Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Al is ons hulpeloos, arm en ellendig, help God ons. Dis mos die hart van die Evangelie – in Jesus Christus buig God tot ons neer wanneer Hy self die kuil van vernietiging op Golgotha betree. As ek dus deur donker dieptes gaan, is Jesus my beste Metgesel.
WYSHEID IN DIE LEWE
Hannes Ollewagen
Job 28:20-28
“Maar aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die HERE is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand.” (:28).
Die wysheid en waarheid van hierdie woorde is alreeds in die lewe van die eerste mense op aarde bevestig. God het vir Adam en Eva in die tuin van Eden gestel om daarin te woon. En hier kon hulle in vrede en in die nabyheid van God leef. Hier was aan niks gebrek nie en hulle kon ’n veilige en salige lewe geniet. En wat moes hulle doen om hierdie salige lewe en voortbestaan te behou anders as om God te vrees en aan Hom gehoorsaam te wees? Maar dan neem hierdie mense ’n besluit sonder om God voor oë te hou. En die dwaasheid van hul optrede word deur die gevolge hiervan bevestig.
“Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hý sal oor jou heers. En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie – vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” (Gén. 3:16-19). Dit is mos geen wyse mens wat ’n lewe van veiligheid, vrede en saligheid vir een van moeite, smart en pyn verruil nie!
Ons lees ook in Ps. 38:5 waar Dawid bely dat ongehoorsaamheid aan God – m.a.w. sonde – dwaasheid met slegte gevolg is. “My wonde stink, hulle dra vanweë my dwaasheid. Ek is krom, heeltemal geboë, die hele dag gaan ek in die rou; want my lendene is vol ontsteking, en daar is geen heel plek in my vlees nie. Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel, ek brul van die gebons van my hart.” (Ps. 38:5-9). En in Ps. 69:6 lees ons ook dat sonde en dwaasheid bedmaats is. “O God, Ú weet van my dwaasheid, en my skuldige dade is vir U nie verborge nie.”
In Jesaja 1 lees ons selfs waar Israel se dwaasheid vergelyk word met diere wat basiese dinge in die lewe beter as hierdie goddelose en sondige volk verstaan. “’n Os ken sy besitter en ’n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie. Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die HERE verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai. Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank. Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie.” En Israel het in hierdie toestand beland omdat hulle die vermaning wat alreeds in die dae van Moses aan hulle gegee is, verontagsaam het.
“Kyk, ek het julle insettinge en verordeninge geleer soos die HERE my God my beveel het, om so te handel in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem. Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ’n wyse en verstandige volk. Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep?” (Deut. 4:5-7).
Ons behoort seker op hierdie punt in te sien dat dwaasheid iets is wat ons sover moontlik van ons wil weghou en verwyder. En dan behoort dit daarenteen vir ons duidelik te wees dat ons met alle mag na die wysheid moet jaag. “Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand verkry; want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud; dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie. In sy regterhand is lengte van dae, in sy linkerhand rykdom en eer; sy weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede. Dit is 'n lewensboom vir die wat dit aangryp, en elkeen wat dit vashou, is gelukkig.” (Spr. 3:13-18).
Is daar enige mens by sy gesonde verstand wat dit wat hier beskryf word, nie sal begeer nie? Maar waar sal ons hierdie kosbare skat van wysheid vind? Dit word nie te koop aangebied nie. Dit is nie iets wat ’n mens aan die aarde kan ontworstel nie. Dit is nie iets wat jy van ’n ander met geweld of bedrog kan afneem nie. Wysheid is ’n gawe van God. “...want die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand,” (Spr. 2:6). En God gee hierdie gawe aan hulle wat Hom vrees. “Resj. Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid; Sin. almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand. ...”. (Ps. 111:10). Dit word so pragtig vir ons in Job 28 ook verduidelik dat God alleen oor wysheid beskik en aan die mens leer hoe om hierdie kosbare kleinood te vind. “DIE wysheid dan — waar kom dit vandaan? En waar is die plek van die verstand? Ja, dit is verborge vir die oë van alles wat leef, en weggesteek vir die voëls van die hemel. Die plek van vertering en die dood sê: Met ons ore het ons die gerug daarvan gehoor. God weet die weg daarheen, en Hy ken die woonplek daarvan. Want Hý sien tot by die eindes van die aarde; alles wat onder die hemel is, aanskou Hy. Toe Hy vir die wind die gewig bepaal en die waters met die maat afgemeet het, toe Hy vir die reën 'n wet gestel het en 'n weg vir die onweerstraal, toe het Hy die wysheid gesien en dit verkondig; Hy het dit opgestel en dit ook deurvors. Maar aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die Here is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand.” (Job. 28:20 – 28).
Is die toestand van die wêreld in ons dae nie vir ons baie duideliker uit die verstaan van wysheid en dwaasheid nie? Ten spyte van al die sogenaamde wonderlike uitvindings, die gevorderde wetekenskap, tegnologie en dergelike dinge wat vir die mens soveel dinge moontlik maak en kennis bykans oomblik tot sy beskikking, is die wêreld aan die verval en die agteruitgang is duidelik sigbaar. En hierdie agteruitgang sal nie deur geld, beter ekonomiese beleide of tegnologie, meer vordering in die wetenskap of enigiets anders gestuit word nie. Die enigste teenfoeter vir hierdie agteruitgang wat die gevolg van die mens se dwaasheid is, is wysheid.
Mag ons as God se kinders aan hierdie kosbare skat van wysheid in ons lewe vashou en sodoende die wêreld se glybaan van dwaasheid vermy.
“Want wysheid is beter as korale, en al die kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.” (Spr. 8:11).