Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om te vas is in ons tyd nie 'n opdrag van die HERE of noodwendig deel van ons liefdesverhouding tot God of ons naaste nie – dit kan egter bydrae om as ootmoed voor Hom te dien. Maar waarteen gewaak moet word is dat die misbruik van voedsel tussen ons en Hom staan, 'n sonde wat talle mense pleeg deur onverantwoordelik daarmee om te gaan sonder om te dink daaraan as 'n oortreding.
KEN ONS HOM VAN HARTE?
Hannes Ollewagen
Jeremia 24:1-10
“En Ek sal hulle 'n hart gee om My te ken, dat Ek die Here is; en hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart.” (:10).
Die HERE praat hier van twee belangrike dinge wat saam werk – ‘n hart om Hom te ken. Ons lees oor kennis van Hom, maar ook ‘n liefde vir Hom wat daarmee saamgaan. Ons lees nie alleen dat Hy aan sy volk kennis sal gee nie, maar dat Hy hierdie kennis in ‘n hart sal lê wat Hom ken. Hulle sal derhalwe nie alleen kennis van Hom hê nie, maar ook sal hulle ‘n liefde vir Hom hê.
Kom ons luister weer na die welbekende woorde van Christus uit Matt. 22. “Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.” (:36-38).
Die boodskap van Christus is duidelik dat ons verhouding van God nie alleen uit ‘n gevoellose, dooie kennis van Hom bestaan nie. Ons kan die Woord van die HERE van Gén. 1 tot Open. 22 woord vir woord resiteer, maar as die liefde vir God in ons harte steeds ontbreek, sal ons verhouding met Hom nie gesond wees nie. Dink maar aan die Fariseërs. Sou ons met eerlikheid kan sê dat hulle in goeie verhouding met Hom gestaan het? Natuurlik nie. Hulle het Hom dan immers aan die vloekhout vasgenael! En tog was daar nie ‘n gebrek aan kennis by hulle nie. Maar wel ‘n gebrek aan liefde. Die HERE is tog baie duidelik oor hierdie saak in Jes. 29:13&14. “En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My 'n aangeleerde mensegebod is, daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil.”
Die teendeel is egter ook waar. Ons kan God nie na behore dien sonder die gesonde riglyn van die Woord wat aan ons ‘n ware en suiwere kennis van Hom leer nie. Daar is deesdae soveel sogenaamde godsdienste wat agter elke ander “gevoel” aangaan en dan glo dat dit die HERE is wat vir hulle hierheen of daarheen lei. En tog sal u met nadere ondersoek vind dat hierdie soort van godsdiens onvas en
onseker is, omdat dit nie op die vastigheid van die onverandelike Woord van God gevestig is nie. “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Heb. 13:8). Die Woord is duidelik daaroor dat kennis van God, maar sonder liefde, nie ‘n gesonde verhouding met Hom tot gevolg sal hê nie. Maar nêrens stel die Woord dat ons eie menslike gevoel ons Godsdiens moet oorheers nie. Die Woord van die HERE leer ons nooit dat ons “eie gevoel” belangriker raak of meer gesag as die Woord van God dra nie. Dit is niemand anders as God self wat bepaal het dat ons Hom deur sy Woord moet leer ken nie. “NADAT God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.” (Heb. 1:1&2). Lees saam met Joh. 1:1-3. “IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”
Geliefdes, hierdie gesonde balans in ons geloof word vir ons eintlik onverbeterlik in Hebreërs 10:16 verwoord. “Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe”. Ons lees van die verstand (die kennis) en terselfdertyd van die liefde (hart). En as ons nou weer na die Skrifgedeelte uit Jeremia 24:10 kyk, sien ons dat dit byna identies is waarvan Jeremia praat. Ons lees in Jeremia 24 van ‘n hart (liefde) om Hom te ken (kennis). En hierdie twee dinge werk saam om ‘n gesonde balans in ons Godsdiens te vorm. En met hierdie gesonde balans in ons Godsdiens sal ons verhouding met God ook gesond wees. Dit word vir ons ook in die omgekeerde bevestig in Psalm 95:10. “Veertig jaar het Ek 'n afkeer gehad van hierdie geslag en gesê: Hulle is 'n volk met 'n dwalende hart, en hulle ken my weë nie;”. Die verhouding tussen God en hierdie geslag was klaarblyklik baie sleg. En waarvan lees ons in hierdie enkel vers wat die slegte verhouding aanspreek? Hulle hart het gedwaal en dat hulle die weë van die HERE nie ken nie. Hulle word nie alleen oor ‘n gebrek aan kennis óf ‘n gebrek aan liefde aangespreek nie, maar wel oor ‘n gebrek aan kennis én liefde.
Ek wil afsluit deur u gedagtes terug te neem na koning Salomo. ‘n Man by wie geen kennis ontbreek het nie. Ja, ook die kennis van God het hom nie ontbreek nie. En terwyl hierdie kennis van God met die stewige gom van liefde vir God gebind was, was koning Salomo naby aan God. Maar toe hierdie gom van liefde vir God
weggewas is deur ander begeertes wat hierdie liefde verdring het, het sy verhouding met God skade gely. Salomo is deur sy vader hierteen gewaarsku. En net so word ons hierteen gewaarsku. Mag ons verhouding met God vir ons belangrik genoeg wees en ons liefde vir Hom sterk genoeg wees om hierdie waarskuwing ter harte te neem.
“En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met 'n volkome hart en met 'n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot.” (1 Kron. 28:9).
Amen.