Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geen lewe is sinloos indien jy diens lewer nie. God het ons nie hande gegee om net te ontvang nie, maar ook om te dien. Wie net wil ontvang, is uiters selfsugtig!
OORLOG EN VREDE
Ds. A.E van den Berg
“Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd:’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterwe .....’n tyd om dood te maak... (Pred.3:1, 2).
Tolstoy se War and Peace (1869) is een van die topverkoperromans van alle tye. Die verhaal speel teen die agtergrond van ʼn Russiese volksgemeenskap af wat ná die inval van Napoleon se magte in 1812 ontwrig is. Hul geesteskrag, liefde vir hul volk en volharding het hulle laat volhard en vrede vind.
Is oorlogvoering geregverdig? Die Bybel regverdig dit indien dit defensief en nie offensief is nie. Met defensiewe word dit wat volkseie is, beskerming. Offensiewe oorlogvoering is roof – gebiedsuitbreiding vir eie gewin soos die eertydse Britse ryk met talle lande waaronder Suid-Afrika gedoen het.
Ongelukkig moet ʼn volk wat in vrede wil leef, altyd vir oorlog gereed wees en veg om dit wat vir hulle kosbaar is, te behou.
”….. Julle moenie bang wees vir hulle nie.; dink aan die grote en gedugte Here en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise” (Neh.4:14).
Dis in alle oorlogvoering uiters belangrik om te weet wie en waar die vyand is. Hy is soms nie waar hy verwag word nie - jongelinge veg terwyl die werklike vyand in hul midde is soos wat met die Angolese grensoorlog gebeur het. Ou manne het jongelinge laat sterf net om later aan die vyand oor te gee.
Gelowiges streef voortdurend na vrede:
“Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien” (Rom.14:19).
“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Hebr.12:14).
Geen mens kan egter op dieselfde grondgebied met mense leef wat hulle wil doodmaak nie. Vrede word slegs deur wedersydse begrip en eerbied vir mekaar se andersheid verkry en ʼn eie grondgebied ononderhandelbaar. Enige ander vrede is ʼn misleidingsfase tussen twee eras van stryd.
ʼn Volk wat sy vryheid op die altaar van internasionale aanvaarding prysgee, gee sy geesteskrag verraderlik prys en is so ʼn vrede dikwels erger as die oorlog self. Die jongste misdaadstatistiek onderstreep dit in geen onduidelike taal nie. Wie plundering en ontwrigting vrede noem, is dwaas; en om vrede met geweld af te dwing, so onsinnig soos om ʼn bloedoortapping met ʼn lyk te probeer bewerkstellig!
Vrede kan nie afgedwing word nie. Dis ʼn proses wat deur regte besluite tot stand gekom en deur onderlinge begrip onderhou word. Daar is nie ʼn pad na vrede nie; vrede is die pad en loop oor die kruis van Christus:
“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie .... ” (Joh.14:27).
“En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil.4:7).
Om in vrede te leef moet ons weet dat ons mekaar se wagter is. As dit ontbreek, is vryheid broos en gebeur soos wat met Suid-Afrika gebeur het. Kerke wat altyd die gewete van die volk was, het met die volksvyand geheul en versoening met hulle bepleit wat onmiddellik ʼn nuwe stryd ontketen het. Sonder vryheid op ʼn eie grondgebied is vrede net so min werd as ʼn goue pantoffel aan ʼn seer voet!