Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly - Joh 15:10
DIE BRUIDEGOM IS OP PAD (4)
4. Die Antichris
Mt.25:1-13; Openb.13:11-18
”... en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig” (Openb.13:18).
Die Gelykenis van die Tien Maagde is nie die enigste gelykenis wat op die wederkoms van Christus betrekking het nie. Daar is ook die Gelykenis van die Talente, ʼn gelykenis wat deur die meeste mense verkeerd verstaan word. Die talente het niks met mense se verstandelike vermoë te doen nie, maar met die wederkoms.
Het jy al gewonder wat op die laaste dag op aarde gaan gebeur? Met hierdie gelykenis vertel Jesus vir ons wat op daardie dag gaan gebeur. Dis ʼn oordeelsdag wat self deur Jesus as Regter waargeneem gaan word. Tydens die verhoor wat volg, stel Jesus nie daarin belang wat mense alles geglo het nie. Hy stel net in een ding belang - jou geloof. Wat het jy daarmee gedoen? En die groot vraag: Het jy die boodskap van verlossing met ander mense gedeel? Het jy hulle vertel waar om verlossing te gaan kry?
Wat is geloof in werklikheid? Is dit een of ander geestelike krag wat jy kan opwek soos wat ʼn mens elektrisiteit met ʼn kragopwekker opwek? Nee, die Bybel sê vir ons dat geloof ʼn gawe van God is. Dis iets wat jy ontvang soos die werkers van hul baas in die gelykenis die talente ontvang. Geloof is ʼn geskenk van God.
Wat maak ʼn mens met ʼn geskenk? Jy gebruik dit. En dis presies wat God van jou verwag. Hy gee vir jou geloof. En op die laaste dag op aarde kom kyk Hy wat jy daarmee gedoen het. In die gelykenis word geloof met talente of andersins geld vergelyk – dis iets wat jy kan gebruik om iets mee te doen.
Al wat Jesus wil weet, is wat jy met sy gawe gedoen het? Het jy daarmee gewoeker of het jy soos die onverskillige dienskneg niks daarmee gedoen nie? Dis al wat Jesus op die laaste dag op aarde van jou wil weet; nie jou bankbalans, akademiese prestasie, goeie lewe of wat ook al nie – net jou geloof. Wat het jy daarmee gedoen waarby ander mense gebaat het? Jou antwoord hierop is van kardinale waarde.
Het jou geloof gemaak dat jy jou medemens in sy nood raaksien en hom gehelp het? Of het die gerusstelling van jou eie redding jou agteroor laat sit met ʼn houding van: Dankie tog dat ek gered is, laat die res van die wêreld maar hel toe gaan, solank as wat my eie siel net gered is! Met so ʼn houding verskil jy niks van die onverskillige werker wat sy talent begrawe het en op die ou einde in die verderf beland het nie! Geloof mond altyd in goeie werke uit. Niemand kan ʼn passiewe toeskouer van God se genade wees en niks vir die Here doen nie. God het ʼn hekel aan passiewe kerkbank-sitters. God soek werkers in sy wingerd en nie leeglêers nie.
Hoe gaan ons weet dat die wederkoms van Christus voor die deur is? Die Bybel sê dat ons nie die dag of datum van die wederkoms ken nie. Nogtans laat God ons nie onkundig nie, maar gee vir ons sekere opvallende tekens, wat, as dit begin gebeur, ons kan weet dat die tyd naby is.
Een hiervan is die verskyning van die Antichris. Wie is dit? Is dit ʼn aanduibare persoon soos die Pous soos wat Martin Luther gemeen het? Of is dit dalk ʼn bose ideologie soos Kommunisme? Daar is 'n horde van spekulasie-antwoorde hierop!
Om vas te stel wie die Antichris is, moet ons die verantwoordelike pad terug na die Skrif volg! Paulus skryf aan die Tessalonisense en vra hulle om rakende die wederkoms nie kop te verloor nie. Daar moet immers ʼn paar dinge plaasvind alvorens die dag aanbreek. En een daarvan is die verskyning van die Antichris.
Wie dit gaan wees, weet niemand nie. Paulus sê net dat hy in die tempel gaan sit en voorgee om God te wees. Naas die misleiding in die tuin van Eden, sal hierdie een geen gelyke hê nie. Satan gaan daarin slaag om mense te verlei en hom te volg. En die ergste van alles is dat mense sal glo dat hulle die regte ding doen! Dis moontlik dat die Antichris ʼn kerklike figuur kan wees wat uit die boesem van die kerk gaan kom ten einde dit te vernietig.
Johannes skryf in sy een sendbrief dat die Antichris alreeds aan die werk is en talle vennote het. Hy noem hulle antichriste. Hulle kom uit die boesem van die kerk en bly as’t ware op die voorstoep van die kerk. Waaraan word hulle herken? Elkeen van hulle weier om te erken dat Jesus die enigste Verlosser is. Elkeen wat ontken dat Jesus die enigste brug tussen God en mens is, vergestalt die Antichris. Ons bevind ons daagliks onder antichriste, dan nie? Satan se vennote is druk aan die werk!
Kort voor die wederkoms van Christus gaan Satan die heilige Drie-eenheid naboots en twee vennote inspan. In Opb.13 noem Johannes hulle diere. Die een kom uit die see en die ander een uit die aarde op. Die dier uit die see boots Christus na en die een uit die aarde boots die Heilige Gees na.
Christus se nabootser plaas volgens Opb.13:16 ʼn merkteken op mense se regterhande en voorkoppe. Wat sou dit wees? ʼn Mikrorekenaarskyfie wat onder die vel ingeplant word soos algemeen verwag word? Nee, so eenvoudig is dit darem nie. Kyk weer na die teks waar daar iets baie belangrik staan – alle mense op die aarde word gemerk. Nie net mense met geld of bankrekeninge nie, maar almal, selfs die armste van armes. Gevolglik is hierdie merk iets omvattender as dit.
Waarom word die 666-merk op die voorhoof en regterhand aangebring? Daardeur sê Johannes op simboliese wyse dat die Satan op mense se denke en dade beslag gaan lê soos tydens breinspoeling.
Talle eindtyd skrywers beskou die 666-merk as ʼn letterlike getal. Nee, dis simbolies soos die merk op die hand en voorkop wat Deutr.6 van melding maak. God sê vir Israel dat hulle sy wet as ʼn merk op hul voorkop en hand moet aanbring. Dit beteken dat hulle die wet met hulle verstand moes bedink en met dade moes uitleef. As ons hierdie 666-merk bloot as ʼn mikrorekenaarskyfie of iets dergeliks sien, onderskat ons Satan se mag geheel en al!
Net Een kan Satan se merkteken afwas en dis Jesus deur sy bloed. Mense wie se hart in die bloed van Christus gewas is, se brein kan nie gespoel word nie! Hy maak enige slagoffer van Satan nuut. Paulus getuig: “As iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel. Die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).
Dis nie net ongelowiges wat ʼn merkteken dra nie, maar ook gelowiges. Openb.14 sê vir ons dat die gelowiges Jesus se kenteken (merk) dra. Dit staan op hul voorhoofde geskryf. Geen mens kan dubbele kentekens dra nie. Jy dra of die naam van God of dié van Satan op jou lewe.
Johannes sê in Openb. 13 dat die 666-merk die getal van ʼn mens is. Die finale gestalte-gewing van die Antichris gaan dus ʼn duidelik aanduibare mens wees. Die eerste Christene was oortuig dat dit keiser Nero was omdat hy die Christene so erg vervolg het. Luther was weer van mening dat dit die Roomse pous was. En hy was deels reg. Die Antichris gaan na alle waarskynlikheid uit die geledere van die Roomse Kerk, die kerk van die misleiding, kom.