NUUTSTE BYDRAES

Gedagtes vir elke dag

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Toe Jesus een stormnag by sy dissipels in die boot geklim het, het die storm onmiddellik bedaar. Dit gebeur nie altyd met die storms van die lewe nie.  Soms klim Jesus in ons lewensboot, nie om die storms te bedaar nie, maar om te sorg dat dieselfde storm ons boot vinniger by sy verlangde bestemming uitbring.

DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (10)

Frank Peretti

Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu

Brummel staan weer op. “Nou is daar geleentheid vir die gemeentelede om hulle standpunte te stel. Wie wil eerste praat? Goed Sam. Begin jy maar, asseblief.”

“Vriende,” begin Sam Turner toe hy voor staan,” u almal ken vir my en Helen. Ons is al meer as dertig jaar in hierdie gemeenskap en ons staan nog al die jare deur dik en dun by die gemeente. Ek is iemand wat daaraan glo om jou naaste lief te hê en ’n goeie lewe te ly en ek probeer om ’n goeie Christen te wees.

“Maar vanaand is ek kwaad en ongelukkig. Ek is omgekrap oor my vriend Lou. U het seker almal agtergekom dat hy nie vanaand hier is nie en u almal weet waarom. Hy was nog altyd een van ons en ons het hom almal lief. Maar nou het hierdie Busche vent gekom en hy dink hy is God self. Waar kry hy die reg om Lou te oordeel? En as Lou wou, kon hy die man gedagvaar het, maar hy is te goed daarvoor.

Ek dink arme Lou is so skaam en hartseer oor al die aantygings wat teen hom gemaak is, dat hy hom liewer aan die gemeenskap wil onttrek.

 

“Nou het ons ’n genadelose, liefdelose eiegeregtige man om ons te lei. Hy dink as hy net die Bybel in die lug ophou, kan hy maar sê wat hy wil. Nee vriende, so kan dit nie aangaan nie. Vergewe my as ek hard klink, maar ek onthou die dae toe ons ’n liefdevolle gemeenskap was en in liefde saamgewoon het. Kyk wat het nou gebeur? Waarom is ’n vergadering soos die van vanaand nodig? Ek dink ons moet nou stappe neem om hierdie situasie te beëindig en sake reg te stel. Baie dankie.”

Turner keer terug na sy sitplek. ’n Paar mense knik instemmend.

John Coleman is die volgende aan die beurt. Hy is ’n skaam, teruggetrokke persoon wat nie maklik praat nie en hy is duidelik ongemaklik. Hy hou sy Bybel in sy hande vas.

“Vriende, ek . . . ek is nie ’n spreker nie en ek sê ook nie veel nie, maar ek het vanaand iets op die hart. Ek is oortuig dat Hank Busche ’n man van God is en ek en Pat wil nie hê dat hy moet weggaan nie. Ons glo dat hy nog groot dinge vir ons gemeente gaan doen. En wat Lou aanbetref — baie van ons voel net soos pastoor Busche en ons het ook gestem dat hy aangespreek moes word.”

Hy gaan sit en Patricia druk sy hand bemoedigend: “Goed so, John.”

Brummel stel nou voor dat die sekretaris, Gordon Mayer, die gemeente toespreek. Hy stap vorentoe met ’n aantal notules en ander verslae in die hand. Sy gesig is strak en hy praat in ’n growwe stem.

“Ek wil veral twee sake beklemtoon,” begin hy. “Die eerste is ons finansiële situasie. Volgens ons boeke neem die bydraes van gemeentelede af terwyl ons uitgawes styg. Dis ’n ongesonde toestand. Maar ek weet waarom dit gebeur. Daar is soveel onenigheid in ons midde dat die mense se offergawes beïnvloed word. Daarom moet hierdie saak so spoedig moontlik reggestel word. As u iets teen die pastoor het, sê dit vanaand, maar moenie dat ons hele gemeente as gevolg van een persoon ten gronde gaan nie.

“Tweedens wil ek net sê dat toe die komtee 'n pastoor beroep het, hulle eintlik iemand anders in gedagte gehad het. Op een of ander manier het ’n fout ingesluip en Busche is beroep. Dit klink vreemd, maar dis die waarheid. Ons het vir die verkeerde persoon gestem en nou dra ons die gevolge. Ek voel dus dat ons ’n fout begaan het en ons moet vanaand besluit om die fout reg te stel.”

Vir meer as twee uur gaan dit so aan. Sommiges loof Hank en ander kritiseer hom. Humeure begin naderhand opvlam en senuwees raak op hol. Naderhand begin die situasie moeilik word en dis duidelik dat die mense wil stem . . .

Brummel is op die been. Sy das is losgemaak en sy baadjie uitgetrek. Hy is besig om die stembriefies gereed te kry.

“Dis ’n geheime stemming,” sê hy en oorhandig die stembriefies aan twee persone wat dit aan die res van die gemeente uitdeel. “As u voel die pastoor moet aanbly, skryf dan ‘ja’ en indien nie, skryf dan ‘nee’.”

Mota stamp aan Chimon se skouer en fluister: “Sal Hank genoeg stemme kry?”

“Ons weet nie,” antwoord Chimon. “Ons hoop maar iemand is besig om te bid.”

Die stemming is gou-gou afgehandel en die briefies word ingeneem. Guilo staan in sy hoek en gluur die opponente aggressief aan. Die bose geeste is baie bedrywig en dartel heen en weer om te sien wat almal geskrywe het. Hulle reaksies is baie uiteenlopend. Soms juig hulle en by ander geleenthede swets en skel hulle. Guilo wens net hy kon ’n paar van die dun nekke in die hande kry — dan sou hy hulle summier verwurg!

Brummel is weer aan die woord: “Om regverdig te wees, sal ons persone uit albei standpunte vra om te help met die tellery.” Eindelik is dit John Coleman en Gordon Mayer wat gevra word om die stemme te tel. Hulle gaan na ’n agterste bank om daar die stembriewe oop te maak. ’n Hele aantal bose geeste swiep om hulle heen, nuuskierig om te sien wat die uitslag gaan wees.

Guilo staan ook nader en word deur Lucius gekonfronteer. Maar die demoon vind gou uit dat Guilo hom nie gaan laat intimideer nie en hy tree dus maar terug. Verskeie ander bose geeste neem ook die wyk toe hulle Guilo sien naderkom. Hy buig neer oor die twee mans wat die stemme tel.

Gordon Mayer tel eerste en oorhandig dan aan John Coleman. Maar hy is nie eerlik nie en versteek ’n paar briewe in die mou van sy baadjie. Guilo merk dit egter en tik hom op die hand. ’n Demoon kom nader om in te meng, maar Guilo is te vinnig vir hom. In die harwar, val die versteekte stembriefies uit en John Coleman sien dit. Hy tel die papiertjies op.

“Jy’t iets laat val.”

Mayer sê niks nie, maar bepaal hom by die tellery. Eindelik is dit afgehandel.  Die uitslag is gelykop. Hulle tel weer, maar dit bly dieselfde. Daarna stap die twee na Brummel toe en lig hom in. Hy kondig die uitslag aan en die gemeentelede lyk almal teleurgesteld.

Alf Brummel se hande is nat van die sweet. Hy vee hulle met sy sakdoek af.

“Ek glo nie daar is veel kans dat enige van ons van opinie sal verander nie, maar aan die ander kant kan ons hierdie saak nie langer laat sloer nie. Daarom stel ek voor dat ons ’n kort pouse neem, ’n bietjie bene rek, die ruskamers besoek en sommer net gesels. Dan kom ons weer byeen om nog ’n stemming te hou.”

Twee demone buite die kerkgebou sien skielik iets ontstellends. Twee ou vrouens kom aangesukkel kerk toe. Hulle is nog ’n entjie weg, maar dis duidelik dat hulle haastig is. Die een loop met behulp van ’n kierie en haar vriendin ondersteun haar.

“O tog, die een met die kierie is Duster,” sê die demoon omgekrap.

“Wat het dan verkeerd gegaan? Ek dog iemand sou met haar gaan afreken.”

“Wel, sy is siek, maar lyk my sy’t nogtans besluit om te kom.”

“Wie is die vrou wat haar help?”

“Ek weet nie. Maar Edith Duster het baie vriende. Ons moes haar beter dopgehou het. Dit kan moeilikheid veroorsaak.”

Moeisaam sukkel die twee ou vroue met die trappies op na die kerk toe.

“So ja, hier is ons,” sê die een in ’n krakerige stem. “Ek het geweet die Here sal ons help.”

“Edith Duster moet nou ’n beroerte aanval kry,” sê een van die demone en trek sy swaard uit. Maar toe hy vorentoe beweeg om haar aan te raak, tree die ander vrou tussenbeide. Die demoon se swaard tref haar op die skouer, maar hy kon net sowel ’n sementmuur aangeval het. Hy slinger deur die lug en kom gillend binne in die kerk te lande.

“Dis die Hemelse Leërskare!” roep hy ontsteld uit toe Edith Duster alleen die kerkgebou binnetree.

Toe Brummel Edith Duster bemerk, byt hy op sy lip. Sy sal beslis vir Busche stem. Die mense begin alweer die gebou binnestap.

Die hemelse wesens en demone wonder almal hoe Edith Duster by die kerk gekom het. Waar is die vrou wat haar gebring het? ’n Paar van die ingeligte hemelse skare weet egter dat Tal die wonder bewerkstellig het.

Op die platform kyk Brummel onrustig rond. lets moet net gebeur om ’n neerlaag te verhoed. Hy voel reeds Langstrat se brandende oë op hom. Hulle moet net vanand die oorwinning behaal!

“Wel vriende,” begin hy en maak hard keelskoon, “ons het nou almal gebid en goed nagedink. Maar miskien moet ek net ’n paar woorde sê. Ek het nog nie vanaand . . . e . . . my opinie gegee nie.  Ek dink tog Busche is baie jonk.”

Iemand val hom in die rede en sê dat hulle ook iets wil sê. Maar Brummel hou sy hand in die lug op. Hy bloos vuurrooi: “Ek . . . ek het nie probeer om die stemming te beïnvloed nie,” verduidelik hy.

“Nou ja, kom ons stem dan,” roep iemand anders uit.

Toe gaan die deur oop en iemand kom in. Brummel kyk angstig na die nuwe aankomeling. Dan daal ’n doodse stilte oor die hele gemeente neer. Dis Lou Stanley, die man oor wie die hele kwessie gaan. Hy neem in ’n agterste ry plaas.

“Toe laat ons stem,” se Gordon Mayer selfversekerd.

Weer word die stembriefies uitgedeel. Brummel kyk senuweeagtig rond. Sy senuwees is gedaan. Sy oë vang die van Lou Stanley. Hulle kyk mekaar ’n oomblik gespanne aan.

“Maak seker dat Lou Stanley ’n stembriefie kry,” sê Brummel aan die persoon wat die briefies uitdeel.

Guilo en Mota hou elke beweging met arendsoë dop. Hulle is gereed vir enige gebeurlikheid. Die stembriewe word ingeneem. Lucius en sy trawante hou die hemelse gesante eweneens dop.

Mayer en Coleman tel weer die stemme. Almal in die saal wag gespanne. Die twee tellers kyk mekaar aan. Dan hertel hulle nog ’n maal. Mayer skryf dan die uitslag van die stemming op ’n stuk papier en oorhandig dit aan Brummel. Hy is duidelik ontsenu en sukkel om sy selfbeheer te herwin.

“E . . . wel ... dit lyk my die uitslag is ten gunste van pastoor Busche.”

Onder een gedeelte van die gemeente is daar ’n blye reaksie terwyl die ander groep stilswyend opstaan om te loop. Iemand vra wat die telling was.

“Agt en twintig teenoor ses en twintig,” se Gordon Mayer beskuldigend en kyk na die plek waar Lou Stanley gesit het. Maar die man is nie meer daar nie. Die plek is leeg!

As die uitslag vir die lewende wesens dramaties was, dan vir die bose magte nog meer so! Dis behoorlik soos ’n ontploffing wat plaasvind. Signa en ander hemelse krygers kyk met verbystering toe hoe demone deur die kerk na buite geslinger word en gillend, skreeuend, skellend oor die hele dorp versprei word. Dit klink amper soos sirenes wat afgaan, ’n demoniese lawaai.

“Hulle sal vannag wraakneem,” waarsku Tal.

“Hulle het met twee stemme verloor,” rapporteer Mota, Chimon en Guilo.

“Maar was dit regtig Lou Stanley?” vra Chimon ongelowig.

“Ja,” se Tal. “Ek is nog al die tyd hier naby vandat ek Edith Duster hierheen begelei het. En dit was Stanley. Die Heilige Gees was beslis aan die werk. Julle moet almal na julle poste terugkeer. Vannag sal hier chaos wees.”

Daardie nag is dit asof sataniese magte in die dorp losgelaat is. Oral breek gevegte en struwelinge uit. Verskeie voertuie word gesteel en op baie mure word slagspreuke aangebring!

Laat in die nag worstel Juleen Langstrat teen die magte van die bose. Sy is in ’n tussentoestand — tussen realiteit en die skroeiende, pynigende vlamme van die hel. Sy rol op haar bed rond, val dan af en strompel deur die kamer rond. Dreigende stemme dring tot haar deur; monsters gluur haar aan en haar kop klop van die pyn.

Dit voel asof kloue haar aan die keel beet het en skeur . . . skeur. Sy sien die geel oë en ruik die afskuwelike swaweldamp.

“Die Heersers is woedend. Jy het misluk. Misluk! Brummel het misluk en jy het misluk. Hy sal sterf en jy ook!” Sy verbeel haar dat sy ’n mes in haar hande hou. Sy wil losruk, vrykom uit die knellende bande van die liggaam. “Kom sluit by ons aan,” hoor sy die stemme wat martel en treiter.

Skielik lui die telefoon, skril en skerp. Geleidelik dring die werklikheid tot haar deur. Sy is in haar kamer. Sy sien bloed op die vloer. Die telefoon lui steeds. Die mes val uit haar hande. Sy hoor woedende stemme. Nog lui die telefoon.

“Ek sal nie faal nie,” roep sy desperaat uit. “Ek belowe, ek sal nie faal nie. Gaan weg!”

Die foon lui en Brummel staar moedeloos voor hom uit. Juleen is seker nie daar nie. Hy plaas die gehoorbuis neer. Vir die oomblik voel hy verlig. Maar een of ander tyd sal hy haar moet vertel. Nog 'n vertraging in die Plan. Hy val op sy bed neer en wonder of hy nie sy eie lewe moet neem nie!

 

Dis Saterdagoggend en oral sny mense gras en was vuil motors. Kinders en honde speel sorgeloos. Die son skyn heerlik.

Marshall sit by die kombuistafel met ’n aantal rekeninge voor hom. Die Basuin is steeds sonder ’n sekretaresse. Kate kom die vertrek binne met ’n hoop kruideniersware wat sy aangekoop het.

“Sandy!” gil Marshall en staan op. Deur die jare het die familie die gewoonte aangeleer om almal saam te help wanneer kruideniers gesorteer en gebêre moet word.

Kate is reeds besig om bederfbare produkte in die yskas in te pak. “Werk jy nog steeds? Dis immers Saterdag,” merk sy op.

“Ek wil net hierdie een ding afhandel. Ek hou nie daarvan as my werk ophoop nie.” Hy staan nader om haar te help. “Hoe gaan dit met Joe en die ander klomp?”

Kate gaan botstil staan en sê fronsend: “Weet jy wat? Hy’s weg. Hy het die winkel verkoop en weggetrek. Ek was nie eers bewus daarvan nie.”

“Wat? Waarheen het hy gegaan?

“Ek weet nie. Lyk my niemand is seker nie. En ek moet eerlik sê, ek hou nie van die nuwe eienaar nie.” Sy beduie waar Marshall iets moet neersit en gaan dan voort: “Ek het hom gevra waarom Joe en Angelina verkoop het, maar hy wou niks sê nie.”

“Wat is sy naam?”

“Hy wou dit nie eers sê nie.”

“Maar verstaan hy ooit Engels?”

“O ja, genoeg om jou bestelling te neem.” Sy sug. “Ek sal seker daaraan gewoond raak, maar ek moet erken die atmosfeer in die winkel is nie lekker nie. Lyk my al die personeel is ook nuut.”

“Hier is iets eienaardigs in hierdie dorp aan die gang,” sê Sandy wat intussen by haar ouers aangesluit het en met die uitpakkery help.

“O so,” se Marshall belangstellend. “Wat dink jy is die probleem?”

“Ek weet nie so mooi nie. Mense hier tree vreemd op. Dis byna asof ons deur mense van ’n ander planeet ingeval is.”

Eindelik is alles uitgepak, Sandy terug by haar studies en Kate in die tuin besig. Marshall dink nog aan Sandy se opmerking. Wesens van ’n ander planeet! Juleen Langstrat is beslis ’n vreemde skepsel. Hy besluit om ’n oproep te maak.

Hy skakel Ted Harmel se nommer en wonder onwillekeurig of hy die man op so ’n sonnige Saterdagoggend in die huis sal vind. “Hallo,” klink ’n stem skielik tot hom deur.

“Goeiemore, is dit Ted Harmel?”

“Ja. Met wie praat ek nou?”

“Met Marshall Hogan, die nuwe redakteur van die Basuin.” Harmel se niks en Marshall vervolg:

“Bernice Kreuger werk nog vir my."

“O so? Het sy iets in verband met haar suster uitgevind?

“Nee, nie sover ek weet nie. Sy het my niks gesê nie.

“Ek sien. Hoe gaan dit met die koerant?”

Hulle gesels ’n paar oomblikke oor die nuusblad en Marshall noem aan hom dat Edie weg is nadat haar huwelik op die rotse beland het. Harmel is baie geduldig. Naderhand gesels Marshall oor Sandy en haar studies en eindelik, met ’n lang ompad, bring hy die gesprek na Langstrat toe.

“Weet jy enigiets van haar?” vra hy belangstellend.

“Wat wil jy eintlik weet?” vra Harmel na ’n kort stilte.

“Wel, ek is bekommerd oor Sandy. Sy tel allerhande vreemde idees in Langstrat se klasse op.”

“Hmm . . . ja, dis Oosterse mistisisme en sulke dinge. Sy glo aan meditasie, die eenheid met die heelal en die hoër bewussyn . . . ek weet nie of jy iets van hierdie dinge verstaan nie?”

“Nie juis nie. Maar dit lyk my sy versprei hierdie idees op ’n baie breë front.”

“Wat bedoel jy?”

“Sy ontmoet mense skynbaar op ’n gereelde basis — belangrike mense soos Alf Brummel en . . . e . . . Pinckston . . .”

“Dolores Pinckston?”

“Ja. Op die kollegeraad. Ook Dwight Brandon, Eugene Baylor ..."

“Luister, wat presies wil jy weet?” val Harmel in die rede.

"Ek verstaan jy was redelik betrokke . . .”

“Dis onwaar.”

“Maar jy het self vir gereelde terapie gegaan?”

“E . . . ek het maar net ondersoek ingestel!” Harmel bly ’n hele ruk stil. Hy haal moeisaam asem. Hy is duidelik ontwrig:

“Deksels!Ek wens jy het nie gebel nie.”

"Luister, Harmel, ek ruik ’n storie. Ons is immers albei nuusmanne".

“Nee, jy is, maar nie ek nie. Jy ken seker my hele geskiedenis.”

"Net jou naam, en jou nommer en dat jy die Basuin vroeër besit het."

"Goed, kom ons laat dit daar. Luister, ek wil nie hê jy moet gemolesteer word nie.”

“Wat bedoel jy?”

"Daar is sekere dinge waaroor ek net nie kan praat nie. En as jou raad verskuldig is, hou jou uit hierdie dinge uit. Asseblief. Daar is genoeg ander nuus om die koerant aan die gang te hou.”

"Maar ek verstaan nie?”

“Kyk, hou op om inligting uit my te probeer kry. Ek sê jou, ek sal niks verder openbaar nie. Vergeet van Langstrat. Ek besef jy is ’n nuusman en sal nou juis nuuskierig wees, maar ek waarsku jou. Ter wille van jouself.”

“Hoe kan ek die saak nou so laat?”

“Dink aan jou vrou en jou dogter. Anders sal jy aan die kortste end trek net soos al die ander.”

"Al die ander? Van wie praat jy?”

"Ek weet nie en ek ken nie vir Langstrat nie. Ek weet niks nie en dis die einde van die saak.”

“Ted, is jy in die moeilikheid?”

“Los my uit!” Hy plaas die gehoorbuis neer en Marshall bly roerloos sit. Hoe kan hy alles nou net so laat staan. Nee, nie hy nie! Hy sug diep.

Edith Duster, ’n ou dame van oor die tagtig jaar, woon in die Wilger Woonstelle, ’n oord vir afgetrede persone. Sy is een van die toegewyde lidmate van die gemeente, ’n ware gebedsheldin. In haar jeug was sy ’n sendeling in Sjina. Sy leef tans op haar maatskaplike pensioen en ’n bydrae wat sy maandeliks van die kerk ontvang. Geselskap is vir haar ’n wonderlike seën, veral omdat sy die meeste van die tyd alleen is.

Hank en Mary sit in die ou dame se sitkamer terwyl sy tee skink uit ’n pragtige ou teepot. Soos altyd is sy netjies geklee. ’n Bord gemmerkoekies staan ook op die tafel.

“Nee,” sê sy eindelik nadenkend, "ek glo nie dat God se planne ooit permanent gedwarsboom kan word nie. Hy weet hoe om sy kinders deur hulle probleme te help.”

“Ja ... e ... dis seker so,” gee Hank huiwerig toe.

“Dis beslis so,” sê ouma Duster met oortuiging. “Dis nie ’n fout dat jy hier is nie. God wou jou hier gehad het en die gebeure die afgelope tyd bewys dit onteenseglik.”

“Hy voel ’n bietjie teneergedruk oor die stemming,” sê Mary besorgd.

Ouma Duster glimlag bemoedigend en sê: “Ek dink die Here is besig om voorbereidings vir ’n herlewing te tref. ’n Mens kan dit byna met die gety vergelyk. As die gety draai, bereik dit ’n punt waar dit eers tot stilstand kom en dan tree verandering in. Al lyk dit nou of dit wil doodloop, maar glo my, daarna sal die ommekeer kom. Ja, ek kon gisteraand nie van die vergadering weggebly nie. Ek weet die duiwel wou my daar weghou, maar die Here het my die krag gegee om die ent te gaan. Jammer dat ek net een stem gehad het.”

“Ek wonder wie die ander persoon was wat vir my gestem het?” vra Hank.

“Dit kon tog nie Lou Stanley gewees het nie,” sê Mary kopskuddend.

“Waarom nie?” Ouma glimlag. “Die Here kan alles doen en selfs Lou Stanley se hart verander. Maar nou ja, miskien sal ons nooit regtig weet nie. Hoe lyk dit met nog ’n bietjie tee?”

“Maar ek kan nie sien hoe die gemeente kan oorleef as die helfte van die lidmate nie die pastoor wil hê nie,” gaan Hank bekommerd voort. “Hulle sal ook hulle finansiële bydraes onttrek.”

“Ek het die laaste tyd baie van engele gedroom.” Ouma Duster kyk die jong pastoor openlik aan. “Dit gebeur nie dikwels nie, maar wanneer ek wel van engele droom, dan weet ek dat God aan die werk is. Sy leërmagte is besig om te mobiliseer.”

Hank besef dat hy nou van die demoniese aanval melding moet maak. Ouma luister aandagtig. Sy knik aanhoudend met haar kop.

“Ja,” sê sy eindelik, “dit maak alles sin. Ek het nou die aand ook so ’n ondervinding gehad. Ek het voor die venster gestaan en skielik het ek vreeslik duiselig geraak. Dit het eenmaal tevore gebeur toe ons in Sjina was en toe was daar ’n 'spiritis' naby. Sy het ons gehaat en wou my en my man vervloek. En dit was presies dieselfde gevoel wat ek nou die aand ondervind het.”

“Wat het u toe gedoen?” vra Mary.

“Gebid, natuurlik,” se die ou dame. “Ek het die bose gees in die Naam van Jesus bestraf. En hy het dadelik weggegaan.”

“U dink dus dit was ’n demoon.”

“Beslis. God is besig en daarom moet ons verwag dat Satan se magte ook tot die stryd sal toetree.”

“Maar dit voel vir my asof daar die laaste tyd ’n verskriklike toename in die aanslag van die bose is,” sê Hank.

“Ja, my kind. Onthou, gebed en vas is nodig om hierdie bose geeste uit te dryf.” Die ou dame staar nadenkend voor haar uit. “Ons bid om ander op te roep tot gebed. Dis wat die engele ook sê.”

“Hoe lyk die engele in Ouma se drome?” vra Mary.

“O, hulle is mense, maar tog anders as gewone mense. Hulle is baie lank en groot, met blink klere en groot swaarde en glinsterende vlerke. Een is blond en hy hou aan om te sê dat ek vir jou moet bid, Hank. Ek het jou op die kansel sien staan, met die engel agter jou, so asof hy oor jou die wag hou.”

“Ek . . . ek het nie besef dat u so vir my bid nie,” sê Hank diep geraak.

“Wel, dis tyd dat meer mense begin bid. Die gety is besig om te draai en alle ware gelowiges moet nou begin bid.”

Die drie van hulle neem mekaar se hande en begin eendragtiglik te bid. Hank dank die Here vir die eerste ware bemoediging wat hy in ’n lang tyd ontvang het. Saam loof en prys hulle die Here. En toe eindelik is dit Edith Duster se beurt.

“O God,” sê sy en hulle voel hoe die warmte van die Heilige Gees hulle deurstroom, “ek dra hierdie jong paartjie aan U op. Dek hulle onder u kosbare bloed. Ek wil alle bose magte in Jesus se Naam bestraf. Satan, neem jou hande van hulle af. Ek bestraf jou in Jesus se Naam!”

 

’n Luide gekletter weerklink. Twee demone staar verbysterd na hulle swaarde wat skynbaar sommer vanself afgeval het. Ba-al Rafar is woedend. Die demone buk vinnig om hulle swaarde op te tel, maar Rafar sit sy voet op die een neer en sy groot swaard rus op die ander.

“Vergewe ons, o grote Rafar!” roep die twee verskrik uit. “So iets het nog nooit voorheen gebeur nie.”

“Stilte!” bulder Rafar.

Die twee demone verwag ’n verskriklike straf. Hulle geel oë loer angsbevange na Rafar en hulle vou hulle vlerke om hulle toe asof hulle hulleself so kan beskerm. Maar Rafar stel nie in hulle belang nie. Altans nie nou nie. Sy oë is op die swaarde gevestig. En hy lyk bekommerd — sommer baie bekommerd. Hy kniel neer en neem die een swaard op. ’n Onaardse geluid kom oor sy lippe.

“Tal,” fluister hy geskok. Dan kom hy orent en slinger die swaard met al sy mag en krag deur die muur van die kelder, deur die atmosfeer om die Stewart Saal en hoog in die lug op! Toe gryp hy die eienaar van die swaard en slinger hom agter sy wapen aan.

“Gaan haal jou swaard!” beveel hy. Toe neem hy die ander swaard en slinger dit na die eienaar. Die demoon spring net betyds eenkant toe, gryp sy swaard en laat spaander.

Sommige van die bose geeste in die vertrek weet nie wie Tal is nie en hulle kan nie verstaan waarom die ander so verskrik en benoud lyk nie. Maar Rafar is in ’n verwoestende bui. Hy swaai met sy swaard deur die lug, asof hy onsigbare vyande wil vernietig. Die ander hou hom angsbevange dop. Eindelik is dit Lucius wat ’n woord waag.

“Ons is tot u diens, o grote Rafar. Kan u ons sê wie Tal is?”

Woedend swaai Rafar om. Sy oë is soos twee kole gloeiende vuur. Sy vlerke word wyd uitgesprei.

“Wie is Tal!” skreeu hy en al die demone val op die grond neer. “Wie is Tal! die krygsman, die Kaptein van die Hemelse Leërskare? Hy is ’n konkelende, sluipende teenstander. Dis wie hy is!” Moedeloosheid is die naaste aan Rafar en meteens skiet Rafar se groot vuis uit, hy gryp die demoon om sy skraal nek en pluk hom in die lug op.

“Jy het in jou opdrag misluk as gevolg van Tal,” gil hy woedend. "Jy kon Marshall Hogan nie moedeloos maak nie. Hy het nou tot die stryd toegetree. Jy het misluk en nou moet jy betaal.” Hy swaai sy swaard eenmaal deur die lug en ’n donker, gapende afgrond gaan voor hulle oop. Moedeloosheid se oë sper wyd oop van vrees. “Nee . . . nee . . . asseblief . . .!” smeek hy.

Maar Rafar slaan nie ag op sy smeking nie. Hy smyt die demoon in die gapende afgrond af. Sy angswekkende gegil sterf stadig weg. Met een beweging van die swaard, sluit Rafar die afgrond weer toe.

Intussen het die ander twee bose geeste weer teruggekeer. Rafar gebied hulle almal om op aandag te staan. Dan neem hy die twee wat hulle swaarde laat val het, en sê: “Wie is Tal? Hy is die een wat hierdie krygsmanne se swaarde laat val het, sommer so.” Hy smyt hulle tussen die ander in. “Dis wie Tal is — ’n magtige krygsman van die Hemelse Leërskare. Hy tree nooit tot ’n geveg toe as hy nie seker is dat hy kan wen nie. Hy weet hoe magtig die heiliges van God is en dis ’n les wat julle almal moet leer.”

Rafar swaai sy swaard heen en weer. Sy hand bewe.

“Ek het geweet hy sou kom. Michael weet dat net Tal teen my kan veg. En nou het Hogan begin snuffel. Dis duidelik dat hy en Busche met ’n doel na Ashton gebring is. En dis alles Tal se toedoen. Iewers is mense besig om te bid.”

Al die bose geeste begin sidder. Rafar loop op en neer. Hy dink diep en maak planne.

“Al Tal se planne sentreer om Hogan en Busche. Daarom moet ons hulle neutraliseer.” Hy kyk na ’n glibberige demoon wat eenkant staan. “Het jy ’n lokval vir Busche gestel?”

“O ja, Ba-al Rafar.” Die demoon lag lekker. “Alles is gereed.”

“Onthou dit moet ’n subtiele aanslag wees. Direkte aanval sal niks baat nie.”

“Laat dit aan my oor.”

“En wat doen julle om Marshall Hogan te vernietig?” Onenigheid staan vorentoe en sê: “Ons gaan sy familie aanval. Hy steun baie op sy vrou. Ons gaan hulle ondergrawe.”

“Gaan voort met die werk. En moenie vir Kreuger vergeet nie. Miskien moet ons haar en Hogan teen mekaar probeer opmaak...”

Rafar stel ’n paar ander demone aan om daardie saak te behartig. “En wat van Hogan se dogter?”

Bedrog staan nader en glimlag breed: “Ons het haar reeds in ons mag.”

Vervolg...

Opsoek na inligting?

  • BYBEL 1933/53-druk nou gratis

    Gelofteland is dankbaar om aan al ons lesers die 1933/53-uitgawe van die Bybel gratis te voorsien. Al wat u hoef te doen is om 'n e-pos na

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    te stuur met die versoek om die Bybel te ontvang, en ons sal dit aan u stuur.

     

    _____________________

     

     Laserskywe in stelle van 10 te koop

    VRYHEIDSBEDIENING

    Ds. Andre van den Berg werk sedert November 1990 weekliks met volksgenote in die gevangenis in Pretoria-Sentraal. Hy bied ʼn reeks laserskywe teen R200 (posgeld uitgesluit) per stel van 10 aan. Die opbrengs van hierdie verkope gaan vir Gevangenisbediening.

    Dit handel oor aktuele onderwerpe soos:

    1. Die lewe hiernamaals.
    2. Word verantwoordelik oud.
    3. Die pad na die ewigheid.
    4. Bied beproewing die hoof.
    5. Raad vir tieners.
    6. Gelowige kinderopvoeding.
    7. Oorwin depressie.
    8. Kikker jou huwelik op .
    9. Alle mense is nie gelyk nie.
    10. Homoseksualisme - ʼn gruwel vir God.

    Bestel by:

    E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Sel: 074 967 5187

    Bankbesonderhede:

    ABSA

    VRYHEIDSBEDIENING

    9062088855

    _______________

     

    Skryf in vir die gratis e-blad OORSIG EN REPLIEK

    'n Blad wat dmv verduidelikende agtergrond by die kern van ons volk se
    stryd uitkom.

    Kontak die redakteur by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Lees ons gereelde uittreksels daaruit hier op Gelofteland by OORSIG EN REPLIEK

    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________ 
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.

    Hierdie boek uit die pen van ds AE van den Berg, het in gedrukte vorm verskyn.  Dit bring helder perspektief oor rasseverskille en natuurlike skeiding wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte wat landsburgers van geestelike denke sal laat verander en van onregte en gewaande vryheid sal bevry.

    Sinvolle besluite in die lig van God se Woord, en onophoudelik gebed dat bevryding spoedig verwesenlik word, is noodsaaklik. Politiek is erns en harde werk wat wet en orde handhaaf en durf nie in eerlose hande gelaat te word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel.

    U kan hierdie boek bestel by ds A E van den Berg

    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com

    Prys: R50-00

     
  •                                                                        ______________

     

    BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    'n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD

    _______________

    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

                                                                           ________________

     

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    of skakel hom by 074 967 5187

    ________________

    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    _________________

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  •  

    DIE CHARISMATIESE GEVAAR
    Mense word so maklik deur dwaalleringe mislei. In hierdie boek word talle kwelvrae beantwoord.

VERGADERING-

PROSEDURES

(GRATIS)

Daar is min mense wat nog die waarde van 'n ordelike byeenkoms bedink en kan uitvoer. Sonder hierdie kennis en orde en gedissiplineerde toepassing daarvan sal 'n byeenkoms in wanorde verval en die doel van die vergadering nie bereik word nie. Die boekie kom handig te pas in alle omstandighede waar 'n vergadering van persone plaasvind, ongeag die sakelys of doel van die byeenkoms.

Klik hier om die boekie wat u op hoogte kan bring van korrekte vergaderingprosedures, gratis af te laai. Indien u van Windows 10 gebruik maak sal die inhoud outomaties onder die lêer "Downloads" geberg word en kan dit daar gehaal en gebêre word waar ookal dit maklik gevind kan word.

 

GRATIS E-BOEKE EN VERSBUNDELS OM AF TE LAAI:

 

As God volke aan hul eie lot oorlaat

Die waarheid oor ons volk en die Nuwe SA

Volksverraad geskryf deur adv. P.J. Pretorius

'n Oorblyfsel... deur genade alleen

Christen-Teokratiese Separatisme

Verse van Verset

Vreedsame Naasbestaan = Afsonderlike Ontwikkeling

No Ships in the Harbour

Ons heilsverhaal in die Ou Testament

Daniel

Evolusie - kan ek dit glo?

Petrus, die rots

Romeo en Juliet

Ester

Apokriewe - By modderpoele of suiwer fonteine?

Midsomernagdroom - Shakespeare in Afrikaans

Die Openbaring van Henog

Die Derde Tempel

Macbeth - Shakespeare in Afrikaans

Met ryperd en mauser

Goue strate het nie stof nie

Derdepoort

Die Laaste Pous

Josef

Rut

Drie Eeue van Onreg

Ons Geskiedenis

Engelse skandvlekke

Voortrekker-Pioniers in Oos-Transvaal

_______________

 

 

1919: VRYHEIDSDEPUTASIE KEER TERUG

1800: GRAAFF- REINETSE REBELLE GEVONNIS

1917: OOM JAPIE HELPMEKAAR

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

                                                                         __________________

 

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES

(Lees by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

                                                                         __________________                                                                  

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 2130 gaste aanlyn