Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ghandi het by geleentheid gesê: "Julle Christene het 'n dokument in julle besit met genoeg dinamiet daarin om die hele beskawing op te blaas; om die wêreld onderstebo te keer, om vrede na hierdie oorloggesteisterde wêreld te bring. Maar julle lees dit asof dit net goeie literatuur is, niks meer nie".
Selfs 'n nie-Christen soos Ghandi het geweet hoeveel krag daar in die Bybel lê waarmee ons 'n kragdadige lewe kon lei; tog doen ons dit nie. Wat 'n jammerlike toestand waarin die Afrikanervolk verkeer juis dáárom!
ONS VRYHEID IN CHRISTUS
Hannes Ollewagen
2 Kor. 3:1-18
“Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.” (:17).
Die mens het van nature ‘n diep-gewortelde begeerte na vryheid. Dit is seker daarom dat gesprekke wat handel oor vryheid ons maklik sal interesseer. En so val gedeeltes uit die Woord van God wat oor vryheid handel ook vir ons wel ter ore.
Omdat vryheid ‘n saak is wat mense maklik bekoor, is dit ook iets wat baie maklik deur dwalleeraars gebruik word om mense se verbeelding mee aan te gryp.
Dit is m.a.w. iets wat die Satan so maklik, in die hand van sy dienaars, gebruik om mense van die waarheid te beroof. Dit is egter baie belangrik dat ons die vryheid wat die Woord van God aan ons voorhou nie sal interpreteer soos wat dit ons pas nie, maar soos wat die Woord van God dit aan ons voorhou.
Die vryheid wat die Woord van God aan ons voorhou, is nie ‘n vryheid om ‘n lewe van ongebondenheid te ly nie. Ons vryheid in Christus is nie ‘n verskoning of ‘n verontskuldiging wat ons vir ‘n sondige lewe kan gebruik nie. Die Woord van God is hieroor tog baie duidelik. “…en nie asof julle die vryheid het as ‘n dekmantel vir die boosheid nie …” (1 Pet. 2:16). Ons vryheid in Christus is juis bevryding uit die mag van sonde – nie ‘n verdere verknegting of ‘n “troos” oor die verknegting aan sonde nie.
Ons is by onvermoë as mense om onsself uit die mag van sonde te bevry. Ons het die HERE hiervoor nodig. Ons het nodig dat sy Gees ons hierin lei en versterk.
Daar waar sy Gees is, is vryheid. Sy Gees moet derhalwe in ons harte woon indien ons ware vryheid in Christus wil smaak. Wanneer sy Gees in ons harte woon, sal ons nie verskonings of regverdiging vir die sonde in ons lewens soek nie, maar eerder die verkeerde en sondige begeertes wil kruisig en afsterf. “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.” (Gal. 5:24&25).
Die woorde uit Gal. 5:16&17 maak dit tog baie duidelik dat ons vryheid in Christus nie beteken dat ons kan doen wat ons wil nie. “MAAR ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.” En ewe duidelik is dit uit hierdie gedeelte dat ‘n lewe in die Gees vir ons ware vryheid in Christus inhou – wanneer ons deur die Gees wandel, sal ons nie die begeerlikhede van die vlees volbring nie.
Ons sal derhalwe deur ‘n lewe in die Gees vrygemaaktes van die slawerny van sonde wees! Ja, steeds diensknegte, maar diensknegte van Christus en van God en nie van die sonde nie. “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskiking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.” (Rom. 6:11-13).
Geliefdes, laat ons daarom waak teen die valse leringe van mense wat die bekoorlikheid van vryheid gebruik om mense van hul vryheid in Christus te beroof.
En laat ons daarna streef om in hierdie vryheid in Christus voor die aangesig van God te leef, want ons is daartoe geroep. “Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie, …” (Gal. 5:13).
Amen.