Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Is jy nog 'n geestelik kind wat uit die vlees leef en met melkies gevoed moet word, of het jy opgegroei en kan die vaste spys van die lewe goed verteer sodat jy tot nut is vir ons volk? Dis maklik om vas te stel: jaloesie, twis en tweedrag, sê Paulus, is die simptome van 'n geestelike baba. Dit wil voorkom asof die grootste gedeelte van ons volk nog uit die vlees leef – geen wonder dit gaan so sleg met ons nie.
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (24)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
Die byeenkoms is weer in Juleen Langstrat se woning, in die half- donker woonkamer, met die een brandende kers. Soos altyd is Langstrat die leidende figuur wat instruksies gee. Shawn is daar, die ondersteuner en helper en die ander speler in die drama is Sandy. Hierdie byeenkomste het al ’n gereelde instelling geword en hulle is besig om die jong meisie te leer om die wêreld van psigiese magte en ondervindings te betree. En sy is aangegryp en oorweldig deur al die nuwe belewinge. Dis ’n stadige, ritmiese oefening — asemhaling . . . in . . . uit. . . in . . . uit . . . ontspan . . . ontspan . . . ontspan . . .
Sandy is al redelik toegerus om na ander vlakke van bewussyn oor te gaan — die vlakke waarop die mens nie gewoonlik funksioneer nie. Iewers onder die gewone vlakke is die vlakke waar die psigiese magte en vermoëns funksioneer. Om hierdie vlakke te bereik, vereis meditasie, konsentrasie, en die absolute ontspanning van die liggaam. Al hierdie sake het Sandy al aangeleer onder die bekwame leiding en toesig van Langstrat.
Sandy sit op die rusbank en Langstrat tel saam met haar af.
“Vyf en twintig . . . vier en twintig . . . drie en twintig . . .” Langstrat se stemtoon is eentonig, amper hipnotiserend en vir Sandy voel dit asof sy in ’n hysbak ry, al laer en laer, tot in die laer verdiepings van haar gees.
“Drie . . . twee . . . een . . . Alpha . . tel Langstrat. “Toe, maak nou oop die deur, Sandy.”
Sandy sien hoedat sy die deur oopmaak en uitstap in ’n lieflike weiland begrens deur bome wat in volle bloei staan. Die lug is warm en ’n briesie speel oor die grassade en buig hulle heen en weer. Sandy kyk in die rondte.
“Sien jy haar?” vra Langstrat sag.
“Ek soek nog,” antwoord Sandy gedemp. Dan verhelder haar gelaat en sy roep hardop uit. “Ja, hier kom sy. O, sy is so pragtig.” In haar onderbewussyn sien Sandy die pragtige jong meisie met die lang blonde hare wat na haar toe aangesweef kom. Sy is geklee in skitterblink klere en haar gesig straal van blydskap en geluk.
“Hallo,” roep Sandy opgewek uit.
“Hallo,” antwoord die meisie in die lieflikste stemtoom.
“Gaan jy my leidster wees?”
“Ja,” antwoord die meisie en neem Sandy se hande in hare. “My naam is Madeline en ek gaan jou leer en lei.”
“Maar jy lyk so jonk . . . het jy voorheen reeds gelewe?”
“O ja, reeds honderde kere. Elke lewe is maar net ’n opwaartse stap. Maar ek sal jou alles beduie.”
Madeline neem Sandy aan die hand en lei haar oor die grasvelde na ’n goue voetpaadjie in die verte.
Die werklikheid is egter heel anders. Terwyl Sandy op Langstrat se rusbank sit, ’n hemelse glimlag op haar gelaat, slaan ’n afgryslike demoon sy kloue in die jong meisie se kop in. Die bose gees buig oor Sandy en fluister lokkend: “Kom saam met my en ek sal jou aan ander voorstel . . . mense wat reeds voor ons opgestyg het.”
“O ja, dit sal wonderlik wees.”
Shawn en Langstrat glimlag tevrede.
* * *
Tom McBride, een van Marshall se werknemers, kyk verward op toe die klokkie van die Basuin se kantoordeur skielik begin lui. Hy is moeg en oorspanne, want dit was ’n verskriklike dag. Alles het verkeerd gegaan. Hy kon Marshall en Bernice nêrens opspoor nie en die koerant is nie gedruk nie.
Dis Marshall wat binnekom en direk na sy kantoor toe stap. Tom merk dadelik dat sy werkgewer siek en moeg lyk.
“Marshall, waar was jy? Die koerante het nie van die drukkers af gekom nie. Ek kry Bernice nie in die hande nie. Almal bel net en ek weet nie wat om te doen nie.”
“Waar’s Carmen?” vra Marshall sonder om enige vrae te beantwoord.
Tom wil nog vrae stel, maar Marshall is nie in ’n bui vir gesels nie. Hy herhaal sy vraag.
“Sy’s nie hier nie. Nadat Bernice weg is, het sy ook geloop. Ek is die hele dag nog alleen.”
Marshall stamp sy kantoordeur oop en stap dadelik na die kabinet waarin hy die kartondoos met al die inligting wat hy en Bernice versamel het, gebêre het. Die kartondoos is leeg. Al die papiere, dokumente en getabuleerde inligting is weg!
Marshall smyt die houer op die vloer neer en vloek luid.
“Is ... is daar iets wat ek kan doen?” vra Tom.
Marshall sak in sy stoel neer, sy gesig wasbleek, sy hande bewend, ’n Paar oomblikke sit hy doodstil, sy asem hortend, sy gedagtes in ’n warboel.
“Bel die hospitaal,” se hy eindelik moeg. “En vind uit hoe dit met Bernice gaan.”
“Bernice! Is sy dan in die hospitaal?” vra Tom verbysterd.
“Doen net wat ek sê,” raas Marshall.
Tom gehoorsaam dadelik. Terwyl hy nog sukkel om deur te kom, kom Marshall nader en sê verskonend: “Jammer Tom, vergewe my , . . ek is heeltemal ontwrig. Dankie vir jou moeite. Kom vertel my wat hulle van Bernice sê.” Hy stap terug na sy kantoor en sak in sy stoel neer.
“Bernice se een ribbebeen is gekraak,” sê Tom toe hy ’n paar oomblikke later by Marshall se kantoordeur staan. “Maar verder gaan dit beter. Iemand het haar motor van Baker af teruggebring en sy is huis toe. Sy is nou in haar woonstel.”
“Dankie. Ek . . . ek moet huis toe gaan."
“Wat het met Bernice gebeur?”
“Iemand het haar aangerand ...”
“Wat!” Tom is so geskok dat hy geen woord verder kan se nie. Na ’n paar oomblikke stilte, vra hy oorbluf. “Wat gaan ons doen? Sal daar nog ’n Vrydag-edisie wees ? Ek het goed na die drukkers gestuur, maar . . .”
“Hulle wil dit nie druk nie,” sê Marshall.
“Waarom nie?” vra Tom verslae.
Marshall skud sy kop en sug diep. Dan sê hy: “Tom, neem die res van die dag af. Ek sal later alles verduidelik. Ek sal jou bel. Asseblief.”
Arme Tom kan nie begryp wat aangaan nie, maar hy knik instemmend, neem sy baadjie en stap weg.
Marshall se spesiale nommer lui skielik, en hy stap haastig om dit te beantwoord. “Basuin,” sê hy.
“Marshall? Is dit jy? Dit is Eldon Strachan.” Marshall hyg na sy asem. ’n Dankgebed flits deur sy brein. Strachan lewe! Dank die Here, hy lewe.
“Eldon, is alles reg?” vra hy dringend.
“Nee. Ek was weg en toe ek tuiskom, is my hele huis in wanorde. Dit lyk vreeslik.”
“En Doris. Is sy veilig?”
“Veilig . . . ja, maar baie ontsteld. En ek ook.”
“Ons het almal deurgeloop, Eldon. Hulle het tot die aanval oorgegaan.” En Marshall vertel die hele storie. Die ergste is om Strachan mee te deel dat sy vriend Ted Harmel oorlede is.
Vir verskeie minute is dit asof die twee mans nie kan praat nie. Albei staan met die gehoorbuis in die hand. Nou en dan vra een of die ander nog daar is. Maar nie een weet wat om te sê nie.
“Marshall,” se Strachan eindelik. “Daar is vir ons net een hoop. Ons moet vlug. Ons moet ons uit die voete maak.”
“Vlug! Waarheen?” Marshall sug diep. “Nee, jy het reeds eenmaal gevlug en dit het nie gehelp nie.”
“Maar wat kan ons doen?”
“Jy is bevriend met die prokureur-generaal.”
“Ek het gesê ek kan nie na Norm Mattily toe gaan as ek nie bewyse het nie. Bewerings en aantygings is nie genoeg nie. Ek moet bewyse hê.”
Verslae staar Marshall na die leë kartondoos. Sy stem bewe maar ’n nuwe vegtersinstink wel in hom op.
“Ek sal vir jou bewyse kry — iewers.”
“Ja,” sug Eldon na ’n kort stilte. “Jy’t reg. Kry vir my bewyse en dan sal ek na Mattily toe gaan. Maar intussen gaan Doris en ek uit sirkulasie verdwyn. Ek sou jou aanraai om dit ook te doen.”
“Waar sal ek jou dan kan kontak?”
“Ek sal deur Norm Mattily se kantoor met jou kontak maak. Wag maar om van hulle te hoor.”
“En as ek nie hier is nie, laat hulle vir Al Lemley van die New York Times kontak. Ek sal met hom reël.”
“Goed. Hoop ons sien mekaar weer.”
“Ja, ek hoop ook so. En ek bid daarvoor. Dis asof ek die laaste tyd al meer en meer begin bid.”
Marshall lui af, sluit die kantore en kies koers huistoe.
* * *
Bernice lê op die rusbank in haar woonkamer, ’n nat waslap op haar voorkop en ’n verband om die gekraakte rib. Sy voel ellendig en haar kop is baie seer, maar nogtans wens sy die foon wil lui. Sy het al na die Basuin gebel, maar daar is geen antwoord nie en die foon in Marshall se huis lui ook aanhoudend.
En dan skielik, lui haar telefoon. Binne ’n oogwenk het sy die gehoorbuis in die hand. Haar kop klop dreunend.
“Ja.”
“Is dit Bernice Kreuger?”
“Kevin? Is dit jy?”
“Ja,” antwoord die man en hy klink verbouereerd en gespanne. “Ek is bang, Bernice, so wragtie, ek is bang.”
“Waar is jy Kevin?”
“By die huis. Iemand het my plek binnegekom en alles omgekrap. Dit lyk vreeslik.”
“Is jou deur gesluit?”
“Ja, maar ek is nogtans bang. Hulle is agter my aan.”
“Kevin . . .” Bernice praat stadig en afgemete,” moet nie te veel sê nie. Die meeste van ons fone het luisterapparate aan. Joune miskien ook.”
’n Paar oomblikke is dit stil en dan gee Kevin ’n kwaai knoop. Hy is duidelik ontsteld: “Deksels, ek het nou net met . . . jy weet wie . . . gepraat. Sê nou maar hulle het ons gesprek gehoor.”
“Dis moontlik. Maar in elk geval, wees net versigtig.”
“Maar . . . maar wat moet ek doen? Susan sê sy . . . sy het die . . . e . . . die goed . . . en sy gaan haar uit die voete maak . .
“Bly stil, Kevin!” beveel Bernice dringend. “Ons moet mekaar persoonlik sien. Waar kan ons ontmoet?”
“Maar as ek jou sê, sal hulle mos ook weet.”
“As hulle weet, dan weet hulle. Maar ek moet jou sien.” “Maar dan moet ons gou maak. Sommer baie gou.”
“Nou goed. Wat van die brug oor die Juddrivier naby Baker?”
“Ja. Dis reg.”
“By die regse afdraai in die pad, so teen . . . e . . . sewe-uur.” Bernice kyk op haar oorlosie.
“Goed. Ek sal daar wees.”
Nadat hy afgelui het, skakel Bernice die Basuin, maar daar is geen antwoord nie. Dan skakel sy Marshall se huisnommer.
* * *
In die kombuis van die Hogan woonhuis lui die telefoon aanhoudend. Marshall en Kate laat dit egter lui. Kate is ontsenu en daar is trane in haar oë.
“Deesdae bring die telefoon net slegte nuus,” sê sy verwese en Marshall, die man wat altyd vol moed en planne is, sê nie ’n woord nie. Hy voel totaal ontredder.
“Wanneer het daardie oproep deurgekom?” vra hy eindelik moeg.
“Vanoggend.”
“Wie was dit? Jy moes tog die stem herken het.”
“Wie dit ook al was, hy weet alles van ons af,” Kate praat met moeite en vryf haar hande gespanne ineen.
“Maar hy lieg . . . ek sweer hy lieg. Nie ’n woord daarvan is waar nie.”
“Ek weet,” sê Kate sag.
“Dis weer ’n skinderstorie, iets om my te diskrediteer. Hulle wil my koerant wegneem en nou wil hulle ook ons huwelik vernietig. Hoor hier, Kate, daar was nog nooit iets tussen my en Bernice nie. Ek is oud genoeg om haar pa te wees.”
“Ek weet, Marshall,” herhaal sy weer en vervolg dan opreg: “Jy is die enigste man vir my en ek weet dat jy nie iemand is wat sommer los en vas verhoudings aanknoop nie. Ek vertrou jou, Marshall.”
“Kate,” hy neem haar hand en druk dit, “jy is die enigste vrou wat ek nog ooit liefgehad het. Sowaar.”
“Ek . . . ek glo dit, Marshall.” Haar stem breek. “En dis die geloof in jou inherente betroubaarheid wat my die afgelope tyd aan die gang hou. Dit het my die moed gegee om te wag . . . en te hoop . . Sy kan nie verder praat nie en Marshall laat sy kop sak. Hy het ook geen woorde nie.
“Maar, Marshall. . .” gaan sy eindelik met moeite voort, “daar is ook ander dinge wat moes verander het, maar wat dieselfde gebly het. Jy het belowe dat ons lewens sou verander nadat ons uit New York weg is. Jy het belowe dat sake tussen jou en Sandy sou verbeter en . . . en dat jy meer tyd tuis sou deurbring. Maar hierdie sake het nie verander nie, inteendeel, dit het verger. En . . . en ek het nou uitgevind dat daar wel iemand anders is . . . nie ’n vrou nie, maar die koerant. Die koerant en die nuuswêreld is jou eerste liefde.” Sy breek af en kyk hom met traangevulde oë aan. “Ek weet nie of ... of ek langer met die koerant kan kompeteer nie.”
Marshall wonder of Kate ooit die omvang van die situasie sal kan verstaan. Het hy die vermoë om oortuigend te verduidelik? “Kate,” begin hy, “hierdie besigheid is . . .”
“Nee,” keer sy en skud haar kop. “Ek wil niks hoor nie. Dit is waarskynlik iets belangriks wat baie aandag vereis, maar my probleem is wat hierdie situasie aan ons as gesin gedoen het. Sandy en ek is as gevolg van jou betrokkenheid by die koerant, op die agtergrond geskuiwe. En ek kan nie meer nie. Ek is jammer, Marshall.”
“Maar Kate, dis juis wat hulle wil hê . . . hulle wil ons huwelik opbreek ...”
“Dan is hulle besig om te slaag,” antwoord sy driftig. “Maar moet net nie die blaam vir ons situasie op ander plaas nie. Jy het beloftes gemaak wat jy nie nagekom het nie. Ek hou jou verantwoordelik vir dit wat gebeur het.”
“Kate, asseblief, ek het nie gevra dat al hierdie dinge moet gebeur nie. Ek het ook nie daarna gesoek nie. As alles verby is . . .”
“Alles is verby!” Marshall duisel onder die aanslag van haar woorde. “Ek weet hoeveel ek kan dra en ek het my breekpunt bereik.” Sy skud haar kop en vervolg met moeite: “Ek het my ma vanoggend gebel en sake aan haar verduidelik. Sy kies nie kant nie, Marshall, regtig nie. Maar sy stem saam dat sake nie so kan voortgaan nie. En sy sê sy bid baie vir jou. Sy het onlangs gedroom dat jy baie probleme ondervind en dat die Here sy engele gestuur het om jou te onderskraag.”
Marshall hoor Kate se woorde en hy weet hy behoort dankbaar te voel dat sy skoonmoeder vir hom bid. Nogtans lyk dit nie asof haar gebede iets vermag nie.
“Ek het besluit om ’n rukkie by my ma te gaan inwoon,” se Kate verder. “Ons het altwee ’n tydjie nodig om na te dink en tot verhaal te kom. Wat Sandy aanbetref, weet ek nie. Om die waarheid te sê ek weet nie eers waar sy haar bevind nie. As ek haar kan opspoor, sal ek haar vra om saam te gaan, maar ek twyfel of sy sal. Sy en Shawn is met so baie dinge deurmekaar en ek glo nie sy sal hom wil verlaat nie. O Marshall. . .” Haar emosies oorweldig haar en sy begin huil. Snikkend vervolg sy: “Sy . . . sy het die laaste tyd al verder weggedwaal en . . . en jy was nooit hier om my te help nie.”
Marshall staar haar verslae aan. Hy weet nie of hy haar moet troos nie. Moet hy sy arms om haar slaan en haar teen hom vasdruk? Sal sy ooit aanvaar dat hy waarlik omgee? Eindelik kom hy tog in beweging en sit sy arm om haar.
“Ek sal nie probeer om te verduidelik nie, Kate. Alles wat jy gesê het, is waar. Ek erken dat ek gefaal het en dat ek nie my beloftes nagekom het nie.” Hy sug en byt op sy lip. “Daarom mag ek jou nie keer nie. Gaan na jou ma toe vir ’n tydjie. Ek moet eers sake hier probeer opklaar en dan sal ek jou kontak.”
“O Marshall, ek . . . ek het jou lief,” huil sy.
“En ek vir jou, Kate.”
Die volgende oomblik is hulle in mekaar se arms. Hulle soen mekaar, innig en desperaat, asof hulle mekaar nooit weer wil loslaat nie. Marshall kan voel hoe sy bewe en hy hou haar styf vas. In daardie oomblik is dit asof sy kosbaarste besitting van hom weggeskeur word, en die pyn in sy binneste is onbeskryflik.
“Ek . . . ek moet liewer gaan,” fluister Kate.
“Ja, jy’t reg. Dis die beste in hierdie stadium.” Nog een maal druk hy haar teen hom aan.
Haar tasse is reeds gepak en dit neem nie lank om alles gereed te kry nie. Toe sy weg is en hy alleen agter die kombuistafel sit, sak die groot man se kop op sy hande neer en ruwe snikke skeur uit sy bors.
“Kate . . . o Kate . . .!” kreun hy.
Vervolg...