Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geen lewe is sinloos indien jy diens lewer nie. God het ons nie hande gegee om net te ontvang nie, maar ook om te dien. Wie net wil ontvang, is uiters selfsugtig!
NUWE DIREKTE BYBELVERTALING (2)
Lees reeks by NUWE DIREKTE BYBELVERTALING
1933/53-Bybelvertaling
Johan Dorfling
In 1933 is 'n belangrike mylpaal bereik toe die Bybel in Afrikaans beskikbaar gestel is. Oor jare is met groot toewyding laatnagte aan die Bybelvertaling gewerk. Die vertaling was suiwer gedoen sonder om 'n Hebreeuse of Griekse woord in te bring. Die Bybel moet "duidelik" en "verstaanbaar" wees. ‘n Uitstekende Afrikaanse Bybeltaal is geskep. Afrikaans as kerktaal is nie alleen 'n kultuursaak nie, maar ook verstaanbare evangelieverkondiging. Afrikaans spreek ons siel aan.
Die eenvoudige Bybeltaal het ontsaglik baie tot Afrikaans bygedra, omdat dit ‘n baie ryk ervaringswêreld is wat besonder heg ingeskakel het in die kulturele verband waarbinne Afrikaans gebruik word. Die uitdrukking onoorbrugbare kloof kom uit Lukas 16:26, waarin vertel word van die ryk man wat deur ‘n kloof van Lasarus geskei word.
Volgens prof Fritz Ponelis kom uitdrukkings soos die volgende uit die Bybel: berge versit, jou dae is getel, soos 'n dief in die nag, 'n doring in die oog, op die hande dra, met hart en siel, jou hart uitstort, hemel en aarde beweeg, tot hiertoe en nie verder nie, in die land van die lewendes. Die vertalers het sodoende Afrikaans bevorder tot groter bestaansreg.
Geskiedenis is ‘n uitstekende maatstaf om te meet wat in die verlede goeie of minder goeie resultate gelewer het. Die 1933-vertalers het met hulle benadering besondere sukses behaal wat vandag nog wêreldwyd as bogemiddeld erken word, dus kan daaruit geput word.
Myns insiens is dit ‘n korrekte benadering dat 'n vertaling 'n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks moet wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks so ver moontlik behou moet word, en dat die vertaling van hoë letterkundige gehalte, asook goed verstaanbaar moet wees.
Die eerste Afrikaanse vertaling was besonder suksesvol. Dit was ‘n regstreekse vertaling oor die oorspronklike teksbronne. Tans word daar na ‘n nuwe “direkte” vertaling van die Bybel verwys asof die eerste vertaling nie “direk” was nie en dit is ‘n wanvoorstelling.
Onbegryplike vreemde titels soos tetrag, hekatontarg en ander, is in goeie Afrikaans vertaal en dus heeltemal verstaanbaar, so in die 1933/53 vertaling opgeneem en word deur Afrikaanse Bybellesers as sodanig aanvaar en verwelkom. Waarom gevestigde bewoording nou verander en verwarring veroorsaak? Die WAT fouteer met vreemde toevoegings.
Woorde wat in goeie gehalte woordeboeke soos die WAT opgeneem is, is nie noodwendig algemeen verstaanbaar nie. Ek het nou al geruime tyd (heeltemal onbevange) met Protestante oor die Bybeldirektevertaling gesels. Vir meeste van hulle was woorde/begrippe soos tetrarg, chilias, hekatontarg, prokurator en kohort onverstaanbaar en het hulle ruiterlik verklaar dat hulle nie woordeboeke of voetnotas wil naslaan wanneer hulle die Bybel lees nie. Dit sal glo hulle konsentrasie onnodig verbreek. Hulle lees liewer bo-oor die woorde.
Onder meer die WAT bevat so ‘n magdom woorde dat dit ‘n onhanteerbare omvang aannneem. Om ‘n omvangryke riglyn van woordryke woordeboeke te gebruik, bots dus met die riglyn van verstaanbaarheid en is nie taalverrykend nie, al klink dit oppervlakkig so. Oorspronklike oorgedraagde of geskepte Afrikaanse woorde word in die praktyk uitgeskuif om vir hoogdrawendheid plek te maak. Vreemde woorde klink hoogdrawend. Hou daarby in gedagte dat een mens moeilik ‘n woordeskat van 30 000 kan hanteer, en beslis nie honderde duisende nie.
Dit is nie vanselfsprekend dat die 1933/53-vertaling heeltemal foutloos of onverbeterlik was nie en Bybelkenners kan daarop verbeter waar dit geregverdig is, maar nie verander net om te verander nie. Een voordeel van die eerste vertaling was dat daarin geslaag was om die leefwêreld van die Bybel oor te dra, terwyl verstaanbare Afrikaans ‘n mikpunt was wat met welslae bekroon was. Verbetering aan hierdie vertaling is amper nie moontlik nie.
Dat ander vertalings nou meer vreemde terme gebruik (dit is nie leenwoorde nie), beteken nie dat hulle op die regte pad en navolgingswaardig is nie. Leenwoorde vul leemtes in ‘n taal aan as daar nie gepaste woorde in daardie taal gevind kan word nie. Vreemde woorde wat wel betroubaar in Afrikaans verwoord kan word soos tretarg, proloog, ecclesia en sinkretisme is afbrekend vir die taal. Om meer vakwoorde uit ander tale oor te neem het ‘n gier by taalkundiges geword wat die aard van tale verander en wat die een of ander tyd weer omgekeer gaan word.
As erkenning verleen word om onnodige vreemde woorde in ons omgangstaal op te neem om dit sogenaamd te verryk, sal Afrikaans vinnig in 'n wêreldtaal ontwikkel en sodoende Afrikaans se eie beginsels en karakter verlore laat gaan. 'n Taal word nie verryk as die woordeskat allemintag uitgebrei word nie omdat die omvang daarvan dan te groot word vir gebruik van al die woorde. As die see vergroot word, verklein die grondgebied. 'n Boer sal nie 'n dam bou om soveel as 20 000 hektaar lande te besproei as hy net 2 000 hektaar besproeiingsgrond het nie. Dan was sy gelduitleg (taaluitbreiding) onbedryfsmatig.
Onthou, 'n taal is nie bloot net 'n manier om woorde oor te dra nie, maar word ook gebruik om uitdrukkings wat eie of kenmerkend aan 'n volk is, te beskryf.
Wat egter belangrik is, soos ek dit het, is dat tale met ontwikkeling deur die jare spontaan in omvang verklein en struktureel eenvoudiger geword het. Kyk maar na Duits en Nederlands en Afrikaans se naamvalle, lidwoorde, spelling en werkwoordverbuigings. Engels het nege verskillende tye in werkwoorde en ook meervoudsvorme. Klaarblyklik het klassieke Grieks in eenvoudiger moderne Grieks vereenvoudig. Sogenaamde taalverryking (onnodige uitbreiding) is 'n onding wat veel meer skade aanrig as wat dit voordele inhou. 'n Mens kan nouliks 'n woordeskat van sowat 30 000 woorde bemeester, en as die woordeskat nog veel meer uitgebrei word, raak dit werklik onhanteerbaar lomp. Vakwoorde is nog nie eens hierby ingesluit nie.
Omdat Afrikaans reeds ‘n eenvoudiger beskrywende taal is as die ouer tale, kan enigiets dikwels beter in Afrikaans uitgedruk word. Selfs die uitspraak en spelling is op die voorpunt en beter toegerus. Dit word onderskryf deur uitdrukkings soos “die kat loop onder die tafel deur” en “hy sukkel so skuins-skuins die steilte af”. Dit is moeilik in Engels te beskryf.
Evangelieverkondiging is belangriker as gekunstelde taalgebruik. Dit kan maklik getoets word deur lidmate, oud en jonk, te vra wat hulle verstaan onder woorde soos Middelaar, erfsonde, soenverdienste, sondebok, Verlosser, gereformeerd, apokrief, kerstening, verbond en maagd (soos in tien maagde). Vra aan hulle algemene kennisvrae wat alle Christene behoort te ken. Waar min lidmate hierdie begrippe ken, hoeveel minder sal hulle weet wat pluriformiteit, liturgies, ecclesia, katoliek, kuratorium, sinkretisme en predestinasie beteken?
Myns insiens is Bybelkenners se eerste plig die uitdra van die evangelie deur die gebruik en verduideliking van eenvoudige diepsinnige woorde soos hiervoor uitgewys. Dit is die wese van die evangelie.
Taal hou regstreeks verband met geloof, gewoontes en denke van die gebruikers wat dieselfde betekenis en begrip aan die woorde en volksuitdrukkings gee. Afrikaans spreek die siel aan. Moedertaal is meer as ‘n blote skryf- of gespreksmiddel. Waardes word daaraan verbind soos dat ‘n mens tot ‘n groep behoort. In ‘n meertalige opset word taalsuiwerheid deur vreemde woorde belemmer en getrouheid aan die moedertaal ingeboet.