Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Elkeen van ons wil graag 'n groot en edel taak hier op aarde aanpak, maar dit is ons belangrikste plig om klein takies te voltooi asof hulle groot en edel is.
WAS JESUS WERKLIK GOD... (2)
...en het Hy fisies opgestaan uit die dood?
Anita Joubert
DEEL TWEE
Ooggetuies
Wat maklik vergeet word, is dat die Bybel ’n samestelling van persoonlike getuienisse is van ’n aantal persone wat dít self beleef, gesien, ervaar en op skrif gestel het. In enige aardse hof sal die getuienisse van sewe persone wat presies dieselfde getuienis lewer, as baie geloofwaardig en gesaghebbend aanvaar word. Dit is die aantal persone wat almal oor Jesus se opstanding getuig het. Matteus, Lukas en Johannes is die drie dissipels wat elkeen ‘n Evangelie geskryf het. Markus was nie self ‘n ooggetuie nie, maar het sy Evangelie geskryf na aanleiding van wat deur die ander skrywers aan hom vertel is en hy het vermoedelik ook gebruik gemaak van losstaande aantekeninge van ooggetuies wat in omloop was.
Petrus was ook ’n dissipel van Jesus wat bereid was om onderstebo gekruisig te word maar nie ter wille van dit wat hy geglo het nie. Baie mense sterf ter wille van dit wat hulle glo. Petrus het gesterf ter wille van dit wat hy gesien het. Jakobus was Jesus se broer wat eers na Jesus se opstanding na vore gekom en ’n leier van die vroeë kerk geword het. Mens kan jouself net voorstel wat jy van jou eie broer moes sien en beleef sodat hy jou kon oortuig dat Hy werklik God is. Dit moes verseker baie oortuigend gewees het.
Ongeveer twintig jaar na Jesus se opstanding het Paulus in ’n brief aan die gemeente van Korinte geskryf dat Jesus, nadat Hy op die derde dag opgewek is soos deur die profete van die Ou Testament voorspel is, eers aan Petrus verskyn het, daarna aan die twaalf dissipels en daarna aan meer as vyfhonderd mense tegelyk (1 Kor. 15:4-8). Heel laaste het Jesus ook aan Paulus self verskyn. Volgens Paulus sal die apostels se prediking en geloof sonder inhoud wees as Jesus nie opgewek is nie. Dit sou verder ook beteken dat hulle vals getuienis oor God afgelê het omdat hulle getuig het dat Hy Jesus uit die dood opgewek het (1 Kor. 15:14-15). Twintig jaar is nie baie lank nie.
Baie van die vyf honderd mense aan wie Jesus verskyn het, het volgens Paulus nog geleef. Hulle sou geweet het as Paulus leuens verkondig en dit sou hom baie ongeloofwaardig gemaak het. Tog het duisende mense na hom geluister en deur sy prediking en bediening tot bekering gekom.
Jesus se lering
Die Evangelieskrywers het baie klem gelê op Jesus se lering by die Bergpredikasie oor naasteliefde, vergifnis, barmhartigheid en ook oor die posisie van die vrou. Dit is alles beginsels waaraan elke beskaafde mens vandag glo en waarop ons samelewing gebaseer is. Al hierdie kennis oor Jesus kom vanaf mense wat geglo het dat Hy liggaamlik opgestaan het. Waarom sou dieselfde mense wat die waarheid oor sy lering geskryf het, afspreek om ’n leuen op te maak? Dit is amper net so absurd soos om ’n motor oop te breek om ’n Bybel daarin te steel. Dit maak net nie sin nie.
Professor Eta Linnemann
Eta Linnemann was die eerste vroulike professor in Teologie in Duitsland in die 1960’s. Sy het een van die grootste opskuddings in Duitse teologiese kringe veroorsaak toe sy aankondig dat sy die liberale Teologie, waarvan sy lank deel was, verwerp en ’n evangeliese Christen geword het wat in ’n Jesus, wat werklik wonderwerke gedoen het en op ’n wonderwerkende, bonatuurlike manier uit die dood opgewek is, glo. Sy was vroeër ’n student van prof. Rudolf Bultmann van Marburg wat, veral die letterlike opstanding van Jesus uit die dood verwerp het. Prof. Eta Linnemann het na haar bekering geskryf: “Ek is deeglik bewus daarvan dat my vroeëre verdorwe lering sonde was. Terselfdertyd is ek bly en dankbaar dat hierdie sonde van my vergewe is , omdat Jesus dit vir my aan die kruis gedra het. Ek verwerp alles wat ek geleer en geskryf het voordat ek my lewe aan Jesus toevertrou het, en beskou dit as gemors. Ek het elkeen van daardie boeke wat in my besit was in 1978, met my eie hande in die asdrom gegooi. Ek vra julle dringend om dieselfde te doen met enige van daardie boeke van my wat julle dalk op julle boekrak mag hê.”
Na haar vervroegde aftrede, was Eta Linnemann ’n dosent by ’n Sending Bybelkollege in Indonesië tot haar dood in 2009. Daar het sy voortgegaan om akademiese boeke te skryf en haar vorige werk teë te werk.
Jesus maak self op Godheid aanspraak
Jesus het, volgens sy dissipels, daarop aanspraak gemaak dat Hy die weg, die waarheid en die lewe is. Hy het ook gesê dat Hy die opstanding en die lewe is. Elkeen wat in Hom glo, sal lewe, al het Hy ook gesterwe. Die vraag is of hierdie aansprake van Jesus vals was, leuens deur Hom of leuens wat deur sy dissipels vertel is? Dit is van kardinale belang vir die Christendom. As Jesus werklik uit die dood opgestaan het, dan is dit die bewys dat alles wat Hy oor Homself gesê het, oor die betekenis van die lewe en oor ons bestemming na die dood, die waarheid is. Dan het Hy die antwoord oor die lewe en die dood en oor wat op ons wag na ons dood. As Jesus Christus deur God uit die dood opgewek is, dan beskik Hy oor ’n getuigskrif wat geen ander godsdienstige leier het nie. Boeddha, Mohammed, Confucius en Moses is almal dood, maar volgens die Christendom, is Jesus Christus lewendig.
Jesus se opstanding
Deur die eeue het baie skeptici probeer om teenbewyse vir Jesus se opstanding te kry. Josh McDowell was een van hulle wat meer as sewe honderd uur bestee het daaraan om bewyse vir Jesus se opstanding te soek. Aan die einde daarvan het hy tot die slotsom gekom dat Jesus se opstanding die mees fantastiese feit in die geskiedenis is. Ongelukkig is nie alle skeptiese navorsers bereid om tyd daaraan te spandeer om navorsing oor Jesus se opstanding te doen nie. Nie net Amerikaanse navorsers soos John Dominic Crossan van die Jesus Seminaar nie, maar ongelukkig ook Suid-Afrikaanse teoloë soos die Nuwe Hervormers, het nog ooit enige geloofwaardige bewyse vir hulle uitsprake voorgelê nie.
Jesus het sy eie dood voorspel
Jesus het oor Homself voor sy dood geprofeteer. Hy het vir sy dissipels vertel dat Hy deur een van hulle verraai, gearresteer en gekruisig gaan word en na drie dae uit die dood sal opstaan. Volgens Wilber Smith is dit net ’n gek wat dit sou waag om sulke uitsprake oor homself te maak as hy die respek en lojaliteit van sy volgelinge wil behou, behalwe as hy seker was dat dit wat hy sê, ongetwyfeld waar sal word. Geen enkele stigter van enige wêreldgodsdiens het dit nog ooit gewaag om sulke uitsprake te maak nie. As Jesus dus nie sy belofte kon nakom nie, sou Hy Homself as ’n bedrieër aan sy dissipels geopenbaar het.
Was Jesus regtig dood?
Daar is geleerdes wat beweer dat Jesus nie regtig dood was nie. Dat Hy die kruisiging oorleef en weer bygekom het in die koel, klam lug van die grafkelder. Hierdie teorie dra egter nie gewig wanneer ons na die mediese feite kyk nie. Volgens ’n artikel wat in die Journal of the American Medical Association verskyn het, is hierdie teorie absoluut onmoontlik. Volgens alle mediese kennis, was Jesus dood. Die spies wat in sy regtersy, tussen sy ribbes ingesteek is, het heel waarskynlik nie net sy regterlong nie, maar ook sy hartsak en hart deurboor en sodoende ongetwyfeld sy dood veroorsaak.
Drie van die antieke nie-Christelike historici, van wie in die vorige hoofstuk reeds melding gemaak is, het van Jesus se dood melding gemaak. Hulle was Lucian (120-180 n.C.); Josephus (37-100 n.C.) en Tacius (56-120n.C.)
Geen ernstige historikus betwyfel die feit dat Jesus dood was toe sy liggaam van die kruis afgehaal is nie, maar die vraag is hoe sy liggaam dan uit die grafkelder verdwyn het. Die Engelse joernalis, dr. Frank Morison, het aanvanklik gedink dat die opstanding ’n mite of bedrogspul was. Hy het navorsing begin doen om dit te bewys en ’n boek te skryf. Die boek het op die ou end bekend geraak vir heeltemal die teenoorgestelde as wat die oorspronklike bedoeling was.
Opstandingsgebeure slaag die ‘Law of Evidence’
Simon Greenleaf was ‘n professor wat Regte gedoseer het aan die Harvard Universiteit gedurende die agtiende eeu. Hy het gehelp om die Harvard Skool vir Regsgeleerdheid bekendheid te laat verwerf. Greenleaf was ook die skrywer van die meesterstuk oor die Wet, nl. A Treatise on the Law of Evidence. Hierdie werk, wat drie volumes beslaan, word vandag nog beskou as die grootste enkele outoriteit van alle literatuur oor die Regsprosedure. Die Amerikaanse Regstelsel funksioneer vandag nog op die Reëls van Bewysstukke wat deur Greenleaf opgestel is.
Terwyl hy besig was om klas te gee by Harvard Universiteit, het prof. Greenleaf aan sy Regstudente gesê dat die opstanding van Jesus bloot net ‘n legende was. Hy was ‘n ateïs en het gedink dat wonderwerke onmoontlik was. Drie van sy studente het hom uitgedaag om sy eie ‘Reëls van Bewysstukke’, wat hyself geskryf het, op die opstandingsgebeurtenis van toepassing te maak. Na baie geredekawel het Greenleaf besluit om die uitdaging te aanvaar en het hy ‘n ondersoek begin. Hy het met sy briljante verstand op die historiese feite gefokus en probeer om te bewys dat die hele Opstandingsgetuienis vals was. Hoe meer Greenleaf die geskiedenis soos dit weergegee is, ondersoek het, het sy verbasing toegeneem oor die kragtige bewyse wat bestaan oor die aanspraak dat Jesus inderdaad uit die graf opgestaan het. Hy kon verskeie van die dramatiese veranderinge wat kort na Jesus se dood plaasgevind het, nie verklaar nie. Die mees verstommende daarvan was die gedrag van die dissipels. Dit was nie net een of twee van hulle wat volgehou het dat Jesus opgestaan het nie, dit was almal van hulle. Deur sy eie ‘Reëls van Bewysstukke’ op die feite toe te pas, het Greenleaf by sy gevolgtrekking uitgekom.
Volgens hierdie briljante Regsgeleerde en vroeëre ateïs, was dit onmoontlik vir die dissipels om vol te hou met hulle oortuiging dat Jesus opgestaan het uit die dood as hulle nie werklik die opgestane Jesus self gesien het nie. Hy het al die bewyse wat hom van standpunt laat verander het, in ‘n boek gedokumenteer met die titel, The Testimony of the Evangelists. In sy samevatting daag hy almal wat na die waarheid oor die Opstanding soek, om die bewyse onbevooroordeeld en deeglik te ondersoek.
Greenleaf was só oortuig deur die bewysstukke wat hy gekry het, dat hy ‘n toegewyde Christen geword het.
Bronne
BOCK, D.L., Breaking the Da Vinci Code. Nashville. 2004
BROWN, D., The Da Vinci Code. New York. 2003.
CHAPMAN, L. Y-Jesus Magazine, Did Jesus rise from the dead?, http://jesusonlineministries.com/resources/products, 2012. 2015.07.27
GEISLER, N., and BROOKS, R., When skeptics ask. Grand Rapids.1998.
GREEN, M., The empty cross of Jesus. Downers Grove. 1984.