Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy jou bure wil kwaad maak, vertel tog maar net die waarheid oor hulle...
MAJUBADAG VANDAG
Ons het in Desember die groot gebeurtenis wat ons Voortrekker-voorsate te beurt geval het in herinnering geroep. Volksgenote oor die lengte en breedte van ons land en selfs oor die wêreld, het Geloftedag eervol deurgebring en ons hemelse Vader gedank vir die aanvaarding van daardie Gelofte wat ons voorsate met Hom in gebed aangegaan het. Dit is hoe dit hoort. Volgens Deut. 23:21-23 en Prediker 5:3-5 is dit van uiterste belang dat ons as volk sal betaal wat ons beloof het. Met “ons” word bedoel wat ons voorsate namens ons beloof het en waaraan ons as nageslag verbind is. Dit is ‘n geweldige groot voorreg om as mens, en as volk aan die Almagtige, die Skepper van alle sienlike en onsienlike dinge deur ‘n gelofte verbonde te mag wees.
Op die 16e Desember moet daar egter meer as een gelofte in herinnering geroep word. Op daardie datum het daar nog ‘n baie belangrike gebeurtenis plaasgevind wat ons as volk ten nouste raak, veral met betrekking tot die instandhouding van ons geloftes. Die Gelofte van Paardekraal moet ook op daardie dag in herinnering geroep en betaal word.
Tydens die volksvergadering te Paardekraal wat die begin van die Eerste Vryheidsoorlog vooraf gegaan het, het die burgers mekaar die hand gegee en trou aan mekaar gesweer en die hulp van hul hemelse Vader ingeroep met betrekking tot die herwinning van hul onafhanklikheid. Toe hulle op die 14e Desember 1880 uiteen gaan, het een deel van die manskappe saam met kmdt.-genl. Piet Joubert na Heidelberg om hul hoofkwartier daar te gaan vestig, ‘n ander deel is saam met kmdt. Piet Cronje na Potchefstroom om die proklamasie van die herstel van die regering van die ZAR daar te laat druk en die res het saam met visie-president SJ Paul Kruger op Paardekraal agter gebly, waar hul op Geloftedag, vir die tweede keer in 42 jaar, as Volk die 1838-Gelofte in herinnering geroep het.
Terwyl Geloftedag op Paardekraal herdenk word, klap die eerste skote van die Eerste Vryheidsoorlog met Brittanje op Potchefstroom tussen die Britse garnisoen en magte van die ZAR. Hierdie oorlog duur elf weke en kom ten einde waar magte van die ZAR onder leiding van kmdt.-genl. Piet Joubert die Britse magte onder aanvoering van die Britse generaal, sir George P Colley tydens die slag van Amajuba oortuigend verslaan.
Ingevolge die Paardekraalgelofte het die burgers van die ZAR die daaropvolgende Geloftedag op 16 Desember by Paardekraal byeen gekom om die Geloftes te betaal. Die regering van die ZAR het later in eerbied die 27e Februarie as gedenkdag van die slag van Amajuba geproklameer. Dit sou voortaan as publieke feesdag dien en ‘n dag van verootmoediging wees waarop die groot dinge wat die HERE op dié datum laat plaasvind het, in herinnering geroep moes word.
Ons as volk verkeer weer in ‘n dal van doodskaduwee waar ons ‘n geweldige aanslag beleef en ons vyand alles in hul vermoë doen om ons fisies en geestelik te vermoor.
- Kom ons herdenk die groot dae in ons volksgeskiedenis deur ons kinders dit in te skerp en ons Vader in die hemel daarvoor te eer en Hom al die lof toe te bring vir die aanvaarding van ons Volksgeloftes.
- Laat ons soos ons voorsate op ons knieë gaan en daagliks bid vir ons vrywording van vreemde heerskappy.
- Laat ons die uitnodiging soos verwoord in onderstaande Skrifgedeelte, ter harte neem:
2 Kronieke 7:11-15 [1933/53 Afrikaanse vertaling]
11 En toe Salomo die huis van die HERE en die huis van die koning voltooi het, en alles wat in Salomo se hart gekom het om in die huis van die HERE en in sy huis te maak, voorspoedig uitgevoer het,
12 verskyn die HERE in die nag aan Salomo en sê vir hom: Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My as ‘n offerhuis verkies.
13 As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur,
14 en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.
15 Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.