Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Nederigheid is 'n wonderlike gawe – wie dit nie het nie moet werk om dit te bekom, want dit bring rykdom en eer vir die gees, en vestig vir jou 'n lewe van bevrediging en geluk.
GOD SE PLAN MET JOU
Ds Andrè van den Berg
“En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand.1:7,8).
Wees eerlik: Hoe lyk jou geestelike lewe? Is dit maar betreklik saai? Sou jy nie graag ʼn nuwe begin met God wou maak indien jy die kans gegun sou word nie? Miskien het jy al telkens probeer maar nog elke keer misluk en later maar moed opgegee. Maak dit nie jou gees moeg nie? Want jy besef dat jou tyd op aarde uitloop en dat daar ʼn ewigheid op jou wag wat deur jou lewe op aarde bepaal word. Die lewe beweeg mos vorentoe en nie agtertoe nie!
Hoe begin ʼn mens van voor af met God? Die Bybel leer ons hoe. In Hand.1 lees ons van ʼn nuwe geestelike begin in wording wanneer Christus die dissipels help om hul misverstande, mislukkings en drostery te verwerk. Om ʼn nuwe begin te maak, is dit baie belangrik om eers met jou verlede vrede te maak. Jy kan nie ʼn nuwe begin met God maak as nie jou verlede agter jou kan plaas nie.
Een van die grootste probleme waarom mense se geestelike lewe dikwels nie verder as die aanloopbaan kom nie, is die emosionele bagasie wat hulle met hul saamsleep. Dis te swaar vir opstyg! Indien jy dit nie in die vertreksaal van die verlede agterlaat nie, sal jy nooit in die lug kom nie en sal die een ontnugtering na die ander jou voorland bly!
Het jy al ooit gewonder waarom Christus nie direk na sy opstanding ten hemel gevaar nie maar vir 40 dae gewag het? Juis om ontnugterde mense te help om van hul emosionele bagasie ontslae te raak en sodoende ʼn nuwe begin te maak. Dink maar aan Petrus (Joh.21:15-17). In die tyd tussen Jesus se opstanding en hemelvaart het Hy die Woord van God indringend aan hulle verduidelik. “Toe open Hy hul verstand om die Skrifte te verstaan” (Luk.24:45). Hulle was God se ambassadeurs en moes die wêreld met Jesus verlossingsboodskap omkeer!
Moenie uit die oog verloor wat in Hand.1 alles gebeur het nie. Ons is geneig om vinnig oor hierdie eerste hoofstuk te lees net om by die aangrypende hoofstuk twee uit te kom en bemerk nie waarom die dissipels so ʼn kragtige ommekeer en nuwe geestelike begin kon maak nie.
Hand.1 gee vir ons drie sleutels waarmee die eertydse dissipels die deur na ʼn nuwe begin oopgemaak het. Ons moet dieselfde sleutels gebruik want dit werk nog steeds. Die eerste sleutel is om God se plan vir jou lewe te vertrou. Die dissipels kon dit wat op Pinksterdag en die res van Handelinge gebeur het alleenlik tot uitvoer bring omdat hulle God se plan met hulle lewe vertrou het. Dis nie altyd maklik om sy plan te vertrou nie. Ons maak so dikwels dinge vir onsself moeilik deur nie op God te wag nie, maar eerder ons eie kop volg. En wat gebeur dan? Hierdie gebrek aan vertroue laat ons geestelike lewe stilstaan. Die vrees vir die onbekende toekoms weerhou ons van geestelike hoogtes en ons word net te bang om ʼn nuwe begin te maak.
Hand.1:7,8 sê dat God ʼn plan gehad het, maar nie hoe Hy dit sou uitvoer nie. Dit was sy geheim. Die dissipels is slegs aangesê om na Jerusalem terug te keer, iets waaroor hulle allermins opgewonde was. Jerusalem was immers die plek waar Jesus gekruisig is waarna hulle agter slot en grendel vir moontlike vervolgers gaan wegkruip het.
Hand.1 sê dat hulle getuienis nie net in Jerusalem opklink nie, maar baie verder; ook in die hele Judea, Samaria en selfs verder. Die Evangelie was uiteraard nie net vir die Jode bedoel nie, maar ook vir alle ander volke. Hierdie opdrag was vir die dissipels egter nie maklik nie weens die eeue lange rassespanning tussen die Jode en die Samaritane, nie eens van die res van die heidendom te praat nie! Kyk maar net hoe ongelukkig was Jona nie toe God hom aangesê het om in Nineve te gaan preek nie – vir heidene!
Die dissipels moes in Jerusalem op die uitstorting van die Gees wag waarna God hulle aan die gang sou sit. Will Rogers het gesê: “Al is jy op die regte pad, sal jy omgery word as jy net daar bly staan!” Die dissipels het nie bly staan nie, maar dadelik aan die werk gespring. Hulle het, vol van die Heilige Gees, God se plan gevolg en ʼn ongelooflike nuwe begin in hulle geestelike lewens gemaak. Dwarsdeur Handelinge sien ons hoedat die gelowiges wat op God se plan vir hulle lewe gewag het, ʼn skitterende nuwe geestelike begin gemaak het. Die sleutelgeheim is: Wag op God, en as Hy praat, beweeg jy!
Hoe wag ʼn mens op Hom? Jy volg God se plan en doen wat gedoen moet word. Jy laat niks jou geestelike spoed breek nie. God het ʼn groot plan vir die dissipels gehad. Hulle moes nie vrae vra nie; slegs vertrou en volg. Dis geloof!
Wag is maar ʼn nare ding, veral vir ʼn haastige mens. Christus se opdrag het die dissipels egter nie ledig gemaak nie. Hulle het hierdie wagtyd gebruik om reg te maak vir die groot oomblik as hulle moes beweeg. Niks gebeur toevallig nie. God het altyd ʼn plan. Die dissipels moes net in pas met God se plan kom deur hul eie planne te los en by God s’n in te skakel.
Dis belangrik dat ons planne, hoe edel dit ook al mag wees, nie met God s’n inmeng en bots nie. Paulus wou bv. die Evangelie aan ʼn verlore wêreld bring, maar het na die droom van die Macedoniër wat hom geroep het om hulle te kom help, van plan verander (Hand.16:9). By geleentheid wou Paulus na Misië gaan, maar is deur die Gees verhoed en toe na Troas gegaan. Toe hy in Philippi kom, was God alreeds besig om heidene se harte vir die Evangelie oop te maak.
Wat leer ons hieruit? Dat indien ons planne nie uitwerk soos ons dit wil hê nie, ons God moet vra of Hy nie dalk ander planne met ons het nie. Soms spits ons die aandag te veel op ons eie planne toe en vergeet van God se plan met ons.
Daar is ook diegene wat vir die kerk wag om iets te doen alvorens hulle self geestelik vorentoe beweeg. Dis fataal. Geen mens het al ooit ʼn nuwe begin gemaak deur passief te wag nie! Diegene wat van die kerk verwag om God se plan vir hul lewe te verwerklik, is altyd teleurgestel. Dis die mense wat nie wil gee nie, maar slegs ontvang. Hulle sal hoogstens eredienste bywoon en die sakramente gebruik, maar daarna niks meer vir die kerk nie. Die kerk moet maar toesien en plan maak om hulle in hemel te kry.
Die eerste sleutel waarmee die dissipels ʼn nuwe begin gemaak het, was om op God se plan vir hul lewe te wag. Die tweede sleutel is om sy tydsberekening te vertrou. God se kan nie van die grond af kom as mense sy tydsberekening nie vertrou nie! In Hand.1 wou die dissipels weet wanneer God se koninkryk kom? Hulle het gedink dat dit ʼn nuwe staatkundige bedeling soos ʼn monargie was. Hulle is egter net aangesê om te wag en God te vertrou. Sy koninkryk sou op die regte tyd kom. En hoe het dit nie ná Pinksterdag gekom nie!
God het ʼn baie groot plan vir sy kerk gehad. Wat op Pinksterdag gebeur het, het Hy nog voor die grondlegging van die wêreld haarfyn beplan. Alles gebeur op sy tyd. So ook die wederkoms. Ons moet Hom nie probeer aanjaag soos die sektes met hul ydele wederkomsvoorspellings nie. Alles gebeur op sy tyd en volgens sy plan. “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!” (Ps.27:14). Geduld is ʼn bitter plant met soete vrugte.
Die derde sleutel wat die dissipels gebruik het, was om God vir die gewenste resultate te vertrou. Die tyd wat ons spandeer om op God te wag, moet altyd aktiewe tyd wees. Ons durf dit nie met dagdrome verkwis nie. Ons moet slaggereed wees om te beweeg.
Jare gelede was daar ʼn TV-nuusberig oor die eertydse oorlog in Afghanistan. Terwyl ʼn Amerikaanse soldaat die loop van sy geweer skoongemaak het, het hy die horison vir ontsnapte Taliban rebelle gefynkam. Hy het geweet dat woestynsand ʼn geweer kon laat stoor en die wagtyd gebruik om seker te maak dat hy vir die dood-en-lewe stryd gereed is. Dis hoe gelowiges ook moet wees; altyd gereed om vir God te beweeg (Efes.6:10-20).
Die dissipels het na Jerusalem teruggekeer waar die gemeenskap van die gelowiges vorm begin aanneem het. Hulle het God se plan gevolg, sy tydsberekening in ag geneem en Hom vir die resultate vertrou. “Hulle het almal eendragtig volhard in gebed en smeking…” (Hand.1:14).
Dis ʼn krag-resep vir almal wat ʼn nuwe begin met God begeer. Volg God se plan vir jou lewe, moenie Hom aanjaag nie en vertrou Hom vir die resultate. Dis ʼn wenresep. Wil jy dit nie probeer nie?
Amen.