Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
HERE, dankie vir 'n gesonde sin vir humor, vir die bevryding van 'n skaterlag en die veerstelsel van blymoedigheid. Dankie dat U die mens gemaak het om te kán lag en dat daardie innerlike vrolikheid 'n lig is in donker tye.
OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (8)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Efese; ʼn gemeente in ʼn veranderende wêreldstad
Openb.2:1-7
1. God laat ʼn brief skryf
Johannes se aangrypende visioen in Openb.1:9-20 was ʼn inleiding tot die sewe boodskappe wat sou volg. Dit het as’t ware die gordyn op die doel, hoofkarakters en gebeure van Openbaring laat oopgaan. Elke boodskap begin met die opdrag om te skryf. Die vraag is of dit afsonderlike boodskappe was of ʼn briefbundel om situasies wat in die hele kerk voor gekom het te skets? Laasgenoemde blyk die waarskynlikste te wees.
Daar was ook ander gemeentes in Klein-Asië. In 61nC het die gemeente in Kolosse ʼn brief van Paulus ontvang wat ook op sy versoek in Laodisea voorgelees moes word. Daar was ook ʼn gemeente in Troas, ʼn belangrike stad op die keiserlike posroete. Ander stede wat ook gemeentes kon huisves, was Neapolis, Magnesië, Tralles en Koesikus, ʼn stad op ʼn baie besige skeepsroete.
2. Interessante spekulasie
Die bedelingsvoorstanders het geglo dat die briewe sewe kerktydperke uitbeeld.
Efese – die vroeë kerk.
Smirna – die era van vervolging.
Pergamus – die tydperk van Konstantyn die Grote.
Thiatire - die Middeleeue.
Sardis – die Hervorming.
Filadelfia – die sending-ontwaking.
Laodicea – die era net voor die wederkoms.
Dis alles spekulasie! Nee, elkeen van die briewe is op bepaalde situasies in die gemeente gerig.
3. Die genre en verskille van die sewe briewe
Dis almal hemelse briewe met opdragte, waarskuwings en bemoedigings. Dis ook profetiese briewe: “So sê die Here...” Dit stem met ʼn keiserlike edik ooreen: “So sê hy...” Die briewe bevat ook verskeie profetiese uitsprake.
Alhoewel die briewe baie ooreenstem, is daar tog duidelike verskille in die onderskeie boodskappe. Die boodskappe aan Smirna en Filadelfia bevat geen swak punte nie. Ander gemeentes word aangeprys sowel as tereg gewys.
4. Teenstand
Elkeen van die sewe gemeentes het teenstand ervaar. Die Christene is van binne en buite bedreig – Jode sowel as Romeine. In twee gevalle word Jode wat nie Jode was nie, genoem (Openb.2:9; 3:9). Omdat daar destyds baie Jode in Klein-Asië was, was hulle ʼn faktor waarmee rekening gehou is. In sekere gebiede is daar selfs belastingtoegewings vir hulle gemaak. Baie van die Jode was egter so onderdanig aan die Romeine dat hulle nie meer as Jode geag is nie en selfs aan afgodspraktyke meegedoen. Die Romeine het ook nie geaarsel om van diegene wat hulle as n bedreiging beskou het ontslae van te raak nie. Christus bemoedig en vermaan die gelowiges om getrou te bly en aan die dinge wat hulle glo vas te hou.
5. Die stad Efese
Efese, Smirna en Pergamus was die grootste stede in Klein-Asië. Efese het in 133vC onder Romeinse bewind gekom, ʼn hawestad met ʼn kwart miljoen inwoners en ʼn reuse tempel wat as een van die wonders van die ou wêreld beskou is. Dit het ʼn groot rol in die godsdienstige en kulturele lewe gespeel (Hand.19:23,24). Hierdie tempel is vir die vrugbaarheidsgodin Artemis opgerig en was vier keer so groot as die Partenon! Dit het dan ook duisende priesters, priesteresse en prostitute gehuisves. Die inwoners het ook groot belangstelling in die okkulte gehad (Hand.19:19,20). Daarbenewens het die keiserkultuur tydens die bewind van Domitianus so sterk in Efese gegroei, dat Efese die bewaker van die keiserkultus genoem is. So is daar dan ook ʼn tempel ter ere van Domitianus opgerig.
6. Die gemeente Efese
Die plaaslike Christelike gemeente is in 52nC deur Priscilla en Akwila gestig wat deur Paulus, wat self drie jaar daar gewerk het, in Efese agtergelaat is. Hulle is deur Apollos bygestaan. Paulus het Efese as die sentrum gebruik vanwaar hy die Evangelie in die westelike deel van Klein-Asië verkondig het. Hy het sy eerste brief aan die Korintiërs juis vanuit Efese geskryf. Valse leraars het die gemeente ingesypel en ontwrig (Efes.4:14).
7. Die brief aan Efese
Die opdrag om te skryf, verwag ʼn mens gewoonlik aan die begin van ʼn sin. Hier staan dit aan die einde van ʼn sin juis om die skrywe te beklemtoon. Die leraar/engel was die voorganger in die gemeente. Omdat Efese die moedergemeente van die westelike deel van Klein-Asië was, lewer die briewebesteller die eerste brief by die eerste en belangrikste gemeente op sy roete af.
Vers 1 beskryf Christus as Een wat die sewe sterre in sy regterhand vashou terwyl Hy tussen die sewe goue kandelaars wandel. Dit kom ook in 1:13,16 voor. Die Griekse woord vir vashou, is kraton wat kragtige beheer beteken. Ons praat hier van ʼn Christokrasie waarvolgens Christus in beheer is en nie menslike wette nie.
Christus beheer nie net die gemeentes nie, maar is ook in hulle midde. Hy het ʼn omvattende kennis van die gemeentes (2:2, 19;3:1,8.15). Met werke word inspanning en volharding bedoel - kophou in moeilike omstandighede, en met die stryd teen dwaalleer te doen gehad (Hand.20:29). Die gelowiges in Efese het dit nie verdra nie.
Die valse leraars het hoofsaaklik uit Judaïseerders uit Jerusalem wat die besnydenis vereis het asook rondreisende leraars wat ontken het dat Jesus mens geword het om sondaars te red (Dosetiste). Die valse leraars het hulle baie goed voorgedoen, maar die Evangelie verdraai. Christus roep die gelowiges op om ten opsigte van hulle belydenis vas te staan. Volharding en oorwinning beskryf die styl en gevolg van die gelowiges se opoffering in ʼn vyandige omgewing. Hulle het baie verduur t.w.v. Christus (2:3) en Hom alles opofferend eerste gestel. En dit het in hulle guns getel!
8. Efese se swakpunt
Ten spyte van al die lofwaardige sterkpunte het Efese ʼn swak punt gehad – hulle het Christus nie meer so lief gehad soos aan die begin nie. Die kole het nog gesmeul maar die gloed van hulle liefde het afgekoel. Hulle Gees-drif het getaan. Hulle het op die geestelike leer ʼn hele paar sporte teruggeval!
Dit was darem nie liefdeloosheid nie. Die stryd teen die dwaalleraars het hulle vroeë spontane liefde gedemp en plek vir agterdog gemaak. Die ywer vir ʼn suiwer leer mag nooit die suiwer liefde vir die naaste vervang nie. Die oplossing was om hulle te bekeer – ʼn nuwe blaadjie om te slaan. Indien hulle dit nie wou doen nie, sou Christus hul kandelaar wegneem. Die lig van die lamp van getuienis kan nie gesien word as daardie liefde nie herstel is nie. Volgens die vroeë kerkvaders het Efese hul reggeruk en weer 'n begeesterde gemeente geword.
Vers 6 maak van die Nikolaiete melding. Dis nie baie seker wat hulle gedoen het nie, maar dat dit wel dwaalleer was, is seker. Volgens Irenaus het hulle hul ontstaan by die diaken Nikolaus gehad. Dit hou waarskynlik verband met sinkretisme en kompromieë met die heidendom; gelowiges wat aansluiting by die heidense leefstyl gevind het. Tydens Domitianus se bewind, toe Openbaring geskryf is, het baie Christene voor die keiserkultus geswig!
9. Die oproep om te luister
Wie hierdie boodskap hoor, moet daaraan gehoor gee. Dit herinner aan Jesus se woord in Mark.4:9,23. Sommige hoor maar verstaan nie (Mark.4:10-12). Die uitdaging aan die einde van die brief is aangrypend (2:7). Om te oorwin, beteken om deur 'n volgehoue geloof vas te hou aan die oorwinning wat Christus oor die dood behaal het. Daar word na die boom van die lewe verwys. Dit verwys na die prominente boom in die tuin van Eden waarna Adam en Eva gesmag het om van te eet. In Openbaring vergestalt dit die ewige, volmaakte saamwees met God. Elke gehoorsame kerk/gemeente kan nou alreeds uitsien na hierdie volmaakte saamwees met God en die Lam in die paradys.
Vervolg...