Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Sonder geloof is niks moontlik nie. Met geloof is niks onmoontlik nie. Gebed verander sake. Moses het gebid en die see het voor hom oopgegaan. Elia het gebid en vuur uit die hemel het op Karmel neergedaal. Sarel Cilliers het gebid en die barbare is verslaan. Ja, die sterkste gelowiges is hulle wat in die geloof bid.
DIE FEES VAN ONS LEWE
Hannes Ollewagen
1 Kor. 5:1-13
“Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat 'n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle 'n nuwe deeg kan wees — soos julle inderdaad ongesuurd is — want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.” (:6-8).
Ons word in hierdie kosbare woorde uit Paulus se brief aan die Korinthiërs daarop gewys dat die lewe van ’n gelowige nie een van onophoudlike sorge, ellende, swaarkry en marteling is nie. Die lewe van ’n gelowige is natuurlik een van veel opoffering, maar dit beteken nie dat daar vir ons geen vreugde in mag wees nie. Ons word immers in hierdie hoofstuk daartoe opgeroep om fees te vier! Maar hierdie wekroep word opgevolg met ’n duidelike vermaning oor die wyse waarop hierdie feestelikheid gevier behoort te word.
As gelowiges het ons inderdaad groot rede om vrolik en feestelik te wees. Die versoening wat vir ons deur onse Here Jesus Christus bewerk is, het ons van die sondemag bevry. En Hy wil ook ons lewens rig en lei om ons van die sonde in ons lewe vry te maak. Sy sterwe was nie om die sonde in ons lewe vir God aanvaarbaar te maak nie, maar om ons daarvan vry te maak. En is dit nie genoegsame rede tot ’n verskriklike opgewondenheid waaroor ’n mens sal feesvier nie? Dis ‘n voorreg om met vrymoedigheid tot die troon van genade te mag gaan en die een-na-die-ander sonde in ons lewe voor Hom te lê en vir bevryding daarvan te vra. En namate ons van hierdie begeerlikhede in ons vlees verlos en vrygemaak word, word ons lewe ook gevul met geestelike begeertes wat die plek van die vleeslike begeertes vul en waarin ons ’n blywende vreugde vind.
Die mens van hierdie wêreld wat verknog is aan die dinge van hierdie wêreld is gedurig op soek na plesier. En hierdie mens soek sy plesier en vrolikheid in sinsgenot, vermaak, gerief, rykdom, mense se guns en eer en dergelike dinge. En tog kry hierdie soeke nooit einde nie omdat hierin geen blywende vreugde is nie. Die kind van God daarenteen waak weer om nie die leuen van Satan te glo dat daar vir hom in enige van hierdie dinge van die wêreld ’n vreugde is groter as daardie vreugde in Christus nie. Die vrygemaakte kind van God stel nie belang in ’n feestelikheid van hierdie wêreld wat oënskynlik plesierig is waarin jy na hartelus kan handel en al jou vleeslike begeertes kan bevredig nie. Die kind van God wil nie fees vier met die sonde en begeerlikheid van hierdie wêreld nie, maar wil leef in die fees van ’n lewe in Christus. In hierdie lewe is opoffering ’n voorreg en vreugde eerder as ’n las. Daardie dinge wat deur die Woord van God as sonde openbaar word, is nie iets waarvoor die gelowige kind van God verskonings soek sodat hy dit in sy lewe kan koester nie. Nee, hierdie dinge veroorsaak vir die kind van God droefheid omdat dit hom gemeenskap met God ontneem en derhalwe is dit vir hom sy begeerte om hierdie dinge uit sy lewe te verwyder. Dit beteken natuurlik nie dat die kind van God eensklaps heilig en sonder enige sonde is nie, maar dat hy nie in sondige begeertes genot soek en hierin wil leef nie. Die boetelied van koning Dawid in Ps. 51 lewer vir ons so ’n mooi getuienis in hierdie verband. “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur 'n gewillige gees.” (:3,4,9, 11-14). Die kind van God wil nie aansit aan die feesmaal van die wêreld met sy begeerlikhede nie, maar begeer om te sit aan die tafel van God om in sy feesmaal te deel. “Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.” (1 Kor. 10:22).
Dit is hartseer dat daar soveel mense is wat die uitnodiging na hierdie feesmaal van Hom nie aanvaar nie, omdat hulle te besig is met die verganklike dinge van hierdie wêreld. En dit juis omdat die Satan al hierdie dinge gebruik om hulle hierdie geleentheid om aan sy feesmaal te deel wil ontneem. Ons lees in Lukas 14:17-24 hiervan. “En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed.En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom gesê: Ek het 'n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog.En 'n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog.En 'n ander een het gesê: Ek het 'n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.En daardie dienskneg het gekom en dié dinge aan sy heer vertel. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy dienskneg gesê: Gaan gou uit in die strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in. En die dienskneg het gesê: Meneer, wat u beveel het, is gedoen, en daar is nog plek. Toe sê die heer vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word. Want ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie.”
Laat ons nie so onverskillig wees om hierdie heerlike uitnodiging van God om in sy feesmaal te deel van die hand te wys nie. Mag ons sy uitnodiging met nederigheid en opgewondenheid aanvaar en feesvier in ons lewe in Christus. Mag Hy ons vervulling en ewigdurende vreugde wees sodat ons saam met Dawid soos in die woorde van Psalm 16 kan getuig: “Ek het tot die Here gesê: U is my Here; vir my is daar geen goed bo U nie. Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot. U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.”(:2, 5 &11).