Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ware vreugde ontdek jy slegs deur die krag van gebed en die werking van die Heilige Gees.
HOE KOM ʼn MENS IN DIE HEMEL? (2)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Hoe kom mens in die hemel?
“En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openb.20:15).
Sonde is soos swaar bagasie. Jy sleep dit oral met jou saam. Sonde veroorsaak skade aan die siel. Soos wat geen sandkorrel te klein is om ʼn horlosie te beskadig nie, is geen sonde te klein om ʼn siel te skaad nie! Wat die ergste is, is dat hierdie sondebagasie in werklikheid nie jou bagasie is nie, maar die Satan s’n. Jy dra dit vir hom!
Om in die hemel te kom, moet jy daarvan ontslae raak. Jy kan dit nie met jou saamvat hemel toe nie. Jy sal nie daarmee toegelaat word nie. Iemand moet dit vir jou wegvat ... terwyl jy nog leef. Dis soos skuld waarvan jy verlos moet word.
Verlossing uit skuld was vir die ou Jode ʼn bekende begrip. As iemand vandag in ʼn geldelike verknorsing beland waaruit hy nie kan loskom nie, kan hy homself op wettige wyse bankrot laat verklaar. Die ou Jode het glad nie so ʼn iets geken nie. ʼn Skuldbelaste mens moes vir ʼn bepaalde tyd vir die skuldeiser soos ʼn slaaf diens verrig het.
Die Wet van Moses het bepaal dat hierdie dienstyd nie langer as sewe jaar moes duur nie. Indien iemand in hierdie tyd die verskuldigde bedrag aan die skuldeiser betaal het, moes hy die man vrylaat. Wie ʼn slaaf losgekoop het, is ʼn losser genoem. Hy het iemand van slawediens onthef.
Die verlossing van sonde werk soortgelyk. Sonde het van ons slawe van die Satan gemaak. Jesus het ons met sy bloed kom loskoop. Hy is ons Losser en het aan die kruis die volle bedrag vir ons vrylating betaal sodat die Satan ons nie langer gevange kon hou nie, maar moes vrylaat.
Ek het in die verlede dikwels in die buiteland gereis. Om ander lande te kon besoek, moes ek ʼn paspoort hê. Geen doeanebeampte het my ooit na my afkoms, status of finansiële welstand gevra nie; slegs na my paspoort.
Nie alle mense is so gelukkig om in die buiteland te kan reis nie. Daar is egter een reis wat alle mense sal onderneem - die reis van die lewe na die ewigheid. Daarvoor is daar ook ʼn paspoort nodig waarsonder ons nie in die hemel toegelaat sal word nie - die bekering tot Jesus Christus. “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openb.20:15).
Desondanks probeer baie mense van ongeldige reisdokumente gebruik te maak om ʼn plek in die hemel te verkry. Een daarvan is ʼn goeie lewe; nie dat daarmee fout is nie. Dis egter nie ʼn alternatiewe paspoort na die hemel nie. “Daar is ’n weg wat vir die mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr.14:12). So ook ʼn goeie lewe sonder die nodige bekering!
Ongelukkig glo die meeste mense dat goeie werke vir hulle ʼn plek in die hemel sal besorg. Daarom ywer baie mense hulle om die nood van behoeftiges en noodlydendes te verlig en draai selfs die liefdadigheid-mallemeule dat dit gons! Dit word in Engels die social gospel genoem. Goeie werke is belangrik, maar is slegs van ewigheidswaarde indien dit uit dankbaarheid vir redding gedoen word. Dis hoegenaamd nie ʼn reisdokument na die hemel nie!
Hoe kry ‘n mens die regte paspoort? Deur die bekering. Die bekering maak van sondaarmense God se kinders: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy die mag gegee om kinders van God te word” (Joh.1:12). Die hemel is slegs vir hierdie kinders toeganklik.
Ek het nog nooit iemand teëgekom wat nie graag hemel toe wil gaan nie. Almal wil. Mense smag na die wonderlike vooruitsig van ʼn eindelose vreugde, blydskap en vrede. Maar daarvoor moet die regte pad gevolg word. ʼn Mens ry mos nie op die Bloemfontein-pad Pietersburg toe nie. Daar is net een pad hemeltoe; en dit loop oor die bekering tot Jesus.
ʼn Paar jaar gelede is ʼn 25 jarige Satanis-sangeres aan ʼn oordosis dwelms oorlede. Tydens haar begrafnis het een van haar vriende gesê: “May her troubled soul find rest and peace”. Hierdie persoon het duidelik geen benul van die hemel gehad nie! Dis nie ʼn plek waar God jou pamperlang as jy ʼn gemors van jou lewe op die aarde gemaak het nie! Hier gebeur ander dinge: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).
Wat ʼn skok het die sangeres met haar aankoms in die hiernamaals nie gekry nie! Wie op die verkeerde pad is, moet betyds omdraai. Waar is daar ’n beter voorbeeld as dié van Paulus? Hy was op ʼn verkeerde pad. “Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring” (Hand.9:1,2). Hy was ʼn vervolger van Christene. Nadat hy tot bekering gekom het, word hy die grootste sendeling van alle tye omdat hy van lewensrigting verander het.
Die lewe van Paulus leer dat geen mens so verhard en verlore is dat hy nie gered kan word nie. Niks is vir Jesus onmoontlik nie. Soos wat ons ʼn versag-mengsel gebruik om taai vleis mee sag te maak, so versag die bloed van Jesus die hardste harte en laat hulle anders as voorheen dink en optree: “Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie” (1 Pet.1:13,14).
Net ʼn dwaas sal vir ʼn dokter vra om hom gesond te maak, maar nogtans so ʼn bietjie van sy siekte te laat behou. Hoe kan ʼn mens van sy sonde gered word, maar nog steeds daaraan bly vasklou? Toe Jesus aarde toe gekom het, is ruwe spykers op Golgota deur sy hande en voete gedryf waarna ʼn spies sy lewelose liggaam deurboor het. Daarmee is Hy tot die laagste vlak van menswees op aarde verlaag om vir ons ʼn paspoort na die hemel te gee. Het jy hierdie paspoort? Is jy doodseker?