Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy nie iets kan sê wat tot die eer van God bydra nie, bly liewer stil. Mense het al dikwels spyt gekry oor hulle woorde maar nie oor hulle stilswye nie.
GOD GEBRUIK GEWONE MENSE! (7)
Terry Virgo
Lees reeks by God gebruik gewone mense!
'N HUIS VIR DIE HERE
Dawid was nie net 'n soldaat nie maar ook 'n gelowige, 'n aanbidder van die Here God. As ons hom ontmoet is hy 'n jong man met 'n slingervel wat musiek vir die Here maak – en wanneer ons van hom afskeid neem is hy 'n magtige koning met 'n leër en 'n volledige bouplan vir 'n pragtige tempel vir die Here.
Hy wou sy lewe lank graag vir die Here 'n tempel bou maar dit was nie deel van God se plan vir sy lewe nie; daarom lees ons in 1 Kronieke 22 "...jy mag nie vir my Naam 'n huis bou nie omdat jy baie bloed op die aarde voor my aangesig vergiet het. Kyk, 'n seun sal vir jou gebore word; hy sal 'n man van rus wees... Hy sal vir my Naam 'n huis bou." Dawid se lewenslange ideaal om 'n tempel te bou sou nog moes wag en hy sou nie uiteindelik die een wees om dit te doen nie.
Moses het eeue tevore reeds oor 'n woning vir die Here gedroom en selfs daaroor gesing nadat die volk so wonderbaarlik deur die see getrek het. Hy het toe reeds geweet dat die Here 'n stad op die berg sou hê en dat sy woonplek in daardie stad sou wees.
Jare ná die dood van Salomo is die volk, wat toe reeds ver van die Here af geleef het, in ballingskap weggevoer en die tempel verwoes. Met hulle terugkeer jare later het hulle, onder aanvoering van die profeet Haggai, onderneem om weer 'n tempel te bou. Die rede daarvoor was tweërlei: hulle wou die tempel herbou omdat dit die Here sou behaag en sodat Hy in sy heerlikheid daarin kon gaan woon.
'n Huis om God te verheerlik
Dawid wou 'n plek bou waar die verbondsark gehou kon word en waar God in sy heerlikheid teenwoordig kon wees. Hierin is ook vir óns 'n belangrike les naamlik dat God se woonplek Hom moet verheerlik en nie aan ons vereiste moet voldoen nie.
Die Nuwe-Testamentiese huis van God is natuurlik nie 'n gebou van stene en klei nie maar is uit "lewende stene" opgebou. Dit is 'n geestelike huis en ons is die lewende liggaam van Christus. Hy woon deur sy Gees in ons. Miskien moet ons 'n slag na ons kerke gaan kyk en onsself afvra of hulle waarlik 'n geestelike tuiste vir die Here is. Indien nie, moet ons iets daaromtrent doen. Te veel kerke is vandag weinig meer as monumente waar seker rutuele uitgevoer word – en 'n kerk waar God nie voelbaar teenwoordig is nie, is nie 'n kerk in die ware sin van die woord nie.
Sy kerk moet vir Hom 'n bron van vreugde wees maar ook 'n plek waar Hy in sy heerlikheid kan verskyn en woon. Die Almagtige woon in die lofprysinge van sy kinders. Kan vreemdelinge sy teenwoordigheid duidelik waarneem in ons samekomste? Kan hulle sien en voel en hoor dat daar iets wonderliks gebeur – of hoor hulle maar net godsdienstige woorde?
Dit is so dat ons in die afgelope dekades 'n groter openbaring van God se heerlikheid in ons kerke kon sien voordat dit in die laaste jare onder 'n ateïstiese owerheid weer afgeneem het. As ons opreg vir Hom lewe sal ons egter graag kerktoe gaan om Hom daar te ontmoet en met Hom gemeenskap te hê en om geen ander rede nie. Dawid wou so graag 'n huis vir die Here bou. Hoe voel jy oor sy huis? Het jy sy kerk waarlik lief of woon jy maar net die eredienste by omdat dit van jou as Christen verwag word? Het jy vasgesteek by die eerste ontwikkelingsfase van die verlossing – wat in baie opsigte 'n selfgesentreerde fase is omdat dit vir die nuwe Christen nog oor sy eie verlossing en vergifnis gaan – of verstaan jy al dat die Here ook 'n groter plan het... waarvan jy ook deel is en waarin jy ook 'n taak het?
Die kerk is die middelpunt waarom die geskiedenis draai. Die Here vertel vir ons in sy Woord dat hemel en aarde eendag tot niet sal gaan. Wat bly dan oor? Is daar iets wat ewig is en wat nie tot niet sal gaan nie? Ja, daar is. Die bruid van Christus. Daarom is ons God besig om sy bruid bymekaar te maak en dié bruid is 'n kerk of volk wat in sy ewige koninkryk sal woon. Dit is die goue draad wat die geskiedenis tot 'n eenheid saambind.
Daar is baie historici wat meen dat daar geen doel of betekenis in die geskiedenis is nie en dat ons dus ook nie regtig iets daaruit kan leer nie. Die Bybel vertel vir ons 'n ander verhaal. Die Bybel sê dat God die Skepper van hemel en aarde, dus ook van die geskiedenis, is. Alles behoort aan Hom en as Hy daarmee klaar is sal Hy sy bruid – die stad en die huis van God – daaruit wegneem.
'n Wondermooie huis!
Dawid vertel dat die huis van God "tot 'n roem en sieraad van al die lande" moet wees." Is dit hoe jou kerk is? 'n Sieraad vir God? Daar is vandag soveel konflik en meningsverskille oor die manier waarop die Here in sy kerk aanbid word. Mense word kwaad en loop uit as ander gelowiges dinge doen wat vir hulle "onaanvaarbaar" is. Moet ons nie liewer van ons eie verskille vergeet en alles wat ons het en is, inspan om God met ons hele hart te loof en te prys nie?
Kom ons gebruik die talente wat God ons gegee het tot sy eer. Dis nie nodig dat ons kinders voor die TV vasgenael hoef te sit nie! Laat hulle liewer leer om musiek te maak tot eer van God. Halfhartigheid en middelmatigheid strek Hom nie tot eer nie en is eenvoudig nie goed genoeg vir Hom nie! Hy sê ook in sy Woord vir ons so, want ons sien hoe die mense in die tyd van die profeet Maleagi hulle sien en gebreklike diere aan Hom geoffer het. Hy het daardie offers verwerp en gesê: "Ek het in julle geen welgevalle nie... Ek is 'n groot Koning, sê die Here van die leërskare, en my Naam is gedug onder die heidene." (Mal 1>)
'n Mens kan baie duidelik sien as mense hulle alles en hulle beste vir die Here gee, want daar is 'n vuur, 'n blydskap en 'n lewe wat anders is as enigiets van hierdie wêreld en elkeen wat in so 'n samekoms instap, sal dit voel en daardeur meegesleur word. Geen vreemdeling wat die eerste keer daar instap, sal ooit weer dieselfde wees nie want hy sal nie anders kan as om vir homself te sê: "Die Here is waarlik hier!". Dit is die soort huis wat ons God wil hê!
'n Huis wat oor die wêreld bekend is
Dawid het vir Salomo gesê dat die huis van die Here in al die lande van die wêreld bekend moes wees. Baie Christene dink dat 'n gemeente klein moet wees om te verseker dat die aanbidding eg en opreg sal bly. Ons God wil sy huis oor die hele aarde vestig. Hy wil dat almal daarvan weet – so was dit in die verlede en so sal dit bly.
Die huis van die Here sou nie net in al die lande van die wêreld bekend wees nie maar ook 'n sieraad vir die lande wees – so het dit ook gebeur voordat die antichris se werk in alle erns op aarde begin het. Die evangelie sou aan al die nasies verkondig word en die werk van die Heilige Gees is die vorige paar dekades duideliker as tevore waargeneem.
Die Here wil dat jy moet weet wat jou taak op aarde is, naamlik om sy Seun te aanbid en te gehoorsaam en 'n aktiewe lidmaat te wees in 'n kerk wat Hom oor die lengte en breedte van die aarde verheerlik.