Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As die HERE nie deur sy groot genade 'n klein oorblyfsel van ons volk beskik het nie, sou daar soos met Sodom en Gemorra van ons niks oorbly nie. Maar Hy hét, ten spyte van ons wederstrewigheid. Leef dan só, dat Hy nie daaroor spyt word nie!
EIENSKAPPE VAN ENGELE
Dr Isak Burger
Lees volledig by Die Geesteswêreld
Engele is in baie opsigte nie vergelykbaar met die mens nie. Weliswaar is hulle ook skepsele van God, asook vrye morele wesens met 'n eie wil, maar andersyds is hulle nie onderworpe aan die talle beperkings van mense wat vlees en bloed is nie. Hulle is ook nie vasgevang in die sigbare en aardse dimensies soos ons nie. Daar is nie by hulle allerhande ingebore swakhede wat deur die sondeval en oorerwing gekom het nie.
Om een of ander rede het die gedagte uit die Middeleeue voortgekom dat engele fyn, brose, feetjie-agtige wesens met vlerkies is. Dit is ver van die werklikheid. Die Bybel sê hulle is "kragtige helde" (Ps. 103:20). Ons het in die Skrif aanduidings van die mag van engele. Volgens 2 Konings 19:35 het een engel van die Here in een nag 185 000 Assiriese soldate doodgemaak. Dink net waartoe die 72 000 (twaalf legioene) engele wat in Getsemane tot Jesus se beskikking was, in staat was (Matt. 26:53).
Ons weet iets van die mag en krag van Satan. In Openbaring 20:1-3 sien ons egter dat slegs een engel van die Here sterker as hy was, sodat by hom met 'n groot ketting kon bind en in die afgrond kon werp. 'n Engel het die bekke van die leeus gesluit sodat hulle aan Daniël geen kwaad kon doen nie en 'n ander een het die swaar steen voor die graf van Jesus weggerol (Matt. 28:2).
Alhoewel engele oor bomenslike vermoëns beskik, moet ons onthou dat hulle steeds skepsele is en nie oor absolute eienskappe beskik nie. Daar is geen eienskap van engele waarvoor 'n mens die voorvoegsel "al-" kan sit nie; dit kan ons slegs met God, die enigste Skepper doen. Engele is wys, maar nie alwys nie; hulle kan op enige plek wees, maar nie een van hulle is alomteenwoordig nie; hulle is magtig, maar hulle is nie almagtig nie. Elke voortreflike eienskap van engele het hulle ontvang om in diens van God te gebruik.
As ons egter na die doel en plan van God met die mens en die engele kyk, is dit duidelik dat alhoewel engele in 'n hoër skeppingsorde as die mens is (Heb. 2:7), die mens wesenlik meer en hoër as die engele is. Hierdie hoër waarde van die mens lê daarin dat God die mens na sy beeld geskape het en na die sondeval herskape het om sy kinders te wees, terwyl die engele met die oog op 'n dienende funksie geskape is. God word nie die Vader van die engele genoem nie (behalwe in die algemene hoedanigheid as Vader van sy hele skepping). Die Vader-kind-verhouding tussen die Here en verloste mense is egter die mees unieke verhouding in die heelal. Die engele van God is ook nie afgunstig op hierdie besondere verhouding tussen God en sy kinders rile, maar verbly hulle daarin dat hulle geskape is om Hom en sy kinders te dien. Die feit dat gelowiges in wese meer en hoër is as hierdie wonderlike wesens behoort iets aan ons selfbeeld te doen.
Alhoewel engele God sedert hulle skepping baie goed moes leer ken en hulle sekerlik op 'n besondere wyse met God te doen het, is daar tog 'n verhouding tussen die Here en sy kinders wat engele nie heeltemal kan deel nie. Ek reken dat dit benewens ons verlossing, waardeur ons kinders van God geword het, veral teweeggebring word deur die vervulling met die Heilige Gees. Dit is 'n ondervinding wat engele oënskynlik nie deelagtig word nie.
Daar is iets wat in die hemel gebeur wat op 'n besondere manier aandui hoe kosbaar God se kinders vir Hom is. In Openbaring 5:8 lees ons dat die vier lewende wesens (gerubs of serafs) en die 24 ouderlinge (die verteenwoordiging van die kerk in die hemel) by 'n spesiale geleentheid voor die Lam neergeval het "met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is". Wat beteken dit? Die woord "skale" beteken ook "skaalbakke". Dit is die bakke van die antieke skale waarin goedere afgemeet is. Die feit dat hulle van goud is, dui op die kosbaarheid en duursaamheid van dit wat daarin gesit word. Die feit dat dit skaalbakke is, dui daarop dat die inhoud daarvan kosbaar en gewigtig voor God is. Reukwerk is in die Bybel altyd simbool van aanbidding. "Gebede" kan uit die Grieks ook met "aanbidding" vertaal word. As jy dit verstaan, is die betekenis hiervan wonderlik.
By hierdie baie spesiale geleentheid, waar heilige engelewesens aan die Lam van God die hoogste eer en hulde bring, was hulle eie aanbidding of reukwerk oënskynlik onvolkome. Die enigste reukwerk wat reg sou laat geskied aan Hom wat as Lam van God die sonde van die wêreld gedra het, was die gebede of aanbidding van die heiliges — God se kinders — wat deur die Lam vrygekoop is. Openbaring 5:8 impliseer dat telkens wanneer God se kinders tot Hom bid en aanbid, word daardie aanbidding op een of ander manier in die hemel bewaar as reukwerk wat by so 'n spesiale geleentheid as die hoogste vorm van aanbidding aan Hom geoffer word; ook deur die heiligste van die engele. Engele het niks kosbaarder, niks edeler en hoër om aan God te offer as Ons aanbidding nie. Dit gee vir ons 'n idee van die besondere plek en verhouding van God se kinders ten opsigte van die engele. Daar is ook kwalik 'n aangrypender manier waarop die Bybel ons kan laat verstaan hoe kosbaar en waardevol ons aanbidding vir God is. Miskien noop dit jou om Hom selfs in hierdie oomblik te aanbid.
Vervolg...