Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy deur die meule van die lewe gaan, hang dit van jou af hoe jy anderkant gaan uitkom: Fyn gemaal of blink gepoleer? Weet een ding: Daar is in die hemel geen kroondraers wat nie op aarde eers kruisdraers was nie!
HERVORMING - ANTICHRIS, GOD SE NA-APER
Andrè van den Berg
“.... En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan” - Openb.13:3
In 1948 skryf George Orwill ʼn boek wat baie reaksie uitgelok het – '1984'. In hierdie boek gaan dit om die stryd en nederlaag teen ʼn karakter wat hy Big Brother noem. Hierdie karakter tree nooit self in die lig nie, nogtans weet almal dat hy daar is. Hy sien alles, hoor alles en weet van alle mense se doen en late. Mense wat nie na sy pype wil dans nie, laat hy martel en/of doodmaak. Dit maak hulle bang vir hom! Baie wat teen hom in verset kom, maar vir hom iets kan beteken laat hy in rehabilitasiesentrums breinspoel totdat hulle aan hom onderdanig word en saam met die stroom van sy aanhangers swem.
Kritici het gesê dat die boek te vergesog is. Maar dit was nie. Die Bybel praat ook van ʼn Big Brother en noem hom die dier – dit is die Antichris. Orwill het Openb.13 as basis vir sy boek gebruik om vir mense ʼn voorsmaak van die heerskappy van hierdie man in moderne kleure te skilder.
Min mense het nog nie van die Antichris gehoor nie. Die Bybel, Ou en Nuwe Testament, is baie duidelik daaroor dat dit ʼn spesifieke mens is. Lees gerus Dan.7. Christus praat in sy Profetiese Rede ook van hierdie man.
Sy naam wek by gelowiges enersyds vrees en andersyds blydskap op. Vrees, omdat hy wreed en godslasterlik is en asemrowende wonders bewerk wat baie mense mislei. Hy is ʼn verskrikking soos wat die wêreld nog nooit aanskou het nie! Andersyds wek sy naam ook by gelowiges blydskap op omdat hulle weet dat wanneer hy verskyn, die wederkoms naby is en Christus hom oorwin!
Maar hoe lyk die Antichris? Hy aap God na, maar alles omgekeerd. Christus het as gestuurde van God na die aarde gekom. Die Antichris kom as gestuurde van Satan uit die domein van die duisternis ook aarde toe. Christus, so bely ons, is as Seun van God deur die wil van die Heilige Gees uit ʼn vrou gebore. Iets soortgelyks gebeur ook met die Antichris, die na-aper van God, wat deur die wil van Satan as seun van Satan uit ʼn aardse vrou gebore gaan word. Sataniste het ʼn ritueel waartydens ʼn maagd op die altaar neergelê word vir die hoëpriester om haar seksueel te misbruik met die bede dat die Antichris uit haar gebore sal word. Let op die na-apery!
Maar wat ʼn teenstelling is daar nie tussen die Seun van God en die seun van Satan nie! Christus kom mense verlos en lewe gee. Die seun van Satan kom mense bind en ʼn ewige dood laat sterf. Christus kom as die Vredevors. Die Antichris kom as die vors van chaos. Johannes die Doper was Christus se voorloper met die boodskap: Maak die paaie van die Here reguit. Die Antichris spoor mense aan om die paaie van die Here te verwoes!
In Openb.13 lees ons dat die Antichris uit die see opkom. Hierdie see is simbolies vir die volkere-wêreld. Gevolglik kom die Antichris uit die mensdom. Johannes sien dat hy die liggaam van ʼn luiperd en kloue van ʼn beer het. ʼn Luiperd is slu en bespring dikwels sy prooi wanneer hulle dit die minste verwag. So gaan die Antichris ook te werk. Wanneer hy ʼn mens bespring word sy kloue swaar soos dié van ʼn beer. Dit gaan vir hom om vernietiging. Christus sê in Joh.8 dat Satan ʼn mensemoordenaar van die begin af is.
Sy visier is teen die gelowiges: “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin” (:7). God laat hierdie as ʼn sifting toe. Die kaf word van die geestelike koring geskei. Ja, die laer van die heiliges gaan omsingel en gelowiges die aanskouers van die grootste verleiding van alle tye word – die Antichris kry beheer oor die sigbare kerk. “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van die sonde geopenbaar word, die seun van die verderf ... sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess.2:3,4).
Die grootste menseverleiding kom vanuit die kerk. Satan mislei die kerklike Eva en word deur sy seun, die Antichris, hoof van die kerk. Sien die na-apery! Christus is die Hoof van die onsigbare kerk en Satan dié van die laaste sigbare een! Maar alvorens die Antichris hoof van die kerk kan word, moet sekere dinge eers plaasvind. Die vernaamste is dat alle kerke onder een noemer geplaas moet word. Daarvoor moet alle kerkeverskeidenheid verdwyn. Hoe meer apart kerke is, hoe moeiliker is dit vir die Antichris om beheer te verkry. Hoe gesamentliker, hoe makliker!
Vir hierdie taak benodig die Antichris ʼn baie groot kerk om ander kerke te beïnvloed en beheer oor te verkry. En hierdie kerk bestaan alreeds – al vir eeue lank! Sy word in Openbaring Babilon genoem. Nou weet ons uit Gen.11 wat in Babel gebeur het met die bou van die toring. God het die mens opdrag gegee om te vermeerder en te versprei – om apart te wees. In Babel sê Nimrod met die bou van hierdie toring as’t ware vir God: “Ons wil en sal nie apart wees nie, maar saam wees!” Van toe af staan Babel in die teken van opstand teen God.
Soos wat ons Babel reg aan die begin in Genesis ontmoet, maak sy aan die einde weer haar opwagting in Openbaring, hierdie keer met kerklike klere aan: “En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud.... en sy het in haar hand ʼn goue beker gehad...” (Openb.17:4).
Haar bose invloed en misleiding word met hoerery vergelyk. Sy slaag daarin om alle maghebbers in haar mag te kry: “...omdat al die nasies gedrink het van die wyn .... van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid” (Openb.18:3).
Die groot vraag is: Wie is hierdie kerk? Dieselfde kerk wat Maarten Luther t.w.v. die waarheid van God se Woord 497 jaar gelede verlaat het – die Roomse Kerk (RK)! Nie lank na die Hervorming het die Antichris sy gewelddadige kop tydens die menseslagting met die St. Bartlomeusnag uitgesteek waartydens duisende Protestante deur die Roomse Inkwisisie vermoor is! Openbaring beskryf die Antichris nie verniet as bloeddorstig nie. Hy haat afsonderlikheid met ʼn passie!
Let op ons eie volksgeskiednis; oral waar afsonderlike lewensbestaan bevorder is, was die RK daar om dit teen te staan. Roomse kerkleiers het geen geheim daarvan gemaak dat hulle terrorisme gesteun en selfs kerkgeld na terroriste-organisasies gekanaliseer het nie! Dieselfde ding het ook elders ter wêreld gebeur, veral in Suid-Amerika waar die Sandaniste openlik erken het dat as die RK hulle nie gehelp het nie, hulle nooit in Nicaragua aan bewind sou kom nie!
Die mag en invloed van die RK word gruwelik onderskat. Dit sypel alles wat mag het binne. Dit gaan vir die RK om aardse mag. Die Antichris wat uit haar midde kom en binnekort na vore gaan tree, hunker na dieselfde ding – mag!
Die RK is besig om Protestantse kerke baie subtiel aan haar mag te onderwerp. Sy sypel kerke en teologiese opleidingsentrums met dwaalleer binne. Let op die hiërargiese kerksisteem waar ʼn Sinode bo sit en haar besluite op gemeentes onder haar afdwing. Waar dink u kom die kindernagmaal in die NG Kerk vandaan? Nuwe insigte in die Woord van God? Allermins! Dis Rooms!
U sal u hande saamslaan om te weet hoeveel Protestantse kerke onbeskaamd verRooms! Met watter doel? Om alle mense in lyn met die wil van Satan en sy seun, die Antichris, te bring – almal onder een reuse kerklike dak, of anders gestel, strukturele eenheid waaroor die NG Kerk begaan is en wat die Belharbelydenis vereis; nie afsonderlik nie, maar gesamentlike aanbidding. Dat Protestantse kerke gemene sake met Roomse instellings het, gaan gelowiges se verstand te bowe! Skynbaar vind hulle sulke skakeling nie hinderlik nie!
Die Here het vir sy kerk net een uitweg: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê nie....” (Openb.18:4). Wat vra God van gelowiges? Om ons van hierdie dinge af te skei.
Gevolglik beywer ons in die AP Kerk ons nie vir ʼn antichristelike kerkeenheid nie, maar eerder vir ʼn Christus-verheerlikte kerkeverskeidenheid soos wat Christus self voorstaan: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (Joh.10:16). Nie gesamentlik nie, maar afsonderlik soos die AP Kerk leer.
Dank God opnuut vir hierdie kerk wat op die suiwere leer van die Woord staan. Mag ons nooit daarvan afwyk nie al bly ons die laaste oor om teen die Antichris en sy wegbereiders wal te gooi!
Amen!