Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy jou bekeer, Israel (SA?), spreek die HERE, bekeer jou tot My; en as jy jou verfoeisels van my aangesig af verwyder, hoef jy nie rond te swerwe nie – Jeremia 4:1
DIE METAPOLITIEK
Dr Mike du Toit
Die metapolitiek berus op twee belangrike uitgangspunte.
Uitgangspunt 1
Die eerste uitgangspunt sluit aan by die idee van Antonio Gramsci dat politieke mag op kulturele mag berus. Waar die Klassieke Marxisme die politieke struktuur gesien het as die gevolg van die ekonomiese situasie van ‘n gemeenskap, daar het Gramsci die politieke struktuur gesien as die gevolg van die kulturele waardes en omstandighede van ‘n gemeenskap, waarvan die ekonomie maar een faset is. Politieke mag berus dus op kulturele mag. Om politieke mag te bekom of te behou, moet ons dus eers kulturele mag bekom. Dit beteken dat ons kulturele magsentrums moet skep of bestaande kulturele magsentrums moet infiltreer en tot ons voordeel ontwikkel. Indien dit gebeur dat ons die politieke mag eerste bekom, sal ons dit in elk geval op die lang duur net kan behou deur metapolitieke optrede; met ander woorde deur die magsoorname ideologies, intellektueel, kultureel en moreel te regverdig en te begrond.
Ter wille van helderheid oor wat metapolitiek behels, kan twee voorbeelde uit die geskiedenis voorgehou word.
In die eerste geval kan daarop gewys word dat die oorname van Adolf Hitler in 1933 in Duitsland vir byna ‘n eeu voorafgegaan is deur die filosofiese geskrifte en optrede van mense soos Fichte, Hegel, Von Treitschke, Schopenhauer, Nietzsche, Wagner, De Gobineau, H.S. Chamberlain, LothropStoddard, Madison Grant, Gustav Kossinna, Guido von List, Jörg Lanz von Liebenfels, Oswald Spengler en Arthur Moeller van den Bruck, om maar enkeles te noem.
In die tweede geval is dit bekend dat die 1948 Nasionale Party-oorwinning voorafgegaan is deur die totstandkoming en aktiwiteite van Nasionale Pers (1914), die Helpmekaar Vereniging (1916), Burger Boekhandel (1917) (later Nasionale Boekhandel), die Suid-Afrikaanse Nasionale Trust en Assuransie Maatskappy (Santam) (1918), die Suid-Afrikaanse Nasionale Lewens Assuransie Maatskappy (Sanlam) (1918), die Afrikaner-Broederbond (1918), die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) (1929), die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) (1930), die Voortrekker jeugbeweging (1931), Volkskas (1933), die Afrikaner Bond van Mynwerkers (1936), Voortrekkerpers (1937), die eeufeesviering van die Groot Trek (1938), die Eerste Ekonomiese Volkskongres (1939), Federale Volksbeleggings (FVB), die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) en die Reddingsdaadbond (1939) om maar enkele organisasies en verenigings te noem. Verder is verskeie koerante en ander publikasies uitgegee, waaronder “Die Burger” (1915), “Ons Vaderland” (1915), “Die Huisgenoot” (1916), “Het Volksblad” (1917), “Landbouw Weekblad,” “Die Boerevrou” (1919), “Die Vaderland” (1933), “Die Transvaler” (1937) en “Volkshandel.” Die Bybel is ook gedurende die tydperk, naamlik 1933,na Afrikaans vertaal.
Uitgangspunt 2
Die tweede uitgangspunt van die metapolitiek sluit aan by die idee van Friedrich Nietzsche dat alle bestaande waardes geherevalueer en geherinterpreteer moet word. Dit beteken dat ‘n kulturele oorlog op ‘n intellektuele wyse gevoer en gewen moet word. Dié oorlog moet deur ‘n klein groepie gemotiveerde, aktiewe, regse, intellektualiste (denkers en skrywers) gevoer word. Alle kultuurgebiede (ekonomie, kuns, taal, onderwys, ensovoorts) moet vanuit die organiese lewens- en wêreldbeskouing geïnterpreteer en georganiseer word. Hier gaan dit spesifiek om die ondermyning van alle bestaande links-liberale en universele waardes (die gelykheidsdogma) en in die besonder die holistiese lewens- en wêreldbeskouing soos dit in ons eie tyd na vore tree in die politiek (die demokrasie, die een-mens-een-stem stelsel), die ekonomie (die kapitalisme) en die linkse godsdiensbeskouings.
Ons taak
Ons taak is dus om die filosofiese- en praktiese implikasies van die organiese lewens- en wêreldbeskouing te debatteer en te formuleer. Ons moet as die “brein” van ons volk na vore tree, die probleme waarvoor ons te staan gekom het aanspreek, bepaalde oplossings bedink, en dan dié oplossings op ‘n metapolitieke wyse aktief bevorder.