Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ek mag nooit die lente van my jeug verkwis deur tyd te verspil nie; ek sal ryk saad saai om te blom wanneer ek 'n man is, en vrugte dra wanneer ek oud is – nog is my jeugjare die seisoen vir vreugde en liefde, maar my ryp jare dié van wysheid en insig.
GOOGLE WEET ALLES VAN JOU!
Johan de Bruyn
Beïnvloeding van mense geskied op baie wyses. Sommige word slegs deur feite oortuig, ander deur emosie. ‘n Goeie orator het al dikwels mense vir sy saak oortuig – meesal sonder meriete.
Met breinspoeling probeer beïnvloeders ‘n onregverdige voordeel kry deur die slagoffer aan ‘n proses te onderwerp waar sy keuse vír hom gemaak word. Talle boeke het al oor hierdie onderwerp verskyn.
In 1957 het The Hidden Persuaders van Packard verskyn. Reeds toe is bevind dat daar metodes was om mense subtiel te beïnvloed sonder dat hulle daarvan bewus was. Dink maar aan die Coke-advertensie wat “versteek” was in die aanbieding by ‘n bioskoop, wat baie mense dan onbewustelik Coke laat koop het tydens pouse. Packard het destyds bevind dat mense se denke, gedrag en emosies deur hierdie optredes beïnvloed word.
Dit word ook genoem “subliminal stimulation” waar ‘n kort flits van ‘n produk genoeg is om die onderbewussyn te oortuig. Dit was Kenneth Boulding wat jare gelede reeds dié opmerking gemaak het:
A word of unseen dictatorship is conceivable, still using the forms of democratic goverment.
Die gevaar wat skuiling gehou het was dat mense beheer kon word sonder dat hulle daarvan bewus was.
Robert Epstein het ‘n paar jaar gelede ‘n studie gedoen oor Google. Hy beskryf Google as die “main gateway to all knowlegde”. Is jy met ‘n soektog besig op Google besluit dié in beheer daarvan wat die volgorde sal wees waarin hulle jou versoek se uitkoms sal plaas. 50% van alle gebruikers kies nommer een of twee op die lys en 90% kies een van die eerste tien resultate.
Google het ‘n monopolie en het nie sy gelyke nie. Om te “google” het al ‘n bekende woord in die volksmond geword, maar Google is dalk nie so onskuldig soos dit lyk nie! Dit is eenvoudig ‘n “deep, dark secret” hoe hulle te werk gaan om ‘n rangorde te bepaal met die biljoene opsies.
Epstein se bevinding is gepubliseer onder die titel Search Engine Manipulation Effect (SEME). Hy beskou dit as een van die grootste bevindinge wat ooit gemaak is oor die gedrag van mense.
Navorsing wat gedoen is wat betref mense se politieke keuse het daarop gedui dat soveel as 48% van mense deur die soekenjin se voorkeur beïnvloed word; dit wil sê om vir die kandidaat te stem wat Google subtiel voortrek. So het Google Barack Obama in 2012 bo Romney gekies...
Meer ontstellend is die feit dat meer as 75% en tot soveel as 99% van mense nie eers bewus was dat hulle subtiel beïnvloed is nie. Dit terwyl Google 83% van die Amerikaners se keuse as soekenjin is!
Epstein het bevind dat ‘n 25% swaai in enige verkiesing in enige land ter wêreld bewerkstellig kan word dmv Google aangesien 90% van die internet-gebruikers wêreldwyd Google gebruik.
Ook Facebook word deur hierdie manipuleerders ingespan. In 2010 het Facebook 60 miljoen Amerikaners wat onseker was of hulle moet stem dmv boodskappe probeer oortuig om te stem en 340 000 is oortuig.
Google het toegang tot ál jou persoonlike inligting, lees ál jou boodskappe (e-posse) en deel dit ook met regerings. Hulle het ‘n volledige databasis van elke gebruiker. Epstein stel dat die beïnvloeding elke faset van jou lewe behels.
Teen 2020 het China ‘n volledige databasis van sy 1,3 biljoen mense gehad. Dus, baie erger as die stimuli wat deur kort flitsboodskappe (soos Coke) na jou onderbewussyn gestuur word, is die invloed van SEME. Dit gaan uiteindelik jou denke beheer, jou emosies beïnvloed en jou gedrag bepaal. Ja, elke faset van jou lewe.
Orwell se voorspelling was in die kol:
“Big Brother is watching you”.
Of dan wel, Google weet alles van jou!
Who controls the past, controls the future – George Orwell , 1984.