Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is moderne mense wat sê dat die Drie-eenheid van God, 'n menslike bedinksel is. God leer ons dan dat Hy Hom openbaar in drie onderskeie Persone. Diegene wat nie hieraan vashou nie, doen nie moeite met die kennis van die Woord wat God self vir ons gegee het nie.
GOD IS ‘N GOD VAN ORDE
Ds Andrè vd Berg
“En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hul woonplek vasgestel het” (Hand.17:26)
In 1 Kor.14:33 skryf Paulus dat God nie ’n God van wanorde is nie, maar van orde. Alles wat met Hom verbind is, word aan ordelikheid gekenmerk; veral die kerk: “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan” (:40). Dit onderskei gelowiges van heidene wie se godsdiens onordelik is omdat dit in diens van die Satan staan en hy die teenpool van God is. God is orde; Satan is wanorde.
Oral waar God heers, is daar orde. Waar Hy nie heers nie, heers wanorde soos in Suid-Afrika. Toe die land ’n Christelike grondwet gehad het, was daar orde. Toe dit afgebreek is, was wanorde onafwendbaar.
God is ’n God van orde. Let op hoe planmatig en ordelik die skepping verloop het. Op die eerste dag het God dag vannag geskei en op die tweede het Hy die hemel en die aarde geskep. Op die derde dag plante en bome ens. Die refrein lui telkens: “En God het gesê: Laat dit so en so wees… en dit was so”. Dis die marsmusiek van God se orde.
In Ps.33 lees ons: “Die Here kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders. Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde. Hy wat die hart van hulle almal formeer, wat let op al hulle werke” (:13-15). Ordelike mense geniet God se ordelike skepping. Onordelike mense verag en verongeluk dit.
God het ’n bepaalde orde daargestel, sodat mense ’n gehalte lewe kan geniet. En dis slegs moontlik as ons in vrede met mekaar leef. Niemand lei ’n gehalte lewe as vrede in sy lewe ontbreek. Hoe maak God dit moontlik? Deur grense (skeidingslyne) tussen mense te bring. “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hul woonplek vasgestel het” (Teks). Goeie grense sorg vir goeie bure!
In Hand.17 staan Paulus op die Areopagus in Athene, ’n groot granietrots aan die voet van die Parthenon. Athene was in sy tyd ’n mengelmoes stad. Alexander die Grote het 300 jaar tevore ’n reënboognasie daar probeer vestig wat lelik misluk het omdat dit altyd te bedompig in die parskuip van gedwonge saambestaan raak. Gedwonge vermenging is net so skadelik soos gedwonge huwelike en ʼn reënboognasie huisves ook ʼn reënboog van booshede soos wat Alexander die Grote te laat agtergekom het. Hy is vergiftig!
Toe Paulus in Athene kom, was die stad besig om uitmekaar te val omdat orde in hierdie mengelmoes van mense nie gehandhaaf kon word nie. Paulus het die geleentheid aangegryp om die Atheners op hul fout te wys; uiteenlopende volke kan hoogstens naasbestaan, maar nooit saambestaan nie. Grense bring vrede; die sentrale gedagte van sy woorde: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hul woonplek vasgestel het” (Hand.17:26)
Satan haat grense want dit bring orde en hy wil wanorde hê omdat dit al is hoe hy oor mense kan heers. Wat is wanorde? Grense wat weggeneem is! Elkeen wat met God se skeppingsorde peuter, betaal ’n duur prys!
Satan gebruik booswigte om God se orde ongedaan te maak. Die verhaal van die toring van Babel (Gen.11) is ’n goeie voorbeeld. Ná die sondvloed kry Noag die opdrag om te vermeerder en oor die aarde te versprei. Nimrod, die koning van Babel staan God teen. Met die bou van die toring in sy stad sê hy as’t ware: “Ons sal nie versprei nie, ons wil bymekaar wees. Geen grense nie!”
Moses noem Nimrod in Gen.10 die eerste geweldenaar op aarde. Geweld en wanorde gaan hand aan hand. Dis wat gebeur as God se orde verag word! Let op die geskiedenis; hoeveel lande wat God geëer en kultuurgrense gehandhaaf het, het nie in wanorde verval nadat hierdie grense afgebreek is nie!
Mense het van vroegs af geweet dat grense vrede bring. Abraham en Lot se huishoudings het by geleentheid gebots. “Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou…. ons is mos broers” (Gen.13:8). Nadat hulle van mekaar geskei het, kon vrede heers. Twee families in een huis deug nie. Naasbestaan, ja! Saambestaan, nee!
Ongeveer 500 jaar na Abraham skryf Moses op bevel van God hieroor. Die opskrif van Deut.32 lui: “Die lied wat Moses op bevel van God voorgedra het” “Toe die Allerhoogste aan die nasies ’n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel” (:8). God het baie ernstig met Israel gepraat en sy orde bevestig – geen Babelse eenheid nie, maar ’n God verheerlikte afsonderlikheid.
Jesus sê in Joh.10:16: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, ’n hulle sal na my stem luister en dit sal wees een kudde, een herder”. Jy hoef nie die heining te verwyder ten einde vir jou buurman lief te wees nie.
Toe Moses die lied (Deut.32) aan Israel voorgedra het, was hulle op die punt om Kanaän binne te gaan. Kanaän was ’n kookpot van duiwelskunste en allerlei gruwels soos homoseksualisme. Israel kon so maklik in die kookpot van onheil beland, oplos en deel van die heidendom word. Satan het begeer dat Israel haar eiesoortigheid moes prysgee en deel van ’n potjiekos-volksamestelling word. God se orde moes verdwyn en Satan se wanorde seëvier.
Kyk weer na Hand.17 - in vers 27 staan iets belangrik: “…. sodat hulle die Here sou soek”. Afsonderlike nasies (nasionalisme) soek God. Saamgeflanste nasies (internasionalisme) soek die mens. Let gerus op al die internasionale klubs; alles draai om die mens. Geeneen is Christus gesentreerd nie. Internasionalisme is mens-vererend en dis die voorland vir wanorde. Paulus waarsku die Atheners daarteen.
Internasionalisme het ook die kerk binnegedring en word ekumenisme genoem; “striving towards church unity”. En dis presies wat die Antichris wil hê! Satan het al talle rustige groen weivelde in twis-arenas verander en kuddes uitmekaar laat spat. Kyk maar net na ons eie land - polities onverstaanbaar en kerklik onverklaarbaar! Dis nie God se wil dat ons pragtige land ʼn smeltpot word waarin alle rasse moet verdwyn nie, maar eerder ʼn mosaïek van verskillende volke met verskillende kulture wat God dien – verskillende stalle; een Herder.
Die erkenning van veelvolkigheid (God se geskape orde) is die oplossing op ʼn vasteland waar mense se waardes baie van mekaar verskil. Al is ons almal in dieselfde bak geknie, is ons nie in dieselfde oond gebak nie. Daarbenewens het rasseskeiding nog nooit wêreldvrede bedreig nie, maar eerder bevorder.
Suid-Afrika het God verlaat en Hy straf ons met wanorde. Wat kan ons daaraan doen? Twee dinge. Eerstens moet ons God vir nuwe leiers bid; manne en vroue wie se harte in die bloed van Jesus Christus gewas is om die leisels oor te neem.
Tweedens moet ons konserwatiewe lewensbeginsels baie sterker uitleef. Dis op God se Woord gegrond. Moenie skroom om dit uit te leef nie! Skerp dit by jou kinders in. Leer hulle van jongs af ’n liefde vir hul volk. Laat hulle liefde vir God en hul volk van hul hartstog vir die lewe getuig. En laat ons almal soos Daniël se drie vriende wees wat vreesloos bly staan het toe die heidene van hulle verwag het om te buig!