Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Oorwinning in die lewe is nie daarin dat jy nooit mag struikel nie; dit lê suiwer in die feit dat jy elke keer opstaan wanneer jy gestruikel het.
DIE SEËN VAN PROTESTANTISME (Slot)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by DIE SEËN VAN PROTESTANTISME
Die Roomse strewe
1. Een wêreldkerk
Rome het een doel voor oë: een allesomvattende, gesentraliseerde kerkgesag in ʼn Nuwe Wêreldorde of om dit anders te stel, ʼn herlewing van die Heilige Romeinse Ryk. In 1996 het die Vatikaan selfs ʼn gedenkmunt laat druk met die kop van pous Johannes Paulus II daarop as ʼn Romeinse keiser uitgebeeld.
Rome se strewe na ʼn een wêreldkerk- en hofsisteem het in 1999 fisiese gestalte begin verkry met die stigting van ʼn wêreldhof. Dit het die son-wiel logo van die Vatikaan op die briefhoof en webblad. Die eenwêreldkerk is ʼn jaar later van stapel gestuur met die pous as hoof en die Vatikaan as hoofkwartier.
In sy 2004 Nuwejaar-toespraak het pous Johannes Paulus II gesê: “Ons ag die totstandkoming van ʼn Nuwe Internasionale Orde al hoe noodsaakliker as vrug van ondervindings en resultate wat in die laaste jare deur die Verenigde Volke verkry is. Dit moet ʼn sisteem wees wat in staat sal wees om gepaste oplossings vir huidige probleme te bied en moet gegrond wees op een gemeenskap wat bronne verdeel en in die buitengewone resultate van die wetenskaplike en tegniese vooruitgang deel (Webblad van die Vatikaan).
Rome smag daarna om die wêreld te bekeer; nie tot Christus nie, maar tot haarself. Hierdie ideaal van ʼn een-wêreld regering met die pous op die troon is die ryk van die Antichris wat waarvan Jesus in Mt.24 praat wat die Groot Verdrukking inlei.
Rome is planmatig besig om die mensdom aan haar te onderwerp. Niemand staan in haar pad nie; selfs nie pouse nie. In 1978 is pous Johannes Paulus I na slegs 33 dae in die amp op geheimsinnige wyse oorlede. Dit was geen geheim dat die Vatikaan baie teleurgesteld in hom was nie omdat hy meer in die teologie as in die wêreldpolitiek belang gestel het.
Drie weke voor sy dood het hy nog ʼn positiewe gesondheidsverslag van sy mediese dokter ontvang. Hoe het hierdie man dan so vinnig aan sy einde gekom? Was dit ʼn natuurlike dood of moord? Daar is nooit ʼn lykskouing op hom gedoen nie omdat die Vatikaan lykskouings op pouse verbied. Kardinaal Villot het reguit gesê dat die pous vergiftig is. Dit was egter nie die eerste pous wat op so ʼn wyse dood is nie. In 1774 is pous Clemens XIV ook vergiftig en in 1939 het pous Pius XI ook op geheimsinnige wyse gesterf. Niemand staan in Rome se pad nie!
2. ʼn Moderne aanslag
Soos Babel in die antieke tyd die hoofsetel van afgodery was, is Rome dit vandag. “En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde” (Openb.17:18). Die Romeinse geskiedskrywer Propertius verwys na Rome as “die trotse stad op sewe heuwels wat die hele wêreld regeer”. Die vrou van Openb.17 wat Verborgenheid, die groot Babilon genoem word, is Rome wat die wêreld met haar godsdienstige voorkoms verlei.
Die RK maak selfs van charismatiese aanbiddingspraktyke gebruik om lidmate te behou en buitestaanders te lok. Sy werk gereeld aan haar liturgie om die beeld van ʼn kerk wat saak maak te skep. Dit het alles begin toe sy paniekerig geword het oor lidmate wat die kerk vir die gevoelsgodsdienste verlaat het. Om dit teen te werk het sy predikers wat soos Charismate optree, opgelei sonder om hul Roomse herkoms te verberg. Jesus waarsku: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is” (Mt.7:15);
Rome is uiteraard kontrareformatories. Gevolglik verheug sy haar daarin as Protestantse kerke hul Calvinistiese erfenis t.w.v. internasionale kerklike aansien ter syde stel. Sulke afvalliges help Rome in haar strewe na ʼn Nuwe Wêreldorde! En agter die skerms is die RK hard aan die werk om die mensdom vir die ryk van Antichris voor te berei!
Daar is min dinge so gevaarlik soos godsdiens in die verkeerde hande. Daarmee het Die geskiedenis herhaal homself. Romeinse keisers het miljoene mense daarmee beheer. Die Antichris gaan as eindtyd Babiloniër die geskiedenis afsluit soos wat Nimrod die eerste Babiloniese koning begin het; as ʼn geweldenaar wat homself in ʼn eie ryk vergoddelik. Die ideologie van wêreld-eenheid wat destyds met die bou van die toring in Babel begin is, bereik sy hoogtepunt met die vestiging van die ryk van die Antichris.
3. Ekumene
Rome vernietig godsdiens met godsdiens. Sy slaag meesterlik daarin om talle Protestantse kerke deur die ekumene (strewe na kerkeenheid) in die hok van kerklike gesamentlikheid te kry. Baie kerke word mislei om te glo dat ekumene versoenend en bevrydend is. Die teenoorgestelde is waar – dis ʼn wurgketting waarmee Rome onverskillige Protestantse kerke verkneg. Dis ʼn geheel ander evangelie! “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ʼn ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai” (Gal.1:6-7).
Ekumeniese betrokkenheid laat talle Protestantse kerke vandag in ʼn horisontale versoeningsmanie tol en selfs Roomse gebruike huisves. Die NG-Kerk is ʼn tragiese voorbeeld hiervan. Benewens haar Rooms-georkestreerde Bybel vertaling huisves die NG Kerk Roomse gebruike soos die kindernagmaal en kerse by verskeie geleenthede.
Ekumene laat selfs Protestantse kerklui glo dat Rome ook die weg van saligheid leer. Dis ʼn leuen! Protestante glo baie anderste oor redding, die gesag van die Skrif, ampsdraers en versoening as die RK. Laasgenoemde gee maar net voor om oor sekere sake met Protestante eenstemmig te wees. Rome dwaal gruwelik t.o.v. die kernwaarhede van die Skrif. Om gemeenskaplike dinge na te streef en in die proses die waarheid van die Skrif eenkant te plaas, baan die weg vir sinkretisme – ʼn vermenging van die waarheid met die leuen.
Alhoewel ekumene voorgee om kerke saam te snoer, dwing dit in werklikheid Protestantse kerke aan om deel van Rome se Nuwe Wêreldorde te word. Die slenter van ʼn universele liefdes-evangelie van versoening en vergifnis laat talle Protestantse kerke bollemakiesie slaan.
Ontspoorde teoloë mislei hulle kerke om te glo dat ekumeniese gesprekvoering hulle die geleentheid bied om ʼn getuienis teenoor Rome te lewer. Dit gebeur nie. Alle gespreksvoering eindig in kompromievorming. Ekumene snoer wel kerke saam, maar nie tot eer en verheerliking van Christus nie, maar die pous!
Rome wys al vir langer as 1,500 jaar haar ware kleure. Nogtans bemerk mense dit nie; so goed is haar misleiding! Hoofstroom Protestantse kerke versterk eerder hul bande met haar. In plaas van om te waarsku, maak hulle eerder die ekumeniese pap dik aan. Let op die Hervormde Kerk wat ʼn tyd gelede voor internasionale kerklike druk geswig en vir haar ondersteuning van apartheid om verskoning gevra het ten einde in die ekumeniese wêreld tuis te kom.
Die NG Kerk se gelukwense met die verkiesing en aanstelling van die nuwe pous in 2013 het Skrifgetroue Protestante laat sidder. Dr. Braam Hanekom, destydse moderator van die NG Sinode van Wes-en Suid Kaapland skryf op 14 Maart 2013 aan die RK:
“Graag wens ons die wêreldwye Katolieke gemeenskap geluk met die verkiesing van die eerste Suid-Amerikaanse pous, Jorge Mario Bergoglio, of te wel Franciskus 1. Dit is inderdaad ʼn historiese geleentheid en betekenisvol nie net vir die Katolieke Kerk nie, maar ook vir die hele Christen-gemeenskap wêreldwyd. Dit bevestig nie net voortdurende bewegings wat in die wêreld kerk aan die gang is nie, maar herbevestig ook ʼn beweging na eenvoud, die helder verkondiging van die Evangelie van Christus en die uitreik na armes. Ons is saam met die hele Katolieke gemeenskap dankbaar oor en trots op die verkiesing van die nuwe pous en bid hom Gods rykste seën, gesondheid en wysheid toe”
Kan ʼn Protestantse kerk so blind en onverskillig wees om te glo dat Rome met ʼn helder verkondiging van die Evangelie besig is, terwyl sy nie eens die weg van saligheid verkondig nie? Hoe kan die RK die evangelie helder verkondig as sy lidmate leer dat geloof in Christus nie nodig is om gered te word nie? Hoe kan ʼn kerk die evangelie helder verkondig as sy leer dat redding van sakramente en goeie werke afhang? Hierdie dwaalleer stuur miljoene mense verby die poorte van die hemel reguit hel toe! “Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ʼn volk wat geen dageraad het nie” (Jes.8:20).
Sedert die Hervorming het Rome geen tree nader aan ʼn suiwer verkondiging van die Evangelie gegee nie maar eerder ligjare daarvan af wegbeweeg. Dit wat tans op ekumeniese gebied gebeur, is boos. Alles draai om die as van internasionale kerklike strukturele eenheid. Protestantse kerke keer teen ʼn ontstellende tempo na Rome terug. Dis nie reformasie nie maar deformasie! Die RK het na die Hervorming gesweer dat alle Protestantse Kerk nog eendag na haar toe sal terugkruip. En dit gebeur!
Talle internasionale organisasies en humanitêre bewegings het gemene sake met Rome. In Openb.17-18 word Rome die moeder van alle hoere genoem wat met haar dogters praat. Dit gebeur vandag sienderoë! Wie met Rome gemene sake het, is uiteraard ook aan haar vergrype aandadig en sal van haar plae ontvang. God gee die beste raad: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openb.18:4).
Ekumenies gebonde kerke is marionette aan ʼn Roomse lyntjie. Salomo se beskrywing van die ontugtige vrou in Spr.5 is net so waar van die RK: “want die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie, maar op die end is sy bitter soos wilde-als, soos ʼn swaard aan weerskante skerp. Hou jou voet weg van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie” (: 3,4,8).
Die mensdom is op pad na die grootste ontnugtering van alle tye - die bekend-stelling van die Antichris: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van die sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:3,4).
Gelowiges mag nie soos die dissipels in hierdie krisisuur aan die slaap gevang word nie. Hulle staan onder ʼn heilige verpligting om mense wat slaap, wakker te maak en soos ʼn wag op die muur (Eseg. 33) alarm te maak al kos dit ook hulle lewe. Rome haat Bybelgetroue gelowiges wat die knie nie voor haar buig nie.
Jare gelede het die NG-Kerk leraars opdrag gegee om lidmate oor die Roomse gevaar te waarsku en ʼn bondige geskrif hieroor uitgegee. Vandag rep sy geen woord oor hierdie gevaar nie; simptomaties van ekumeniese onderdanigheid!
Die mensdom staan op die drumpel van die plofbaarste ontketening van politieke en militêre magte in menseheugenis. Gelowiges moet hulle vir die finale stryd om die eer van God gereedmaak: "Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu … " (Ef. 6:11,12).
Laat ons egter baie seker maak van waar ons self met Jesus staan. Is ons geestelik weerbaar of weerloos? Die Bybel is die mees korrekte dokument in ons besit. Glo dit van Genesis tot Openbaring met jou hele hart en siel en plaas jou lewe opnuut in die hand van die Skrywer daarvan. Hy belowe diegene wat volhard dat hulle aan die einde van die stryd die kroon van die lewe sal ontvang (Openb.2:10).