Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Woorde is 'n voorloper van dade, in staat om verandering te bewerk. Ons regeer die wêreld met ons woorde. Die eerste vuishou wat jy iemand toedien is dikwels maar net 'n woord. As 'n mens goedpraat van ander maak jy hulle beter en dit versterk vertroue. Here, lê woorde in my mond om tot U te bid sodat U sal vreugde hê om daarna te luister.
HUWELIKE VAN DIESELFDE GESLAG
IS DIT GRONDIG OF SONDIG?
Ds Andrè vd Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
“ 'Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel” (Lev.18:22). En as ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het….het hulle al twee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word…” (Lev.20:13).' In 1 Kor.6:9-10 sê Paulus dat mense wat hulle aan hierdie gruwel skuldig maak, nie in die hemel kom nie. "
Gen.2:18-15; Mt 19:1-12
In 2000 is die Pienk Loerie fees vir die eerste keer gehou – dit was die eerste homoseksuele fees op Afrika-bodem. Hierdie jaar het dit van 26 April - 1 Mei in Knysna plaasgevind en is deur meer as 20,000 skandemakers bygewoon. Beeldmateriaal wat vertoon is, het ook baie kinders gewys. Homoseksualisme neem wêreldwyd oorhand toe. So ook VIGS!
’n Onlangse opname oor die aanvaarding van homoseksualiteit het skokkende statistiek aan die lig gebring. In Spanje was 91% van die ondervraagdes ten gunste van die aanvaarding van homoseksualisme , in Duitsland 87%, in Frankryk 86%, in Brittanje 81% en in die VSA 60%!
Wat van homoseksuele huwelike?
Wie hom ten gunste van homoseksualisme uitspreek, het geen morele reg om huwelike van dieselfde geslag te veroordeel nie. Dit gaan pers slot van sake oor dieselfde gruwel! Homoseksuele huwelike neem skokwekkend toe. Dit spreek van opstand teen ’n heilige instelling en ’n toename in heidendom; presies wat in ons land gebeur het. Op 14 November 2006 is huwelike van dieselfde geslag in Suid-Afrika goedgekeur.Wat sê die Bybel van die huwelik? Dat dit reg aan die begin deur God ingestel is. Jesus bevestig dit: “…Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?” (Mt.19:4). In vers vyf sê Jesus dat man en vrou deur die huwelik een vlees word. In vers 6 sê Hy iets baie belangrik – die huwelik is ’n verbintenis waarin God mense verbind. Dit lê geensins op die terrein van die staat nie. Daarom is gelowiges daarteen gekant dat mense voor die landdros trou. Jy gaan tog nie slaghuis toe vir blindederm-operasie nie!
God ag die huwelik geweldig belangrik. Dis trouens ook die toonbeeld van sy verhouding met die kerk. Daarom moet dit rein wees. Om onreinheid hok te slaan, mag geslagsomgang slegs binne die huwelik plaasvind. “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Heb.13:4). Alle geslagsverkeer buite die huwelik is sonde, hetsy heteroseksueel of homoseksueel.
Die huwelik is ’n goddelike instelling en nie ’n burgerlike aangeleentheid nie. ’n Staat wat die huwelik wil voorskryf, oortree teen die Insteller daarvan. God bepaal die parameters vir ’n huwelik en nie die mens nie! Die Bybel praat van ’n huwelik as ’n verbintenis tussen ’n man en ’n vrou. Nêrens word daar van ’n verbintenis tussen dieselfde geslagte gepraat nie. Sulke gruwels het net onder heidene voorgekom.
Die Bybel veroordeel homoseksualisme in geen onduidelike taal nie. Dis ’n gruwel. “Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel” (Lev.18:22). Die Bybel bepaal selfs die gepaste straf daarvoor: “En as ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het….het hulle al twee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word…” (Lev.20:13). God het by geleentheid so kwaad vir homoseksualisme geword dat Hy twee stede met vuur en swael verwoes het!
Paulus beskryf hierdie gruwel as ’n vergryp teen die menslike natuur: “Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte , want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand….en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang” (Rom.1:26,27).
1 Kor.6:9-10 sê Paulus dat mense wat hulle aan hierdie gruwel skuldig maak, nie in die hemel kom nie. 1 Tim.1:10 sê hy dat homoseksualisme in stryd met die gesonde leer is en in Judas vers 7 praat die apostel van mense wat agter vreemde vlees aanloop. Homoseksualisme is ’n vergryp teen God se wil!
“Die konings van die aarde staan gereed en die vorste hou saam raad teen die Here en sy Gesalfde sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Ps.2:2,3). Hierdie bande en toue, dui op goddelike instellings en heilige verbintenisse. Homoseksualisme is opstand daarteen. Selfs deur konings en vorste – regerings. Die staat kom teen God se wil in opstand! God aanvaar dit nie gelate nie, maar straf sulkes: “U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot” (vers 9). Ps. 18:27 sê:”….maar by die valse betoon U uself verkeerd” Hierdie valsheid is selfs in kerkkringe!
Mense probeer homoseksualisme vanuit die Bybel probeer goedpraat. Hulle verwys na die besondere vriendskap van Dawid met Jonathan asook die tussen Rut en Naomi en maak die ongegronde afleiding dat dit homoseksueel van aard was. Daarbenewens sê hulle dat Jesus nooit ’n woord oor homoseksualisme gerep het nie, maar wel oor egskeiding en egbreuk.
Jesus waarsku die Skrifgeleerdes van sy tyd dat hulle dwaal omdat hulle die Skrif nie ken nie. Die Skrif is baie duidelik - homoseksualisme is ’n gruwel. Dis ’n vergryp teen God se instelling van die huwelik. Net omdat Jesus niks daaroor sê nie, beteken nie dat Hy dit aanvaar het nie. Dit wys eerder daarop dat Hy met die veroordeling daarvan deur die Joodse wet eens was.
Voorstanders van homoseksualisme sê ook dat dit nie teen die natuur kan wees indien jy homoseksueel gebore word nie. Dis onsin! Homoseksueles word nie so gebore nie, maar so gemaak. Dis ’n opvoedingsgebrek. By mans is dit te sterk moederbindinge en by vrouens te sterk vaderbindinge. Dis nie ’n chromosoomafwyking nie. As dit so was, sou God nie ’n oordeel daaroor uitgespreek het nie. Daar is geen verskoning vir homoseksualisme nie, dis opstand teen God!
Die Bybel het niks teen platoniese verhoudings tussen mense van dieselfde geslag nie. Dié tussen Dawid en Jonathan spreek van gelowige vriendskap. Die Septuagint (Griekse vertaling van die OT) gebruik die woord phileo om hierdie vriendskap te beskryf. Dit beteken broederliefde. Vir dié tussen Rut en Naomi word storge gebruik wat ’n liefde vir familie beskryf. Nêrens is daar van erotiese liefde (eros) sprake nie.
God heilig die huwelik as ’n heilige verbintenis tussen een man en een vrou. Die Satan ontwrig dit met ’n gruwel wat op sonde en wellus gegrond is. Dit kan nie anders as om gestraf te word nie!
Liefde is ’n wonderlike ding, maar nie al waaroor die huwelik gaan nie. Dis ’n unieke instelling. Daarom kan ’n Christelike staat weens die moontlike gevaar wat dit vir enkelinge en die gemeenskap inhou, geen kinders of meer as twee persone daarin toelaat nie. Die huwelik gaan oor meer as net liefde. Dit gaan oor die verbintenis van ’n man en vrou waarin gesinne opgevoed moet word. Die wettiging van selfde geslag huwelike ontwrig dit!
Twee mans mag beide goeie vaders wees, maar geeneen van hulle kan ’n moeder wees nie. God het dit nie so beskik nie. Twee vrouens mag dalk beide goeie moeders wees. Maar hulle kan geeneen ’n goeie vader wees nie. God het dit nie so beskik nie. ’n Kind kan net by een vader en een moeder rigting kry. Twee ouers van dieselfde geslag kan nooit die rol vervul wat kinders so broodnodig het nie.
Wat moet ons houding teenoor homoseksuele huwelike wees? Presies dieselfde as God s’n - ’n goddelike instelling tussen een man en een vrou. En alle ander huwelikverbintenisse as boos en ontwrigtend; nie net vir die gesin nie, maar ook vir die kerk en die gemeenskap.
Die Bybel swyg nie oor hierdie gruwel nie. Ek en jy mag ook nie!