Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons vra dikwels waar sal ons krag vandaan kom om al die pyn, droefheid en lyding in ons lewens te oorleef? Ons laat God hierdeur so krageloos lyk, en dit net omdat ons so skraal in ons eie verwagtings is. Onthou dat jy nie met jou ontoereikende krag iets hoef uit te rig nie, jy beskik ook God se krag, ongelooflik groot, dieselfde krag waardeur Jesus uit die dood opgewek is: opstandingskrag, ook vir jou om telkens weer op te staan uit jou pyn.
BOSE GEESTE AGTER DIE SKERM
Ds. A.E van den Berg
Inleiding
“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efes.6:12).
Ons kyk teen die wêreld rondom ons vas. Dis al wat ons met die oog sien. Die Bybel sê dat daar nog ʼn wêreld is. Dis onsigbaar maar ʼn werklikheid. En vandaar voer die Satan met ʼn leër van bose geeste ʼn geestelike oorlog teen Jesus en die gelowiges. Die uitslag daarvan is egter reeds bekend – Jesus en die gelowiges sal oorwin.
Omdat die Satan weet dat hy gaan verloor en saam met sy onheilige leër in die hel gewerp gaan word, probeer hy om soveel as moontlik mense saam met hom hel toe te neem. Vandaar die onsigbare oorlogvoering waarby gelowiges lewenslank betrokke is. God gee egter aan hulle die nodige wapenrusting om end uit suksesvol te veg (Efes.6:10-18).
1. Tussen hemel en aarde
Die ruimte tussen die hemel en die aarde word deur ʼn magdom van bose geeste gevul. Dis die gevalle engele wat ná ʼn opstand teen God saam met die Satan uit die hemel gewerp is. Hulle is bitter gevaarlik en moet soos die pes vermy word.
Afrika doen dit egter nie, maar beskou en vereer hulle met allerlei rituele as voorvadergeeste. Hierdie ingeburgerde misgissing verhoed dat die Afrika-mens in ʼn eerstewêreldopset tuiskom en Christelike lewenstandaarde hul eie maak. Hul verknogtheid aan bose geeste hou hul in ʼn geestelike duisternis.
Afrika se siening van die geesteswêreld strook allermins met die Bybel. God se Woord sê dat ʼn mens se liggaam ná die dood op die aarde agterbly en dat die siel na God terugkeer:
“en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het” (Pred.12:7).
Die siele van afgestorwenes sweef nie iewers tussen hemel en aarde rond nie. Al wat in hierdie ruimte tuis is, is bose geeste wat mense van die lig van Jesus en die nodige verlossing af weghou. Daarom skyn die lig van die Evangelie baie flou in Afrika.
2. Geestesbotsing
Toe die Evangelie in Afrika begin verkondig is, het twee sterk geesteswêrelde met mekaar gebots–dié van die lig teen die duisternis. Die tradisionele Afrika-mens glo dat ʼn mens se lewenslot deur wispelturige voorvadergeeste beheer word en met offers en rituele gepaai moet word om geleef te kry.
Hulle beskou toordokters as kundige bemiddelaars wat met dreunsang en rituele weet hoe om hierdie geeste te paai. Die volgehoue vrees vir bose geeste, voorbodes en onsigbare magte oorheers Afrika se denkpatroon.
Met gelowiges is dit baie anders gesteld:
“Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing” (2 Tim.1:7).
Die Bybel verbied alle skakeling met die gees van afgestorwenes omdat dit in werklikheid nie die gees van mense is nie maar wel van bose geeste:
“Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle te verontreinig nie. Ek is die Here.” (Lev.19:31).
“Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie…” (Jer.10:2).
“En by dit alles is daar tussen ons en julle ’n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat daar is, nie na ons kan oorkom nie” (Luk.16:26).
Jesus gee in Mt.10 aan die dissipels die nodige mag om onreine geeste uit mense te dryf. Wat sê dit? Dat hierdie geeste nie geskakel nie, maar eerder uitgeskakel moet word!
3. Godsbegrip
Die tradisionele Afrika-mens se godsbegrip is onbybels. Hy glo wel dat daar ’n God is, maar dat Hy baie ver en nie by menslike leed betrokke is nie. Die mens se lewensverloop word eerder deur wispelturige voorvadergeeste bepaal.
Die Bybel praat baie anders. God is in beheer van sy ganse skepping:
“U alleen die Here, U het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die see en alles wat daarin is en U hou dit alles in die lewe en die leër van die hemel buig hulle voor U neer” (Neh.9:6).
4. Beskerming
Die Afrika-mens eerbiedig toordokters weens die geheimsinnige mag waarmee hul voorvadergeeste kan paai en selfs manipuleer. Hierdie gewaande mag is nietig in vergelyking met God se mag wat selfs getygolwe laat veroorsaak en vulkane laat uitbars. Niemand kan Hom dit nadoen nie. Daarbenewens is God ʼn beskermer:
“ Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand — na jou sal dit nie aankom nie.Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.Want U, HERE, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë” (Ps.91:7-11).
“Die Naam van die Here is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut” (Spr.18:10).
Gevolglik het Satan en die voorvadergeeste geen mag oor ware gelowiges nie.
Gelowiges het nie rituele of geheime medisyne (muti) nodig om bose geeste af te weer nie. Hulle bid tot God om verlossing. Ongelowiges daarenteen, is weerloos teen die aanslae van die Satan en sy bose magte.
Gelowiges is deeglik bewus van die gevaar wat Satan en sy trawante inhou. Daarom leer Jesus die dissipels bid:
“… en verlos ons van die bose”. (Mt.6:14).
Dit sluit ook bose geeste in.
Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het, vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie” (Deut.32:17).
“Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens….. Ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie” (1 Kor.19:14,20).
““Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan…. en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris…” (1 Joh.4:1,3).
5. Die gees van die Antichris
Benewens Afrika se verknogtheid aan die donker geesteswêreld, neem die belangstelling in die werksaamhede van bose geeste ook wêreldwyd in talle lande toe. Dis die gees van die Antichris wat al hoe duideliker word.
Gelowiges het net een verweer teen hierdie bose aanslag – getrouheid aan die Woord van God. Dis hartseer om te sien hoe die gees van die Antichris hoofstroomkerke binnedring en kerklui toenemend ongehoorsaam aan die Bybelse waarheid maak.
Gelowiges moet die Skrif ken en die waarheid verdedig. Toe Jesus deur die Satan versoek is, het Hy die Skrif as sy verdediging gebruik. Paulus vermaan gelowiges drie keer in Efes.6:10-18 om die Satan met die Skrif teen te staan. Petrus vermaan ook sy lesers om op die uitkyk vir die Satan te wees:
“Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind” (1 Pet.5:8).
Satan vind in Suid-Afrika gewillige prooi. Eerstens in die Afrika mens wat weens sy verknogtheid aan die heidendom die duisternis verkies:
“...naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor.4:4).
ʼn Tweede prooi is ontspoorde kerke. Dwaalleer is Satan se manier om die Bybelse waarheid teen te staan en kerklui deur hom te laat buikspreek. Daar is vir gelowiges net een uitweg:
“Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openb.18:4).