Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Dikwels kwel ons ons oor die hoeveelheid dae wat ons sal lewe, tog kan dit geen dag vir ons byvoeg of wegneem nie want God het nog voor ons gebore is bepaal presies hoeveel dae elkeen van ons sal lewe. Ook Dawid vertel dit in Ps 139 waar hy sê: "U oë het my ongevormde klomp gesien (toe nog in sy moederskoot); en in u boek is hulle almal opgeskrywe: die dae
wat almal bepaal bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie."  Waarom kwel ons ons dan?

WARE VERSLAG VAN PILATUS AAN TIBERIUS

DIE   VERSLAG VAN GOEWERNEUR PONTIUS PILATUS AAN KEISER TIBERIUS IN SAKE DIE PERSOON, IN HEGTENIS-NAME, KRUISIGING EN OPSTANDING VAN JESUS CHRISTUS

In Afrikaans vertaal deur ds Andrè vd Berg

Aan Tiberius, keiser van Rome.

Ek groet u, edele Vors.

Die gebeure van die afgelope paar dae in my provinsie is so ingrypend, dat ek u alles daaroor wil meedeel. Ek sal nie verbaas wees indien dit ons lot binnekort gaan verander nie. Soos wat dinge tans verander, lyk dit asof die gode ons hul guns ontsê het. Ek het lus om te sê: "Vervloek is die dag dat ek Vallerius Flaceus in Judea opgevolg het!" My lewe is sedertdien vol ongemak en benoudheid.

By my aankoms in Jerusalem het ek beheer van die plaaslike regering verkry en 'n luukse fees gereël waarheen die viervors van Galilea, Hoëpriester en sy gevolg uitgenooi is. Niemand het opgedaag nie. Ek het dit as 'n belediging vir my amp asook die waardigheid van die regering wat ek verteenwoordig, beskou.  

Enkele dae later het die Hoëpriester hom verwerdig om my te besoek. Sy houding was somber en slu. Hy het voorgegee dat sy geloof hom en sy gevolg verbied het om saam met Romeine voedsel en plengoffers te gebruik. Sy gesig het egter gewys dat hy lieg.   Ek het dit egter raadsaam geag om sy verskoning te aanvaar.

Dis nie te betwyfel dat die ondergeskiktes hulself as teenstanders van die regering sien nie. Ek wil die Romeine egter waarsku om baie versigtig vir die plaaslike priesters te wees. Hulle sal hul eie moeder verraai vir 'n beter betrekking of luukshede!

Dit lyk vir my asof Jerusalem, van al die verowerde stede, die moeilikste is om te beheer. Die inwoners is so opstandig, dat ek enige oomblik 'n opstand verwag. Daarbenewens is daar ook te min soldate om so 'n iets te onderdruk. Ek het slegs 'n hoofman oor honderd met sy soldate tot my beskikking. Gevolglik het ek die goewerneur van Sirië vir versterkings genader. Hy het my egter laat weet dat hy beswaarlik genoeg verdediging vir sy eie provinsie gehad het.  

Ek is bevrees dat die onversadigbare drang om ons ryk uit te bou, nie met die verdediging daarvan rekening hou nie. Dit kan later selfs op die vernietiging van ons ryk uitloop. Ek is maar redelik uit voeling met die gepeupel en weet derhalwe nie altyd wat in hulle gedagtes aangaan nie. Nogtans probeer ek uitvind en my van hulle standpunte te vergewis.

Van al die berigte wat my ore bereik het, het een my aandag geprikkel. Ek is meegedeel dat 'n jong Man met 'n besondere gawe in Galilea optree en 'n nuwe wet in die naam van die God wat Hom gestuur het, verkondig.  Ek het aanvanklik gedink dat Hy daarop uit was om mense teen die Romeinse gesag op te sweep. My bedenking was gelukkig van korte duur.  Jesus van Nasaret het soos 'n vriend van die Romeine gepraat en nie van die Jode nie.

Toe ek by geleentheid verby Silo gereis het, was daar 'n samedromming van mense. Onder die skare het ek 'n jong Man teen 'n boom sien leun terwyl Hy met hulle gepraat het.  Ek is meegedeel dat dit Jesus was. Hy het opvallend van die toehoorders verskil. Sy goudkleurige hare en baard het aan Hom 'n hemelse voorkoms besorg. Hy was ongeveer dertig jaar oud.  Ek het nog nooit 'n liefliker, rustiger gelaat as syne aanskou nie. Wat 'n kontras is dit nie met sy toehoorders met hul swart baarde en geelbruin gesigte nie!

Ek wou Hom nie met my teenwoordigheid onderbreek nie en het verder gereis.  Ek het Manlius, my sekretaris, gevra om by die skare aan te sluit om te luister wat gesê word.  Manlius is 'n kleinseun van een van die samesweerders wat in Etruria vertoef het terwyl hulle vir Kataline gewag het. Manlius woon al 'n geruime tyd in Judea en is met die Hebreeuse taal vetroud. Hy is pligsgetrou en ek vertrou hom.

Toe ek by my kantoor terugkom, was Manlius reeds daar om verslag te doen van dit wat Jesus in Silo gesê het.  Nie eens in die geskrifte van die filosowe het ek iets gelees wat naastenby met die leer van Jesus vergelyk nie. Een van die opstandige Jode, waarvan daar baie in Jerusalem is, het Hom byvoorbeeld gevra of dit geoorloof was om aan die keiser belasting te betaal, waarop Hy geantwoord het: "Betaal aan die keiser wat die keiser toekom en aan God wat God toekom".

Omdat Hy wyse uitsprake gemaak het, het ek die Nasarener onbeperkte vryheid verleen.   Ek kon Hom in hegtenis laat neem en na Pontus verban het. Dit sou egter strydig met die reg wees waarvoor die Romeinse owerheid in sy hantering van sulke mense bekend was. Hierdie man was immers nie opruiend of opstandig nie en ek het Hom beskerm, sonder dat Hy dit besef het. Hy kon dus sonder die inmenging van die plaaslike owerheid optree, praat, mense byeenroep, toespreek en dissipels aanstel.

Mag die gode verhoed dat dit ooit gebeur dat Jesus se godsdiens dié van ons voorsate vervang!  Dan sal Rome se voortydige dood aan my verdraagsaamheid te wyte wees. En ek, ellendige drommel, sal aandadig wees aan dit wat die Jode voorsienigheid noem en daarmee ons lot verseël.

Die onbeperkte vryheid wat aan Jesus verleen is, het die Jode opstandig gemaak - nie soseer die armes nie, maar die rykes en vernames wat gereeld onder Jesus se skrobberings deurgeloop het. Hulle stryd teen die Nasarener was myns insiens polities gedrewe vanweë die onbeperkte vryheid wat Hy geniet het.

"Skrifgeleerdes en Fariseërs" het hy gesê, "julle is 'n addergeslag en soos geverfde grafte. Julle kom voorbeeldig voor, maar dra die dood in julle om". By geleentheid het Hy die opregtheid van die rykes en trotsaards se kerklike bydraes bevraagteken en gesê dat die armes se kleiner bydraes in God se oë van groter waarde was.  Die plaaslike owerheid is daagliks oorval met besware teen Jesus se onverskrokke uitsprake.  

Ek is meegedeel dat Hy selfs met liggaamlike leed gedreig is. Dit sou nie die eerste keer wees dat Jerusalem mense wat hulself profete genoem het, stenig nie. In sulke gevalle is die keiser altyd gevra om in te gryp. Die Senaat het my handelswyse goedgekeur en beloof om die verlangde versterkings na die beëindiging van die Partiese oorlog te stuur.

Aangesien ek nie by magte was om 'n opstand te onderdruk nie, het ek 'n maatreël getref ten einde rustigheid in die stad te verseker sonder om die plaaslike owerheid aan enige vernederende toegewings te onderwerp. Ek het aan Jesus geskryf en Hom versoek om my op kantoor te kom spreek, wat Hy ook gedoen het. U is daarvan bewus dat 'n mengsel van Spaans-Romeinse bloed in my are vloei wat my nie bang of ontroerd maak nie.

Ek was in my ampswoning toe die Nasarener opgedaag het. Dit het gevoel asof my voete met 'n ysterband aan die marmervloer vasgemaak was. My litte het soos dié van 'n misdadiger gebewe. Die Nasarener, daarenteen, was die kalmte self.  Toe Hy by my kom, het Hy gaan staan en, sonder om 'n woord te sê, 'n teken gegee waarmee Hy wou sê: "Ek is hier".

Ek het hierdie buitengewone mens vir 'n wyle met ontsag en bewondering betrag. Hy sou ons skilders, wat graag gode en helde skilder, baie vreemd opgeval het. Daar was niks afstootlik aan sy persoonlikheid nie. Desondanks het ek so gebewe, dat ek nie nader kon kom nie.    

"Jesus", het ek gestamel, "Jesus van Nasaret, vir die afgelope drie jaar het ek U voldoende vryheid van spraak verleen, nie dat ek dit betreur nie. U praat soos 'n wyse.  Ek weet nie of U Sokrates of Plato gelees het nie, maar van een ding is ek seker, u redevoerings getuig van 'n verstommende eenvoud wat U selfs bo hierdie filosowe verhef.  

"Die keiser is daarvan verwittig en ek, sy nederige verteenwoordiger in hierdie land, is bly dat ek U die nodige vryheid van spraak verleen het. Nogtans mag ek nie nalaat om te noem dat u uitsprake gedugte vyande teen U ontketen het nie. Dit verbaas my egter nie want Sokrates het ook vyande gehad en op die ou einde 'n slagoffer van hulle haat geword. U vyande is billik ontstoke. Eerstens omdat U hulle skerp tereg wys en tweedens omdat ek U vryheid van spraak verleen. Hulle beskuldig my selfs daarvan dat ek U steun net om die Jode die bietjie vryheid wat Rome hul toelaat, te ontneem.

"Ek beveel U nie, maar versoek U eerder om in die toekoms versigtiger met u woorde om te gaan en hulle meer in ag te neem. So nie, gaan U die eergevoel van u teenstanders aantas, waarna hulle die gepeupel moontlik teen U kan aanhits. So 'n iets sal my noodsaak om van die nodige wetsmiddele gebruik te maak".

"Prins van die aarde, u woorde getuig nie van groot wysheid nie" het die Nasarener kalm geantwoord. "Indien u vir die stroom sou sê om tussen die bergklowe tot stilstand te kom, sal die bome in die vallei ontwortel word. Die stroom sal u antwoord dat dit eerder die wette van die natuur en die Skepper gehoorsaam. God alleen weet waarheen die stroom vloei. Voorwaar ek sê vir u, voordat die roos van Saron blom, sal die bloed van die Regverdige vloei".

"U bloed sal nie vloei nie!" het ek ontsteld uitgeroep. "Ek het meer agting vir u wysheid as dié van al die opstandige en eergevoelige Fariseërs wat die voorregte misbruik wat Rome hulle verleen. Hulle onderkruip die keiser en swaai sy goedhartigheid óm in vrees. Hulle oorreed onkundiges om die keiser as 'n tiran te sien wat mense wil onderdruk. Parmantige vloeke! Hulle besef nie dat die wolf van die Tiber hom soms met 'n skaapvel klee ten einde sy bose dade ten uitvoer te bring nie. Ek sal U teen hulle beskerm. My kantoor sal vir U bedags en snags 'n toevlugsoord wees".  

Jesus het sy kop geskud en met 'n somber, dog goddelike glimlag geantwoord: "Wanneer die uur aanbreek, sal daar vir die Seun van die mens geen toevlugsoord op of onder die aarde wees nie. Die enigste toevlugsoord van die Regverdige sal daar wees" en na die hemel gewys. "Dit wat in die boeke van die profete geskryf staan, moet gebeur".

"Jongman", het ek sag geantwoord, "U sal my verplig om van my versoek 'n opdrag te maak.   Die veiligheid van die provinsie onder my sorg noodsaak dit.   U moet meer gematig in u uitsprake wees. Moenie my bevel veronagsaam nie. U weet wat die gevolge sal wees. Laat dit met U goed gaan. Totsiens".

"Prins van die aarde" het Jesus geantwoord, "Ek het nie gekom om onmin in die wêreld te bring nie, maar vrede, liefde en goedheid. Ek is (oorspronklike teks hier onduidelik) op dieselfde dag waarop keiser Augustus vrede vir die Romeinse wêreld aangekondig het. Vervolgings gaan nie van My afhang nie. Ek verwag dit eerder van ander en sal daarmee handel, gehoorsaam aan die wil van my Vader wat My sal wys wat om te doen. Laat staan maar u versigtigheid. Dis buite u mag om die slagoffer aan die voet van die tabernakel van boetedoening in hegtenis te neem".

Nadat Hy dit gesê het, het Hy met 'n helder glans agter die gordyne verdwyn. Ek was verlig omdat sy teenwoordigheid 'n bedruktheid oor my laat kom het wat ek nie afgeskud kon kry nie.

Jesus se teenstanders het hulle na Herodes, wat in Galilea regeer het, gewend en hom oor hul griewe jeens die Nasarener ingelig.  Indien Herodes sy sin kon kry, sou hy Jesus onmiddellik laat ombring het. Bewus van sy koninklike waardigheid, het hy egter gehuiwer om enigiets te doen wat sy aansien by die Senaat kon skaad. Miskien was hy ook bang vir Jesus soos ek; nie dat dit 'n Romeinse offisier betaam om vir 'n Jood bang te wees nie.

Voor hierdie gebeure het Herodes een dag by my kantoor aangekom.  Nadat hy oor koeitjies en kalfies gesels het, het hy my oor my siening van die Nasarener gepols.  Ek het hom meegedeel dat Jesus soos een van die groot filosowe opgetree het wat van tyd tot tyd uit die boesem van groot nasies na vore kom. Verder was sy leerstellings geensins lasterlik nie. Rome sou Hom die nodige vryheid van spraak verleen.  Herodes het smalend geglimlag en my met 'n spottende eerbetoon gegroet.  

Die groot fees van die Jode was voor die deur.  Hulle het beplan om van 'n sekere geleentheid tydens die Pasga-viering gebruik te maak.  Die stad het gewemel van opstandelinge wat die Nasarener dood wou sien. My segsmanne het my ingelig dat selfs tempelskatte vir dié doel as omkoopgeld gebruik is. Onheil was duidelik aan die oplaai. 'n Romeinse hoofman oor honderd is, byvoorbeeld, openlik beledig.

Ek het die goewerneur van Sirië versoek om 'n versterking van 'n honderd voetsoldate en ewe veel berede soldate te stuur. Hy het geweier. Gevolglik was ek man-alleen met slegs 'n handjievol soldate in 'n opstandige stad en geensins by magte om 'n opstand te onderdruk nie. Al uitweg was om maar te hoop vir die beste.

'n Oproerige gepeupel het daarna op Jesus toegesak.  Alhoewel hulle nie nodig gehad het om vir die plaaslike regering bang te wees nie, het hul leiers geglo wat aan hulle oorgedra is, naamlik dat ek my wenkbroue oor hul oproerigheid gelig het. Gevolglik het hulle aanhou skreeu: "Kruisig Hom, kruisig Hom!"

Drie sterk partye het teen Jesus saamgespan.  Eerstens was daar die Herodiane en Sadduseërs wie se oproerige gedrag aan dubbele standaarde te wyte was. Hulle het die Nasarener gehaat en die Romeinse juk verfoei.  Hulle het my wel vergewe dat ek die heilige stad met baniere waarop die beeld van die Romeinse keiser gepryk het, binnegekom het.  Dié flater was skynbaar van minder belang.

Hulle het ook 'n tweede adder aan die bors gekoester. Ek het voorgestel dat 'n gedeelte van die tempelskatte afgestaan moes word vir die oprigting van geboue vir openbare gebruik. Hulle het dit met veragting verwerp. Die Fariseërs weer, was geswore vyande van Jesus. Hulle het geen erg aan die plaaslike owerheid gehad nie en was daarby verbitter oor die talle skrobberinge wat hulle die afgelope drie jaar van die Nasarener ontvang het.  Hulle was bang om self op te tree en het gevolglik die tweespalt tussen die Herodiane en Sadduseërs tot hul voordeel probeer aanwend.

Behalwe vir die genoemde drie partye, het ek ook met 'n strydlustige, losbandige gepeupel te kampe gehad; mense wat gereed gestaan het om by 'n opstand betrokke te raak net om voordeel uit die wanorde wat dit veroorsaak het, te trek.      

Jesus is voor die Hoëpriester gebring en ter dood veroordeel. Kajafas, die Hoëpriester, het egter op slinkse wyse sy ondergeskiktheid misbruik om die onus op my af te skuif.  Hy het die gevangene naamlik na my gestuur om die vonnis en teregstelling te bekragtig.  Ek het hom daarop gewys dat, aangesien Jesus 'n Galileër was, die aangeleentheid onder Herodes se regspraak geval het en Hom daarheen verwys.  

Die geslepe viervors het sy verknorsing besef en teenoor die keiser se luitenant op eerbied aangedring waarna die lot van die Man weereens in my hande geplaas is. My paleis het spoedig soos 'n beleërde vesting gelyk soos wat die getal ontevredenes toegeneem het. Jerusalem is met skares uit die berggebied van Nasaret oorstroom. Dit het amper gelyk asof die hele Judea die stad binnegestroom het.  

Ek het vir my 'n vrou uit die Galliërs geneem wat heldersiende was. By geleentheid het sy haar huilend aan my voete neergewerp en gepleit: "Pasop, pasop, raak die Man nie aan nie, want Hy is heilig. Laas nag het ek Hom in 'n gesig gesien. Hy het op die waters geloop en op die vlerke van die wind gevlieg. Hy het met die storm en die visse van die meer gepraat en almal het Hom gehoorsaam. Kyk, die Kedron bergstroom vloei met bloed, die standbeelde van die keisers is vol (oorspronklike teks hier onduidelik). Die pilare van die binneplein het meegegee en die son is in rougewaad geklee soos 'n maagd in die graf. O, Pilatus, onreg wag op jou! As jy op die woorde van jou vrou nie gaan ag slaan nie, sal 'n verskriklike oordeel die Romeinse Senaat tref. Vrees ook die keiser se misnoeë!”

Teen hierdie tyd het die marmertrap onder die gewig van die menigte gekreun. Die Nasarener is aan my teruggestuur.  Ek het, vergesel van my lyfwag, na die hofsaal gegaan en die mense vererg gevra oor wat hulle wou hê.

"Die dood van die Nasarener" was die antwoord.

"Vir watter oortreding?"

"Hy het gelaster en die verwoesting van die tempel voorspel. Verder noem Hy Homself die Seun van God, die Messias, die Koning van die Jode".

"Die Romeinse regspraak lê nie die doodstraf vir sulke aantygings op nie" het ek geantwoord.

"Kruisig hom! Kruisig hom!" het die gevoellose gepeupel geskreeu.

Die geskreeu van die woedende skare het die hofsaal tot in sy fondamente laat bewe.   Te midde van die geraas het net Een kalm voorgekom - die Nasarener. Na etlike vrugtelose pogings om Hom teen die woede van sy teenstanders te beskerm, het ek 'n skuif gemaak wat op daardie stadium na die enigste uitweg gelyk het wat sy lewe kon red.  Ek het voorgestel om, soos dit by so 'n geleentheid die gebruik was, vir hulle 'n gevangene vry te laat.  Jesus kon dan as die sondebok, soos hulle dit genoem het, vrygelaat word.    Hulle het egter aanhou skreeu dat Hy gekruisig moes word.

Daarna het ek hulle op die teenstrydigheid van hul eie handelswyse gewys, naamlik dat dit onversoenbaar was met hulle eie regstelsel. Ek het geweet dat geen strafregter 'n vonnis kon vel alvorens hy 'n dag lank gevas het nie. Verder moes die vonnis deur die Sanhedrin bekragtig word, asook van die handtekening van die hof-president voorsien wees.  Geen misdadiger kon op dieselfde dag van sy vonnisoplegging tereggestel word nie.  Op die dag van die teregstelling moes die Sanhedrin die hele verhoor weer in oënskou neem.

Kragtens hulle regstelsel moes 'n man met 'n vlag in die deur van die hof stelling inneem terwyl 'n ander een 'n ent daarvandaan op 'n perd gesit het om die naam van die misdadiger, die aard van sy misdryf, asook die name van die getuies uit te roep.  Dis gedoen om enigeen die geleentheid te bied om in sy guns te getuig. Op pad na die plek van teregstelling kon die veroordeelde ook drie maal omdraai om enige nuwe saak in sy guns te bepleit.  Ek het daarop aangedring en gehoop dat hulle sou besin. Hulle het egter voet by stuk gehou en aanhou skreeu: "Kruisig hom! Kruisig hom!"

Daarna het ek opdrag gegee om Jesus te laat gesel en gehoop dat dit hulle tevrede sou stel.    Dit het hul woede egter net laat toeneem.  Daarna het ek 'n skottel gevra en my hande in die teenwoordigheid van die raserige skare gewas as teken dat Jesus van Nasaret na my oordeel niks gedoen het wat die dood verdien nie. Alles was egter tevergeefs. Die ellendelinge het sy lewe gesoek.  

Ek het dikwels tydens burgerlike opstande met woedende skares te doene gekry. Niks het egter met dit wat ek by dié geleentheid gesien het vergelyk nie. Dit wou voorkom asof al die skimme van die hel in Jerusalem byeen was. Verder het dit gelyk asof die skare nie geloop, maar soos 'n draaikolk vanaf die voorportaal van die regeringsgebou tot by die berg Sion beweeg het. Hulle het gegil en geskreeu; erger as tydens die oproer van die Pannonia of uitbarstings voor die regbank.

Die dag het geleidelik donker geword soos tydens winter.   Hierdie vreemde verskynsel is ook by die dood van keiser Julius waargeneem. Dit het soos die laaste dae van Maart gelyk.  Ek het teen 'n pilaar in my ampswoning geleun en oor die wraaksug van die mense wat die Nasarener se dood begeer het, nagedink.

Alles om my heen was stil en verlate. Jerusalem het al haar inwoners as't ware deur die begrafnishek wat na Golgota lei, uitgebraak. 'n Gevoel van hartseer en verlatenheid het my beetgepak.  My wagte het by die berede soldate aangesluit terwyl die hoofman oor honderd slegs met 'n magsvertoon daarin kon slaag om die orde te handhaaf.    Dit het my nog eensamer laat voel.  My hart het uitgegaan na dit wat op daardie oomblik plaasgevind het, iets wat 'n mens eerder aan die geskiedenis van die gode as aan dié van die mensdom laat dink het.  

'n Groot lawaai het vanaf Golgota opgeklink. Pynkrete soos nog nooit deur sterfling se ore gehoor is, is deur die winde verder gedra. Donker wolke het op die tempeltoring toegesak wat die stad soos 'n sluier bedek het. Mense het tekens in die hemel en op aarde gesien wat so angswekkend was, dat dit volgens Dionysius, die Areopagiet, gelyk het asof die Skepper òf lyding verduur het òf dat die heelal besig was om uitmekaar te spat.

Terwyl hierdie angswekkende skouspel voortgeduur het, was daar 'n hewige aardbewing wat sy oorsprong in die suide van Egipte gehad het.  Dit het almal met vrees vervul en die bygelowige Jode byna van skrik laat omkom.  Dit word vertel dat Bélsasar, 'n bejaarde, geleerde Jood van Antiochië, ná hierdie gebeure dood aangetref is.  Dit kon nie vasgestel word of hy van skrik of smart gesterf het nie.  Hy was 'n vriend van die Nasarener.

Net na middernag het ek my oorkleed aangetrek, die stad verlaat en in die rigting van Golgota se hekke gestap.  Die offer is gebring en die skare was besig om huiswaarts te keer, ontroerd, somber, swygsaam en verward. Wat hulle aanskou het, het hul met angs en weersin vervul.  Ek het selfs my eie taakmag bedroef sien terugkeer.  Die vaandeldraer het die arend embleem uit meegevoel bedek. Ek het sommige van die Joodse soldate woorde hoor mompel wat ek nie verstaan het nie.   Ander het weer van wonderwerke gepraat, soos dié wat die Romeine al deur die beskikking van die gode beleef het. Sommige van die mans en vrouens het roerloos na die kruising-koppie gestaan en kyk en op so 'n wonderwerk gewag.

Ek het bedroef na my kantoor teruggekeer. Toe ek met die trappe, wat nog met die bloed van die Nasarener bevlek was, opgaan, het ek 'n bedroefde ou man voor my sien staan met etlike betraande Romeine by hom. Hy het hom aan my voete neergewerp en bitterlik gehuil.  Dit was verskriklik om 'n ou man so te sien huil! My gemoed het so volgeskiet dat ons, alhoewel ons vreemdelinge vir mekaar was, saam gehuil het.  Om die waarheid te sê, het die ander se trane ook maar vlak gelê. Ek het nog nooit so 'n ommekeer van gemoedere aanskou nie!

Diegene wat Hom oorgelewer, teen hom getuig en geëis het: "Kruisig hom! Laat sy bloed op ons kom!" het almal soos lafhartige skobbejakke padgegee en hul tande met asyn gaan was.  Ek is meegedeel dat Jesus 'n opstanding uit die dood verkondig het; 'n gedagte wat reeds onder baie mense posgevat het.

"Vader", het ek aan die ou man gesê, nadat ek my beheersing herwin het, "wie is u en wat wil u hê? "Ek is Josef van Arimathèa" het hy geantwoord "en kom smeek u op my knieë vir toestemming om Jesus van Nasaret te begrawe".

"U versoek is toegestaan" het ek hom geantwoord en Manlius opdrag gegee om saam met 'n paar soldate toesig te hou oor die begrafnis sodat dit nie onteer word nie.

'n Paar dae later is die graf leeg gevind. Jesus se dissipels het oral vertel dat Hy, soos Hy voorspel het, uit die dood opgestaan het. Dit het 'n groter opskudding as die kruisiging veroorsaak!  Ek kon nie vir die waarheid hiervan instaan nie en 'n ondersoek na dié saak gelas, sodat u self kan besluit of ek 'n fout gemaak het soos Herodes beweer. Josef het Jesus in sy eie graf begrawe. Of hy 'n opstanding voorsien het of gereken het om vir hom 'n ander graf te maak, kan ek nie sê nie.

'n Dag na Jesus se begrafnis het een van die priesters my kom spreek en gesê dat hulle bang was dat Jesus se dissipels sy liggaam kon steel en versteek om te lyk asof Hy uit die dood opgestaan het, soos voorspel is. Hulle het 'n sterk vermoede gehad dat so 'n poging aangewend sou word. Ek het hom na Malgus, die kaptein van die koninklike wag, gestuur met die opdrag om soveel Joodse soldate as nodig rondom die graf te ontplooi. As enigiets sou gebeur, kon hulle net hulself blameer en nie die Romeine nie.

Die opskudding wat die leë graf veroorsaak het, het my hewig ontstel. Ek het Malgus laat roep wat my meegedeel het dat hy en sy luitenant, Ben Isham, en 'n honderd soldate by die graf ontplooi was. Isham en sy manskappe was net so ontsteld oor die gebeure. Ek het Isham laat roep wat aan my, so goed as wat ek kan onthou, die volgende meegedeel het.

Aan die begin van die vierde nagwaak het hulle 'n pragtige, sagte lig oor die graf sien skyn. Hy het aanvanklik gedink dat dit vroue was wat Jesus se liggaam volgens die gebruik kom balsem het.  Hy kon egter nie verstaan hoe hulle by die wagte verby gekom het nie. Terwyl hy nog daaroor wonder, het die plek eensklaps verhelder.  Die aanwesiges het soos 'n skare dooies in hul graf-klere gelyk.  Almal was in vervoering terwyl die mooiste musiek gespeel het. Dit het gelyk asof die hele lug vol stemme was wat God geloof het.

Op 'n tydstip het dit gevoel asof die aarde wankel en sweef. Dit het hom so duiselig gemaak, dat hy nie verder op sy voete kon bly nie. Hy het vertel dat dit vir hom gevoel het asof die aarde onder hom padgee.  Daarna het hy sy bewussyn verloor en derhalwe van geen verdere gebeure bewus nie. Ek het hom oor sy gewaarwording uitgevra nadat hy bygekom het. Hy het vertel dat hy plat op sy gesig op die grond gelê het. Ek het hom gevra of hy hom nie dalk misgis het en die dagbreek vir dié lig aangesien het nie? Hy het aanvanklik ook so gedink, maar 'n klipgooi verder was dit egter pikdonker. Daarby was dit ook te vroeg vir dagbreek.

Ek het hom gevra of sy duiseligheid nie toe te skryf was aan te vinnig opstaan nadat hy ontwaak het nie?  Hy het my verseker dat hy die hele nag wakker was omdat 'n wag die doodstraf vir slaap aan diens opgelê kon word.  Hy het sommige van die soldate op daardie tydstip wel laat slaap.  Hoe lank die skouspel geduur het, weet hy nie.   Dit kon selfs 'n uur geduur het. Dit het egter met dagbreek verdwyn.  Ek het hom gevra of hy daarna by die graf was. Hy was nie omdat hy te bang was. Toe die aflos-wag opdaag, het hulle dadelik na hul kaserne teruggekeer.

Ek het hom gevra of die priesters hom enigsins ondervra het.  Hulle het en wou hê dat hy moes sê dat dit 'n aardbewing was en dat hulle geslaap het. Hulle het hom selfs geld aangebied om te sê dat Jesus se dissipels sy liggaam gesteel het. Hy het egter geen dissipel gesien en selfs nie eens geweet dat die liggaam weg was alvorens hy daarvan verwittig is nie.

Ek het hom na die persoonlike mening van die priesters gevra. Baie was van mening dat Jesus nie 'n mens of selfs 'n menslike wese was nie. Hulle het hom nie as die seun van Maria of die Een wat uit die maagd in Betlehem gebore is, beskou nie.  Hulle het beweer dat Hy 'n verskyning was van die wese wat in die tyd van Abraham en Lot en daarna by verskeie geleenthede op die aarde gewaar is.

Indien die Jode se verklaring juis is, is sulke gevolgtrekkings myns insiens nie te vergesog nie. Dit kom ooreen met die Man se lewe. Daarvan kan vriend en vyand getuig.  Hy was, soos 'n pottebakker, in volle beheer van sake. Hy kon water in wyn verander en die dood in lewe. Hy kon krankheid in gesondheid omskep, die see tot bedaring bring, storms stilmaak en 'n vis 'n silwer muntstuk in sy bek laat bewaar.

Indien Hy al hierdie dinge kon doen, wat Hy wel gedoen het, en nog baie meer, soos die Jode van getuig het, en dit vyande vir Hom verwek het, en Hy nie van enige wetsoortreding aangekla is of enige iemand skade aangedoen het nie en duisende, vriende en vyande, van al hierdie dinge bewus is, is ek amper lus om soos Manlius by die kruis uit te roep: "Waarlik, Hy was die Seun van God!".

Edel vors, dis die enigste feite wat ek u in hierdie saak kan bied. Ek het werklik baie moeite gedoen om hierdie verslag so volledig as moontlik op te stel. U moet my optrede in sy geheel beoordeel aangesien ek verneem dat die Antipater lelike dinge van my oor dié aangeleentheid kwytgeraak het.

Ek groet u, my edel vors. Wees verseker van my getrouheid. Ek is u ewig onderdanig.

PONTIUS PILATUS.

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 2859 gaste aanlyn