Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die beste ding wat Jonathan vir Dawid kon doen, was om doodeenvoudig net sy vriend te wees. Dawid het geweet dat Jonathan vir hom omgee en dit was voldoende beloning. Hy wou geen verdere beloning hê nie. Dis mos wat ’n vriendskap goddelik maak.
M O S E S... (2)
...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het
Dr JP Botha
Lees reeks by MOSES
MOSES VLUG NA MIDIAN
Kort nadat my broer Moses 40 jaar oud geword het, het hy op een van sy besoeke aan sy verslaafde Israelitiese landgenote, gesien hoe ‘n Egiptiese slawedrywer ‘n arme Israelitiese werker wreed aanrand. Dit was net te veel vir Moses om te aanskou. Sy vinnige humeur het buite perke opgevlam. Hy het die Egiptenaar stormgeloop en hom met ‘n paar kragtige vuishoue morsdood geslaan. Toe het hy bekommerd rondgekyk maar niemand gewaar nie.Die volgende dag stap hy weer tussen die werkers rond en gewaar twee Israelitiese slawewerkers wat besig is om handgemeen te raak. Moses vind dit toe baie jammer dat twee volksgenote besig is om mekaar toe te takel. Hy stap toe nader en sê vir die een wat verkeerd was: “Waarom rand jy iemand van jou eie volk so venynig aan?” “Wie is jy nogal?” het die man geantwoord. “Wie het jou as baas en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar gister doodgeslaan het?”
Moses het geskrik toe hy agterkom sy daad van die vorige dag het bekend geword. Selfs farao het daarvan gehoor. Hy het opdrag gegee dat Moses gesoek en tereggestel moes word.
Skielik was daar vir Moses net één uitweg as hy wou bly leef: Vlug! Waarheen? Hy het die landstreek Midian gekies en die padgevat daarheen.
‘n Paar dae later sit hy en uitrus by ‘n sterk waterfontein. Langsaan is ‘n put gegrawe, waaruit die water emmersvol uitgetrek moet word en die krippe langsaan gevul moet word vir die wagters se vee om te drink. Toe gewaar hy sewe dogters wat met ‘n klompie vee naderkom en begin om die waterbakke vol te maak. Maar toe kom daar oor die bult ‘n groot lawaai aan. ‘n Stuk of ses jongmanne storm luidrugtig met ‘n groot trop vee op die waterkrippe af en begin om die meisies se vee wat drink, met stokke te slaan en te verdryf, terwyl ‘n paar kêrels met ‘n geskreeu hul eie vee naderbring om te drink.
Dit was vir Moses se regverdigheidsin heeltemal te veel. Hy het met ‘n uitroep van verbasing, sy lang, sterk wandelstok gegryp, onder hulle ingespring en begin slaan. Die diere het nie so gou padgegee soos die mans nie. Nietemin, hulle het in alle rigtings gevlug.
Toe die omgewing by die put skoon is, gewaar Moses die meisies wat hulle klompie vee op ‘n veilige afstand bymekaar hou en oppas. Hy stap nader en nooi hulle uit om hul vee weer water toe te bring, waar hy hulle help om hul vee te laat suip. Hierdie sewe dogters se pa was Reüel. Hy was ook bekend as Jetro, een die priesters van hierdie landstreek. Toe die meisies daardie dag met die vee weer tuiskom, vra Reüel vir hulle: “Hoe is julle dan vandag so vroeg terug?”
Hulle sê vir hom: “Daar was ‘n man uit Egipte wat ons teen die mans verdedig het. Hy het ons gehelp waterskep en die vee laat drink.”
“Nou waar is hy dan?” vra hy sy dogters. “Het julle die man dan net daar gelos? Roep hom en nooi hom uit om saam te kom eet.”
Moses het die uitnodiging met graagte aanvaar: Daarna het hy sommer maar ook by hierdie man gebly en na ‘n tyd het Reüel sy dogter Sippora vir Moses as vrou gegee. Later het sy ‘n seuntjie gehad. Moses het hom Gersom genoem, want hy het gesê: “Ek is ‘n vreemdeling in ‘n vreemde land.”
Moses het sy skoonpa, Jetro, se skape opgepas. So het hy baie dae in rustige saligheid deurgebring en feitlik vergeet wat in Egipte besig is om plaas te vind.
Daardie kwaai koning wat Moses sou teregstel, is later dood, maar die Israeliete moes nog steeds slawewerk verrig. Hulle geroep om hulp en gesoebat om bevry te word van die harde werk, het na God toe opgestyg. Hy het gesien wat met hulle gebeur en het gedink aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob en sou sy volk nooit in die steek laat nie
Vervolg...