Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Het ons volk ons hart wat aan God behoort van Hom gesteel? Seker daarom dat ons Hom nie meer ken nie - afgedwaal het. Die troos is egter dat Hy dit nie so aanvaar nie! In Jeremia 24:7 sê Hy wat Hy ook vandag vir die Boerevolk in Suid-Afrika sê: "En Ek sal hulle 'n hart gee om My te ken, dat Ek die HERE is; en hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart".
ENGELE MET ‘N SENDING (7)
Lees reeks by Engele met 'n sending
God se sake van belang
Tydens ’n onlangse besoek het Gabriël vir my sewe dinge laat neerskryf waarna hy verwys het as “God se sake van belang.” Sewe is die Here se volmaakte getal! Ek het hierdie waarhede oordink, my siel daarop gevoed, hulle oor en oor geherkou omdat hulle vir my so lewend en waar gemaak is en volkome in ooreenstemming is met die Woord van God.
EERSTE SAAK: DIE BLOED VAN JESUS
Die boodskap wat die engele gebring het, het na die offer van Jesus verwys. Sy bloed is belangrik omdat dit voldoen het aan die vereistes vir geregtigheid, omdat die toorn van God afgewend en die rekord van die kwaad uitgewis is deur die storting van daardie bloed.
Waarom moes God se toorn afgewend word?
Hy moes ’n voorwerp vind om te slaan, omdat die sonde van hierdie wêreld sy volmaakte geregtigheid geskend het. Die storting van Jesus se bloed, het die slag uit God se hand wat ons moes tref, weggetrek en Jesus het voldoen aan die vereistes van God se oordeel oor ons sondes.
Toe Jesus in die hemel ingegaan het, het Hy sy bloed oor al die dinge wat daar was, gesprinkel. Die boek met die rekord van al ons ongeregtighede, ons mislukkings en ons gebreke; ook ons onvermoë om iets reg te kry, het Hy besprinkel.
Die boek van die ou verbond het God se vereistes bevat, maar in die nuwe boek het Hy sy wette in ons harte geplaas. Dit is nie meer “Jy mag nie”, maar “Ek wil”. Hierdie pragtige waarheid wat Gabriël gebring het, het gehandel oor die volkome en volledige offer van Jesus, nie ons worsteling met ons daaglikse probleme nie.
Baie gelowiges weet dat die rekord van die dinge wat tussen hulle en God was, uitgewis is, maar hulle bekommer hulle oor die dinge tussen die mens en die mens. Gabriël het vir my gesê dat God selfs hierdie dinge uit die boek uitgewis het.
In die eerste verbond sou Hy ons sonde en ongeregtigheid onthou. In die tweede verbond onthou Hy dit nie meer nie, omdat dit uitgewis is deur die bloed van Jesus. Hy het die dood vir elke man en vrou gesmaak om hulle vry te maak van die bande en straf van sonde (Heb. 2:9).
Die bloed van Jesus is deur baie mense as onbelangrik beskou. Sommige het selfs beweer dat die bloed wat aan die kruis gestort is, nie veel meer uitwerking het as die bloed wat deur ’n mens se are vloei nie. Maar God het gesê dat die bloed van Jesus so belangrik is dat nie een druppel verspil was nie. Dit is die enigste bloed waarna ooit verwys is as onverderflik. Dit was God se plan. In Hebreers 12:24 het die skrywer gesê: “...en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.” Vir ewig, dwarsdeur die ewigheid, het die bloed ’n plek!
TWEEDE SAAK: GEMEENSKAP EN OMGANG MET GOD
Hy wil hê dat ons in staat sal wees om ’n ryk en wonderlike gemeenskap met Hom te hê. Dit bewerk Hy deur sy Woord en Gees. God wil met U gemeenskap hê. Hy wil dat u elke dag bewustelik sy teenwoordigheid sal geniet!
God wil nie net hê dat gelowiges nader aan Hom sal kom nie; Hy wil ook hê dat hulle wat ver van Hom af is, nader sal kom. Hy het gesê dat as u na Hom sal roep van waar u ook al is, vanaf die heel verste punt in die skepping, sal Hy die afstand tussen u en Hom verwyder.
God VERLANG na u. Hy soek nie na redes om u te onteien nie, maar Hy soek na redes om u te help en nader na Homself te bring. “Al is julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (Jesaja 1:18).
DERDE SAAK: JESUS LEEF
Jesus leef! Die dood is oorwin!
Al sou ons die dood ervaar sover as wat dit hierdie fisieke lewe betref, is dit nog nie die ware dood nie. Die dood van die siel, die ware dood, is oorwin!
Toe Christus die tweede dood gesmaak het, het Hy eintlik die oordeel van God oor die sonde ondcrvind. Hy het nie fisieke dood vir ons gesmaak nie, omdat ons nog moet sterf, maar Hy wil hê dat ons ons nie oor die tweede dood hoef te bekommer nie, omdat Hy alreeds vir ons almal wat ons vertroue in Hom stel, daardie dood gesmaak het.
Die engel het my daaraan herinner hoe volkome God se plan is en het Handelinge 2:24 gegee waar die Skrif na Jesus verwys en sê dat dit onmoontlik was vir die dood om Hom te hou. Waarom was dit onmoontlik? Omdat dit reeds in die hemel opgeteken was dat Hy uit die dood en die hel sou kom. Omdat dit in God se plan was, was dit onmoontlik dat die hel Hom kon hou. Satan was oorwin! Verslaan!
Die pragtige verhaal van wat Jesus gedoen het, is vertel in Hebreërs 2:9—15 9 maar ons sien Hom, naamlik Jesus, *wat vir ’n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer *gekroon, sodat Hy deur die genade van God *vir elkeen *die dood sou smaak.
10 *Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om *die bewerker van hulle saligheid deur *lyde te volmaak.
11 Want *Hy wat heilig maak, sowel as *hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie,
12 wanneer Hy sê: *Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys;
13 en verder: *Ek sal my vertroue op Hom stel; en verder: *Hier is Ek en die kinders *wat God My gegee het.
14 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, *het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood *hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het — dit is die duiwel —
15 en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit *vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.
Toe die mense wat Jesus doodgemaak het, Hom sien lewe in hulle wat aan Hom behoort, het hulle in plaas van die een Jesus teen wie hulle moes stry, baie gehad om teen te stry! In der waarheid het almal wat Hom gedien het, sy krag en sy lewe uitgestraal. Die beste wyse om mense te laat weet dat Hy vandag leef, is om hulle te laat sien dat u sy lewe reflekteer en dat Hy in u leef!
VIERDE SAAK: DIE BELOFTE VAN DIE HEILIGE GEES
God beplan vooruit. Hy het nie skielik op die idee afgekom om krag aan sy kinders te gee nie! Die groot belofte was beplan voordat die aarde geskape is en ons weet daarvan in sy profesie, die Bybel, lank voordat die dag van Pinksterdag aangebreek het. Dit was ’n belangrikheidsaak van sy totale plan vir die verlossing van die mens.
Hy wou elke een van ons laat gelykvormig word aan sy Seun, sodat, as ons Hom (God) aanskou, ons na dieselfde beeld verandcr word van heerlikheid tot heerlikheid! Ten einde te doen wat Jesus hier op die aarde gedoen het, moet ons dieselfde krag hê as wat Hy gehad het! Ten einde soos Jesus te wees, moet ons God se Heilige Gees hê.
Daar is baie mense vandag wat dit wegredeneer en daar is sommige wat sê: “As dit die waarheid is dat ’n engel hierdie boodskap aan jou gegee het, sou hy nie oor die Heilige Gees gepraat het nie, omdat dit ’n omstrede onderwerp is en ’n engel sou beslis op neutrale grond bly.” Gabriël het nie eers daarvan melding gemaak dat dit omstrede is nie. Hy het net die feit beklemtoon dat dit vandag by God ’n saak van groot belang is!
VYFDE SAAK: GAAN EN VERTEL DIE WÊRELD
Oor die vyfde saak het Gabriël eendag uitgebrei toe hy met my in my kerkkantoor gepraat het. Hy het op en afgeloop terwyl hy gepraat het. Dit was die eerste keer dat ek ooit ’n ernstige uitdrukking op sy gesig gesien het. Hy het gesê dat God besorgd was dat mense sy boodskap hoor, getref word deur die waarheid daarvan en dan weer aan die slaap raak. Een van die hoogste prioriteite van God is dat ONS DIE WÊRELD MOET GAAN VERTEL! Jesus het gesê: gaan die hele wêreld in en bring die goeie nuus:
God sê: “Jy kan nou na My toe kom!”
“Die mure is afgebreek!”
“Jy is versoen deur die bloed van my Seun!”
Dit is die boodskap van verlossing wat ons na die hele wêreld toe moet neem! Hy het ons ’n plan gegee. Hy het ons met sy Gees gevul. Hy sê: “Gaan!” En nou het Hy ook spesiale magte van engele gestuur om mense na God te trek! Dit is so belangrik vir God dat mense moet hoor dat Hy geen steen onaangeroer laat nie.
Eendag het Gabriël gesê dat hierdie engelewesens op elke heuwel, in elke boom en selfs onder in die aarde is, om manne en vroue wat probeer om van die Here weg te kruip, te soek en na God te bring! Hulle is daar besig om te doen wat ons nie kan doen nie! Ons is beperk, maar hulle is nie. God sê hierdeur: “Ek wil hê dat hulle moet weet dat Ek omgee en dat hulle na My toe moet kom.”
Daar is baie mense wat hulle oë op sonde het in plaas van op God – hulle herinner ander gedurig aan die verskriklike toestand van die wêreld en die swartheid van sonde. Dit is glad nie op God se lys van belangrike sake nie. Hy wil hê dat mense moet weet daar is ’n volslae ontvlugting uit die verskriklike bande van die sonde. Mense weet alreeds hoe boos sonde is. As hulle daardeur gebind en verstrik is, wil hulle dit beslis nie nog van ander ook hoor nie. God het gesê dat Hy nie sy Seun in die wêreld gestuur het om die wêreld te oordeel nie, maar om die deur van ontvlugting oop te maak. Hy het gesê sy doel is om ons “Seun”-bewus te maak in plaas van “sonde”-bewus. Hy wil hê dat ons moet sien dat Jesus opgelig is en almal na Hom toe trek!
Mense het na my toe gekom met geweldige laste op hulle harte. Hulle het gevoel hoe die engele hulle aanmoedig en trek en aanhelp en hoe die Heilige Gees met hulle in hulle harte praat. Daar was so ‘n honger in hulle harte dat hulle van kerk tot kerk gegaan het en in plaas van om die Here te vind het hulle boodskappe gehoor oor hoe verskriklik boos die wêreld is. Die boosheid van die wereld is vir hulle uitgewys, maar hulle het nog steeds ’n leegheid in hulle harte en in hulle lewens gehad!
Een man het by my kantoor ingekom en gevra of hy êrens hulp kon kry. Hy het gesê: “Dit is die vyfde kerk waarheen ek kom. Ek moet God vind.”
”U het na die regte plek gekom.” Ek het nie eers vir Hom gevra wat sy sonde was nie, ek het net gesê: “As jy my hande op jou kop voel, wil ek hê dat jy die Naam van Jesus moet sê net so hard as wat jy kan! Hy het jou getrek en Hy wag vir jou om Hom aan te roep.” Daardie man het een woord uitgeskree: “JESUS!” en die Here het hom gehoor en oombliklik het daar Lewe in hom ingekom!
SESDE SAAK: JESUS SE VERSOENING IS EWIG
Mense moet gereeld aan hierdie saak herinner word. Die werk wat JESUS vir hulle gedoen het, IS ’N EWIGE WERK! Dit was nie iets wat Hy gedoen het en toe weer vergeet het nie. Dit is iets wat bedoel is om ons te help, om ons reguit in die hemel in te neem. Dit is die boodskap van versoening, ’n boodskap van ’n nuwe begin. Gabriël het vir my gesê dat dit van die grootste belang is dat mense die offergawe van Jesus ken en verstaan, en dat die seëninge van versoening vir altyd is. Elke dag wat ons leef kan ons hierdie seëninge in ons gees, siel en liggaam ervaar.
Al ons behoeftes is in die versoening gedek. Met sy bedekking oor ons, kan God ons sien en aanvaar. Sonder hierdie versoening, het Gabriël gesê, kan ons nie aanvaar word nie. Omdat mense gebind is deur vrees, is dit belangrik vir God dat mense moet weet dat Hy, voordat Hy die aarde gemaak het, beplan het dat hulle bedek sou word deur sy versoening. Dit is waarom Hy in Efesiers 1:4 gesê het: “Soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.” - God praat hiervan: “Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig . . .” Die versoening bedek, reinig en verwyder alle skuld. Ons kan God nie behaag, of Hom regtig dien, as ons gedurig in die vrees leef dat God een of ander verborge sonde teen ons sal hou nie. Hy wil hê dat ons moet weet dat ons lewens toegedek is as ons ons geloof en ons vertroue in Hom stel!
Die rede waarom dit van so ’n groot belang vir God is, is dat mense Hom nie regtig kan dien sonder die opregte versekering dat hulle posisie in Hom veilig is nie. Om dit te weet is WARE sekuriteit!
God laat mense weet dat hulle nie sonder stryd sal wees nie, maar Hy wil ook hê dat ons moet weet dat daar twee dinge is wat ons onder hierdie bedekking kan uittrek. Een is rebellie en die ander een is afgodery. Behalwe ’n rebelse gees en afgodediens, kan die dinge wat in die normale gang van die lewe gebeur, jou nie skei van die liefde van God of van daardie wonderlike bedekking van Hom nie. U kan vir Hom in ontspanne geluk lewe, wetende dat Hy aan die werk is!
As engele praat, kan hulle nie vir hulleself praat nie. Hulle ego die boodskap uit God se hart dat u moet weet dat u veilig is!
SEWENDE SAAK: DIE WEDERKOMS VAN JESUS
God sê vir ons om ons voor te berei vir daardie groot dag! Vir hulle wie se name nie daarin is nie, sal dit verdoemenis wees vir ewig. Die keuse is vandag ons s’n en daardie keuse is eenvoudig om te kies om Jesus te dien of om Satan te volg in sy ewige verdoemenis in. Kyk na die teenstellende gevolge van ons keuses:
“En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, wat sê: Galilese manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Handelinge 1:10—11).
“ . . . en mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in julle liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is, sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al die heiliges” (1 Thessalonicense 3:12—13).
“En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openbaring 20:11—15).
“En hy het my in die gees weggevoer op ’n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal; en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ’n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen” (Openbaring 21:10—11).
“En ’n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam. En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin. En bedags —- want nag sal daar nie meer wees nie — sal sy poorte nie gesluit word nie; en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring. En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam (Openbaring 21:22—27).
Vir hulle wat hom kies is die wederkoms van die Here die saak van belang waarna God met soveel opgewondenheid uitsien dat die engele van die hemel saam met Hom daaroor juig.
Toe Gabriel klaar was om vir my hierdie boodskap van God se top-sake te bring, het hy gesê dat hulle soveel deel uitmaak van God se plan dat Hy hulle almal uitgespel gehad het nog voordat Hy die wêreld gemaak het.
Hy het my na die drie en twintigste hoofstuk van Levitikus verwys, waar God aan Moses planne vir die tabernakel gegee het, ’n miniatuurmodel van God se totale plan. Toe het hy, tot my verbasing, elkeen van hierdie sake vir ons vir vandag in verband gebring met die sewe feeste wat God lank gelede vir Israel gegee het.1
Ek het my verstom oor God se planne soos dit in die Ou Testament opgeteken is wat ons heenwys na sy planne vir hierdie tyd waarin ons leef.
SAAK 1: DIE BLOED VAN JESUS
FEES: DIE PAASFEES VAN DIE HERE
Hierdie fees was ’n “tipe” van die dood van christus, sy offergawe en die bloed van Jesus wat voor God so kosbaar was. Dit is beskryf lank voordat God die aarde gemaak het.
Die bloedlyn van God en sy familie is die bloed van Jesus, die draad van God se verlossingsverhaal dwarsdeur die hele Bybel, sy plan! Die bevryding van die kinders van Israel is moontlik gemaak toe die bloed aan die kosyn en die deurposte gestryk is as ’n bedekking sodat die vernietiger by die huise verby sou gaan en nie die eersgeborenes van elke gesin sou doodmaak nie. Ons groot pasga is voorsien toe Jesus sy bloed oor die boeke van die hemel gesprinkel het om ’n bedekking vir ons sondes te bewerkstellig, sodat ons vir God aanvaarbaar kan wees en deel kan uitmaak van sy groot familie.
Die eerste van God se sake wat Gabriël vir my gegee het, was oor die BLOED VAN JESUS en die eerste op die lys van die sewe jaarlikse spesiale dae van die Here was die PASGA VAN DIE HERE!
SAAK 2: GEMEENSKAP EN OMGANG MET GOD
FEES: DIE FEES VAN DIE ONGESUURDE BRODE
Die fees is gevier aan die begin van die dag wat op die Paasfees gevolg het. Toe Jesus verlossing van sonde deur sy bloed voorsien het, het God onmiddellik ‘n bedekking vir ons sondes voorsien; nie ’n verskoning vir die sonde nie, maar ’n voorsiening dat ons deur Hom aanvaar kan word.
Suurdeeg is ’n tipe van die sonde en op die feesdag moes hulle ongesuurde brode eet, verteenwoordigend van sonde wat vergewe is.
* Onder die nuwe verbond is ingesuurde brood gebruik omdat God regverdigmaking voorsien het. In plaas van SONDE, GEBREKE en MISLUKKINGS sien God deur die bedekking wat Hy voorsien het, VEILIGHEID, ONSKULD en VOLMAAKTHEID. Hulle wat algodediens en rebellie uit vrye wil kies, beweeg onder sy bedekking uit. Hulle wat gehoorsaamheid in plaas van rebelsheid kies, bly onder sy bedekking omdat hulle kies om God te dien en om Hom lief te hê bo die self en bo die begeerte om te sondig.
14 Want deur een offer het *Hy vir altyd volmaak die *wat geheilig word.
15 En ook *die Heilige Gees gee aan ons getuienis;
16 want nadat Hy tevore gesê het: *Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe,
17 en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie. (Heb. 10:14—17).
SAAK 3: JESUS LEEF!
Fees: DIE FEES VAN DIE EERSTELINGE VAN DIE OES
Gabriël het gesê dat hierdie fees die opstanding van Jesus en sy lewe verteenwoordig. Nie slegs leef Hy nie, maar dit is reeds in God se Woord neergeskryf dat ons wat aan Hom behoort, Hom sal volg in die opstanding. So leef dit in God se groot hart!
SAAK 4: DIE BELOFTE VAN DIE HEILIGE GEES
FEES: DIE PINKSTERFEES
Die koms van die Heilige Gees met Pinkster is nie iets wat ’n klein gedagtetjie in God se gedagtes was nie. Hy het dit alles beplan voordat Hy die aarde gemaak het. Die woord “pinkster” beteken eenvoudig “vyftig”. Dit was vyftig dae na die Paasfees. Toe Hy vir sy dissipels gesê het om in Jerusalem te wag, was dit nie bloot toevallig nie, dit was God se ontplooiende plan en presies vyftig dae ná Paasfees het iets nuuts en kragtigs gebeur!
In verband met Pinksterfees het God gesê: “Neem die koring, maal dit in meel en maak brood. Sit ’n bietjie suurdeeg daarin omdat die Kerk nooit sonder sonde of kwaad sal wees nie.” God het die Kerk toegedek, maar aan die onderkant van die bedekking, waar u lewe, kom daar altyd sonde voor.
Hy bedek sy Kerk al is sonde (suurdeeg) teenwoordig; deur sy Gees en die krag van die lewensbloed van Jesus reinig Hy dit! Hierdeur het Hy gesê: “Ek wil hê dat julle die koring moet maal en brood daarvan moet maak. Maak ’n sterk eenheid wat My liggaam van gelowiges genoem word in plaas van indiwiduele, afsonderlike gelowiges. My liggaam sal saamkom deur die krag van die Heilige Gees. Dit sal as een saamsmelt. Dit is nie soos sommige mense dink, ’n volmaakte liggaam nie; daarom sit suurdeeg daarin omdat dit die Kerk moet verteenwoordig net soos dit is.”
Ek verskoon sonde nie; ek is net bly dat God vir ons voorsiening gemaak het ten spyte daarvan, omdat dit in sy plan was om vir ALLES voorsiening te maak.
In God se groot plan is die vervulling met die Heilige Gees beskikbaar vir al sy kinders en is nodig om ons te help om te leef en te werk vir Hom!
God se Gees moet in ons wees en dit kan nie uitgeblus word nie; die vloei van die krag van die Heilige Gees mag nooit teruggehou word nie. “Blus (onderdruk, smoor) die (Heilige) Gees nie” (1 Thess. 5:19).
Die vervulling met die Heilige Gees voorsien ons van krag om soos Jesus te wees!
Dit is ’n essensiële deel van God se plan, ’n mens kan dit nie uitwis nie! Dit is daar! Vir ewig!
SAAK 5: GAAN EN VERTEL DIE WERELD
FEES: DIE FEES VAN DIE NUWE MAAN
Ná die dag van Pinksterfees, was dit die Fees van die Nuwemaan wanneer die mense bymekaargekom het om na die trompet- of basuingeklank te luister. So moet ons ook die boodskap van die Goeie Nuus uitbasuin. Kom ons gaan uit waar die mense Jesus nie ken nie, wees die stem van die basuin en bring die goeie nuus dat Jesus red! Sy werk is gedoen!
Dit is die Goeie Nuus! U kan nou kom! Christus het die duiwel oorwin. Die slag is verby en ons kan uittrek met die basuine! Dit is wat hy bedoel het toe Hy gesê het: “JulLe sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8).
SAAK 6: JESUS SE VERSOENING IS EWIG
FEES: DIE DAG VAN VERSOENING
Die fees van versoening was ’n herinnering dat Israel se proeftydperk van ’n jaar verstreke was en dat hulle bedekking vernuwe moes word. Dit was tyd vir hulle jaarlikse offerhande vir hulle sonde. Dit was die tyd waarin God al die aanklagte teen die mens onder oë geneem het en hy sonder hoop en hulpeloos onder die oog van die alsiende God gestaan het.
Om hierdie rede is aan die mens sekere riglyne gegee gebaseer op volkome gehoorsaamheid sodat hy begenadig kan word in hierdie tyd van ontmaskering. Die jaarlikse offerande vir sonde kon nooit die mens vervolmaak nie, maar kon aan hulle nog ’n jaar van kwytskelding verskaf (Lev. 23:27 en Lukas 1:8—12).
As ons weer gebore is en God se Heilige Gees gee vir ons nuwe lewe uit die hemel, beteken dit nie slegs dat ons proeftyd verstreke is nie, maar dat dit gekanseleer is; die bedekking is nie net hernu nie, dit is ’n ewige bedekking deur die offerande van Jesus.
Wat van hulle wat sondig en self onder die bedekking van God se beskerming uitbeweeg? Net soos God voorsiening gemaak het onder die ou wet, het Hy vandag vir hulle voorsiening gemaak — en dit is deur belydenis en terugkeer na gemeenskap met Hom, want daar is geen ander offer nie, geen ander voorsiening nie!
“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. (En dit is volkome reg van God om dit vir ons te doen, want Christus het gesterf om ons sondes weg te was.) (1 Johannes 1:9.)
SAAK 7: DIE WEDERKOMS VAN JESUS
FEES: DIE HUTTEFEES
God se begeerte is dat ons vir ewig en ewig saam met Hom sal leef. Hierdie fees was ’n algehele vreugdefees. Op die eerste dag moes die mense vir hulle skuilings bou met vrugteboomtakke wat swaar gehang het van die vrugte, met palmblare en takke en blaarryke bome terwyl hulle bly is voor die Here hulle God. Hierdie hutte was plekke waar God saam met hulle gewoon het.
Lank gelede het die Here gesê: “Ek wil julle neem waar ek is. Ek wil deur My Gees by julle woon en dan sal ek julle kom haal om altyd by My te kom bly.” Dit is nie iets wat net gebeur het of iets wat deur ’n komitee teoloë besluit is nie. Hy het vir Moses beveel om hierdie fees in te stel, omdat God by hulle wou kom woon. U kan nie wegkom van die boodskap van die wederkoms van Jesus nie en dat God ons sal kom haal om by Hom te kom woon nie, omdat dit reeds so vasgestel is in die hemel en dit sal net so gebeur soos God gesê het.
Ons het die versekering dat ons deur die genade van God bedek is en dat Hy ons sonde, ons gebreke en ons mislukkings nie raaksien nie, want Hy sien ons presies soos Jesus — heilig, onskuldig en onberispelik (Kol. 1:22). Ons kan in sy voltooide werk rus. Ons vertroue dat die volmaaktheid van sy plan sal help om ander gereed te kry vir daardie groot dag as Hy terugkom om ons vir Homself te kom haal.
Hierdie is die laaste van die sewe feeste wat aan Moses gegee is en hierdie saak sal die einde van God se wonderlike plan van verlossing teweegbring.