Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus sê dat 'n mens nie 'n maaltyd vir vriende moet aanbied net sodat jy weer genooi kan word nie. Dít, sê Hy, is 'n ruiltransaksie. Maar om mense wat niks kan teruggee nie, te nooi, is egte nederigheid, liefde en diens, en het ewige waarde. God sal omsien na iemand met so 'n gesindheid – Luk 14
NARSISME
Persoonlikheidselfmoord
Ds. A.E van den Berg
Narsisme is ʼn persoonlikheidsafwyking wat weens ʼn oordrewe sin van eie belangrikheid ontstaan. Dis aan ʼn Griekse mite ontleen wat vertel van Narsissus, ʼn buitengewoon aantreklike jongman, wat ʼn profesie van ʼn blinde profeet ontvang het dat hy baie oud sou word indien hy nooit sy eie gesig sou sien nie.
By geleentheid wou hy sy dors in ʼn waterpoel gaan les toe hy sy gesig sien en ter stond daarop verlief geraak het. Terwyl hy buk om van die water te drink, het die beeld van sy gesig verdwyn. Bang om dit te verloor, het hy daarna bly kyk waarna hy later van dors gesterf het en die narsingblom met sy geboë steel op daardie selfde plek opgekom het.
Hierdie mite waarsku teen oordrewe selfliefde. So ʼn selfliefde laat ʼn mens so in sy eie ego verstrengel raak, dat hy uit voeling met die werklikheid raak en as’t ware emosionele selfmoord pleeg. Mans is meer tot Narsisme geneig as vroue. Dis ʼn ergerlike persoonlikheidsversteuring wat deur ʼn samestelling van genetiese en omgewingsfaktore gevorm is. Navorsing het bevind dat buitensporige ouerbewondering, vrye teuels en gebrekkige tuisdissipline ʼn teelaarde vir Narsisme is. Gewoonlik is net een van die ouers daarvoor verantwoordelik.
Narsisme het volstrek niks met die selfliefde te doen wat God welgevallig is nie. Dis eerder ʼn valse sin van eiewaan en belangrikheid en word gou ʼn gerieflike bos waaragter talle diepliggende, onsekere gevoelens verberg word.
Narsiste glo dat hulle baie spesiaal is en slegs deur spesiale mense verstaan sal word. Hulle ag hulself beter as enigiemand anders en dring selfs op erkenning aan vir dit wat hulle nie verdien nie. As hulle oor hul beroep of verhoudings praat, val die klem sterk op hul eie voortreflikheid en hoe bevoorreg diegene is wat hulle wenspad kruis. Narsiste is die sleutelspelers en ander mense slegs byspelers.
Vroulike Narsiste belas graag ander met hul emosionele bagasie net om simpatie te verkry en die aandag op hul probleme te vestig. Hulle soek gedurig na aandag. Dit raak amper soos ʼn dwelmmiddel waarvan hulle net nie genoeg kan kry nie en pootjie hulself in die proses.
Narsiste toon weinig berou. Dit wat by hulle na berou lyk, is oëverblindery en vals. Hulle voel in werklikheid net jammer vir hulself en gee ander die skuld vir hul mislukkings. Daarbenewens is hulle meester-manipuleerders en gunssoekers hetsy in die werksopset, gesinslewe, vriendskappe of erotiese verhoudings. Veral laasgenoemde.
Hulle gaan dikwels liefdesverhoudings aan en raak net so vinnig daarvan ontslae, gewoonlik met mense wat hulle nie eens goed ken nie. Hul aanvanklike bewondering vir die teenoorgestelde geslag is in werklikheid ʼn kompliment vir hul eie skyn-volmaaktheid. Sodra die betrokke persoon nie verder aan die verwagting voldoen nie, word na ʼn volgende persoon verskuif want vir ʼn Narsis moet alles volmaak wees!
Sulke mense leef in ʼn fantasiewêreld, lieg maklik oor fop-sukses en kritiseer almal en alles wat hul fantasiewêreld bedreig. Hulle is soos ʼn ballon wat geleidelik lug verloor en slegs deur volgehoue aandag en erkenning verder kan sweef. Mense wat vir hul skyn val, voorsien die nodige lugtoevoer. Narsiste stel in niks anders belang as om iets uit ander te put nie. Hulle gee nie ʼn flenter om vir ander se gevoelens nie en bedrieg selfs hul naaste familie. Mense is slegs van nut as iets uit hulle verkry kan word. As hulle hul doel gedien het, is hulle van geen verdere nut nie en word opsy geskuif.
Narsiste kom sjarmant voor en is baie gesteld op hul voorkoms. Sommige bring soms lang tye voor ʼn spieël deur. Hulle praat dikwels baie hard en gebruik handgebare om sekere dinge te beklemtoon en sal selfs ooglopend verveeld voorkom as ʼn gesprek hul nie aanstaan nie. Narsiste het geen behoefte aan vriende nie, maar wel aan bewonderaars.
Ons almal lewe in ‘n afgedwaalde wêreld wat vol is van Narsiste. Mag ons ingelig genoeg raak om hierdie probleem wat huwelike vernietig, wat slegs uit Satan se hand gebeur, sal hokslaan en ernstig moeite doen om hierdie sogenaame nuwe wêreldse siekte nek om te draai en so ons eie ondergang uit te stel.