Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Bekommernisse steel jou tyd sodat daar nie tyd vir goeie dinge is nie. Wees só besig met dankbaarheid oor die goeie dinge dat jy nie tyd vir bekommernisse het nie.
VAN RUSPE NA VLINDER
Ds Andrè van den Berg
“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” - Rom.12:2
Geweldenaars gee graag mooi name aan lelike dinge. Transformasie is een daarvan. Dis ʼn onreg wat ten hemel skreeu en wat saam met ander woorde soos regstellende aksie, swart bemagtiging en herverdeling van rykdom sy eie stukkie chaos in ons land skep.
Die wettiging van onreg kan vir geen gelowige positiewe klanke hê nie. Dit kom daarop neer dat die een wat die tien of vyf talente ontvang het, deur die wet gedwing word om van syne vir die een wat sy talent gaan begrawe het, te gee. Dis mos nie wat die Bybel sê nie! Wat sê dit? “ Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het... En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande” (Mt.25:28,30). Daar is net een maatstaf – verdienste/meriete.
So onregverdig as wat transformasie in politiek is, so gebiedend noodsaaklik is dit op geestelike gebied. Dit wat nie aan God se verwagting voldoen nie, moet oor gevorm word om wel daaraan te voldoen. In Jer.18 gee God aan Jeremia die opdrag om by ʼn pottebakker te gaan kyk wat hy doen. “En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk ... maar hy het daaruit weer ʼn ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was....” (:4). Dis waarop geestelike transformasie neerkom – om iets wat misluk het, tot God se eer oor te vorm.
Ons moet maar versigtig wees om nie met heidene se omskrywing van sekere begrippe te werk nie. Dit kan so maklik gebeur dat die spreekwoordelike baba saam met die badwater uitgegooi word. Transformasie kan ook positief wees as dit ʼn geestelike verandering is. En dis waarby ons nou gaan stilstaan.
Sal u my glo as ek vir u sê dat ek van elkeen van u iets weet? Ek weet dat u aan die einde van u lewe ʼn gedenksteen of -plaat gaan kry met jou naam en twee datums daarop - een met ʼn sterretjie (geboortedatum) vooraan en onder dit een met ʼn kruisie (sterwensdatum). Watter een van die twee is die belangrikste; die sterretjie of die kruisie? Nie een van die twee nie. Wat is dan belangrik? Dit wat tussen die sterretjie en die kruisie met jou siel gebeur!
Die Bybel sê dat as daar tussen hierdie sterretjie- en kruisiedatum niks met jou siel gebeur nie, is jy vir ewig verlore! Wat moet dan tussen hierdie twee datums gebeur? Transformasie! Die mens is soos klei wat platgeval het; aanvanklik goed geskape maar weens sonde platgeval.
Wat dit so erg maak, is dat die mens soos klei wat alreeds platgeval het, die lewe betree. Dawid skryf: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang” (Ps.51:7). Dit word erfsonde genoem. Selfs babas word daarmee gebore!
Het u al gewonder wat van ʼn baba wat sterf se siel word? Ons weet nie presies nie. Paulus bied in 1 Kor.14:7 ʼn moontlike antwoord: “Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man, want ander sou julle kinders onrein wees...” As een van die baba se ouers ʼn gelowige is, is die kindjie se siel gered. Indien nie een van hulle ʼn gelowige is nie, is die kind verlore. Daarom is dit so noodsaaklik dat ʼn getroude paartjie die Here Jesus as hul Verlosser leer ken voordat hulle kinders het. Erfsonde kan jou in die hel laat beland.
“Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie ... want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom.3:11,12,23).
Is alles dan tevergeefs soos Salomo in Prediker sê? Nee, alles is nie tevergeefs nie, daar is ʼn manier om die hel vry te spring. Daar moet iewers tussen jou sterretjie- en kruisiedatum ʼn transformasie in jou lewe plaasvind. Die teksvers sê: “ ... maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed”. Jou gemoed is die ware jy; soos jy werklik is - die somtotaal van jou denke. As die somtotaal van jou denke nie verander nie, sal jy nooit die hemel beërwe nie. Daarvoor moet jy, deur die bekering, nuut in die Here word.
Let op die gelese gedeelte. Paulus skryf hierdie brief aan die Romeine; nie aan die volk nie, maar aan die gelowiges in die gemeente in Rome. Destyds was dit nie net Jode wat hulle tot Christus bekeer het nie maar ook ander volke soos Grieke en Romeine. In Hand.10 lees ons juis van die bekering van Cornelius, die Romeinse leeroffisier. Markus skryf sy Evangelie spesifiek vir die Romeine.
In Rom.1:7 rig Paulus hierdie brief aan: “... al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is...” Paulus was baie lief vir hierdie gemeente. Een van die onderskrifte in Rom.1 lees: “Paulus se vurige verlange om hulle te sien”. Hierdie mense was eers heidene; mense wat in ʼn heidenkultuur grootgeword het waar keiseraanbidding, tempelprostitusie en die bedryf van duiwelskunste niks ongewoon was nie.
Toe hulle egter gelowig geword het, is hul gemoed verander en het hulle hul bose kultuur laat vaar en dit wat God behaag het, gedoen. Dit was ʼn ingrypende verandering; alles het nuut geword – transformasie! En wie kon daarvan beter getuig as Paulus; self ʼn Romeinse burger? “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17). Christus praat in Joh.3 met Nikodemus oor hierdie nuutword as ʼn hergeboorte: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (:3).
Dis die transformasie waarvan Paulus in die teksvers praat – jy moet nuut word om ʼn burger in God se koninkryk te word. Daar is geen ander deur waarmee die mens die hemel kan inkom nie; nie ʼn goeie lewe, gereelde kerkgang, groot dankoffer, barmhartigheidswerk of wat ook al nie. As daar tussen jou sterretjie- en kruisiedatum geen geestelike transformasie plaasvind nie gaan jy aan die einde van jou lewe tevergeefs aan die feesmaal van die Lam se deure klop. Die Bruidegom gaan vir jou sê: “Gaan weg, Ek ken jou nie!”
Die mens word as ʼn platgevalle stuk klei gebore. As die hemelse Pottebakker jou nie ter hand neem nie, sal jy nooit in die hemel kom nie. Dis die Woord van God; wees betyds gewaarsku!
In die teksvers vermaan Paulus alle gelowiges om nie soos die mense wat nie geestelik getransformeer het op te tree nie. Sulke mense leef soos die wêreld wil hê hulle moet leef – weg van Christus af. Gelowiges het ʼn taak om vir die wêreld te wys hoe daar reg geleef moet word. Dis ʼn getuienistaak in ʼn donker wêreld. Daarom gee Jesus hulle opdrag om die sout van die aarde en lig van die wêreld te wees. En dis net deur ʼn getransformeerde siel moontlik.
Let op die woord verander in die teksvers “... maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed ... “ Die Griekse woord vir verander is metamarfo. Die gelowige moet ʼn geestelike metamorfose ondergaan. Soos wat die lelike ruspe in ʼn mooi vlinder verander, moet die lelike sondaar in ʼn kind van God verander. Dis geestelike transformasie!
Ek bid dat elkeen van u ʼn besondere Pinkster beleef het!
Amen!