Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dit wat op Kersdag gebeur het, was nie maar net ’n mooi gebaar van God nie, maar om die puin van sonde in ons lewens op te ruim sodat ons waarlik vry kan wees. “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh.8:36). ’n Mens is of vry of gebind. Is daar iets wat jou bind?
NIE TOT DIE DOOD NIE...
TOT VERHEERLIKING VAN GOD SE NAAM
Hannes Ollewagen
Joh. 11:4: “En toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”
Onmiddellik bely Jesus dat hierdie probleem waarmee die mense na Hom toe kom, nie eintlik ‘n “probleem” is nie, maar veel eerder ‘n geleentheid waardeur God se Naam verheerlik kan word.
Ek kan nie anders as om dadelik te dink aan ons volkslewe en die “siekte” wat ons volk tans het, nl. om ons harte aanhoudend teenoor God te verhard en te weier om ons van ons verkeerde weë te bekeer en nie voor Hom te wil verootmoedig nie – ten spyte van al die swaarkry en hartseer wat oor ons kom – ook nie tot die dood is nie, maar tot die heerlikheid van God. Net soos wat die Bloedrivier, die Majuba, ens. nie siektes/probleme tot die dood toe was nie, maar veel eerder tot die heerlikheid van God.
Vers 6: “En toe Hy hoor dat hy siek is, het Hy twee dae vertoef in die plek waar Hy was.” Net om weereens te wys dat TYD vir God geen faktor is nie. Die blote feit dat dit vir ons as mense mag lyk dat as daar nie NOU ingegryp word nie, is dit TE LAAT, dan is dit ‘n hopelose saak, beteken nie dat die situasie vir God onmoontlik geraak het nie; inteendeel dit beteken slegs dat die verheerliking wat Hy daardeur sal kry, op sy eie tyd sal geskied.
So voel dit dalk vir my en jou asof God ook vertoef terwyl ons Hom in hierdie land so bitterlik nodig het en elke dag om genade en hulp smeek. Waarom sal Hy dan langer wil uitstel om ons te help en tot ons redding te kom? Wil Hy dan wag totdat ons almal uitgemoor word voordat Hy sal antwoord en help – maar dan is dit mos te laat? Wil ons nie soos Martha vir God “verwyt” deur te sê: “…Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.” Here, as U my verhoor het, sou dit nie te laat gewees het om te help nie. . . As U net my ouers se gebede en smekinge 20 jaar gelede al aangehoor het toe hulle voor U gepleit het om te verhoed dat ‘n heidense regering oor ons volk heers, sou ons nie nou in hierdie siekte/probleem gesit het nie.
As ons net besef dat geen omstandigheid OOIT vir God te laat is nie, dat ons nie op aarde geplaas is om ons vingers te klap en God moet spring na ons hulpgeroep of selfs bevele nie wanneer ons reken dit is nou nodig of krities nie. Ons is op aarde geplaas vir dieselfde rede as Lasarus, nl. om te dien as instrumente in God se Hand tot eer en verheerliking van sy grote en Heilige Naam.
Ons volk is as geringste van al die nasies as God se volk uitgekies juis sodat ons gebruik kan word tot verheerliking van sy Naam. Ons volk is in die verlede in doodsbenoude situasie geplaas net sodat God ons daaruit kon red en dat sy Naam daardeur verheerlik kan word. Ons volk word vertrap en verneder omdat ons die heerlikheid van God vergeet het en verkies om ons besig te hou met nietige afgodery wat vir ons geen voordeel inhou nie en geen verlossing kan bewerkstellig nie. God laat toe dat ons swaarkry toeneem en dat ons al laer vertrap word totdat ons op die punt kom waar ons erken dat ons onsself nie meer kan help nie en God uit benoudheid aanroep sodat sy Naam deur die verlossing verheerlik kan word.
God alleen ken ons harte en is besig met ‘n suiweringsproses in ons volkslewe, sodat die wat glo, die heerlikheid van God kan sien. (Verw. vers 41). Laat ons berus by die feit dat ons nie God se tyd kan verander nie, so ook nie sy planne nie. Mag God ons die vrede gee om met geduld te wag op sy tyd, soos Hy dit bepaal het.
Mag Hy ons as die oorblyfsel van sy volk, ook genadig wees in die wete dat ons spoedig die heerlikheid van God mag aanskou in die verlossing wat ons van Hom te wagte is!