Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ek mag nooit die lente van my jeug verkwis deur tyd te verspil nie; ek sal ryk saad saai om te blom wanneer ek 'n man is, en vrugte dra wanneer ek oud is – nog is my jeugjare die seisoen vir vreugde en liefde, maar my ryp jare dié van wysheid en insig.
REËNBOOGLAND (11)
Dr JP Botha
Lees reeks by REËNBOOGLAND
Blink
Ben Kopelowitz aan die woord
Ek is ‘n Jood. Ek en my broer Abe het ná die Tweede Vryheidsoorlog donkiejare lank ‘n winkel op Swartruggens gehad. Jy kan maar sê, ons het ons lewens op hierdie Wes-Transvaalse dorpie geslyt. Ek maak daarop aanspraak om ‘n “Boere-Jood” genoem te word, want na feitlik ‘n leeftyd se verblyf onder die Afrikanergemeenskap waarin ek hulle leer ken het as pliggetroue, eerlike en hardwerkende mense, het ek naderhand so verweef geraak in hul lewensomstandighede dat ek my later met hulle vereenselwig het en met hul lief en leed meegeleef het.
Ek en my broer Abe se winkel het ‘n baie groot gebied van die twee distrikte Marico en Rustenburg bedien. Ons het van alles en nog wat aangehou om te verkoop, soos kruideniersware, klere, skoene, ploeë, êe en in ons groot store was daar altyd ‘n aantal sakke graan wat ons van die boere gekoop het of geneem het vir skuld wat hulle nie in kontant kon aflos nie en dan maar die koring of mielies daarvoor geneem het.
In droogtetye het ons saam met die boere na reën verlang, want baie van hulle was onder sulke omstandighede genoodsaak om hul noodsaaklike lewensmiddele op skuld by ons aan te koop, met die belofte om dit na die oes te kom vereffen. Dikwels het sommige van hulle oeste misluk, sodat hulle nie hulle verpligtinge kon nakom nie en ons maar nog verdere uitstel vir die betaling daarvan moes gee. Ons was nooit onbarmhartig in hierdie opsig nie, want hierdie mense was deurgaans eerlik en het gereeld wanneer hulle daartoe in staat was, ons kom betaal.
Die boere in die Marico-bosveld wat met vee geboer het, was minder onderhewig aan klimaatskommelinge as die saaiboere op die hoëveld. Van hulle het ons onder andere baie beesvelle aangekoop en ‘n winsgewende handel daarmee gedryf. Moenie praat van die groot hoeveelheid hoendereiers wat ons deur die jare heen moes koop en weer winsgewend van die hand gesit het nie! ‘n Boervrou van die plaas Outhomasseloop het gereed vir ons groot blikke vol vars gesoute plaasbotter gelewer. Ons het haar daarvoor ‘n sikspens per pond betaal en dit weer vir een sjieling die pond verkoop. Met die geld uit haar botterverkope, het hierdie vrou al haar kruideniersware en huishoudelike benodigdhede by ons gekoop.
Ek het groot respek gekoester vir die godsdiens wat hierdie Afrikanermense beoefen het. Ons Jode is nie Christene nie en ons voorvaders se Sionisme het nooit juis ‘n sterk houvas op my gehad nie. Maar dit was al die jare vir my verbasend hoe sterk die invloed is wat hierdie Christene se godsdiens op hulle alledaagse lewens uitgeoefen het. Hulle kerk het ongeveer twee kilometer van ons winkel af, aan die bokant van die dorpie teen ‘n heuwel gestaan. Ons het ‘n baie moeilike jaar beleef met ‘n kwaai droogte wat genadeloos voortgeduur het, toe ek een middag gewaar dat daar ‘n ongewone verkeer in die stofstraatjie voor my winkel verby, na die kerk op die heuwel plaasvind. Toe hou oom Jan Venter voor my winkel stil om iets te koop voor hy verder ry. Op my vraag waarheen hulle almal vandag op pad is, sê hy: “Ben, jy weet die droogte druk ons baie swaar. Ons het besluit om almal vandag in die kerk bymekaar te kom om vir reën te bid en vir die Here te vra om vir ons uitkoms te skenk.” Ek stap toe saam met oom Jan na sy voertuig toe en toe ek die lug mooi deurgekyk het, sê ek vir hom:
“Oom Jan, ja, julle kan vat ‘n traai, maar ek sê vir jou, die wiend, hy’s nie reg nie.”
Oom Jan het vir my gesê, dis waar, maar die Here kan die wind laat regdraai en vogtige weer laat opsteek.
En dit het gebeur! ‘n Paar dae daarna het ‘n milde reën groot uitkoms gebring. Ek was so beskaamd, maar ek was saam met hulle bly, want as dit met hulle goed gaan, floreer ons besigheid ook, soos wat ek en Abe ondervind het.
Later was die twee Kopelowitze se winkel oor die hele gebied van die twee distrikte bekend. Ons het nie net alleen die boere op die plase bedien nie, maar het ook kliënte getrek uit die dorpe Groot Marico en Zeerust en daar het selfs mense van Rustenburg af na Swartruggens gery om hul benodigdhede by ons te kom koop.
So het ‘n aantal jare vir ons verbygegaan. Toe die ouderdom ons begin inhaal, het ek en Abe in 1930 ons winkel op Swartruggens verkoop en albei op Johannesburg gaan woon.
Ons het gevind dat hier in die Goudstad seker die grootste saamtrek van Jode in Suid-Afrika bedrywig is in verskillende beroepe van wyd uiteenlopende aard. Hulle het in die mediese en regsprofessies ‘n buitengewone aandeel gehad en ‘n groot seggenskap in sakeondernemings uitgeoefen. Teen 1936 het ons Jode al 4.5% van die totale blanke bevolking van die land uitgemaak. Baie Jode het in daardie tyd uit Duitsland gevlug en in Johannesburg en ander Suid-Afrikaanse stede beland.
Ek en Abe het toe ook agtergekom dat ons Jode se teenwoordigheid in Suid-Afrika as ongewens beskou word. Voor 1930 was daar nooit ernstige tekens en enige gevoel teen ons Jode in die land nie. Die boeregemeenskap was baie jammer toe ek en Abe ons winkel op Swartruggens verkoop het en na Johannesburg verhuis het. Maar Joodse immigrante uit Oos-Europa was nie so maklik assimileerbaar as ons nie. Daar het ‘n anti-Joodse agitasie ontstaan, aangewakker deur die Gryshemde-beweging van daardie tyd.
Daar was in 1937 ‘n skielike golf van Joodse immigrasie na Suid-Afrika. Die regering het toe ‘n Immigrasie-raad in die lewe geroep. Hierdie Raad het daarna ons Joodse immigrante baie streng gekeur. Die anti-Joodse gevoel in die land het egter voortgeduur. Hulle sê ons is ‘n skelm nasie wat in besigheid die ander persoon altyd te kort doen. Ons teer op die vettigheid van die land. Hulle beweer dat ons Kommuniste is en verantwoordelik is vir die toenemende rasse-onrus in die land.
Al hierdie beskuldigings het ek en my broer Abe op die lyf geloop toe ons na Johannesburg verhuis het en niemand het geglo dat ons ‘n goeie en gewaardeerde diens aan die boeregemeenskap van Swartruggens en omstreke gelewer het nie.
WIT ...vervolg