Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons beproef word, moet ons God nie gedurig met verwytende vrae bestook nie. Soek eerder ‘n nuwe ontmoeting met Hom, ja, ‘n nuwe ervaring van sy teenwoordigheid en grootheid. Om God te midde van ons nood opnuut te vind, is een van die heerlikste winste wat beproewing kan oplewer.
MOENIE KWAADSPREEK NIE
Hannes Ollewagen
1 Pet. 2:1-10
“LÊ dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery;” (:1).
In hierdie brief van Petrus word ons as gelowige kinders van God daarop gewys dat ons moet werk maak daarvan om alle boosheid af te lê. Dit is geen nuwe leer nie. Die Woord van God is duidelik oor die heiligmaking, die aflegging van sonde, die strewe daarna om aan die beeld van God gelyk te raak. En al bly ons sondige mense wat in die vlees nie volmaak kan wees nie, onthef dit ons nie van die verantwoordelikheid om deur die krag van die Heilige Gees in ons lewens die sonde met krag, ywer en mening te beveg en te probeer weerstaan nie. “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.” (Heb. 12:4).
Petrus noem verskeie verkeerde eienskappe in hierdie Skrifgedeelte by die naam – bedrog, geveinsdheid, afguns en alle kwaadpratery. En graag wil ek hê dat ons vandag op laasgenoemde moet fokus. Ons lees in Lev. 19:16 waar God aan ay volk die gebod gee om nie van ‘n ander kwaad te spreek nie. “Jy mag nie as 'n kwaadspreker onder jou volksgenote rondloop nie. Jy mag nie teen die lewe van jou naaste optree nie. Ek is die Here.” Die mens word in hierdie vers gebied om nie van ‘n ander kwaad te spreek nie en ook nie sy hand na die lewe van sy naaste uit te steek nie. In die vers gebied God derhalwe die mens om nie alleen die lewe van ‘n ander te respekteer nie, maar om ook die karakter van ‘n ander te respekteer.
Dit behoort nie as verrassing vir ons te kom dat koning Dawid ook in sy lewe hom oor hierdie saak uitgespreek het nie. “Hy wat heimlik van sy naaste kwaad spreek, hom sal ek vernietig; hy wat hoog van oë is en trots van hart, hom verdra ek nie.” (Ps. 101:5). En God spreek ook hierdie saak deur die mond van koning Salomo aan. “Wie met kwaadsprekery omgaan, maak 'n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie.” (Spr. 20:19). Ons lees verder in Eségiël22 waar God sy volk oor verskeie gruwels aanspreek. En onder hierdie gruwels wat by die naam genoem word, word die kwaadsprekers pertinent uitgewys.
“Kwaadsprekers was daar in jou om bloed te vergiet, en by jou het hulle op die berge geëet en skandelikheid in jou gedoen.” (Eség. 22:9). Ons lees dan ook waar God deur die mond van Jeremia die kwaadsprekers aanspreek. “Ek het jou onder my volk as toetser gestel, as vesting, dat jy hulle weg kan ken en toets. Hulle is almal die oproerigstes van die oproeriges wat omgaan met kwaadsprekery; koper en yster is hulle; hulle handel almal verderflik.” (Jer. 6:27&28). “Pas op, elkeen vir sy vriend, en vertrou op geen broer nie; want elke broer is net 'n onderkruiper, en elke vriend gaan om met kwaadsprekery.” (Jer. 9:4).
Geliefdes, wanneer ons lees uit die boek van Paulus aan die Romeine vind ons die gedeelte waar die verdorwendheid van die heidene aan ons geskets word. En hier lees ons van die allerverskriklikste gruwels waaronder Paulus selfs noem dat hierdie mense haters van God is. Die feit dat kwaadsprekers weereens onder hierdie vele gruwels by die naam genoem word, onderstreep vir ons die gruwel wat dit in die oë van God is. “En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan 'n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid; nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig, mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.” (Rom. 1:28-32). En in Paulus se brief aan Timótheüs word die kwaadsprekers onder die lys van gruwels weer by die naam genoem en word ons selfs die opdrag gegee om ons van sulke mense af te keer. “Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.” (2 Tim. 3:2-5).
Die Woord van die HERE stel dit baie duidelik dat God van sy kinders eis om nie alleen die lewe van ‘n ander te respekteer nie, maar dat ons ook vir die karakter van ons naaste ‘n hoë agting moet hê. En omdat ons as God se kinders weet dat kwaadsprekery vir Hom ‘n ontsettende gruwel is, moet ons onsself ook daarop toespits om ons woorde mooi af te meet en nie met onverskillige woorde teen ons naaste kwaad te spreek nie.
Ek groet u vandag met die gepaste vermaning in hierdie verband uit Jakobus 4:11. “Broeders, moenie van mekaar kwaad spreek nie. Dié wat kwaad spreek van sy broeder en sy broeder oordeel, spreek kwaad van die wet en oordeel die wet; en as jy die wet oordeel, is jy nie 'n dader van die wet nie, maar 'n regter.”
Amen.