Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kyk ‘n bietjie na jou lewe. Wat het jy? Asem in jou neusvleuels, lig in jou oë, blomme aan jou voete; take vir jou hand…wat het ‘n mens werklik meer nodig?
ENGELE IS WERKLIK (6)
Judith Macnutt
Lees reeks by Engele is werklik
Heersende engele
Thomas van Aquinas noem die tweede rang of vlak van engele die "engele van die kosmos of heelal". Op hierdie vlak vind ons die heersers, gesagvoerders en outoriteite of deugde. Tradisioneel word na hulle verwys as "engele van die wêreld-orde". Hul eienskappe is mag, wysheid en oordeelsvermoë. Dit stel hulle in staat om hul taak uit te voer.
Heersende engele fokus op die uitvoering van God se oordele, en om die pligte van laer engele te reël. Die twee engele wat in Sodom verskyn het om Lot en sy gesin te waarsku dat die stad binnekort vernietig sou word, was vermoedelik heersende engele.
Hulle het vir Lot gevra: "Wie van jou mense is nog hier? Skoonseuns of seuns of dogters of wie jy ook al in die stad het, vat hulle uit die plek uit! Ons gaan hierdie plek verdelg. Daar is 'n groot geroep by die Here oor die plek en sy mense, en Hy het ons gestuur om die plek te verdelg" (Gen. 19:12-13). In hierdie Skrifgedeelte voer heersende engele God se oordele uit. Hierdie majestueuse engele reguleer die orde van God se heelal deur toesig te hou oor sterrestelsels, sterre en die aarde. Hulle word ook na leiers gestuur om God se wysheid aan hulle oor te dra.
Gesagvoerende engele
Die tweede groep in hierdie rang is saamgestel uit engele met gesag, God se kryger-engele wat gedurig in die eeue-oue stryd , gewikkel is met die bose magte van ons onsigbare heelal. Paulus het aan die kerk in Efese oor hierdie onsigbare geestelike geveg geskryf:
Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.
Efesiers 6:12
Wanneer Paulus hierdie gevalle engele van Satan beskryf, wat dieselfde name as heilige engele het, waarsku hy ons om nie onbewus te wees van hierdie bose magte nie, maar om op te tree deur die volle wapenrusting van God aan te trek om onsself te beskerm. Wanneer ons teen hierdie bose magte veg, het ons die gesag van Jesus Christus en die krag van die Heilige Gees.
Die stryd teen die bose word dikwels deur kerkleiers verontagsaam. Nie-Westerse kerke het blykbaar 'n beter begrip van hierdie bose oorlog as ons. Wanneer ons in hierdie geestelike stryd betrokke raak om God se koninkryk uit te brei, veg die heersende engele gedurig in die onsigbare ryk. Heersende engele bestuur ook engele van die laer range, wat aan die geestelike stryd deelneem.
Engele met outoriteit en deug
Outoriteite of deugde is magtige engele wat God uitstuur om op die aarde wonders te doen. Hulle is ook daarmee gemoeid om orde op aarde te handhaaf. Die Heilige Gees bemagtig hulle om die natuurlike wêreld direk te beïnvloed. Ons kry 'n blik op hul invloed in die storie waar Jesus die storm stilmaak:
Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. Skielik het daar 'n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het. Maar Jesus het geslaap. Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: "Here, red ons! Ons vergaan!" Hy sê vir hulle: "Waarom is julle bang, kleingelowiges?" Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword. Die mense het hulle verwonder en gesê: "Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?"
Matteus 8:23-27
Die Gennesaretmeer is 'n unieke meer, 20 kilometer lank en 11 kilometer breed. Omdat wind oor die meer skielik kan sterk word, kom woeste storms met groot golwe soms onverwags op. Baie van Jesus se dissipels was ervare vissermanne van die streek. Toe hierdie verskriklike storm opsteek, was hul vrese geregverdig. Vreemd genoeg was Jesus vas aan die slaap tydens die storm, wat wys hoe sterk sy geloof was en ook hoe moeg Hy was. Die dissipels was verstom dat Jesus oor die loeiende wind en hoë golwe gesag het. In die jare voor Jesus was daar verskeie vals messiasse, waarvan sommige wonders gedoen het, maar nie een van hulle kon die natuur beheer of dooies opwek nie. Deur sy gesag oor die natuur uit te oefen, het Jesus sy dissipels geskok. Hierdie wonder het bygedra tot hul groeiende besef dat hierdie Jesus meer as 'n man moes wees. Het die engele op sy bevel die storm laat bedaar? Ons kan nie verseker weet nie, maar hierdie beheer oor die natuur word tradisioneel aan engele toegeskryf.
Deug-engele gebruik uitsonderlike krag van God om groot wonderwerke op aarde en in die hemelse ryk te verrig. Hulle dra veral wonderwerkende krag oor na mense in tye van nood.
Prinsdomme
Prinsdomme is die orde-engele wat direk by mense se sake betrokke is. Saam met aartsengele en engele vorm hulle die derde rang of vlak in die rangorde. Hulle hou toesig oor groepe en individue om te sorg vir beskerming, leiding en genesing. Party is gedurig by ons teenwoordig, soos byvoorbeeld beskermengele. Hulle kom ook in antwoord op ons gebede in tye van nood. Alhoewel hulle dikwels nie gesien word nie, bring hul heilige teenwoordigheid vir ons moed, krag en die guns wat ons nodig het vir ons aardse reis.
Engele en mense deel 'n noue band wat deur God gereël word. Jakob se droom van die leer met engele op, stel hierdie engele-verbinding tussen hemel en aarde voor. Jakob "het gedroom: 'n leer staan op die aarde en die punt van die leer raak aan die hemel, en engele van God klim op en af met die leer" (Gen. 28:12). Jakob se reaksie hierop was: "Dit is die poort van die hemel" (Gen. 28:17). Hierdie uitbeelding het vir Jakob die intieme band tussen die sigbare en onsigbare wêreld gewys.
Toe Jesus vir Natanaèl as 'n dissipel geroep het, het Hy gesê: "Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe" (Joh. 1:51). Jesus het hierdie beeld van die leer tussen hemel en aarde gebruik om die engele se rol as tussengangers tussen mens en God te beklemtoon. Engele het natuurlik nie die leer nodig nie, maar die beeld verseker ons dat ons verbind is met die leerskare engele van die hemel.
Prinsdomme is magtige engele met groter wysheid, krag en gesag as wat ons ons kan voorstel. Hul energie word daarop gekonsentreer om die aartsengele en beskermengele te rig wanneer hulle die kinders van God en die kerk beskerm. Hulle veg ook gedurig teen die vyande van God deur die engele onder hul bevel aan te moedig en te versterk.
Tydens Jesus se tyd op aarde het prinsdomme Hom bewaak en versterk toe Hy vir 40 dae in die woestyn gevas het. Hierdie prinsdom-engele het Hom ook bewaak tydens sy lyding in die tuin van Getsemanè, en tydens sy laaste ure aan die kruis. Jesus het uit die bediening van engele krag ontvang wat Hom in staat gestel het om sy intense lyding te verduur. Hy was bewus van hul sorgsame teenwoordigheid rondom Hom, en Hy het geweet hulle was in volle sterkte gereed om Hom te red, as Hy hulle sou vra. Hy het hulle egter nie toegelaat om Hom van sy weg na die kruis te red nie. Hoe kan ons begin om hul smart te verstaan toe hulle moes toesien hoe Jesus, hul geliefde Meester, aan 'n kruis vasgespyker word en onbeskryflike pyn verduur, terwyl Hy die sonde van die mensdom dra? Tydens hierdie finale geveg teen hul vyand het die engele op die kantlyn bly staan, as getuies geroep van die grootste offer wat ooit gebring is.
Onthou jy hoe Jesus in die tuin van Getsemanè die offisiere wat Hom wou arresteer gewaarsku het oor die leër van engele wat tot sy beskikking was? Hy het gesê: "Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel" (Matt. 26:53). Jesus het die Romeinse militêre term "legioen" gebruik, wat aandui dat 72 000 engele gereed gestaan het om tussenbeide te tree, as Hy dit sou wou. Die engele moes hul harte voel skeur het toe hulle hoor dat Jesus hul hulp van die hand wys. Hul toewyding en gehoorsaamheid aan die wil van die Vader het hulle in hul plek gehou.
Vervolg...