Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Laat ons nooit vergeet dat alles en almal aan God se mag onderworpe is nie. Hy gebruik selfs booswigte as instrumente in sy hand - ’n karwats om stout kinders ’n loesing mee te gee. God het by geleentheid selfs ’n bose gees gebruik om die afvallige koning Saul te teister. Weet dat God alle mag ook oor Suid-Afrika het.
VOLHOUBARE NASIONALISME...
... HET NET EEN GRONDSLAG
Jeanette Koekemoer
Daar is net twee beginselbasisse in die Suid-Afrikaanse politiek; 'n nasionale beginselbasis of 'n liberale beginselbasis. Die liberale beginselbasis het oral in Afrika misluk, is besig om nou ook in Europa te misluk; dit het die onlangse verkiesings daar bevestig, en is ook besig om nou in Suid-Afrika te misluk - ons beleef 'n ekonomiese verknorsing wat binnekort tot totale ineenstorting gaan lei, en ons sit met binnelandse geweldpleging wat die getuigskrif is vir die mislukking van hierdie beleid. Nog sien ons nie ‘n totale terugkeer na die nasionalisme onder ons eie mense nie – dit is asof hulle verlam is deur die gif van liberalisme.
In ons geskiedenis het die ineenstorting van die Afrikanervolk se politieke mag tevore die staat laat verval maar het die Afrikanervolk nie daarmee saam verdwyn nie.
Afrikanernasionalisme het telkens onder begeestering van sterk en toegewyde leiers soos dr Verwoerd die volk se gees opgehef en hom besiel met die besef dat sy eie aard en waardes sy kosbaarste besit is waarvoor geen prys te hoog is om te betaal nie. Dit het ons volk vervul met selfrespek, met eerbied vir sy geskiedenis en trots op sy heldedom.
Maar toe die verraderlikheid van liberale leiers soos FW de Klerk en Pik Botha seëvier is nasionale selfrespek vernietig, asook die wil om die vyand te stuit. Dit is waar die Afrikanervolk te staan gekom het ná jare van leierskap wat onder liberale invloed stap vir stap ons volk se selfrespek en selfvertroue afgetakel het, sy denke verwar, sy geloof ondermyn, sy beginsels verloën en sy idealisme verknoei het.
Die “verandering” is nie die werk van die revolusionêre ANC nie maar dié van liberale. Dit is ook as gevolg van Blanke passifiste maar veral die poitieke verraad van liberale leiers. In plaas van die oorlog te veg en te wen, het die NP-Regering Suid-Afrika in 'n krisis gedompel, wat aan die ANC die geleentheid gegee het om die liberale binne die "Nasionale" Party ter wille van vrede aanvaar te kry. En ná 25 jaar onder ‘n godlose swart regime is die Afrikanervolk steeds nie besiel met die begeerte om te herrys as ‘n trotse volk met ‘n heroïese geskiedenis en sy nasionalisme af te dwing nie.
Die teendeel word egter in Europa gesien waar daar tydens die afgelope verkiesings ‘n sterk nasionalistiese groei sigbaar was. Ons onthou nog die video wat versprei is waarin die Eerste Minister van Pole sy man gestaan het teen die liberale media wat sy nasionalistiese siening sterk veroordeel het, dat vreemdelinge nie in Pole welkom is nie. So is daar ook in Frankryk, Brittanje, België, Italië en selfs Indië sterk nasionalistiese herlewing sigbaar. Dit kan grootliks toegeskryf word aan die miljoene sogenaamde vlugtelinge wat Europa oorspoel het met getalle en misdaad, verkragting en die ontneem van burgers se regmatige werksposisies. Dit het inderdaad tot gevolg dat landsburgers genoodsaak voel om hulle eiendomme, gesinne en werk te beskerming. Dit bring ‘n samehorigheid by ‘n volk teweeg en word uiteraard nasionalisme genoem.
Daarvoor bestaan natuurlik waardering, maar is die basis van die huidige nasionalistiese herlewing in Europa sterk genoeg om volhoubaar te wees? Durf ons daaroor opgewonde raak? Verseker nie, as dit nie op die grondslag van christenskap gebou is nie. En ja, verseker, indien hul geloof in ons hemelse Vader die grondslag daarvan is.
Die eerste eis wat aan die Christen gestel word, is om God bo alles lief te hê. Vanuit hierdie liefde moet sy totale bestaan gevul word. Dit is daarom ondenkbaar dat in 'n nuwe bedeling van 'n staatshuishouding wat op 'n ander grondslag rus as dié van die geloof in die Drie-enige God, volhoubaar sal wees.
As daar een grondwaarde is wat as ononderhandelbaar beskou moet word, is dit nie bloot godsdiensvryheid nie, maar die christelike geloof as grondslag en uitgangspunt vir die opbou van 'n samelewing waarin ‘n volk 'n plek kan hê. Dit spreek vanself dat daar nie náás hierdie grondslag ook nog plek kan wees vir die grondwaarde van die kommunistiese ideologie, die Islam, of wat ook al nie.
Wat Europa betref moet mens nie te opgewonde raak nie. Die Internasionale Geldmag het sy sisteem só ontwerp dat ‘n nasionalistiese party nie lank aan bewind sal wees nie tensy hul oorwinning op ‘n christelike basis geskied het. Selfs dán is die verraad en infiltrasie soms so doeltreffend dat nasionalistiese leiers gou uit die weg geruim word soos dr Verwoerd en menige voor hom.
Wat Suid-Afrika egter betref is daar hoop. Hoop dat hierdie Afrikanervolkie sal terugkeer na sy wortels van christenskap. Uit vrye wil gaan dit klaarblyklik nie gebeur nie maar God is besig met ons. Bietjie vir bietjie word ons volk op sy knieë gedwing as gevolg van die smart en pyn wat ons onder hierdie regime ly. Die moorde, barbaarse aanrandings en verkragtings is besig om ons na God terug te dwing en die onnaspeurlike magte wat in 'n volk werk wanneer hy in soveel ellende en angs verkeer, druk sy stempel af, net soos by Bloedrivier. Daarom gaan ons weer ‘n Bloedrivier tegemoet, en sal ons, ons weer na God wend vir uitkoms. Eers dán sal die samehorigheid in daardie oomblikke van skok en angs ons nasionalisme laat herleef en tot hoër hoogtes as ooit in ons geskiedenis voer.
Onthou ook, solank die Afrikanervolk bereid is tot die uitdaging van Afrika, sal hy krag put uit sy verbond met God en het hy niks om te vrees nie!