Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Langenhoven het goeie raad oor hoogmoed en nederigheid: jy mag maar hoogmoedig wees onder jou meerdere maar jy moet nederig wees onder jou mindere; só sal jy minstens nie jou eie waardigheid of ander s'n kwes nie. Hy herinner ons ook dat nederigheid nooit kan val nie...
LAAT ONS DIE NAAM VAN DIE HERE AANROEP
Hannes Ollewagen
Jes. 64:1-12
“En daar was niemand wat u Naam aangeroep het, wat hom beywer het om U aan te kleef nie; want U het u aangesig vir ons verberg en laat ons wegsmelt deur ons ongeregtighede.” (:7).
Die profeet Jesaja maak in hierdie gedeelte melding van ’n baie belangrike saak. Hy verwys na sy volksgenote waaronder daar niemand is wat die Naam van die Here aanroep nie. Daar is niemand van sy volksgenote wat hom daarvoor beywer om die Here aan te kleef nie. En die situasie is in ons volkslewe vandag nie veel anders nie. Alhoewel die woord “niemand” dalk in die letterlike sin ’n té sterk woord is, is die persentasie van die geheel sekerlik weglaatbaar klein. Waar ons vantevore ’n dag aan die HERE afgesonder het wat ons aan Hom kan wy om na sy Woord te luister, sy lof te besing en Hom saam met ander gelowiges te aanbid, het hierdie dag ontaard in een waarin daar verder na geld gejaag word.
Dit het ontaard in ’n dag wat aan inkopies en allerhande vermaak spandeer word. En dieselfde geld vir ons daaglikse roetiene. Die tyd wat vantevore in huise aan Godsdiens gewy is, is vervang met tyd wat voor die televisie, rekenaar of selfoon verkwis word. Die soeke is na die volgende video op Youtube of iets dergeliks en die soeke na die HERE bly agterweë.
Ons lees in Gén. 4:26 van Adam en sy nageslag wat die Naam van die HERE begin aanroep het. “...Toe het hulle die Naam van die Here begin aanroep.” Hierdie mense wat na die HERE begin vra het om in ’n gesonde verhouding met Hom te staan. ’n Naam is mos dit waardeur iemand geken word. Maar om iemand se naam te ken, stel nie sondermeer ’n goeie verhouding daar nie. Nee, daar moet ’n interaksie met die ander party wees ten einde ’n verhouding te vorm. Adam en sy nageslag het die Naam van die HERE begin aanroep. Dit was net die vertrekpunt daarvan om in ’n gesonde verhouding met Hom te staan. Hierdie begrip word vir ons meer duidelik uit die woorde van koning Asaf in Psalm 80:19. “Dan sal ons nie van U afwyk nie; hou ons in die lewe, dan sal ons u Naam aanroep.” Die volk sou op voortdurende grondslag die Naam van die HERE aanroep, m.a.w. na Hom vra en in ’n gesonde verhouding met Hom probeer leef.
Ek dink dat mense gereeld die denkfout maak dat ’n mens se geloofsverantwoordelikheid met aflegging van ’n belydenis afgehandel is. Die ware geloof lei tot ’n opregte, lewende verhouding met die Drie-enige God, geliefdes. Dit is nie iets wat op ’n sekere punt of ouderdom hanteer moet word sodat jy met die res van jou lewe kan voortgaan nie. En enige verhouding wat afgeskeep word, sal tot niet gaan. Die partye in ’n verhouding wat nie aandag kry nie sal van mekaar vervreemd raak en die verhouding sal eindelik skipbreuk ly. Dit is ook met ons verhouding met God nie anders nie, geliefdes. Wanneer ons tot geloof kom, wanneer ons sy Naam begin aanroep, is dit net die vertrekpunt van ons verhouding met Hom. Ons moet hierna voortdurend die Naam van die HERE aanroep om Hom sodoende beter te leer ken en in ’n lewende verhouding met Hom te staan. En eindelik moet ons in hierdie lewende verhouding met Hom staan om die ewige lewe te beërf. “En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Hand. 2:21). Daar is geen alternatief vir ons redding nie. “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Hand. 4:12). Daar is derhalwe niks op hierdie aarde wat meer belangrik is as om te verseker dat ons die HERE in waarheid ken, Hom in waarheid aanroep en in ’n gesonde, lewendige verhouding met Hom leef nie.
’n Gesonde verhouding met die HERE onse God sal ook tot ’n lewe van heiligmaking lei, geliefdes. Dit is duidelik uit 2 Tim. 2:19. “Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.” Ja, die heiligmaking wat só belangrik vir ons ewige saligheid is! “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;” (Heb. 12:14).
Mag hierdie woorde van God deur die profeet Jesaja ook vir ons laat besin oor waar ons elkeen in ons verhouding met die HERE staan. Die verhouding van ons volk in sy geheel met Hom is duidelik nie gesond nie. En ons is deel van hierdie volk wat dit só noodsaaklik maak vir elkeen van ons om ons posisie hierin eerlik te beoordeel. En mag hierdie vermaning uit die Woord van God ons ook vorentoe aanspoor om sy Naam getrou aan te roep. Ja, mag ons, ons beywer om sy Naam in waarheid te ken en volgens die voorbeeld van ons voorgangers in die geloof Hom met volharding aan te roep.
“Ek sal U 'n offer van danksegging bring en die Naam van die HERE aanroep.” (Ps. 16:17).
Amen.