Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As daar iemand onder julle is wat swaarkry moet hy bid, en as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die HERE sal hom gesond maak – Jakobus 5.
DIE BRUIDEGOM IS OP PAD (SLOT)
6. Die groot verdrukking en salige einde
Mt.25:1-13; Mt.24:15-28
“Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie… (Mt.24:21-22).
Wat gebeur in die laaste dag op die aarde? Die Gelykenis van die Talente vertel dat dit ʼn oordeelsdag is met Jesus as Regter. Maar hoe gaan ons weet dat die einde naby is? Alhoewel ons nie die dag of datum van die wederkoms weet nie, laat God ons nie onkundig nie. Hy gee vir ons sekere duidelike tekens wat, as dit gebeur, ons moet weet dat die tyd baie naby is.
Een hiervan is die verskyning van die Antichris wat die tydperk wat as die groot verdrukking bekend staan, inlei. Wie is die Antichris? Is dit ʼn aanduibare persoon soos bv. die pous soos wat Luther gemeen het of is dit ʼn bose ideologie? Daar word baie oor hierdie vraag gespekuleer.
Wat sê die Bybel? Paulus skryf aan die Tessalonisense om nie kop oor die wederkoms te verloor nie. Daar moet eers ʼn paar dinge plaasvind alvorens dié dag aanbreek. Die Antichris moet eers verskyn. Wie dit gaan wees, weet niemand met vir seker nie. Paulus skryf net dat hy in die tempel sal wees en voorgee dat hy God is. Hy gaan miljoene mense verlei om hom te volg; byna ʼn herhaling van die verhaal van Eva en die slang in die tuin van Eden. Die ergste is dat mense die Antichris sal glo. Hy gaan van ontspoorde kerke gebruik maak om mense van die waarheid afvallig te maak.
Johannes skryf in sy eerste sendbrief dat die Antichris alreeds in sy tyd aan die werk was en medewerkers het. Hy noem hulle antichriste. Hulle kom uit die boesem van die kerk en bly gevolglik as’t ware op die voorstoep van die kerk. Waaraan word hulle herken? Dwaalleer! Elkeen wat weier om te erken dat Jesus die Verlosser is en dat Hy die enigste brug tussen God en mens is, is ʼn tipe van antichris.
Kyk maar net wat gebeur vandag alles op kerklike terrein – dwaalleer en gruwels word in eens standvastige kerke gehuisves. Net voor die wederkoms van Christus gaan Satan die heilige Drie-eenheid naboots deur vir hom twee medehelpers te kry. Opb.13 noem hulle diere. Die een kom uit die see en die ander uit die aarde op. Die dier uit die see boots Christus na en die dier uit die aarde boots die Heilige Gees na.
Die dier uit die aarde, Christus se nabootsing, plaas volgens Opb.13:16 ʼn merkteken op mense se regterhande en voorkoppe. Wat is hierdie teken? Miskien ʼn mikroskyfie wat onder die vel ingeplant gaan word soos wat baie mense glo? Nee, kyk weer na die teks. Daar staan dat alle mense op aarde gemerk word en dus nie net mense met geld en bankrekenings nie, maar almal, selfs die armste van armes. Hierdie merk sal dus iets omvattender as dit wees.
Waarom word die 666-merk juis op die voorhoof en regterhand aangebring? Satan gaan op simboliese wyse op mense se denke en dade beslag lê soos met breinspoeling. Talle eindtyd skrywers beskou hierdie merk as ʼn letterlike getal. Nee, dis simbolies soos die merk op die hand en voorkop waarvan Deut. 6 praat.
God sê in hierdie hoofstuk vir Israel om sy wet as ʼn merk op hul voorkop en hand aan te bring. Dit beteken dat hulle die wet met hulle verstand moet bedink en met hulle dade uitleef. Wie die Antichris se 666 bloot as ʼn mikroskyfie of iets dergeliks beskou, onderskat Satan se mag by verre!
Net Een kan hierdie bose merkteken afwas en dit is Jesus deur sy bloed. Mense wie se hart in die bloed van Christus gewas is, se brein kan nie gespoel word nie! Hy maak enige slagoffer van Satan nuut in die geloof. Paulus getuig daarvan: “As iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel. Die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).
Dis egter nie net ongelowiges wat ʼn sekere merkteken dra nie, maar ook gelowiges. Openb.14 sê vir ons dat die gelowiges Jesus se merk dra; ʼn merk wat onsigbaar op hul voorhoofde geskryf staan. Geen mens kan dubbele kentekens dra nie. Jy dra of die merk van God of dié van Satan. Dit dui uiteraard ook jou ewige eindbestemming aan.
Johannes sê in Openb. 13 dat die 666-merk die getal van ʼn mens is. Die finale gestalte van die Antichris is ʼn enkele mens. Die eerste Christene was daarvan oortuig dat keiser Nero die Antichris was omdat hy Christene grootskaals vervolg het. Luther het weer geglo dat dit die Roomse pous was. Tyd sal leer!
Sodra die Antichris openbaar is, begin die groot verdrukking. Gelowiges het van meet af aan die wind van Satan sterk van voor gekry. Hierdie wind gaan, soos voorspel is, orkaansterkte aan die einde bereik: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie… (:21-22).
In Mt.24 sê Jesus dat dit ʼn vreeslike ding wat vir gelowiges voorlê, maar dat die wederkoms kort daarna gaan plaasvind. Is daar enige moontlikheid dat iemand die groot verdrukking kan vryspring? Is daar nie ʼn ontsnaproete nie? Nee, daar is nie. Jesus sê in Mt.16:24 dat as ons Hom wil volg, ons ons kruis moet opneem en enduit dra. Petrus vermaan die gelowiges van sy tyd om hul lyding met waardigheid te dra (2 Pet.3:14). Slegs wie enduit volhard, sal gered word.
Ons gaan nie soos baie van die sektes leer voor die tyd na die hemel weggeruk word nie. In 1 Thess.1 sê Paulus baie duidelik dat die hele kerk tot en met die wederkoms van Jesus op die aarde teenwoordig sal wees. Niemand word voor die tyd opgepluk nie. Die geloofslewe is nie ʼn ongeluksvrywaringspolis nie. Daarvan kan Job getuig! Ons sal ons kruise moet dra, kruise wat bitter swaar gaan word soos wat die wederkoms nader kom. Die kruis van Jesus is nie ʼn ekstra op ons skouer nie; dis standaardtoerusting!
Openbaring gee gelowiges die versekering dat Christus op ʼn besondere wyse met hulle is of dit nou die Romeins-Joodse vervolging aan die begin van die Christelike era is en of dit die groot verdrukking aan die einde gaan wees; die boodskap is dieselfde: Jesus stap die pad saam met sy kinders. Hy het immers belowe: “Kyk, Ek is met julle tot aan die voleinding”. Die Bybel sê dat Hy ons nie wegruk nie, maar saam met ons die einde tegemoet stap.
Nog ʼn dwaling wat sektes oor die eindtyd verkondig, is die leer van die sg. duisendjarige vrederyk. Hierdie leer is vreemd aan die Bybel, om nie eens van die begrip te praat nie! Al wat Openbaring sê, is dat Satan vir ʼn duisend jaar ingebind en net voor die wederkoms van Christus weer losgelaat gaan word.
Hierdie duisend dui op simboliese wyse ʼn baie lang tydperk aan. Ongelukkig word hierdie binding van Satan deur sommige mense tot ʼn verbeeldingryke vrederyk uitgebou waar daar geen sonde, dood of smarte sal wees nie.
Die binding van Satan het met die hemelvaart van Christus plaasgevind. Die rede hiervoor was dat die Evangelie aan alle nasies verkondig moes word. Indien Satan nie gebind was nie, kon die goeie boodskap nie doeltreffend oor die hele wêreld heen versprei word nie.
Die binding van Satan beteken egter nie dat hy magteloos is nie. Dit het hom net soos ʼn kwaai hond aan ʼn ketting aan bande gelê. Hierdie ketting sal net voor die wederkoms losgemaak word. As ʼn mens kyk wat vandag in die wêreld gebeur, wil ʼn mens straks glo dat die ketting reeds los is!
Die Bybel sê dat diegene wat die groot verdrukking enduit deurstaan, ná hul dood by Christus aansluit om saam met Hom te regeer. Die Bybel eindig met die goeie nuus dat God aan die einde van die tyd die oorwinning behaal!
Ná die wederkoms verskyn alle mense voor Christus. Johannes sien dat die boeke van die oordeel oopgemaak word waarin al die name van verlorenes opgeteken is. Hulle dade getuig teen hulle en hulle ontvang die gepaste oordeel. Gelowiges word nie volgens hulle dade geoordeel nie omdat Christus se bloed daaroor gestort is. Hulle name staan in ʼn ander boek - die boek van die lewe geskryf.
As jou naam in die boeke van die oordeel staan, wag die ewige verdoemenis op jou. As dit in die boek van die lewe staan, wag die nuwe Jerusalem op jou - maak 100% seker want die Bruidegom is op pad!