Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Al is ons hulpeloos, arm en ellendig, help God ons. Dis mos die hart van die Evangelie – in Jesus Christus buig God tot ons neer wanneer Hy self die kuil van vernietiging op Golgotha betree. As ek dus deur donker dieptes gaan, is Jesus my beste Metgesel.
WAAR Lê U LIEFDE?
Hannes Ollewagen
1 Joh. 2:3-17
“Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” (:15-17).
Hierdie woorde maak dat feitlik elke mens so effens ongemaklik op sy sitplek rondskuif. Ons het tog elkeen dinge hier op aarde wat vir ons kosbaar is en wat ons nie graag sou wou verloor nie. En dit klink so amper uit hierdie gelese gedeelte dat ons niks anders as vir God mag liefhê nie.
Die Here wil natuurlik hê dat ons dankbaar moet wees vir die goeie gawes wat ons uit sy Hand ontvang. Hy verwag ook van ons om ons naaste wat ook as gawe van Hom kom dan hier op aarde lief te hê soos wat Hy sy eie dissipels liefgehad het. Sy innige liefde vir sy dissipels was tog duidelik uit sy optrede teenoor hulle gedurende die tydperk wat Hy as mens op aarde gewandel het. “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos ek julle liefgehad het.” (Joh. 15:12).
Die probleem ontstaan egter wanneer ons as mense hierdie verganklike dinge van die wêreld met soveel ywer begin aanhang dat dit skeiding tussen ons en God bring. Daar is soveel mense wat hierdie aardse dinge só liefkry dat hul liefde tot God heeltemal verkoel. Ons kyk byvoorbeeld na mense wat met alle nederigheid ‘n sakeonderneming op die been bring. Hierdie onderneming word dalk aanvanklik bedryf met ‘n diepe afhanklikheid van God en met ‘n strewe om Hom diensbaar te wees in alles wat aangepak word. Maar namate die onderneming finansieel sterker word, word die strewe toenemend om nie by ander besighede in die wêreld af te steek nie. Die oogmerk is nie meer om God te behaag in dit wat gedoen word nie, maar eerder om soos die wêreld, of beter as die wêreld se standaard te probeer vertoon. Die begeerte om die wil van God te volbring, word heeltemal oorspoel met die vloedgolwe van selfsugtige en eiesinnige begeertes.
Die Here stel dit vir ons duidelik dat ons die besluit moet neem of ons ons lewe wil inrig volgens die wyse van die wêreld of volgens sy raad. Ons moet kies of ons die wêreld wil behaag en of ons God wil behaag. En die keuse vir die een is outomaties ‘n verloëning van die ander. “Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Matt. 6:24).
Die Woord herinner ons gedurig aan die verganklikheid van hierdie wêreld. Hierdie huidige skepping sal alles uiteindelik tot niet gemaak word. Daar sal ‘n dag aanbreek wanneer Jesus Christus weer op die wolke sal kom en dan sal hierdie wêreld totaal vernietig word. Hierdie wêreld waarin daar vir Hom nie plek was nie. Hierdie wêreld wat gedurig sedert die sondeval teen Hom in opstand was. Hierdie wêreld waarin die mensekinders die dinge van die wêreld en hul eie sin meer liefgekry het as hul Skepper. Elkeen van hulle wat hierdie verganklike wêreld aankleef, sal daarmee saam vernietig word.
Diegene wat egter daarin volhard om die wil van God te doen, sal ‘n erfdeel ontvang in die nuwe Jerusalem wat deur God self berei word. Hulle sal die voorreg hê om ewig met Hom daarin te bly. Mag ons tyd as vreemdelinge en bywoners in hierdie verganklike wêreld uitgekoop word om ons vriendskap met God te verstewig. Mag ons kennis van en liefde vir Hom daagliks toeneem. En mag ons verlange na ons ewige en onverganklike erfenis in God se teenwoordigheid elke dag al sterker word soos dit die geval was met die geloofshelde waarvan ons in Hebreërs 11 lees. “Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei.”