Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die wêreld word besoedel met vuil taal. En min mense dink nog dit is verkeerd en afstootlik want almal doen lustig mee, selfs Christene wat daarvan niks dink om kru woorde selfs net in 'n grappie oor te vertel nie. As jy die HERE reg langs jou kon raaksien, dag en nag waar Hy werklik is want Hy is jou Vader wie se Heilige Gees voltyds by jou as kind van God is, sou jy nog so los en vas kragwoorde uiter? Of sou jy behoorlik skaam gevoel het oor die manier waarop Hy na jou kyk...
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (52)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
11 KONINGS
LES 1
AHASIA EN JORAM KONINGS VAN ISRAEL
2 Kon 1 en 3
1. Ahasia ʼn bose koning
Ná Agab se dood het sy seun Ahasia, wat net twee jaar regeer het, koning geword. Hy was goddeloos en het die Baäl- en kalwerdiens bevorder. Die meeste stede het hul eie Baäl gehad, elkeen met ʼn eienaam gehad. Ahasia het dienaars na Ekron, ʼn Filistynse stad, gestuur om ʼn godspraak (orakel) te verkry. Hierdie stads-Baäl is Baäl-Sebub (ook Sebul) genoem; die Beëlsebul van die NT (Mt.12:24).
Ahasia het ernstig seer gekry toe hy deur die venster van sy bokamer geval het. ʼn Bokamer was gewoonlik op die plat dak waarvandaan ʼn goeie uitsig verkry kon word en koelte verskaf het. Die val het gesondheidsprobleme veroorsaak waarteen die medici nie opgewasse was nie. Daarom het Ahasia dienaars na Baäl-Sebub vir raad gestuur. Sebub beteken steekvlieë. Hy is as ʼn natuurgod met mag oor insekte vereer.
2. Die sending na Ekron
God het die sending na Ekron veroordeel en Elia gestuur om straf oor hulle aan te kondig. Waarom het hulle na Ekron gegaan? Was daar dan geen God in Israel nie? Ahasia sou nie gesond word nie, maar sterf. Elia se woorde het die dienaars so diep getref, dat hulle na Samaria teruggekeer het om Ahasia daarvan te vertel. Ahasia het aan hul beskrywing besef dat dit dieselfde profeet was wat sy vader teengestaan het (1 Kon.18:17; 21:20).
Agab het hom destyds geen leed aangedoen nie. Ahasia, daarenteen, het ʼn gesantskap gestuur om Elia te gaan haal. Nadat Elia met hulle gepraat het, het hulle soos die eerste gesantskap na Samaria teruggekeer. Daarna het Ahasia nog ʼn gesantskap gestuur. Hulle was so onder die indruk van Elia se goddelike gawe, dat hulle hom gesmeek het om saam met hulle te gaan. Nadat ʼn engel met hom gepraat het, het hy saam met hulle gegaan. Hy het geen doekies omgedraai nie, die sonde by die naam genoem en God se straf oor die koning aangekondig. Ahasia is kort hierna oorlede waarna sy broer Joram koning geword het omdat Ahasia geen seun gehad het nie.
3. Joram
Joram was ʼn kalwerdiensaanhanger, maar nie ʼn Baäl-aanbidder nie. Hy het die klippilaar wat sy vader vir Baäl laat maak het, verwyder. Daarna het Moab in opstand gekom. Hulle het hul alreeds in die tyd van Agab van Israel begin vervreem. Moab was skaapwêreld en koning Mesa ʼn vernuftige skaapboer. Omdat Moab aan Israel onderworpe was, moes Mesa elke jaar 100,000 lammers en die wol van 100,000 ramme as belasting betaal. Dit was baie onbillik.
Toe Mesa geen verdere belasting aan Israel betaal het nie, het Joram sy leër gemonster om met Mesa af te reken. Hy het bodes na Josafat gestuur om by hom aan te sluit en sy geledere te versterk. Josafat het die uitnodiging aangeneem omdat Moab ook vir Juda ʼn bedreiging was.
4. Drie konings trek op
Die twee konings het deur die woestyn van Edom opgetrek om Moab van die suide af aan te val. Edom was aan Juda onderworpe en is gedwing om saam te veg. Na sewe dae was hulle water op. Sulke aanvalstogte is gewoonlik ná die winterreëns geloods wanneer daar voldoende water in die omgewing was. Hierdie keer was daar nie. Hulle was ver van hulle huis en vlak voor die vyand en dit sonder water! Toe Joram moedeloos was en wou tou opgooi, het Josafat gevra of daar nie dalk ʼn profeet onder hulle was nie, waarna Elisa se naam genoem is.
Toe die konings voor Elisa staan, was hy so kwaad, dat hy nie eers na Joram wou kyk nie. Hy het hulle slegs ter wille van Josafat aangehoor. Elisa was heilig ontstoke oor Joram se goddelose regering en ʼn siterspeler laat haal om sy gemoedstoestand te laat bedaar. Terwyl die man op die siter gespeel het, het Elisa geprofeteer dat daar geen reën sou val nie, maar dat die dal wel vol water sou word. God sou die vyand in hulle hand gee. Elisa het die konings opdrag gegee om hard teen die vyand op te tree. Elke boom moes afgekap en alle waterbronne toegestop word. Daarbenewens moes die landbougrond vol klippe gestrooi word.
5. Moab word oorwin
Die oorwinning het vroeg die volgende oggend teen die tyd dat die priesters die môre-offer gebring het, plaasgevind. Eertydse tydsaanduidings is volgens godsdienshandelinge aangedui. Die gate wat gegrawe is, was vol water sodat die manne kon drink. God het voor hulle oë ʼn wonder gedoen!
Die Moabiete het hulself lelik misgis toe hulle op die aanvallers afgestorm het. Die weerkaatsing van die rooidag op die water het vir hulle soos bloed gelyk. Hulle het gedink dat die konings mekaar getakel en verslaan het. Hulle het hul fout te laat agtergekom!
6. ʼn Menseoffer
In sy nood het Mesa sy volwasse eersgebore seun op die stadsmuur as brandoffer geoffer. Hy wou die afgod Kamos oorreed om die oorwinning aan Moab te gee. Die kroonprins het hom heelwaarskynlik vrywillig as offer aangebied. Dit was ʼn gruwel in God se oë. Daarom het daar ʼn groot toorn oor Israel gekom waarna hulle na hul eie land toe is.
Die uitdrukking groot toorn word dikwels in die Ou Testament gebruik om ʼn toorn van die Here aan te dui (Num.1:53; 18:5; Jos.9:20). God het menseoffers streng verbied (Lev.18:21; 20:3). Dis as ʼn ontheiliging van sy Naam beskou. Maar waarom was Hy vir Israel kwaad terwyl Moab die skuldige party was? God se toorn was so groot, dat Israel ook daarvan ervaar het. Hulle het hierdie gruwel ervaar soos wat God dit ervaar het en Moab met veragting verlaat.
Vervolg...