Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ek kniel voor die Heer,
En vir Hom sê: "Ek het so seer!
O Heer U weet, ek kan net nie meer."
Dan hoor ek hoe sê die liewe Heer:
"Kom sit hier by My, bring jou seer,
Kom sit jou las en pyn by my voete neer."
DIE GELOWIGE IN PYN EN LYDING (1)
MOENIE GOD VERWYT NIE
Ds AE vd Berg
Lees reeks by Die Gelowige: Pyn en lyding
"Mense wat die dood van ‘n geliefde nie wil verwerk nie, verkwalik met hul optrede in werklikheid die Here."
Job 1(teks:22)
Inleiding
Ons leef net een keer op aarde en nooit weer nie. Maar as ons reg leef, is eenkeer genoeg. Van een ding
Wie ‘n lewe sonder pyn en beproewing verlang, moet òf ‘n lyk òf ‘n god wees. Mense reageer nie almal eenders op beproewing nie. Sommige mense lê geloof en selfbeheersing aan die dag terwyl ander weer oorreageer en in selfbejammering verval.
Beproewing raak ons hele menswees; nie net fisies nie, maar ook psigies. Dit tas ons verstand, emosies en gees aan. Hoe ons hierop reageer, bepaal ons geesteskrag. Aan die feit dat fisiese lyding ons liggaam verswak,
Moenie God verwyt nie
Beproewings bring dikwels verwyte mee. Sommige mense verwyt hulself terwyl ander die Here verwyt en sê: “As dit is hoe God my behandel, wil ek niks verder met Hom te doene hê nie!” Sulke mense beskou godsdiens as ‘n ongeluksvrywarings-polis. God moet, as vergoeding vir hul kerkgang en Bybellees, alle beproewing van hulle afweer. Sulke mense raak altyd terleurgestel. Beproewings maak hulle bitter in plaas van beter. Nee, God skuld ons op aarde niks nie, nie eens die lewe nie. Alles is genade – onverdiende guns!
Mense wat die dood van ‘n geliefde nie wil verwerk nie, verkwalik met hul optrede in werklikheid die Here. Dikwels onttrek hulle hul van alles en almal, veral die kerk en die gemeenskap van die gelowiges. Sulke optrede is niks anders as opstand teen God nie en derhalwe sonde.
In tye van ernstige beproewing het ons God juis die nodigste. Gelowiges sal eerder meer pyn en lyding verduur as om hul rug op God te draai. Ons durf nie toelaat dat omstandighede ons van ons geloof stroop nie, want dis presies wat die Satan wil hê, vra maar vir Job!
God se wil moet voorop in ons lewens staan. Sy wil is nie iets wat ons iewers moet gaan soek nie, maar eerder iets wat ons in gehoorsaamheid moet doen. En as ons ons werklik daarop toelê om in ons beproewing sy wil te doen, sal daar nie nog tyd wees om sy optredes te bevraagteken nie.
Ongelukkig is God vir baie mense soos ‘n spaarwiel - net goed in geval van nood. Godsdiens is vir hulle soos ‘n bus - maak net daarvan gebruik as dit in hulle rigting gaan. Nee, God moet die stuurwiel, nie die spaarwiel van ons lewens wees nie!
Beproewings laat dikwels vrae in ons gemoed onstaan. In die lied Why vra die sanger Roger Wittaker: “Will the last word ever be spoken be why?” so sprekend van die mens. Ons vra altyd waarom? God antwoord ons waarom’s nie altyd met daarom’s nie; slegs met die belofte dat ons eendag alles wel deeglik sal verstaan. Paulus skryf in 1 Kor.13:12 “……Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken…”
Beproefdes probeer dikwels hul verbittering agter maskers wegsteek. Pyn dra nie vir lank ‘n masker nie. Op een of ander stadium kom dit af. Gevolglik is daar net een oplossing – maak vrede met jou beproewing. En hoe maak ‘n mens vrede daarmee? Deur jou gedagtes op God se beloftes in te stel. Dis immers hoe ons Here Jesus die pyn van die kruis verduur het. Hy was geheel en al op sy hemelse Vader se beloftes ingestel. Laat ons sy voorbeeld navolg!
Baie jare gelede het ‘n touloper voor ‘n skare nuusieriges oor die Niagra waterval geloop. “Waarom dra jy nie iemand op jou rug oor nie?” het ‘n verslaggewer hom uitgedaag. “Kom klim op my rug” het die touloper hom genooi. Na baie mooipraat en allerlei beloftes van sy kollegas het hy ingestem. Net voordat hulle begin loop, het die touloper vir hom gesê: “Sien jy daardie rooi rots aan die oorkant? Hou jou oë net daarop gerig. Moenie afkyk nie!” Hy het nie afgekyk nie en die oorkant veilig bereik.
Wat leer ons hieruit? Kyk vorentoe; nie agter jou, langs jou of waar ookal nie; slegs vorentoe na Jesus aan die oorkant. Petrus het een nag op die see van Galilea gewaag om sy oë van Jesus af te neem en dit het hom amper sy lewe gekos. Moenie dieselfde fout maak nie!
Siekte is nie die gevolg van jou sonde nie! Vervolg...