Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Boerevolk gaan sy vryheid binnekort herwin, maar nie sonder stryd nie. Dit gaan donker word en ons gaan mekaar nodig hê. Verraaiers gaan eenkant staan, maar opregte vriendskap gaan goud werd wees soos dié tussen Jonathan en Dawid; lees weer 1 Sam. 23:16 : “Daarop het Jonathan, die seun van Saul, hom klaargemaak en na Dawid in Hores gegaan. En hy het hom bemoedig in God…”
DIE UURGLAS LOOP UIT (12)
Ds A.E. van den Berg
Die ewige goeie tyding
“Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.... Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester” (Openb.22:14,16).
Die afsluiting van Openbaring is uniek. Niks word aan die verbeelding oorgelaat nie. Jesus waarsku dat niks van hierdie boek weggeneem of daaraan bygevoeg mag word nie omdat dit sy boodskap van hoop sal belemmer en mense mislei word soos bv. die dwaling van die wegraping wat leer dat daar vir sekere gelowiges ʼn ontsnaproete voor die groot verdrukking sal wees.
In die openingsverse van Openbaring word gesê:
“...dit is die openbaring van Christus Jesus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon.”
Daarna volg ʼn saligspreking:
“...salig is hy wat die woorde... bewaar wat daarin geskrywe is...”
en op die laaste bladsy van die Bybel herbevestig:
“Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; en die HERE, die God van die heilige profete, het sy engel gestuur om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur”.
Daarna volg nog ʼn saligspreking:
“Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar”.
Gelowiges word daaraan herinner dat Jesus die as is waarom die Bybel draai. In Openb.22:16 sê Hy:
“Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester”.
Wat beteken dit? Dat, alhoewel Hy na sy menswees uit die geslag van Dawid stam, Hy van ewigheid af is. By geleentheid sê Jesus vir die Jode:
“Voordat Abraham was, is Ek” (Joh.8:38).
Dit het hulle so ontstel dat hulle gedink het dat Hy besete was en Hom wou stenig.
Jesus is die middelpunt van die skepping. Vandaar die uitdrukking Seun van die mens! Hy was van ewigheid af daar.
“Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Gen.1:26).
Jesus is van ewigheid af ten nouste met die uitverkorenes gemoeid. God het sy kinders in Jesus
” ...uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees (Ef. 1:4).
Dit kom sedert Gen.2 op ʼn geestelike liefdesverhouding neer. In die Tuin van Eden word Eva been van Adam se gebeente en vlees van sy vlees. Hulle word een. Jesus neem met ons vlees en bloed ʼn sterflike liggaam aan. Hy doen dit sodat Hy aan die kruis vir elke uitverkorene se sondes kan sterf en die dood oorwin. Let op die dag van die week waarop Hy dit doen - ʼn Vrydag. Op watter skeppingsdag het die skepping van die mens plaasgevind? Op ʼn Vrydag – die heel eerste Vrydag in die geskiedenis!
Toe Jesus met ʼn onsterflike liggaam uit die dood opstaan, word Hy die eerste van God se volmaakte plan met die mens. Gelowiges gaan iets soortgelyks ervaar wanneer hulle met die opstandingsdag verheerlikte liggame vir die ewige bruilof ontvang en alle gelowiges met Hom herenig. Ons is tans sy bruid. Met die wederkoms word ons sy vrou.
Calvyn sê dat Jesus ʼn mens soos ons geword, sodat ons aan die einde soos Hy kan word. Daarom eindig die Bybel op ʼn onoortreflike romantiese noot – dié van die bruilof van die Lam.
Reg van die begin af loop alles in die Bybel op na hierdie huwelik. Met die sondeval het God vir Satan gesê dat die saad van die vrou sy kop sal vermorsel. Daarom is Jesus uit die Evasgeslag gebore. Deur aan die vrou die vermoë te gee om kinders te baar, word God se raad volbring. Daarom wek homoseksualisme God se toorn op. Satan wil God se plan daarmee troef!
Aan die begin van sy Evangelie bring Lukas met Jesus se geslagsregister iets belangriks aan die lig. Hy wys hoe Jesus na die vlees van Dawid afstam. Josef het wel uit die koninklike nasate van Dawid gestam soos Mattheüs aandui, maar hy was nie Jesus se natuurlike vader nie. Maria, daarenteen het direk van Dawid afgestam en Dawid van Abraham wat ʼn belofte van God ontvang het:
“...in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word (Gen.12:3)
waarna die lyn na Isak en Jakob deurloop.
Op sy sterfbed sê Jakob vir sy seun Juda:
“Die septer sal van Juda nie wyk nie, nòg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees”.
Dan voorspel hy Jesus se intog in Jerusalem in die verre toekoms:
“Hy maak sy jong esel vas aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die edelste wynstok” (Gen.49:11,12).
Die uitverkiesingslyn loop van Juda deur na Dawid. Lank voor Dawid, loop die waarsêer Bileam, hom teen God se wil vas. Die vyande het hom gehuur om Israel tydens die woestyntog te vervloek, maar hy kry dit nie reg nie. God dwing hom om te profeteer:
“Ek sien Hom, maar nie nou nie, ek aanskou Hom, maar nie naby nie: ʼn ster kom te voorskyn uit Jakob, en ʼn septer kom uit Israel op...”(Num.24:17).
Dit klink soos vroeë Openbaringtaal met Jesus wat sê:
“Ek is die blink Môrester”.
Dawid was ʼn man na God se hart. Hy is egter nie toegelaat om vir God ʼn huis te bou nie, al wou hy graag. Daar was net te veel bloed aan sy hande. Salomo sou die tempel op Moria bou op ʼn plek wat Dawid daarvoor voorberei het. Daardie tempel is egter later verwoes. So ook die tweede een. Die laaste aardse woonplek van God onder die mens sou in die gemeenskap van die gelowiges duidelik word. Waar selfs so min as twee of drie in Jesus se naam vergader het, sou Hy in hul midde wees. Daarom is die gemeenskap van die gelowiges so belangrik. Dis voorbereiding vir die Nuwe Jerusalem!
Na Dawid loop die geslagslyn van Jesus uiteen. Maria stam nie uit die konings wat Dawid via Salomo opgevolg het nie. Josef wel. Maria stam uit Natan, ʼn ander seun van Dawid. Deur haar voer die Heilige Gees ons terug na die moederbelofte van Gen.3:15 dat Een sou kom wat Satan se kop sal vermorsel; die sondemag sal breek. Soos wat Genesis met Jesus begin, loop die reddingsdraad deur die Bybel heen tot by Openb.22 - Jesus, die wortel en die geslag van Dawid en die blink môrester. Jesus is die as waaromheen die hele Bybel draai!
Die sewende en laaste saligspreking in Openbaring lui:
“Geseënd is dié wat hulle klere was sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan (Openb.22:14).
Hiermee kom die Tuin van Eden en Golgota bymekaar uit. Die ontoeganklike boom van die lewe en die kruis op Golgota!
“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Pet.1:19).
Ons word vandag van alle kante af deur slegte nuus gebombardeer. Moenie dat dit jou hart ontstel nie want dis soos dit in die laaste dae sal wees.
“Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word ... Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openb.2:10).
Ons het ʼn onoortreflike toekoms toesegging – Jesus kom met groot dinge vir sy bruid. Laat daar by ons net een versugting wees:
“En die Gees en die bruid sê, Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet! ... Amen, ja kom, Here Jesus! (Openb.22:17,20).