Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons tyd is kort; die Bybel sê nêrens dat ons die hele tyd moet preek nie, wel dat ons die hele tyd moet bid. Laat ons dan minder met mense praat en meer met God.
ROOMSE MISLEIDING ONTMASKER (3)
Ds A E vd Berg
Lees reeks by Roomse misleiding ontmasker
Heidense nabootsings
Die RKK is ʼn vermenging van Babiloniese en Roomse afgodery wat na 300nC in die vroeë kerk vastrapplek gekry het. Daarna word Sataniese bedrywighede mettertyd teelaarde in die kerk. Talle kloosters was berug vir hul heksery, towery, beswerings en swart mis-offers. Laasgenoemde is al selfs in die Vatikaan gevier!
Die RKK is Satan se nabootsing van die ware kerk ten einde die Evangeliese leer van verlossing teen te staan. Hul kerksisteem, aanbiddingsvoorwerpe, feeste, rituele, seremonies en priesterskap is Babilonies van oorsprong. Selfs die pous is ʼn replika van die eertydse Babiloniese koning.
Indien koning Belsasar (Dan.5) uit die dood sou opstaan en die fabelagtige Petruskerk in die Vatikaanstad betree, sou hy kon dink dat hy in sy eie paleis ontwaak en niks verander het nie. Katedrale is so met afgodsbeelde besmet, dat dit niks van die eertydse Babiloniese paleise verskil nie.
“Hulle het wyn gedrink en die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys” (Dan.5:4).
Desondanks spog die RKK daarmee dat sy die moeder van alle kerke is en dat daar geen redding buite haar te vind is nie. Dis nie waar nie. Daar is eerder geen redding binne in haar te vind nie!
Die RKK is beslis nie die kerk waarvan die NT en vroeë kerkgeskiedenis melding maak nie, maar ʼn karikatuur daarvan. Dit het geen Bybelse fondament nie en huisves ʼn magdom van menslike lerings (Tradisie genoem) en heidense praktyke waarteen die Bybel waarsku:
“Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ʼn volk wat geen dageraad het nie” (Jes.8:20);
“Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het; en dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie” (Mark. 7:7,13).
“Maar al sou ons of ʼn engel uit die hemel julle ʼn evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ʼn vervloeking wees!” (Gal.1:8).
Toe die Christendom destyds in die Romeinse Ryk begin versprei het, het die heidendom so getaan, dat dit op ʼn tydstip dood gelyk het.
“En die groot draak is neergewerp …” (Openb.12:9).
Dit was egter slegs neergewerp, maar nie dood nie. Die Satan het, soos in die tuin van Eden, slegs van gedaante verwissel om mense weereens te mislei.
“En ʼn ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ʼn groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone” (Openb. 12:3).
Die ou Grieke het ʼn draak en ʼn baie groot slang gesien. Johannes sien dus ʼn slang van vuur in hierdie gesig.
In die dae van Noag se seuns is geestelike verval aan vuur- en sonaanbidding gekenmerk. Die algemeenste vormgewing daarvan was ʼn ronde skyf met ʼn slang daarop. Die Grieke het dit ʼn basilisk genoem en as ʼn koningsteken gehuldig. Dis ook op die ou Egiptiese konings se hooftooisels as teken van mag aangebring.
In Babilon is die basilisk Molog genoem en van tyd tot tyd kinders aan hom geoffer waarna die priesters van die offers geëet het. Dit verklaar Openb.12:4:
“En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het”.
In Openb.13 sien Johannes ʼn dier met ʼn dodelike wond uit die aarde opkom wat wonderbaarlik genees het:
“En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan” (:3).
Dit het gelyk asof die heidendom dood was, maar dit was nie. Dit het slegs van gedaante verwissel - die RKK!
Die vrou wat Johannes in Openb.17 sien en Verborgenheid, die groot Babilon noem,is die RKK. Die Satan draai die mensdom net soos in die tuin van Eden, weer ʼn rat voor die oë. Johannes sien dat die valse kerk die naam Babilon op haar voorkop het. Haar misleiding moet vir almal wat die waarheid liefhet soos ʼn merk op die voorkop duidelik wees.
Jesus, Paulus en die Sendbriefskrywers waarsku teen godsdiensmisleiding:
“Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is” (Mt.7:15);
“Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand.20:29,30);
“Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos wat daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer “… en baie sal hulle verderflikheid navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet.2:1,2).
“Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar nou ook baie antichriste … Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie …” (1Joh.2:18,19).
Soos wat Babel die hoofsetel van afgodery in die OT tyd was, is Rome dit vandag.
“En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde” (Openb.17:18).
Die geskiedskrywer Propertius maak ʼn profetiese opmerking as hy na Rome as “die trotse stad op sewe heuwels wat die hele wêreld regeer” verwys. Johannes sien dit duidelik in Openb.17:18.
Wat dus vandag op die oewer van die Tiber rivier (Rome) gebeur, het duisende jare gelede op die oewer van die Eufraatrivier begin. Die RKK wys al vir meer as 1500 jaar haar ware kleure sonder dat mense dit bemerk; so goed is haar misleiding!
“...en op haar voorhoof was ʼn naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Openb.17:5).
Die RKK maak geen geheim van haar verborge karakter nie. Selfs haar amptelike taal is ʼn verborge taal (Latyn) wat deur baie min mense verstaan word. Niks in die RKK is oop en bloot nie. Alles is, soos in oud-Babilon, in duisternis en geheimsinnigheid gehul.
Geen eerbare saak word in die geheim gevoer nie. Let op die kerk van Christus. Alles is oop en bloot. Wanneer Paulus oor die “verborgenheid van die ongeregtigheid” (2 Thess.2:7) skryf, verwys hy waarskynlik na die heidense verborgenhede wat toe alreeds in sekere Christenkringe kop begin uitsteek het. Dis nie openlik die kerk ingedra nie, maar in die geheim gevoer om mense van die eenvoud van die ware geloof te vervreem.
Al gee die RKK amptelik voor om geen afgodery te bedryf nie, is sy in werklikheid deurtrek daarvan. In elke Roomse kerk is daar beelde en skildery van sg. heiliges waarvan die maagd Maria verreweg die gewildste is.
In 610 nC het pous Boniface IV skaamteloos beeldediens in die kerk gevestig toe hy die Pantheon, ʼn heidentempel in Rome wat aan alle afgode gewy was, in ʼn kerk omskep het. Daarna het hy afbeeldinge van Roomse heiliges daarin laat plaas en die kerk tydens ʼn luisterryke plegtigheid aan die Maagd Maria gewy. Vandaar die RK se All Saints-fees.
Beskermheiliges speel ʼn baie groot rol in die RKK. Geen kerk word sonder een van hulle ingewy nie. Optogte met beelde van die maagd Maria wat op die skouers gedra word, is baie gewild in Roomse lande. Priesters in veelkleurige tooisels en temerige musiek dra tot die heidense skouspel by. Dis suiwer Babilonies van oorsprong Die opskrif van Jesaja 46 lui: “Die gode van Babel en die God van Israel”.
“Hulle wat goud uit die geldsak skud en silwer afweeg met die weegskaal, huur ʼn goudsmid, en hy maak daar ʼn god van; hulle kniel neer, ook buig hulle. Hulle hef hom op die skouer; hulle dra hom en sit hom op sy plek neer … neem dit ter harte, o afvalliges!” (Jes.46:6-8).