Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer jy siek is, is jou hele menswees siek, ook jou verstand, jou emosies en jou gees. As jy na die Here vra wanneer jy siek is kan jy seker wees dat Hy nooit ver van jou af is nie. Skep moed, vra God wat sy doel met jou lyding is, en jy sal nuwe sin in die lewe vind as gevolg van hierdie moeilike tyd.
ROOMSE MISLEIDING ONTMASKER (5)
Ds A E vd Berg
Lees reeks by Roomse misleiding ontmasker
Die pous
Die RK is so van die heidendom deurtrek, dat gelowiges beswaarlik iets eg Bybels daarin kan vind. Haar hele kerkstelsel is heidens. Die Kollege van Kardinale met die pous aan die hoof is ʼn nabootsing van die ou Romeinse Kollege van Hoëpriesters met sy Pontifex Maximus (heerserpriester) aan die hoof.
Die woord pous kom van die Latynse papa wat vader beteken. Roomse priesters word in stryd met Christus se uitdruklike bevel as vader aangespreek:
“En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is” (Mt.23:9)
Die pous is ook as die pontifikaat bekend. Dit beteken brugbouer en is ʼn heiden-benaming waarmee Romeinse keisers, wat ook ex officio die hoëpriesters van afgodery was, as brugbouers tussen die aardse en die hiernamaals geag is. Siricius (384-399) was die eerste biskop van Rome wat homself pous genoem het.
Die vroeë kerk het geen hiërargiese gesagstrukture geduld nie. Gelowiges is dienaars en nie heersers nie - almal broers en derhalwe gelyk. Soos wat Satan die lig van die Evangelie begin verdof het, is ʼn vreemde leer die kerk ingedra met ampsdraers wat, net soos in Babel met geheimsinnige mag oor ander geheers het.
Die kerk het van die begin af Christus as die Hoof daarvan bely. In teenstelling hiermee leer die RK dat die pous die hoof van die kerk is. Hy word as heilige vader aangespreek en eis onverbiddelike onderwerping aan hom. Kardinale het selfs voor pouse neergeval en hul voete gesoen!
Die Bybel leer dat die pous nie God se leraar op aarde is nie, maar wel die Heilige Gees:
“...maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh.14:26).
Deur homself as heerser van die wêreld te ag, trap die pous in dieselfde strik wat die Satan vir Jesus probeer stel het (Mt.4). ʼn Pous behoort eerder Jesus se voorbeeld te volg en vir die Satan te sê: “Gaan weg, Satan!”
Die amp van ʼn pous verskil ingrypend van Petrus wat na homself as ʼn mede-ouderling verwys:
“Hou as herders toesig oor die kudde van God … nie uit dwang nie, maar gewillig; nie om vuil gewin nie … ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde” (1 Pet.5:2,3).
“Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ʼn losprys vir baie” (Mt.20:25-28).
Pouse het deur die eeue al hoe verder van die Bybelse leer afgewyk maar lidmate nogtans laat glo dat die RK die enigste weg na die hemel is. Die geskiednis bewys hul verkeerd. Daar was ʼn era wat as die Donker Eeue bekend staan. Dit getuig van ʼn Sataniese duisternis wat weens die RK se dwaling die lig van die Evangelie verdof het. Gevolglik was die Hervorming ʼn lig in hierdie duisternis
Die RK het deur middel van haar kerklui die Babiloniese resep van beheer deur godsdiens toegepas en beheer oor die lekedom verkry. Haar samewerking met eertydse rewolusionêre magte in Europa het haar as suiwer fascisties ontbloot. Dis ʼn diktatoriale politieke bestel waarin die staat alles beheer en onverbiddelike gehoorsaamheid op burgers afdwing.
Die RK leer sedert 1870 die onfeilbaarheid van die pous. Wanneer ʼn pous vanuit sy amp-stoel (ex cathedra) spreek, word sy woorde aan dié van God gelykgeag. Hy word nie as sulks sondeloos geag nie. Met sy ex cathedra-uitsprake werk hy slegs in sy hoedanigheid as geestelike leier sekere kerkleerstellings duideliker uit. Alhoewel pouse, teoreties gesproke, nie nuwe leerstellings kan verkondig nie, doen hulle dit in die praktyk wel.
“Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ʼn mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ʼn leuenaar is en die vader daarvan” (Joh.8:43,44).
Die leer van die onfeilbaarheid van die pous stuit alle gelowiges teen die bors. Sondaars het nie ʼn onfeilbare ampsdraer nodig om hulle hemelwaarts te lei nie. Daarvoor het hulle die Bybel en die Heilige Gees:
“Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God” (Rom.8:14).
Die verskil tussen Jesus en pouse is te skerp dat hulle ooit sy verteenwoordiger op aarde kan wees. Jesus het nooit ʼn ampskroon of duur klere gedra nie. Hy is nêrens deur mense met buigings van die knie begroet nie. In teenstelling met Jesus wat beswaarlik ʼn lêplek vir sy kop kon vind, leef pouse uiters luuks. Die grootste verskil met Jesus is dat Hy geen onskuldige bloed aan sy hande het nie. Hy het sy bloed vir sondaars gestort sodat hulle kan leef!
Johannes Calvyn het geglo dat die pous die Antichris is. In sy Institusie lewer hy kommentaar op Daniël 7:25:
“En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word ”.
Hy skryf verder:
“Sommige mense reken dat ons te reguit praat en te krities is waar ons die Roomse Katolieke pous die Antichris noem. Maar diegene wat hierdie beskuldiging teen ons inbring, besef nie dat die apostel Paulus self van dieselfde aanmatigings beskuldig is nie. Want ons gebruik slegs sy taal en sê net wat hy lankal reeds verklaar het. Hierdie profesie kan op niemand anders betrekking hê nie”.