 'n Volk wat volgens die Raadsplan van God met 'n besondere roeping aan die suidpunt van Donker Afrika geplant is – deur God bekwaam gemaak is om hierdie barre, wilde, dorre, harde landstreek ooreenkomstig Genesis 1-2 te onderwerp, te heers oor alles wat op en in en om hom bestaan, sy grond te bewerk sodat ook hierdie landstreek tot bloei kon kom tot lof van die HERE en geroepe uit die Reformasie om die Woord hier te saai en tot vrug te laat kom. Drie eeue lank het die Afrikanervolk hierdie tweeledige roeping uitgevoer. Ten spyte van Satan se verbete stryd om dit te verhoed, is daar danksy die Almag van God talle gelowiges in die land.
Dit was van 1652 af 'n stryd teen natuurlike dorings en distels onder wisselende klimaatsomstandighede, maar ook teen Satan wat deur menslike optrede die vervulling van die Skeppingsopdrag en die koms van die Evangelie wou keer. Maar die Afrikanervolk, bygestaan deur ander van Europese herkoms, het met kennis, kundigheid en vaardigheid die ganse land van Simonsbaai tot die Limpopo, van Weskus tot Ooskus, tot die gelyke van sy herkomsstreek opgehef. So het hulle die Skepper se opdrag in Genesis 1 en 2 uitgevoer en die land tot 'n lushof tot eer van God ontwikkel. Ook het hulle aan die aanvanklik klein getal gekleurde inwoners en later die groot getalle Swart intrekkers uit die Noorde, kennis, kundigheid en vaardigheid saam met die Evangelie oorgedra sodat hulle ook die Skeppingsopdrag kan nakom.
Laat in die vorige eeu het die Afrikanervolk (maar nie almal nie) sy geroepenheid ontrou geword deur leiers te volg wie se geloof te swak geword het om die eeuelange aanslag van Satan verder te weerstaan. Terwille van materiële welvaart het hy sy heersersopdrag oor die land wat God aan hom toegewys het prysgegee en sy Reformatoriese aard vir menseregte verruil waarop die NGKSA se erkenning van homoseksualisme berus.
Maar uit dié besluit het 'n sterk gelowige kern van die Afrikanervolk sigbaar geword wat nie bereid is om hulle geloofskrag en hulle volksverantwoordelikheid prys te gee nie. Weerstandige skokgolwe trek steeds dwarsdeur gelowige Afrikanergeledere ongeag tussenkerklike grense. Die wete dat daar by ons ook seweduisend is wat nie die knie buig nie, bring dankbaarheid en veral strydmoed. Nog meer: Dit hou in dat die Heilige Gees, die HERE Sélf, nog met die Afrikanervolk en alle ander gelowiges in die land bemoeienis maak. Die hitte, droogtes en oorstromings getuig ook daarvan.
Dat die gebeure skrik op elke Afrikanergelowige en ook op ander gelowiges laat val en tot optrede gelei het, bring die behoefte maar ook noodsaaklikheid van inkeer en omkeer in ootmoedige bekering. Die omvang en diepte van die weerstand bied die geleentheid tot verootmoediging. 16 Desember bied ook die uiting van danksegging oor die klaarblyklike ontwaking onder gelowige Afrikaners en ander. Trek daarom met dankbare verootmoediging op en bid tot die Allerhoogste dat sy Koninkryk onder ons en in ons land weer sigbaar sal word.