Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waaraan dink u die meeste? Is die sorge van die lewe gedurig in u gedagtes? Jesus sê in Lukas 21 dat ons vir onsself moet oppas dat ons nie deur sorge en ander dinge beswaard word nie want dan kan sy wederkoms ons dalk oorval en ons onvoorbereid daarvoor sal wees. Los die aardse sorge waar hulle is en getuig en praat voortdurend oor Jesus sodat Hy die hoofplek in u gedagtes kry.
KINDERS IN DIE BYBEL (17)
KINDERS WAT VERMOOR IS
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
ONS lees van hulle by die geboorte van Christus.
Herodes sê aan die wyse manne dat hulle aan hom moet kom sê as hulle die Kindjie gevind het in Betlehem want hy wil ook gaan om aan Hom hulde te gaan bewys. Hy het natuurlik ’n leuen vertel omdat hy ’n heeltemal ander bedoeling gehad het. Sy bedoeling was om Jesus uit die pad te kry. Hy wou Hom doodmaak. Want hierdie Koning van die Jode wat gebore is, het vir hom ’n bedreiging ingehou.
Hy het geweet van ’n Koning van die Jode wat een of ander tyd gebore sou word omdat die Jode baie daarvan gepraat het. En hy het gehoor dat as die Koning gebore word, sou Hy wondertekens doen en die Romeine uit die land jaag. Diep in sy hart het Herodes hierdie dinge geglo en daarvolgens sy planne gesmee. Maar Herodes het in sy planne die Here vergeet.
Deur middel van ’n droom waarsku die Here die wyse manne om nie na Herodes terug te gaan en aan hom te vertel van die Kindjie wat hulle gevind het nie. Ná ’n tyd kom Herodes dan ook agter dat die wyse manne nie hulle belofte aan hom nagekom het nie. Dit skep vir hom ’n probleem want nou weet hy nog nie waar die Kindjie is en presies wie Hy is nie.
Herodes vind egter baie gou ’n oplossing vir sy probleem. Die wyse manne het natuurlik aan hom vertel van die ster wat hulle gesien het en wat hulle na die land van die Jode gelei het. Toe het Herodes begin om berekeninge en somme te maak en toe het hy tot die gevolgtrekking gekom dat die Kindjie nie ouer as twee jaar kon wees nie.
Om die Kindjie uit die pad te kry, is nou geen probleem meer nie al weet hy nie wie Hy is nie. Hy laat doodeenvoudig net alle seuntjies van twee jaar en jonger in die omgewing van Betlehem doodmaak. Een van hulle moet die Koning van die Jode wees. Herodes was ’n persoon wat horn nie deur so iets soos moord laat terugdeins het nie. Hy het nie veel van ’n gewete gehad nie. So word die swaarde van sy soldate met die bloed van weerlose kindertjies bevlek.
In Betlehem word nou nie meer engelesange en "Ere aan God” gehoor nie. Daar is nou ’n hartverskeurende geween van moeders wat moet aanskou hoe hulle tere babatjies vermoor word deur wrede soldate.
Nou gaan in vervulling wat Jeremia eeue vantevore geprofeteer het: " ’n Stem is in Rama gehoor: rouklaag en geween en groot gekerm; Ragel ween oor haar kinders en wil nie vertroos word nie.”
Rama is ’n klein dorpie naby Betlehem en volgens oorlewering is die graf van Ragel naby Rama.
Maar daar is nie net weeklaag en geween in die jaar 2 n.C. by Betlehem nie. Want in hierdie profesie van Jeremia hoor ons ook die klanke van hoop. Want direk na hierdie woorde van hom sê die profeet: "So sê die Here: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die Here; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom.”
Die kindermoord te Betlehem lyk vir ons na ’n vergeefse en wrede daad. Klein kindertjies moet sterwe in die plek van ’n ander Kindjie. Mensekinders moet sterwe in die plek van God se Kind sodat Hy gered kan word en kan lewe. Tog was hierdie moord nie tevergeefs nie. Want deur hierdie moord sal God ook ’n ryke beloning teweegbring.
Een en dertig jaar later sterf God se eie Kind weer in die plek van hierdie kindertjies wat in Betlehem en omstreke vermoor is. Christus het nie net vir grootmense aan die kruis van Golgota gesterf nie. Hy het ook vir kinders gesterf. Sy lewe is by Betlehem behou en gered sodat Hy later te Jerusalem sy offer kon gee. Hierdie kindertjies is ter wille van Hom geoffer sodat Hy Homself later ook vir kinders kon offer. Hy het geleef om later aan die kruis sy eiendom, wat ook kinders insluit, te kan red uit die hand van die duiwel.
Daarom mag kinders ook met hulle probleme na Jesus gaan. Hulle mag voor Hom neerbuig en Hom aanbid.
So het God die weeklaag en die trane van Betlehem verander in ’n gejuig en gejubel waarin die helder stemme van kinders ook gehoor mag word.
Jesus het ook vir kinders gesterf en Hy het ook kinders lief.