Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons het die voorreg om weer vandag die geboorte van Jesus Christus te herdenk. God het sy enigste Seun gestuur omdat dit noodsaaklik was dat Jesus waarlik volkome mens word sodat Hy as't ware saam met ons onder die oordeel oor die sonde kon inskuif, ten spyte daarvan dat Hy sondeloos is. Dit was juis sy sondeloosheid wat gemaak het dat Hy sy groot lyding en God se toorn kon verduur – iets wat geen sondaar kan doen nie. So het Hy die sonde oorwin en vir ons verlossing gebring.
ENGELE IS WERKLIK (7)
Judith Macnutt
Lees reeks by Engele is werklik
Aartsengele
Die volgende orde bestaan uit aartsengele. "Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan" (1 Tess. 4:16). Daar word dikwels na aartsengele verwys as "Engele van die Teenwoordigheid". Die voorvoegsel "aarts-" dui op 'n engel van hoër rang wat oor 'n groep laer engele aangestel is. Volgens tradisie is daar sewe aartsengele, maar ons vind die name van slegs drie in die Skrif. Die name van die sewe is 'n debatteerbare saak, maar ons ken drie se name: Migael, Gabriël en Rafael.
Tydens die 400 jaar tussen die skryf van die Ou en Nuwe Testamente, wat ons vandag ken as die kanonieke Bybel, is ander boeke deur Joodse rabbi's geskryf. In boeke soos Tobit, Judit en Henog vind ons verwysings na engele, byvoorbeeld Rafael in Tobit. Hierdie boeke word nie as deel van die kanon erken nie, maar wel as geleerde geskrifte deur gelowige rabbi's geskryf. Ons vind hulle in die Apokriewe.
Die kanonieke Bybel noem Rafael nie by name nie, maar ons leer uit die apokriewe boek Tobit dat hy een van die sewe engele is wat altyd gereed staan om die teenwoordigheid van die glorie van God binne te gaan (Tobit 12:15). In die apokriewe boek van Henog word sewe aartsengele gelys:
Ná dit het ek die engel van vrede opgesoek, wat my verder vergesel het, om alles wat verborge was aan my te verduidelik. Ek het vir hom gesê: "Wie is dit wat ek aan die vier kante gesien het en wie se woorde ek gehoor en neergeskryf het?" Hy het geantwoord: "Die eerste is die genadige, geduldige, heilige Migael. Die tweede is hy wat toesig hou oor elke lyding en swaarkry van die seuns van die mens, die heilige Rafael. Die derde is Gabriël, wat heers oor alles wat magtig is. Die vierde, wat aangestel is oor berou en sondebelydenis, en die hoop van dié wat die ewige lewe sal beërwe, is Fanuel. Hierdie is die vier engele van die hoogste God, en die vier stemme wat jy gehoor het."
Henog 40:8-9
Bronne stem nie saam oor hoeveel aartsengele daar is nie. Pseudo-Dionisius lys die sewe aartsengele as Migael, Gabriël, Rafael, Uriël, Gamuel, Jofiël en Zadiël.3 Kom ons kyk na die skriftuurlike verwysings, wat drie van hulle noem.
Migael die aartsengel
Die Skrif identifiseer Migael as ‘n aartsengel. Sy naam beteken "wie is soos God". Toe hy met die duiwel gestry het oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal jou straf" (Jud. v. 9).
Hierdie dispuut oor die liggaam van Moses werp lig oor die verhouding tussen Migael, een van die prinse van die hemel, (Dan. 10:13) en Satan, die prins van duisternis. Volgens tradisie sal Migael die satan in die hel werp. Hy hou duidelik sy mag in totdat God die bevel gee dat Satan en sy demone vernietig moet word. Hierdie geskiedkundige konflik tussen Satan en Migael het begin met die groot rebellie in die hemel, toe Lucifer, voorheen 'n gerub in die hemelse hof, uit God se koninkryk gewerp is, saam met die derde van die engele wat saam met hom gerebelleer het.
Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer, maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie, want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom.
Openbaring 12:7-9
Jesus verwys na Satan se val in die Evangelie van Lukas, nadat die 12 dissipels vol blydskap teruggekom het. Jesus het gesê:
Ek het Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val. Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.
-Lukas 10:18-19
Sy volgelinge was verheug, want "selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam" (Luk. 10:17).
Daniël noem Migael die prins van God se uitverkore mense, Israel: "In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal 'n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word" (Dan. 12:1). In die Nuwe Testament gaan Migael voort in sy rol as die beskermer van God se kinders onder die nuwe verbond. Kunstenaars beeld Migael gewoonlik uit as 'n sterk jong kryger. Hy dra 'n skild, wapenrusting en 'n swaard of spies. Kunswerke toon dikwels hoe hy Satan onder sy voete vertrap. In Johannes se verslag oor die eindtyd keer Jesus terug aarde toe vergesel deur Migael en sy engele. Satan word dan in die put van die hel gewerp (Op. 19:20).
In 1886 het pous Leo XIII 'n spesiale gebed aan Migael by die liturgie gevoeg, wat Katolieke aan die einde van die mis bid: "Heilige Migael die aartsengel, verdedig ons op die slagveld. Wees ons beskerming teen die Bose en strikke van die duiwel."4 Hierdie gebed is in 1964 uit die liturgie verwyder. Pous Johannes Paulus II het self verskeie bevrydings uitgevoer. Hy het gevoel dis nodig om 'n nuwe gebed te skryf om Katolieke te help in hul geestelike stryd. Hy het terugverwys na pous Leo XIII se gebed aan Migael: "Mag gebed ons versterk vir die geestelike stryd waarvan die brief aan die Efesiërs spreek: “Soek julle krag in die Here...”(Ef. 6:10).5
Die voorstelling van Migael wat ons sien, is dié van 'n magtige kryger en engel, bekend vir sy groot moed, wysheid en mag. Hy word ook uitgebeeld as 'n generaal in bevel van tallose legioene van engele, wat nimmereindigend betrokke is in hewige gevegte teen Satan en sy demone. Hierdie geveg sal voortduur tot die einde van die aarde soos ons dit ken.
Wat volg, is my storie oor 'n verstommende ontmoeting met 'n aartsengel.
'n Ontmoeting met 'n aartsengel
Na verskeie jare in die Midde-Ooste het ek na die VS A teruggekeer. Ekhet toe 'n Christelike beradingsdiens in Clearwater, Florida, begin. Die meeste van my kliënte was Christene wat berading nodig gehad het vir matige emosionele versteurings. Nou en dan sou iemand gebed vir genesing aanvra na 'n krisis of trauma.
Eendag toe ek by die werk kom, het my kantoorbestuurder Libby my gewaarsku oor ’n klient wat in my kantoor wag. Libby het hom as "geestelik donker" beskryf. Sy kon geestelike lig en duister onderskei. Ongelukkig het ek haar waarskuwing nie ernstig opgeneem nie omdat my gedagtes met ander probleme besig was.
Die oomblik toe ek my kantoor instap, het ek geweet ek moes meer aandag aan haar onderskeiding gegee het. Die kliënt wat oorkant my gesit het, was die mees versteurde persoon wat ek nog ooit voor berading moes gee. Voordat ek 'n privaat praktyk geopen het, het ek terapeutiese werk in psigiatriese hospitale gedoen. My kliënte het moordenaars, reeksmoordenaars en verkragters ingesluit. Baie van hulle was vol duisternis. Hierdie duisternis was egter op 'n heel ander vlak. Ek het onmiddellik koue rillings gekry, my hart het vinniger geklop, ek was behoorlik naar en ek het 'n intense hoofpyn gehad. Ek het geweet ek is in die teenwoordigheid van 'n buitengewoon magtige en bose wese. Alles in my het my gewaarsku om versigtig te wees.
Ek glo nie enigiets het my al ooit soveel ontstel as hierdie vreemde man wat stil voor my gesit het nie. Ek wou wegkom van die intense donkerte wat hy gedra het. Selfs my engelvissie het na die ander kant van sy tenk geswem in ‘n poging om weg te kruip. Die horlosie se getik het luid en intens geklink, asofdie tyd stilgestaan het.
Ek het stil gebid dat God my moet help. Na 'n paar oomblikke, wat soos 'n ewigheid gevoel het, het ek versigtig met die onderhoud begin deur die standaardvrae te vra: "Waarom is jy hier? Wat is jou probleem? "
Die man het kalm geantwoord: "Ek het nie 'n probleem nie. Jy het."
Onseker oor hoe om voort te gaan na sy aanmerking, het ek gevra waarom hy 'n afspraak gemaak het as hy nie 'n probleem het nie. Weer het ek daardie grillerige stilte ervaar.
Uiteindelik het die man gesê: "Jy het onder ons aandag gekom omdat die werk wat jy doen, mense help. Ek is 'n towenaar in die diens van Satan, en ek is gestuur om jou te stop."
Niks in my opleiding as psigoterapeut het my vir hierdie situasie voorberei nie. Ek het gou gedink aan wat ek omtrent hekse en towenaars weet. Ek het onthou dat towenaars glo mistieke magte het wat Satan aan hulle gee. Dit word veronderstel dat hulle op 'n hoër vlak in die ryk van die bose funksioneer as die meeste ander lede van satanistiese heksevergaderings.
Verskeie vrae het deur my gedugtes geflits. Is hy van sy verstand af? Is hy ernstig versteurd? Dink hy hy is een of ander magtige wese? Buiten vir sy bisarre stellings het hy redelik normaal voorgekom. Toe gaan hy voort deur my te vertel dat hy mense kan doodmaak sonder dat hy aan hulle raak “deur Satan se mag te gebruik".
Teen hierdie tyd het ek probeer besluit wat ek kon doen om die situasie te ontlont. Ek het my verskoon om te gaan koffie haal, alhoewel ek nie die kafeiën nodig gehad het nie. Ek moes net eenvoudig uitkom om te kon bid vir leiding en raad.
Libby, my oplettende bestuurder, het my net een kyk gegee en dadelik geweet ek is baie ontsteld. Sy het vir my gesê dat God reeds vir haar gewys het wie hierdie man was, en wat sy opdrag teen my was. Sy het my aangeraai om na die sessie terug te keer, en my verseker dat God alreeds die situasie onder beheer het.
Toe ek na my kantoor terugkeer, het ek geweet hierdie dienskneg van Satan het geen mag oor God nie. Johannes het mos gese:
"Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is" (1 Joh. 4:4). Die man het my weer begin dreig, maar my vrees was weg. Ek het reguit in sy donker oë gekyk en gesê:
"Ek is nie vir jou bang nie. Die Een wat ek dien, is baie groter as jou mees ter. God en sy heilige engele beskerm my." Onmiddellik het ek vol moed gevoel; dus het ek voortgegaan om God se sterk beskerming te bevestig, en te praat oor die kruis van Christus en sy oorwinning oor die bose. Net nadat ek daardie woorde uitgespreek het, het 'n vertroostende teenwoordigheid die kamer gevul. Ek het bewus geword van 'n majestueuse en heilige teenwoordigheid langs my.
Skielik het die towenaar verby my gekyk na my regterkant. 'n Uitdrukking van groot vrees het oor sy gesig gekom. Hy het in angs gegil, uit sy stoel opgespring en uitgehardloop, verby Libby, en verskeie verdiepings met die trappe af, sonder om vir die hys- bak te wag. Ek het hom nooit weer gesien nie.
Ek het sedert daardie dag al baie keer oor hierdie ervaring nagedink. 'n Paar waarhede het na vore gekom. Eerstens, as jy aktief betrokke is by die koninkryksbediening van genesing en bevryding vir lydende siele, sal jy onder die vyand se aandag kom. Hy sal jou wil keer. Tweedens bedek die beskerming van God en sy heilige engele ons in hierdie stryd, want: "Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan" (Ps.91:11).
Ons moet God vra om sy engele te stuur om ons te beskerm en te verdedig. Ek glo dat God Migael die aartsengel gestuur het om my daardie dag te verdedig in die geveg teen die magte van die duisternis, wat teen my gestuur is. Ek glo ook dat die towenaar in die geestelike ryk vir Migael gesien het, God se magtige kryger, gereed vir die geveg. Sedert daardie dag het ek volkome vertroue in die kragtige beskerming van God se engele. Ek het ook geleer om ag te slaan daarop wanneer 'n Christen met onderskeiding my waarsku.
Die aartsengel Gabriël
Gabriël is die naam van die magtige aartsengel wat "in diens van God staan" (Luk. 1:19). Sy naam beteken "magtige een van God" of "God is my krag". Gabriël is God se hoofboodskapper, en tallose boodskapper-engele val onder sy toesig en bevel. Daar word vier keer in die Bybel na hom verwys.
Tydens elke Bybelse verskyning bring Gabriël aan iemand 'n belangrike boodskap. Sy ontvangers sluit in Daniël, Sagaria (Johannes die Doper se pa) en Maria, Jesus se ma. Ons kan ook aanvaar dat dit Gabriël was wat in 'n droom aan Josef, Maria M man, verskyn het om hom te waarsku dat Herodes van plan was om Jesus dood te maak.
Gabriël word uitgebeeld as 'n aartsengel met 'n hoë rang wat oor groot mag en wysheid beskik. Hy is die boodskapper van goeie nuus en openbaar altyd God se barmhartigheid en liefde aan die wat Hy uitgekies het. Tydens Gabriël se eerste verskyning in die Bybel bring hy aan die profeet Daniël die interpretasie van 'n visioen rakende Israel se toekoms. "Nadat ek, Daniël, die visioen gesien het, het ek gesoek na 'n verklaring daarvoor. Meteens staan daar toe voor my iemand wat soos 'n man lyk, en ek hoor 'n stem uit die hemel roep: “Gabriël, verklaar vir Daniël die gesig!'" (Dan. 8:15-16).
Wie se stem het vir Gabriël die opdrag gegee om die visioen aan Daniël uit te lê? Dit blyk dat Gabriël die opdrag van 'n engel met 'n hoër rang uitgevoer het wat die betekenis van die visioen aan hom oorgedra het. Nadat Gabriël vir Daniël gevat en hom weer op sy voete laat staan het, het hy die betekenis aan hom openbaar (v. 18). Die meeste engeleverskynings in die Bybel vind plaas tydens visioene van toekomstige gebeure.
Daniël skryf later van iets wat gebeur het terwyl hy in gebed was:
Terwyl ek nog so aan die bid was, het Gabriël, die man wat ek die vorige keer in die visioen gesien het, by my aangevlieg gekom. Hy het my kom inlig en vir my gesê: "Daniël, ek het gekom om jou deeglik in te lig."
-Daniel 9:21-22
Ons sien hier hoe die prins van die boodskapper-engele, Gabriël by twee verskillende geleenthede aan Daniël verskyn om vir hom God se leiding en krag te gee. In albei hierdie verskynings neem Gabriël 'n menslike voorkoms aan. Tog sien ons in ‘n latere hoofstuk dat Gabriël heeltemal anders lyk - sy geestelike vorm - en slegs Daniël kon vir Gabriël sien, nie die mense by hom nie:
Toe ek opkyk, sien ek 'n man met linneklere aan en met 'n gordel van fyn goud uit Ufas om sy lyf. Sy liggaam het geskitter soos 'n edelsteen, sy gesig het gestraal soos weerlig, sy oë het geskyn soos brandende fakkels, sy arms en bene het geblink soos gepoleerde brons, en sy woorde het geklink soos 'n harde dreuning.
Daniel 10:5-6
Probeer jou indink hoe jy op hierdie asemrowende verskyning van Gabriël sou reageer. Dan sal jy dalk Daniël se oorweldigende vrees kan probeer verstaan wat hom laat flou word het. Tog kom Gabriël se liefdevolle sorg vir Daniël duidelik na vore. Daniël skryf:
Daarna het 'n hand my gevat en my op my knieë en hande laat staan, terwyl ek gebewe het. Die man [Gabriël] sê toe vir my: "Daniël, jy vir wie God liefhet, gee ag op wat ek vir jou gaan sê, en staan regop. Ek is na jou toe gestuur."
Daniël 10:10-11
Dit is moeilik om ons in te dink hoe ons sou reageer indien 'n magtige aartsengel aan ons moes verskyn en vir ons sê dat God ons baie liefhet. Die woorde het genoeg krag om doelgerigtheid en lewe te herstel. Dit blyk dat engele verstom staan oor hoe lief God die mensdom het. Gabriël se later weer vir Daniël: "Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!" Dan sê Daniël: "Terwyl hy met my praat, het ek weer sterk gevoel" (Dan. 10:19). Een van die engele se belangrikste rolle is om ons te versterk en bemoedig wanneer die lewe se uitdagings ons wil onderkry. Die engele het Jesus versterk toe Hy swak was. Onthou, die hemelse leërskare staan gereed om jou op jou reis te help.
Daniël 10 openbaar ook iets van die kragtige geestelike stryd wat voortdurend in die geesteryk tussen die engele en demone woed. Hierdie demoniese magte probeer die engele se missie verhinder. Gabriël, vir wie God met die betekenis van die visioen gestuur het, is vir drie weke deur 'n demoon vertraag. Daniël het tydens daardie drie weke getrou bly vas en bid. Uiteindelik het die aartsengel Migael gekom en Gabriël in die stryd bygestaan. Saam het hulle die bose gees oorwin en Gabriël kon sy opdrag voltooi. Hierdie insig in die onsigbare geestelike stryd help ons verstaan dat alhoewel die antwoord op ons gebede dalk verhinder word, ons soos Daniël moet volhard en vertrou dat die engele sal seevier.
Vervolg...