Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Omdat die HERE jou gemaak het ken Hy jou deur en deur, of jy dit nou wil weet of nie. Daarom het Hy medelye met jou swakhede en verdelg jou nie oor jou sonde nie maar vergewe jou in liefde en verwyder jou oortredinge dan so ver as die ooste van die weste verwyderd is. En dán word die jeug binne jou so nuut soos 'n arend, sê Dawid in Ps 103.
DIE OPLOSSING VIR MISDAAD
Sedert Suid-Afrika sy Christen-grondwet met ’n godlose een vervang het, floreer misdaad in die land. Dit het binne die eerste vyf jaar van sg. demokrasie met 717% gestyg en is meer as 40 nuwe soort misdade aangeteken wat voorheen onbekend was. Die politieke klimaat het dit vir boosdoeners maklik gemaak om misdaad te pleeg. Daarom is niemand in die land meer seker van ʼn veilige aankoms of tuiskoms nie.
Die toename in misdaad is aan die verraderlike optrede van eertydse blanke politici en ontspoorde kerklui te wyte wat volksgenote verseker het dat die verfoeilike situasie wat sedert 1994 opgedis is, slegs die groeipyne van ʼn nuwe bedeling was wat spoedig sou verdwyn. Dit het nie verdwyn nie. Volgens kenners is die misdaadvlak in Suid-Afrika die hoogste ter wêreld benewens ʼn oorlogsgebied.
Misdaad neem egter ook wêreldwyd toe. Amerikaanse statistiek toon aan dat besighede jaarliks meer as $10 miljard weens werknemer-diefstal verloor. Meer as $4 miljard per jaar word weens geldverduistering en $3 miljard weens inbraak verloor. Daarbenewens word $2 miljard aan winkeldiefstal en $1,3 miljard weens brandstigting verloor.
Misdaad is duur. Wetsgehoorsame burgers betaal daarvoor. Versekeringpremies skiet die hoogte in, winkels verhoog hul pryse om vir winkeldiefstal te begroot en veiligheidspersoneel moet gehuur word om oral diens te doen. En wetsgehoorsame burgers betaal indirek hiervoor. Misdaad maak ook booswigte ryk. Koerantberigte oor hooggeplaaste regeringsamptenare wat weens diefstal en korrupsie aangekeer word, is sedert 1994 algemene nuus.
Daar word talle ingewikkelde redes vir die styging in misdaad aangevoer. Die oplossing daarenteen is eintlik baie eenvoudig – lees die Bybel: “Omdat die oordeel oor ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen” (Pred.8:11).
Wie meer oor die regte van booswigte as dié van wetsgehoorsame burgers besorg is, is die grootste misdadiger. Slagoffers van misdaad word selfs vervolg net omdat hulle hul eiendom en lewens teen boosdieners wou beskerm. Die Bybel sê wat die doel van ’n burgerlike regering is: “...want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede, maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen te straf” (Rom.13:4). Ps.101 sê die selfde. ʼn Eerbare regering moet sy wetsgehoorsame burgers beskerm en boosdoeners behoorlik aan die pen laat ry.
Petrus sê: “Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here – of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goeddoen, te prys” (1 Pet.2:13,14). Omdat ʼn regering namens God optree, moet dit soos God optree. Hy straf die kwaad en seën die goeie; nie anders om nie!
By misdade soos diefstal, brandstigting en kwaadwillige saakbeskadiging vereis die Bybel regstelling tot die oorspronklike staat. ’n Regering wat die Bybelse regstellingsproses toepas en slagoffers vergoed, sal verhoed dat misdaad lonend word. Daarbenewens moet die straf ook by die oortreding pas (Deut.19). ʼn Regering wat God se wet toepas, is feitlik misdaadvry.
Die Bybel gee aan wetstoepassers ʼn paar duidelike reëls om misdaad mee te bekamp:
(i) Misdadigers moet volle verantwoordelikheid vir hul oortredings neem. Die invloed van drank of dwelms is nie versagtende omstandighede nie (Num.35:16-21).
(ii) Jeugdiges moet net soos volwassenes gestraf word. As hy ʼn volwasse oortreding begaan, moet hy volwasse straf ontvang (Eseg.18).
(iii) Die Bybel eis die doodstraf vir halsmisdade en die regstelling vir alle diefstal en die eiendomskade (Ex.21,22). “Indien ’n dief betrap word terwyl hy inbreek en hy word geslaan, sodat hy sterwe, sal daardeur geen bloedskuld ontstaan nie” (Ex.22:2).
Elke mens is egter vir sy eie beveiliging verantwoordelik. Nehemia was by geleentheid genoodsaak om sy volk teen die vyand te bewapen ”... Julle moenie bang wees vir hulle nie.; dink aan die grote en gedugte Here en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise” (Neh.4:14). Hulle wat die naaste aan jou is, moet eerste beskerm word: “Maar iemand wat vir sy eie mense en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige” (1 Tim.5:8).
Mag God ons spoedig met ʼn nuwe regering van gelowiges seën wat hierdie misdaad kan hokslaan: “O huis van Dawid! So spreek die Here: verskaf reg in die môre en red die beroofde uit die hand van die verdrukker, sodat my grimmigheid nie uitslaan en brand soos ’n vuur sonder dat iemand dit kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge” (Jer.21:12).