Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Leef van dag tot dag deur God se genade. Wees vandág bly. Wees vandág gelukkig. Gee vandág jou alles! Dis die dinge wat jou gees gesond hou.
HARDLOOP VIR JOU REDDINGSBOOT!
Ds Andrè vd Berg
“...sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh.3:15).
Sy was die skip van drome – 300 meter lank en ʼn anker van 16 ton. Dit het 14,000 mense geneem om haar te bou en die binneruim ʼn volle 10 maande om te voltooi. Net voor die tewaterlating het ʼn Britse koerant berig: “Neither God nor man can sink her”. Sy is die Titanic genoem.
Op Sondagaand 12 April 1912 het sy op haar nooiensvaart na Amerika binne twee ure na ʼn botsing met ʼn ysberg in Kanadese waters gesink. Meer as 1500 mense het hul lewens verloor; ʼn gebeure wat mense vandag nog aangryp!
Waarom het so baie mense omgekom? Daar was te min reddingsbote! Die eersteklas mense is eerste op reddingsbote gelaai waarna die kaptein net plek vir vrouens met kindertjies toegelaat het. Vir ʼn sekere vrou wat derdeklas gereis en nie ʼn kind by haar gehad het nie, was die aankondiging ʼn doodsvonnis. Toe hardloop ʼn man met ʼn baba in sy arms verby haar en sê: “Hier, vat hom en hardloop vir ʼn plek op die reddingsboot”. Die baba in haar arms het haar lewe gered!
Ons is almal op ʼn gedoemde skip met die naam Die Lewe. Dis ʼn pragtige skip wat God self ontwerp en gebou het. Dit vaar egter nie net in kalm water nie, maar dikwels ook in baie rowwe see. Dit vaar egter nie vir altyd nie. Daar kom ʼn dag dat die Bouer die vaart beëindig en die skip laat sink.
Niemand weet hoe lank hierdie skip gaan vaar nie. Sommige sink soos die Titanic onverwags terwyl ander lang diens lewer. Let op hoe getuig die grafskrifte in ʼn begraafplaas daarvan! Van een ding moet ons seker wees; daar kom ʼn dag dat ons eie skip ook gaan sink.
Wat is die belangrikste om te doen as ʼn skip sink? Om op ʼn reddingsboot te kom! Dink aan die dramatiese tonele van die film Titanic – passasiers wat skarrel om op reddingsbote te kom; mense wat dit nie maak nie, in die diep yswater beland en omkom.
Hoe lyk jou lewensskip? Is daar ʼn reddingsboot op? Op hierdie skip is reddingsbote nie standaardtoerusting nie. Jy moet God vra om vir jou een te stuur. Miljoene mense vaar ongeërg daarsonder. Hulle weet dat hul skip gaan sink, maar dink nie daaraan nie totdat dit die ysberg van die lewe tref en dit te laat is!
Luister wat sê iemand wat nie ʼn reddingsboot gehad het toe sy skip die ysberg van die dood tref nie: “En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam”. Toe dit geweier word, is daar ʼn laaste versoek .“ ...Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur — want ek het vyf broers — om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie” (Luk.16).
Joh.3 vertel van ʼn gesiene man, waarskynlik ʼn kerkleier, wat op ʼn dag besef het dat hy sonder ʼn reddingsboot vaar. Nikodemus was ʼn vooraanstaande lid van sy gemeenskap en derhalwe bang om met iemand waarvan sy kollegas nie hou nie, verbind te word. Daarom het hy gewag totdat dit donker is: “Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ’n leraar is wat van God gekom het...” (:2).
Hy het ʼn voorbeeldige lewe gelei, maar dit dien nie as reddingsboot as ʼn skip sink nie. Nikodemus sou in die yswater van die dood omkom! Die ergste van alles was dat hy nie geweet het hoe om die reddingsboot te bereik nie. En dis wat hy by Jesus wou weet. “Waar kry ek so ʼn iets?”Jesus antwoord: “.... Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh.3:3). Die wedergeboorte!
Nikodemus se vraag laat ʼn mens aan die vraag van die tronkbewaarder van Filippi dink. “ ... Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word ...” (Hand.16:30,31). Hierdie heiden het skielik besef dat hy geen reddingsboot op sy skip gehad het nie en vir geen oomblik verder daarsonder kon vaar nie!
Wat Jesus vir Nikodemus sê, kom op dieselfde neer as wat daardie man met die baba in sy arms vir die vrou op die Titanic gesê het: “Dis joune, hardloop vir ʼn plek op die reddingsboot!” Hierdie reddingsboot is jou plek op God se skip op vaart na die Nuwe Jerusalem.
Wat het toe van Nikodemus geword? Johannes antwoord: “Na hierdie dinge het Josef van Arimathéa, wat ’n dissipel van Jesus was, maar in die geheim, uit vrees vir die Jode, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. En Pilatus het dit toegelaat. Hy het toe gegaan en die liggaam van Jesus weggeneem. En Nikodémus, wat die eerste maal in die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom met ’n mengsel van mirre en alewee van omtrent honderd pond gewig.En hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit in doeke toegedraai saam met die speserye, soos die gewoonte van die Jode is om te begrawe” (Joh.19:38-40).
Nikodemus het plek op God se reddingsboot ontvang. Wat ʼn ommekeer van owerste van die Jode tot begrafnisondernemer vir Iemand wat deur sy eie mense verag is! Dit herinner aan Paulus se woorde aan die Korintiërs: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).
Met Kersfees kom sit God sy Kind opnuut in jou arms en sê: “Dis joune, hardloop vir ʼn plek op die reddingsboot!” Moenie wag totdat jou skip sink voordat jy aan ʼn ontbrekende reddingsboot dink nie!
Wanneer ʼn skip sink, word water ingesuig en lug uitgeblaas. Wie wag totdat dit te laat is, word saam ingesuig al spring hy ook hoe ver van die skip af. Die meeste mense wat in die Titanic ramp omgekom het, het nie verdrink nie maar verkluim. Moenie in die ysige waters van verlatenheid wil ronddobber as Jesus reeds vir jou ʼn plek op God se reddingsboot voorberei het nie!
As die vrou op die Titanic nie van die man se aanbod om sy kind vir haar te neem, gebruik gemaak het nie, het sy vir seker omgekom. Sy het hom egter gevat en bly leef. En dis wat jy ook moet doen.
Luister na God se uitnodiging: ” O almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk ... Luister aandagtig na My en eet die goeie.. . Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is” (Jes.55,1.2.6).