Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Niemand saai koring en oes daaruit mielies nie. As jy die ewige lewe wil oes, moet jy die saad van die Gees saai. Wie die vlees saai, oes nie die hemel nie!
PYN HET PLEK IN JOU LEWE
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
“Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” - Jes.53:5 .
Ons bevind ons vandag in die pylvak van die wederkoms van Jesus en, alhoewel ons nie die dag weet nie, gee die Bybel vir ons voortekens waaraan ons moet weet dat die tyd naby is.
Een hiervan is ’n wêreldwye verval in godsdiens. Kerke gaan die waarheid van God se Woord verlaat. Dit gebeur tans. Kerke bespiegel toenemend of Jesus werklik aan ’n kruis gesterf, uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het. Gelowiges twyfel vir geen sekonde hieraan nie! Ongelowiges daarenteen soek na tasbare bewyse hiervoor. Hulle glo dat dit versinsels van die mensdom is wat smag om aan iets te glo.
Ons geloofsoortuigings word vandag uitgedaag soos nooit ooit tevore nie.
Dis moeilik om geloofsoortuigings te bewys want ons het teoreties min om op die tafel te sit. Al wat ons het, is vertroue, en dis wat geloof is. As ek my geloofsoortuigings kon bewys, was dit nie geloofsoortuigings nie, want dan was dit nie nodig om te glo nie. “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb.11:1).
Ongeloof neem oorhand toe en ongelowiges meer uitdagend: “As God liefde is, waarom laat Hy soveel pyn en swaarkry toe?” Miskien het jy ook al daaroor gewonder. Dis ’n moeilike vraag waarvoor daar geen maklike antwoorde is nie. Ons weet net dat ons weens sonde in ’n gebroke wêreld bly; ’n wêreld van swaarkry en pyn.
Het jy al gewonder hoe sal dit wees as alle vorms van pyn skielik sou verdwyn? Mense het geen hoofpyn, tandpyn, spierpyn, gewrigsontsteking of watter ander vorm van pyn nie; algehele pynloosheid? In Amerika was daar ’n geval van ’n babadogtertjie wat haarself verwond het, sonder om te huil. Dokters het toe vasgestel het dat sy geen pyngevoel gehad het nie. Gevolglik kon sy haarself beseer omdat daar nie ’n waarskuwingsmeganisme was nie.
Ons besef nie altyd dat pyn ons lewe red nie. Dis iets wat God in ons liggame ingebou het om ons te laat stop en te laat dink en dan op te tree. Ja, pyn het ’n plek in ons lewe – fisiese pyn sowel as emosionele pyn. Al is dit nie aangenaam nie, laat ons daarna kyk. Dit kan ons lewe red!
Jes.53 sê dat pyn vir ons redding gebring het. 750 v.C. voorspel die profeet dat die Messias verskriklike pyn sou ly. In die 12 Artikels bely ons dat Jesus ter helle neergedaal het. Dit beteken nie dat Hy fisies in die hel was nie, maar pyn ervaar het soos een wat in die hel verkeer.
Die Evangelies beskryf hoe hierdie profesie in Jes.53 pynlik akkuraat in Jesus vervul is. Let op die woorde wat Jesaja gebruik: lyding, pyn, straf, verbrysel, deurboor en wonde. Waarom moes Jesus so verskriklik ly? Sodat ons moet weet dat redding nie goedkoop was nie. Dis gratis, maar nie goedkoop nie!
Let op die verhaal van Lasarus en die ryk man. Wanneer en waar beleef die ryk man pyn? Na sy dood en in die hel! “En hy roep sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam” (Luk.16:24). Aardse pyn weeg nie teen die pyniging in die hel op nie!
Dis nie nodig dat enige mens sulke pyn ervaar nie. Hy moet hom net tot Jesus bekeer. Die pyn wat Jesus deurgemaak het, maak dat geen mens die ewige pyn na die dood hoef te trotseer nie. Daarom roep Paulus uit: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Kor.15:55). Jesaja se woorde is gelykluidend: “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” Ons hoef nie meer die pyn te dra nie. Jesus het dit vir ons gedra. Hierdie wete behoort elke kind van die Here opnuut met dankbaarheid te vervul.
Maar waar pas pyn en beproewing in ons lewens in; nie net fisiese pyn nie, maar ook emosionele pyn? Dis dinge wat God oor ons pad laat kom om ons aan die erns van sonde te herinner en die duur prys wat Jesus betaal het om ons van ’n vlamme-hel te verlos.
Weens Jesus se pyn en lyding aan ’n kruis is daar geen pyn of beproewing in die hemel nie; slegs vreugde. Wie dit verstaan, verstaan die doel van Jesus se pyn en lyding. Vir hulle maak Jesus se kruisiging sin.
Ons kan al ons beproewings na Jesus bring. Daar is geen pyn of beproewing waarvan Hy nie weet nie. Dink hieraan - God het een Seun op aarde sonder sonde, maar nie sonder lyding gehad nie. En hierdie Seun het nie gekom om ons pyn en lyding weg te neem nie, maar om ons lewe met sy Teenwoordigheid te vul. Hy het simpatie met ons pyn en lyding want Hy het ook bittere pyn gehad. Dis egter tydelik en gaan verby. Let op die ryk man in die hel wat bereid was om met die minimum tevrede te wees –’n vingerpunt se water. Jesus gee ons ewigdurende pynloosheid.
Ja, daar kom ook slegte omstandighede oor gelowiges se pad. Dink maar aan Job. Gelowiges kan egter alles na Jesus bring. Niks gebeur met gelowiges waarvoor God hulle nie krag gee nie. Hulle word in tye van beproewing deur ʼn God van liefde vasgehou.
God laat beproewing in ons lewe toe, nie om ons te vernietig nie, maar te suiwer. ʼn Violis draai die snare van sy instrument styf om die regte klank te verkry; nie om dit te breek nie!
Paulus het t.w.v. sy geloof ook pyn verduur, maar desondanks geweet dat die heerlikheid van God sy ewigdurende beloning is. Vat gerus die seer wat binne-in jou is na Jesus. Deur sy wonde het daar vir jou genesing gekom.
Die pad van beproewing lei vir gelowiges na ʼn paleis van heerlikheid.