Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God is nie op soek na briljante mense nie. Hy is nie afhanklik van welsprekende mense nie. Hy is nie beperk tot talentvolle mense om sy evangelie na die wêreld uit te dra nie. God is op soek na gebroke mense wat hulleself in die lig van Christus se kruis ondersoek het. Wanneer Hy iets gedoen wil hê, maak Hy gebruik van mense wat die einde van hulle eie kragte bereik het, diegene wie se vertroue nie in hulleself is nie maar in God.
M O S E S... (6)
...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het
Dr JP Botha
Lees reeks by MOSES
DERDE PLAAG: MUSKIETE
Die Here het toe vir Aäron gesê; “Vat jou stok en slaan in die stof op die grond. Dit sal muskiete oor die hele Egipte bring.” Hy het toe so gemaak en die stof het muskiete geword wat op mens en dier toegesak het. Die stof oor die hele land het in muskiete verander. Die farao se towenaars kon nie daarin slaag om sulke insekte te maak nie. Die muskiete het al wat mens en dier was, toegetakel. Die towenaars het vir die farao gesê dis ‘n vingerwysing van God. Maar hy het geweier om te luister en het onversetlik gebly. Hy staan nou alleen voor die Here. Sy helpers het geswig.
VIERDE PLAAG: STEEKVLIEË
Toe gee die Here vir Moses die volgende opdrag: “Staan môre vroeg op en gaan ontmoet die farao wanneer hy op pad is na die rivier toe. Sê vir hom hy moet die volk laat gaan, sodat hulle God kan gaan aanbid. As hy die volk nie toelaat om te gaan nie, gaan die Here swerms steekvlieë op hom, sy werkers, sy volk en in hulle huise laat kom. Die huise in Egipte sal vol steekvlieë wees. Dit sal oral op die grond wemel van die steekvlieë. Die Here gaan ‘n uitsondering maak van Gosen waar sy volk bly. Daar sal nie steekvlieë wees nie. Dan sal hy weet dat die Here mag het oor sy land. Hy sal onderskei tussen ons mense en sy mense. Hierdie teken gaan môre gebeur,
Die volgende môre het groot swerms steekvlieë in die farao se paleis, sy werkers se huise en oor die hele Egipte gekom. Die hele land was in chaos as gevolg daarvan. Die farao het Moses en Aäron haastig laat roep en gesê hulle kan hier in die land vir hulle God offer.
Maar Moses sê vir hom: “Ons kan dit nie doen nie. Die Egiptenaars sal gril vir die offers wat ons vir die Here bring. As ons hier offer en hulle sien dit, sal hulle ons met klippe doodgooi. Ons moet drie dae ver in die woestyn intrek om daar vir die Here te offer. Hy het gesê ons moet dit doen.”
“Maak dan so”, sê die farao. Ek sal julle toelaat om vir julle God in die woestyn te gaan offer. Moenie te ver weggaan nie. Bid sommer vir my ook!”
Moses sê: “Sodra ek weg is, sal ek vir die Here bid om die steekvlieë van U en u mense weg te vat. Moenie weer omvlieg en van plan verander dat die volk nie kan gaan offer nie.”
Na Moses se gebed het die Here toe die steekvlieë van die farao, sy werkers en sy volk af laat verdwyn. Daar het nie een steekvlieg in Egipte oorgebly nie. Die farao het egter viervoet vasgesteek en geweier om die volk te laat gaan.
VYFDE PLAAG: PES ONDER DIE VEE
Daarna het die Here vir Moses beveel om weer terug te gaan na die farao toe met die volgende boodskap: “Die Here, die God van die Hebreërs sê jy moet die volk laat gaan sodat hulle Hom kan gaan aanbid. As jy weier om hulle te laat gaan en aanhou om hulle terug te hou, sal Hy ‘n dodelike siekte laat uitbreek onder al die diere in die veld. ‘n Pes-epidemie sal jou perde, jou donkies, jou kamele, jou beeste en skape tref. Hy sal onderskei tussen die vee van die Israeliete en die vee van Egipte. Nie ‘n dier van Israel sal vrek nie.”
Sulke siektes het nie dikwels in Egipte voorgekom nie en het dus ‘n totale ontwrigting in die Egiptiese huishouding veroorsaak. In Egipte is ook dikwels diere aanbid omdat hulle geglo het dat hulle manufestasies van die gode was.
Die Here het hierdie epidemie net die volgende dag laat uitbreek. Al die vee van Egipte het begin doodgaan. By die Israeliete is daar egter nie een dood nie. Die farao het mense na Gosen gestuur om te gaan vasstel of daar werklik nie een van Israel se diere dood is nie. Al was dit so, het hy hardkoppig gebly en steeds geweier om die volk te laat gaan.
SESDE PLAAG: SWERE
De Here het vir Moses en Aäron gesê: “Vat ‘n paar hande vol roet en laat Moses dit voor die farao in die lug uitstrooi. Dit sal soos fyn stof oor die hele Egipte versprei en rou sere aan mens en dier laat kom.”
Hulle het dit gedoen en dit in die lug gestrooi onderwyl die farao toekyk. Daar het rou sere op mens en dier begin uitbreek. Die towenaars wou Moses en Aäron dit nadoen, maar hulle kon nie, en hulle was self vol sere. Dit het die farao nog koppiger gemaak.
SEWENDE PLAAG: HAEL OOR DIE LAND
Toe sê die Here vir Moses: “Staan more-oggend vroeg op en gaan sê vir die farao: “Die Here, die God van die Hebreërs sê: Laat my volk gaan, sodat hulle my kan gaan aanbid. As jy hulle nie toelaat nie, gaan ek ‘n ramp stuur wat jou en jou amptenare en jou volk werklik gaan ruk. Jy sal dan verseker weet dat daar nie nog iemand soos Ek op die ganse aarde is nie. Ek kon jou al lankal doodgemaak het. Ek kon jou en jou volk ook al met ramp van die aarde af gevee het. Ek het jou egter gespaar, sodat jy kan sien hoe magtig Ek is en dat my Naam oor die hele aarde bekend sal word. Jy hou aan om jouself belangriker te ag as my volk en te weier om hulle te laat gaan. Ek gaan môre hierdie tyd die grootste haelstorm wat daar nog ooit gesien is, oor Egipte stuur. Laat dadelik al jou vee en alles van jou wat buite in die veld is, terugkom. Enige mens of dier wat buite in die veld gevang word en nie onder dak is nie, sal nie die storm oorleef nie.”
Baie van die farao se amptenare het hulle vee en werkers in veiligheid gebring, maar dié wat net hulle skouers opgetrek het, het hul werkers en hul vee net daar in die veld gelos.
Die Here het vir Moses beveel om sy stok in die lug op te steek. Toe kom daar donderweer en weerlig en ’n geweldige haelstorm bars los oor die hele Egipte-land. Dit was die grootste wat daar nog ooit in die land was. Dit het deur die hele Egipte getrek en alles, plante, mens en dier, platgeslaan, ook die bome. In Gosen het geen hael geval nie.
Onderwyl dit alles plaasvind, laat roep die verskrikte farao vir Moses en Aäron en sê: “Ek het verkeerd gemaak. Hierdie keer is die Here reg. Ek en my mense is verkeerd. Bid tog tot die Here dat Hy hierdie verskriklike weerlig en hael laat ophou. Ek sal julle laat gaan. Julle hoef nie langer te bly nie.”
“Goed so,” antwoord Moses. “Sodra ek uit die stad is, sal ek tot die Here bid om die hael en weerlig te laat ophou. Jy sal dan weet dat die aarde aan die Here behoort. Maar ek weet dat jy en jou amptenare nog glad nie in die Here glo nie.”
Die vlas- en garsoes was daarmee heen. Die gars was vol in die aar en die vlas het begin knoppe maak. Die koring en die hawer was veilig, want dit het nog nie opgekom nie.
Toe Moses sy hande opsteek en begin bid, het die weerlig opgehou blits en die hael en reën het opgehou. Toe farao dit gewaar, het hy en sy amptenare maar weer geweier om te doen wat hulle belowe het. Hy het botweg geweier om die volk te laat gaan. Die Here het gesê dit sal gebeur.
Vervolg...